Laat Jesus se woorde jou gesindheid beïnvloed
“Die een wat deur God uitgestuur is, spreek die woorde van God.”—JOH. 3:34.
1, 2. Waarmee kan Jesus se woorde in die Bergpredikasie vergelyk word, en waarom kan ons sê dat dit op “die woorde van God” gegrond was?
EEN van die grootste geslypte diamante wat vandag bekend is, is die Ster van Afrika wat 530 karaat weeg. Dit is werklik ’n kosbare juweel! Maar die geestelike juwele wat in Jesus se Bergpredikasie gevind word, is baie kosbaarder. Dit is geen wonder nie, want Jehovah is die Bron van Christus se woorde! Die Bybel sê met verwysing na Jesus: “Die een wat deur God uitgestuur is, spreek die woorde van God.”—Joh. 3:34-36.
2 Hoewel die Bergpredikasie moontlik in minder as ’n halfuur gehou is, het dit 21 aanhalings uit agt boeke van die Hebreeuse Geskrifte bevat. Dit was dus stewig gegrond op “die woorde van God”. Kom ons kyk nou hoe ons party van die talle kosbare woorde kan toepas wat in hierdie meesterlike preek van God se geliefde Seun gevind word.
“Maak eers vrede met jou broer”
3. Watter raad het Jesus gegee nadat hy sy dissipels teen die gevolge van toorn gewaarsku het?
3 As Christene is ons gelukkig en vredeliewend omdat ons God se heilige gees het, en die vrug daarvan sluit vreugde en vrede in (Gal. 5:22, 23). Jesus wou nie hê dat sy dissipels hulle vrede en vreugde moet verloor nie, en daarom het hy hulle gewaarsku teen die dodelike gevolge van langdurige toorn. (Lees Matteus 5:21, 22.) Hy het vervolgens gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe.”—Matt. 5:23, 24.
4, 5. (a) Wat was die “gawe” in Matteus 5:23, 24 waarna Jesus verwys het? (b) Hoe belangrik is dit om vrede te maak met ’n broer wat aanstoot geneem het?
4 Die “gawe” wat Jesus gemeld het, was enige offer wat by die tempel in Jerusalem gebring is. Diereoffers was byvoorbeeld belangrik omdat dit destyds deel was van die aanbidding wat Jehovah se volk aan hom gegee het. Maar Jesus het iets van groter belang beklemtoon—om met ’n broer wat aanstoot geneem het, vrede te maak voordat ’n gawe aan God geoffer word.
5 “Maak . . . vrede” beteken ‘om ’n versoening te bewerkstellig’. Watter les kan ons dus uit hierdie woorde van Jesus leer? Dit is sekerlik dat die manier waarop ons ander behandel, regstreeks verband hou met ons verhouding met Jehovah (1 Joh. 4:20). Ja, offers wat in die ou tyd aan God gebring is, het niks beteken as die een wat dit gebring het, sy medemens nie reg behandel het nie.—Lees Miga 6:6-8.
Nederigheid is belangrik
6, 7. Waarom is nederigheid nodig wanneer ons vreedsame verhoudinge probeer herstel met ’n broer vir wie ons aanstoot gegee het?
6 Om vrede te maak met ’n broer wat aanstoot geneem het, sal waarskynlik ons nederigheid op die proef stel. Nederige mense redeneer of stry nie met medegelowiges in ’n poging om vermeende regte te bevestig nie. Dit sal ’n ongesonde situasie skep—soortgelyk aan wat eenkeer onder Christene in eertydse Korinte bestaan het. Aangaande dié situasie het die apostel Paulus hierdie gedagteprikkelende punt gemaak: “Dit beteken dan geheel en al ’n nederlaag vir julle dat julle regsgedinge met mekaar het. Waarom laat julle julle nie liewer veronreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?”—1 Kor. 6:7.
