Hou aan om goed te doen
“Hou [aan] om goed te doen.”—LUK. 6:35.
1, 2. Waarom is dit dikwels ’n uitdaging om goed te doen aan ander?
DIT kan ’n uitdaging wees om goed te doen aan ander. Diegene aan wie ons liefde betoon, betoon miskien nie liefde aan ons nie. Hoewel ons mense geestelik probeer help deur “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” en sy Seun aan hulle bekend te maak, stel hulle dalk nie belang nie of is hulle ondankbaar (1 Tim. 1:11). Ander is kwaadwillige “vyande van die folterpaal van die Christus” (Fil. 3:18). Hoe moet ons as Christene hulle behandel?
2 Jesus Christus het vir sy dissipels gesê: “Hou . . . aan om julle vyande lief te hê en om goed te doen” (Luk. 6:35). Kom ons beskou hierdie aansporing van naderby. Ons sal ook baat vind by ander gedagtes wat Jesus gemeld het oor goeie dade teenoor ander.
‘Julle moet julle vyande liefhê’
3. (a) Som Jesus se stelling in Matteus 5:43-45 in jou eie woorde op. (b) Watter beskouing van Jode en nie-Jode het onder eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers ontstaan?
3 In sy bekende Bergpredikasie het Jesus vir sy gehoor gesê dat hulle hulle vyande moet liefhê en moet bid vir dié wat hulle vervolg. (Lees Matteus 5:43-45.) Dié wat by daardie geleentheid teenwoordig was, was Jode, wat bewus was van God se gebod: “Jy mag nie wraak neem of ’n wrok koester teen die kinders van jou volk nie; en jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Lev. 19:18). Eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers het geglo dat “die kinders van jou volk” en “jou naaste” net na Jode verwys. Die Mosaïese Wet het vereis dat die Israeliete van ander nasies afgeskeie bly, maar die beskouing het ontstaan dat alle nie-Jode vyande is, wat as individue gehaat moet word.
4. Hoe moes Jesus se dissipels teenoor hulle vyande optree?
4 Jesus daarenteen het gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matt. 5:44). Sy dissipels moes liefdevol optree teenoor almal wat hulle vyandiggesind was. Volgens die Evangelieskrywer Lukas het Jesus gesê: “Ek sê vir julle wat luister: Hou aan om julle vyande lief te hê, om goed te doen aan dié wat julle haat, om dié te seën wat julle vervloek, om te bid vir dié wat julle beledig” (Luk. 6:27, 28). Soos eerste-eeuse persone wat Jesus se woorde ter harte geneem het, ‘doen ons goed aan dié wat ons haat’ deur met welwillende dade op hulle vyandigheid te reageer. Ons ‘seën dié wat ons vervloek’ deur op ’n vriendelike wyse met hulle te praat. En ons ‘bid vir dié wat ons vervolg’ met fisiese geweld of ander vorme van ‘beledigende’ behandeling. Hierdie gebede is liefdevolle versoeke dat vervolgers hulle gesindheid sal verander en op ’n wyse sal optree wat vir hulle Jehovah se guns meebring.
5, 6. Waarom moet ons ons vyande liefhê?
5 Waarom moet ons liefde vir ons vyande toon? “Sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is”, het Jesus gesê (Matt. 5:45). As ons ag slaan op hierdie raad, word ons “kinders” van God deurdat ons Jehovah navolg, wat “sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges”. Volgens Lukas se verslag is God “goedhartig teenoor die ondankbares en goddeloses”.—Luk. 6:35.
6 Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit vir sy dissipels was om ‘aan te hou om hulle vyande lief te hê’ deur te sê: “As julle dié liefhet wat julle liefhet, watter beloning het julle? Doen die belastinggaarders nie ook dieselfde nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle wat buitengewoon is? Doen die mense van die nasies nie ook dieselfde nie?” (Matt. 5:46, 47). As ons ons liefde beperk tot dié wat dit beantwoord, sal dit geen “beloning”, of guns, van God verdien nie. Selfs belastinggaarders, wat oor die algemeen geminag is, het liefde getoon vir mense wat vir hulle lief was.—Luk. 5:30; 7:34.