7 Jesus het nie gesê dat ons na ons broer toe moet gaan bloot om hom te oortuig dat ons reg en hy verkeerd is nie. Ons doelwit moet wees om vreedsame verhoudinge te herstel. Om vrede te maak, moet ons eerlik sê hoe ons voel. Ons moet ook erken dat die ander persoon se gevoelens seergemaak is. En as ons ’n fout begaan het, sal ons tog sekerlik nederig om verskoning wil vra.
‘As jou regteroog jou laat struikel’
8. Gee ’n opsomming van Jesus se woorde wat in Matteus 5:29, 30 opgeteken is.
8 Jesus het in sy Bergpredikasie goeie raad oor sedelikheid gegee. Hy het geweet dat ons onvolmaakte liggaamsdele ’n gevaarlike invloed op ons kan hê. Jesus het dus gesê: “As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is vir jou voordeliger dat een van jou lede verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gewerp word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou af weg. Want dit is vir jou voordeliger dat een van jou lede verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland.”—Matt. 5:29, 30.
9. Hoe kan ons ‘oog’ of ‘hand’ ons laat “struikel”?
9 Die ‘oog’ waarvan Jesus gepraat het, stel die vermoë voor om ons aandag op iets toe te spits, en die ‘hand’ hou verband met wat ons met ons hande doen. As ons nie versigtig is nie, kan hierdie liggaamsdele ons laat “struikel” en laat ophou om ‘met God te wandel’ (Gen. 5:22; 6:9). Wanneer ons in die versoeking kom om aan Jehovah ongehoorsaam te wees, moet ons dus streng optree en figuurlik gesproke ’n oog uitruk of ’n hand afkap.
10, 11. Wat kan ons help om geslagsonsedelikheid te vermy?
10 Hoe kan ons ons oë daarvan weerhou om op onsedelike dinge te konsentreer? “’n Verbond het ek met my oë gesluit”, het die godvresende man Job gesê. “Hoe sou ek dan kon ag gee op ’n maagd?” (Job 31:1). Job was ’n getroude man wat vasbeslote was om nie God se sedewette te skend nie. Dit moet ons gesindheid wees hetsy ons getroud of ongetroud is. Om geslagsonsedelikheid te vermy, moet ons ons laat lei deur God se heilige gees, wat selfbeheersing voortbring in diegene wat vir God lief is.—Gal. 5:22-25.
11 As ons geslagsonsedelikheid wil vermy, kan ons ons gerus afvra: ‘Laat ek toe dat my oë ’n begeerte in my wek na onsedelike materiaal wat geredelik in boeke, op die televisie of op die Internet beskikbaar is?’ Laat ons ook hierdie woorde van die dissipel Jakobus onthou: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14, 15). Ja, as enigiemand wat aan God toegewy is, met onsedelike beweegredes ‘aanhou kyk’ na iemand van die teenoorgestelde geslag, moet hy drastiese veranderinge aanbring, wat daarmee vergelyk kan word om ’n oog uit te ruk en dit weg te gooi.—Lees Matteus 5:27, 28.
12. Watter raad van Paulus kan ons help om teen onsedelike begeertes te stry?
12 Omdat die verkeerde gebruik van ons hande tot ernstige skendings van Jehovah se sedelike standaarde kan lei, moet ons vasbeslote wees om sedelik rein te bly. Ons moet dus ag slaan op Paulus se raad: “Maak . . . dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is” (Kol. 3:5). Die uitdrukking ‘maak dood’ beklemtoon die streng maatreëls wat geneem moet word om teen onsedelike vleeslike begeertes te stry.
13, 14. Waarom is dit noodsaaklik om onsedelike gedagtes en dade te vermy?
13 ’n Persoon sal waarskynlik bereid wees om ’n ledemaat te laat afsit om sy lewe te red. Dit is noodsaaklik om die oog en die hand in figuurlike sin ‘weg te gooi’ as ons onsedelike gedagtes en dade wil vermy wat ons ons geestelike lewe kan kos. Die enigste manier om te ontkom aan die ewige vernietiging wat deur Gehenna gesimboliseer word, is om verstandelik, sedelik en geestelik rein te bly.
14 As gevolg van oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid verg dit inspanning om sedelik rein te bly. “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf”, het Paulus gesê, “sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie” (1 Kor. 9:27). Laat ons dus vasbeslote wees om Jesus se raad oor sedelikheid toe te pas en onsself nooit toelaat om op te tree op maniere wat ’n gebrek aan dankbaarheid vir sy losprysoffer openbaar nie.—Matt. 20:28; Heb. 6:4-6.
“Gee altyddeur”
15, 16. (a) Hoe het Jesus ’n voorbeeld daarin gestel om te gee? (b) Wat beteken Jesus se woorde wat in Lukas 6:38 opgeteken is?
15 Jesus se woorde en voortreflike voorbeeld bevorder mededeelsaamheid. Hy het groot vrygewigheid geopenbaar deur aarde toe te kom ter wille van onvolmaakte mense. (Lees 2 Korintiërs 8:9.) Jesus het gewillig afstand gedoen van sy hemelse heerlikheid om ’n mens te word en sy lewe te gee vir sondige mense, van wie party rykdom in die hemel sou verkry as sy mede-erfgename in die Koninkryk (Rom. 8:16, 17). En Jesus het beslis vrygewigheid voorgestaan toe hy gesê het:
16 “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet” (Luk. 6:38). ‘In die skoot stort’, verwys na ’n gebruik van party verkopers om die vou van ’n koper se wye bokleed te vul, wat met ’n gordel vasgebind is en ’n sak gevorm het om artikels in te dra. Ons spontane vrygewigheid kan daartoe lei dat ons ’n goeie maat terugontvang, miskien wanneer ons dit nodig het.—Pred. 11:2.
17. Hoe het Jehovah die beste voorbeeld daarin gestel om te gee, en watter maniere van gee kan vir ons vreugde meebring?
17 Jehovah het blymoedige gewers lief en beloon hulle. Hy het self die beste voorbeeld gestel deur sy enigverwekte Seun te gee “sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Paulus het geskryf: “Wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai. Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Kor. 9:6, 7). As ons van ons tyd, energie en materiële middele gee om ware aanbidding te bevorder, sal dit ongetwyfeld vir ons vreugde en ryk belonings meebring.—Lees Spreuke 19:17; Lukas 16:9.
‘Moenie ’n trompet voor jou blaas nie’
18. Onder watter omstandighede sal ons “geen beloning hê” by ons hemelse Vader nie?
18 “Pas noukeurig op dat julle nie julle regverdigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie; anders sal julle geen beloning hê by julle Vader wat in die hemele is nie” (Matt. 6:1). Met “regverdigheid” het Jesus verwys na gedrag wat met God se wil ooreenstem. Hy het nie bedoel dat godvrugtige dade nooit in die openbaar verrig moet word nie, want hy het vroeër vir sy dissipels gesê: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn” (Matt. 5:14-16). Maar ons sal “geen beloning hê” by ons hemelse Vader as ons dinge doen om “gesien” en bewonder te word nie, soos toneelspelers wat in ’n teater optree. As dít ons beweegredes is, sal ons nie ’n hegte verhouding met God of die ewige seëninge van Koninkryksheerskappy geniet nie.
19, 20. (a) Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ons nie ‘’n trompet moet blaas’ wanneer ons “barmhartigheidsgawes” gee nie? (b) Hoe laat ons die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie?