7. Waarom sal dit niks buitengewoons wees as ons net ons “broers” groet nie?
7 Die algemene Joodse groet het die woord “vrede” ingesluit (Rigt. 19:20; Joh. 20:19). Dit het ’n wens ingehou vir die gesondheid, welsyn en voorspoed van die persoon wat gegroet word. Dit sal niks ‘buitengewoons’ wees as ons net dié groet wat ons as ons “broers” beskou nie. Soos Jesus getoon het, het “mense van die nasies” iets soortgelyks gedoen.
8. Wat het Jesus sy toehoorders aangespoor om te doen toe hy gesê het: ‘Julle moet volmaak wees’?
8 Oorgeërfde sonde het dit vir Christus se dissipels onmoontlik gemaak om onberispelik, volmaak, te wees (Rom. 5:12). Tog het Jesus hierdie deel van sy toespraak afgesluit deur te sê: “Julle moet dan volmaak wees, soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matt. 5:48). Hy het sy toehoorders hierdeur aangespoor om hulle “hemelse Vader”, Jehovah, na te volg deur hulle liefde te vervolmaak—dit volkome te maak deur hulle vyande lief te hê. Dit word ook van ons verwag.
Waarom moet ons vergewensgesind wees?
9. Wat word bedoel met die woorde: “Vergewe ons ons skulde”?
9 Ons hou aan om goed te doen wanneer ons barmhartig is en iemand vergewe wat teen ons sondig. Trouens, deel van Jesus se modelgebed bevat die woorde: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het” (Matt. 6:12). Dit verwys natuurlik nie na finansiële skulde nie. Lukas se Evangelie toon dat die “skulde” wat Jesus in gedagte gehad het, sondes is, want dit sê: “Vergewe ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat by ons in die skuld is.”—Luk. 11:4.
10. Hoe kan ons God navolg wat vergifnis betref?
10 Ons moet God navolg, wat berouvolle sondaars vryelik vergewe. Die apostel Paulus het geskryf: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Ef. 4:32). Die psalmis Dawid het gesing: “Jehovah is barmhartig en genadig, word nie gou toornig nie en is oorvloedig in liefderyke goedhartigheid. . . . Hy het nie met ons gehandel volgens ons sondes nie; ook het hy nie volgens ons oortredings oor ons gebring wat ons verdien nie. . . . So ver as die sonsopgang verwyderd is van die sonsondergang, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder. Soos ’n vader barmhartigheid aan sy kinders bewys, het Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees. Want hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is.”—Ps. 103:8-14.
11. Aan wie skenk God vergifnis?
11 Mense kan God se vergifnis slegs ontvang as hulle reeds dié vergewe het wat teen hulle gesondig het (Mark. 11:25). Jesus het hierdie punt beklemtoon en bygevoeg: “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe; maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie” (Matt. 6:14, 15). Ja, God skenk vergifnis slegs aan dié wat ander vryelik vergewe. En een van die maniere om aan te hou om goed te doen, is om ag te slaan op Paulus se raad: “Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”—Kol. 3:13.
“Hou op om te oordeel”
12. Watter raad het Jesus gegee oor die neiging om ander te oordeel?
12 Jesus het in die Bergpredikasie gewys op nog ’n manier om goed te doen toe hy vir sy toehoorders gesê het dat hulle moet ophou om ander te oordeel en hierdie punt toe met ’n kragtige illustrasie beklemtoon het. (Lees Matteus 7:1-5.) Kom ons kyk wat Jesus bedoel het toe hy gesê het: “Hou op om te oordeel.”