19 As ons die regte gesindheid het, sal ons Jesus se vermaning gehoorsaam: “Wanneer jy derhalwe barmhartigheidsgawes gee, moet jy nie ’n trompet voor jou blaas net soos die huigelaars in die sinagoges en in die strate doen, sodat hulle deur die mense verheerlik kan word nie. Voorwaar, ek sê vir julle: Hulle ontvang reeds hulle volle beloning” (Matt. 6:2). “Barmhartigheidsgawes” was skenkings wat gemaak is om die behoeftiges te help. (Lees Jesaja 58:6, 7.) Jesus en sy apostels het ’n gemeenskaplike fonds gehad om die armes te help (Joh. 12:5-8; 13:29). Aangesien daar nie letterlik op ’n trompet geblaas is voordat aalmoese gegee is nie, het Jesus blykbaar ’n hiperbool gebruik toe hy gesê het dat ons nie ‘’n trompet voor ons moet blaas’ wanneer ons “barmhartigheidsgawes” gee nie. Ons moenie sulke gawes wyd en syd verkondig, soos die Joodse Fariseërs gedoen het nie. Jesus het hulle huigelaars genoem omdat hulle hulle liefdadige skenkings “in die sinagoges en in die strate” verkondig het. Daardie huigelaars het ‘reeds hulle volle beloning ontvang’. Die lof van mense en moontlik ’n voorste sitplek saam met vooraanstaande rabbi’s in die sinagoge sou die enigste beloning wees wat hulle sou ontvang, want Jehovah sou hulle niks gee nie (Matt. 23:6). Maar hoe moes Christus se dissipels optree? Jesus het vir hulle—en vir ons—gesê:
20 “Maar jy, wanneer jy barmhartigheidsgawes gee, moenie jou linkerhand laat weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou barmhartigheidsgawes in die geheim kan wees; dan sal jou Vader wat in die geheim toekyk, jou beloon” (Matt. 6:3, 4). Ons hande werk gewoonlik saam. As ons dus nie die linkerhand laat weet wat die regterhand doen nie, beteken dit dat ons nie ons liefdedade bekend maak nie, selfs nie aan diegene wat so na aan ons is as wat ons linkerhand aan ons regterhand is nie.
21. Wat sluit die beloning van die Een “wat in die geheim toekyk” in?
21 As ons nie oor ons liefdadigheid spog nie, sal ons “barmhartigheidsgawes” in die geheim wees. Dan sal ons Vader, “wat in die geheim toekyk”, ons beloon. Omdat hy in die hemel woon en onsigbaar is vir menseoë, is ons hemelse Vader altyd “in die geheim” sover dit die mensdom betref (Joh. 1:18). Die beloning van die een “wat in die geheim toekyk”, sluit in dat Jehovah ons in ’n intieme verhouding met hom bring, ons sondes vergewe en ons die ewige lewe gee (Spr. 3:32; Joh. 17:3; Ef. 1:7). Dit is baie beter as om lof van mense te ontvang!
Kosbare woorde wat gekoester moet word
22, 23. Waarom moet ons Jesus se woorde koester?
22 Die Bergpredikasie is beslis vol geestelike juwele met talle pragtige fasette. Dit bevat ongetwyfeld kosbare woorde wat ons selfs in hierdie veelbewoë wêreld vreugde kan verskaf. Ja, ons sal gelukkig wees as ons Jesus se woorde koester en toelaat dat dit ons gesindheid en lewenswyse beïnvloed.
23 Elkeen wat “hoor” en “doen” wat Jesus geleer het, sal geseën word. (Lees Matteus 7:24, 25.) Laat ons dus vasbeslote wees om Jesus se raad te volg. Ons sal nog van sy woorde in die Bergpredikasie in die laaste artikel in hierdie reeks bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom is dit belangrik om vrede te maak met ’n broer wat aanstoot geneem het?
• Hoe kan ons voorkom dat ons “regteroog” ons laat struikel?
• Wat moet ons gesindheid ten opsigte van gee wees?
[Prent op bladsy 11]
Hoe goed is dit tog om ‘vrede te maak’ met ’n medegelowige wat aanstoot geneem het!
[Prente op bladsy 12, 13]
Jehovah seën blymoedige gewers