13. Hoe kon Jesus se toehoorders ‘aanhou om vry te laat’?
13 Matteus se Evangelie haal Jesus soos volg aan: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matt. 7:1). Volgens Lukas het Jesus gesê: “Hou op om te oordeel, en julle sal hoegenaamd nie geoordeel word nie; en hou op om te veroordeel, en julle sal hoegenaamd nie veroordeel word nie. Hou aan om vry te laat, en julle sal vrygelaat word” (Luk. 6:37). Die eerste-eeuse Fariseërs het ander kras geoordeel ooreenkomstig hulle onskriftuurlike tradisies. Enige van Jesus se toehoorders wat dit gedoen het, moes ‘ophou om te oordeel’. Hulle moes eerder ‘aanhou om vry te laat’, dit wil sê om die tekortkominge van ander te vergewe. Die apostel Paulus het soortgelyke raad oor vergifnis gegee, soos vroeër gemeld is.
14. Deur vergifnis te skenk, sou Jesus se dissipels mense beweeg om wat te doen?
14 Deur vergifnis te skenk, sou Jesus se dissipels mense beweeg om op hulle beurt vergewensgesind te wees. “Met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word”, het Jesus gesê, “en met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle vir julle uitmeet” (Matt. 7:2). Wat ons behandeling van ander betref, maai ons wat ons saai.—Gal. 6:7.
15. Hoe het Jesus getoon dat dit verkeerd is om oorkrities te wees?
15 Onthou dat Jesus, om te toon hoe verkeerd dit is om oorkrities te wees, gevra het: “Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Laat my toe om die strooihalm uit jou oog uit te haal’; wanneer daar, kyk! ’n balk in jou eie oog is?” (Matt. 7:3, 4). ’n Persoon wat geneig is om iemand anders te kritiseer, let op ’n klein gebrek in sy broer se “oog”. Die kritiese persoon gee te kenne dat sy broer se insig en oordeel belemmer is. Hoewel die tekortkoming klein is—soos ’n strooihalmpie—bied die kritiese persoon aan om ‘die strooihalm uit te haal’. Hy bied op huigelagtige wyse aan om die broer te help om dinge duideliker te sien.
16. Waarom kan daar gesê word dat die Fariseërs “’n balk” in hulle oog gehad het?
16 Die Joodse godsdiensleiers in die besonder was baie krities teenoor ander. Ter toeligting: Toe ’n sekere blinde man wat deur Christus genees is, gesê het dat Jesus sekerlik van God gekom het, het die Fariseërs teruggekap: “Jy is geheel en al in sondes gebore, en nogtans leer jy ons?” (Joh. 9:30-34). Met betrekking tot helder geestelike insig en die vermoë om behoorlik te oordeel, het die Fariseërs “’n balk” in hulle eie oog gehad en was hulle heeltemal blind. Jesus het dus uitgeroep: “Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien hoe om die strooihalm uit jou broer se oog uit te haal” (Matt. 7:5; Luk. 6:42). As ons vasbeslote is om goed te doen en ander goed te behandel, sal ons nie hardvogtige kritici wees wat altyd ’n figuurlike strooihalm in ons broer se oog soek nie. Ons sal eerder erken dat ons onvolmaak is en dus nie veroordelend of krities teenoor ons medegelowiges moet wees nie.
Hoe ons ander moet behandel
17. Hoe moet ons ander behandel in die lig van Matteus 7:12?
17 In die Bergpredikasie het Jesus daarop gewys dat God ’n vaderlike gesindheid teenoor Sy knegte openbaar deur hulle gebede te verhoor. (Lees Matteus 7:7-12.) Dit is opmerkenswaardig dat Jesus die volgende gedragsreël uiteengesit het: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matt. 7:12). Net as ons ander mense só behandel, kan ons bewys dat ons ware volgelinge van Jesus Christus is.
18. Hoe het “die Wet” getoon dat ons ander moet behandel soos ons wil hê dat hulle ons moet behandel?
18 Nadat Jesus gesê het dat ons ander moet behandel soos ons wil hê dat hulle ons moet behandel, het hy bygevoeg: “Trouens, dit is wat die Wet en die Profete beteken.” Wanneer ons ander behandel op die manier wat Jesus genoem het, tree ons op in ooreenstemming met die gees van “die Wet”—die geskrifte wat uit die Bybelboeke Genesis tot Deuteronomium bestaan. Hierdie boeke openbaar nie net Jehovah se voorneme om ’n saad voort te bring wat boosheid uit die weg sal ruim nie, maar sit ook die Wet uiteen wat God in 1513 v.G.J. deur Moses aan die nasie Israel gegee het (Gen. 3:15). Die Wet het dit onder andere duidelik gestel dat die Israeliete regverdig moes wees, nie partydigheid moes toon nie en goed moes doen aan die geteisterdes en die inwonende vreemdelinge in die land.—Lev. 19:9, 10, 15, 34.
19. Hoe toon “die Profete” dat ons goed moet doen?
19 Toe Jesus na “die Profete” verwys het, het hy die profetiese boeke van die Hebreeuse Geskrifte in gedagte gehad. Hulle bevat Messiaanse profesieë wat in Christus vervul is. Hierdie geskrifte toon ook dat God sy knegte seën wanneer hulle doen wat reg is in sy oë en ander reg behandel. In Jesaja se profesie is die Israeliete byvoorbeeld hierdie raad gegee: “Só het Jehovah gesê: ‘Bewaar geregtigheid en doen wat regverdig is. . . . Gelukkig is die sterflike mens wat dit doen, en die mensekind wat daaraan vashou, . . . wat sy hand terughou om niks slegs te doen nie’” (Jes. 56:1, 2). Ja, God verwag van sy knegte om aan te hou om goed te doen.
Doen altyd goed aan ander
20, 21. Hoe het die skare op Jesus se Bergpredikasie gereageer, en waarom moet jy daaroor peins?
20 Ons het net ’n paar van die talle lewensbelangrike gedagtes bespreek wat Jesus in sy ongeëwenaarde Bergpredikasie gemeld het. Ons kan nietemin maklik die reaksie verstaan van diegene wat by hierdie geleentheid na hom geluister het. Die geïnspireerde verslag sê: “En toe Jesus klaar was met hierdie woorde, was die uitwerking dat die skare verstom was oor die manier waarop hy geleer het; want hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het, en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”—Matt. 7:28, 29.
21 Daar bestaan geen twyfel dat Jesus Christus die voorspelde “Wonderlike Raadgewer” was nie (Jes. 9:6). Die Bergpredikasie is ’n treffende voorbeeld van Jesus se kennis van sy hemelse Vader se beskouing van sake. Benewens die gedagtes wat ons bespreek het, het hierdie toespraak baie te sê oor ware geluk, hoe om onsedelikheid te vermy, hoe om regverdigheid te beoefen, wat ons moet doen om ’n veilige en vreugdevolle toekoms te geniet en baie ander sake. Lees gerus weer Matteus hoofstukke 5 tot 7 noukeurig en biddend deur. Peins oor Jesus se wonderlike raad wat daar opgeteken is. Pas in jou lewe toe wat Christus in sy Bergpredikasie gesê het. Dan sal jy beter in staat wees om Jehovah te behaag, ander reg te behandel en aan te hou om goed te doen.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe moet ons ons vyande behandel?
• Waarom moet ons vergewensgesind wees?
• Wat het Jesus gesê oor die neiging om mense te oordeel?
• Hoe moet ons ander volgens Matteus 7:12 behandel?
[Lokteks op bladsy 10]
Weet jy waarom Jesus gesê het: “Hou op om te oordeel”?
[Prent op bladsy 8]
Waarom moet ons bid vir dié wat ons vervolg?
[Prent op bladsy 10]
Behandel jy ander altyd soos jy behandel wil word?