“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”
“Die tweede [gebod] is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”—MATT. 22:39.
1, 2. (a) Wat het Jesus gesê was die tweede grootste gebod in die Wet? (b) Watter vrae sal ons nou bespreek?
OM JESUS te toets, het ’n Fariseër hom eenkeer gevra: “Leermeester, wat is die grootste gebod in die Wet?” Soos ons in die vorige artikel gesien het, het Jesus geantwoord: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod.” Hy het bygevoeg: “Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”—Matt. 22:34-39.
2 Jesus het gesê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Dit is dus goed om te vra: ‘Wie is werklik ons naaste? Hoe kan ons naasteliefde betoon?’
WIE IS WERKLIK ONS NAASTE?
3, 4. (a) Watter illustrasie het Jesus gebruik om die vraag te beantwoord: “Wie is dan my naaste”? (b) Hoe het die Samaritaan die man gehelp wat beroof, geslaan en halfdood agtergelaat is? (Sien prent aan begin van artikel.)
3 Let op wat Jesus gesê het toe ’n man wat wou bewys dat hy regverdig is, hom gevra het: “Wie is dan my naaste?” In antwoord hierop het Jesus die illustrasie van die barmhartige Samaritaan gegee. (Lees Lukas 10:29-37.) ’n Mens sou verwag dat ’n Israelitiese priester en ’n Leviet naasteliefde sou betoon toe hulle ’n man gesien het wat beroof, geslaan en halfdood agtergelaat is. Maar hulle het verbygegaan sonder om enigiets vir hom te doen. Die man is gehelp deur ’n Samaritaan—iemand wat aan ’n volk behoort het wat die Mosaïese Wet gerespekteer het, maar wat deur die Jode verag is.—Joh. 4:9.
4 Om hom te help om te genees, het die barmhartige Samaritaan olie en wyn op die beseerde man se wonde gegooi. Die twee denarii wat hy vir die herbergier gegee het om die man te versorg, was gelyk aan twee dae se loon (Matt. 20:2). Dit is dus maklik om te sien wie werklik die beseerde man se naaste was. Jesus se illustrasie leer ons beslis om medelye en liefde aan ons naaste te betoon.
5. Hoe het Jehovah se knegte gedurende ’n onlangse natuurramp naasteliefde betoon?
5 Dit is dikwels moeilik om medelydende mense soos die barmhartige Samaritaan te vind. Dit is veral die geval in hierdie kritieke “laaste dae” wanneer baie mense geen natuurlike geneentheid het nie, wreed is en sonder liefde vir die goeie is (2 Tim. 3:1-3). Kritieke situasies kan byvoorbeeld tydens ’n natuurramp ontstaan. Kyk na wat gebeur het toe die orkaan Sandy die stad New York laat in Oktober 2012 getref het. In ’n deel van die stad wat swaar getref is, het plunderaars toegesak op inwoners wat reeds gely het omdat hulle nie elektrisiteit, verhitting en ander noodsaaklike dinge gehad het nie. In dieselfde gebied het Jehovah se Getuies ’n program in werking gestel om mekaar sowel as ander te help. Christene doen sulke dinge omdat hulle hulle naaste liefhet. Op watter ander maniere kan ons naasteliefde betoon?
HOE ONS NAASTELIEFDE KAN BETOON
6. Hoe hou ons predikingswerk met naasteliefde verband?
6 Bied geestelike hulp. Ons doen dit deur mense se aandag op die bemoedigende “vertroosting van die Skrif” te probeer rig (Rom. 15:4). Ons betoon ongetwyfeld naasteliefde wanneer ons ander tydens ons predikingswerk van Bybelwaarheid vertel (Matt. 24:14). Wat ’n voorreg het ons tog om die Koninkryksboodskap te verkondig wat kom van “die God wat hoop gee”!—Rom. 15:13.
7. Wat is die Gulde Reël, en hoe word ons geseën wanneer ons dit volg?
7 Volg die Gulde Reël. Jesus het hierdie reël tydens sy Bergpredikasie gegee, toe hy gesê het: “Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen; trouens, dit is wat die Wet en die Profete beteken” (Matt. 7:12). Wanneer ons ander behandel soos Jesus gesê het ons moet, tree ons op in ooreenstemming met die gees van “die Wet” (Genesis tot Deuteronomium) en “die Profete” (die profetiese boeke van die Hebreeuse Geskrifte). Hierdie geskrifte toon duidelik dat God diegene seën wat liefde aan ander betoon. Jehovah het byvoorbeeld deur Jesaja gesê: “Bewaar geregtigheid en doen wat regverdig is . . . Gelukkig is die sterflike mens wat dit doen” (Jes. 56:1, 2). Wanneer ons ons naaste op ’n liefdevolle en regverdige manier behandel, word ons beslis geseën.
8. Waarom moet ons vir ons vyande lief wees, en wat kan gebeur as ons dit doen?
8 Wees lief vir jou vyande. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat’”, het Jesus gesê. “Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is” (Matt. 5:43-45). Die apostel Paulus het ’n soortgelyke punt gestel toe hy geskryf het: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink” (Rom. 12:20; Spr. 25:21). Volgens die Mosaïese Wet moes ’n persoon sy vyand help om sy dier los te maak as die dier onder sy vrag gaan lê het (Eks. 23:5). Wanneer mense wat voorheen vyande was op hierdie manier saamwerk, kan hulle goeie vriende word. Omdat Christene liefde betoon, het baie van ons vyande se harte teenoor ons versag. Hoe bly sal ons tog wees as party van ons vyande—selfs verwoede vervolgers—ware Christene word omdat ons aan hulle liefde betoon het!
9. Wat het Jesus oor vrede met ons broer gesê?
9 “Streef vrede met alle mense na” (Heb. 12:14). Dit sluit natuurlik ons broers in, want Jesus het gesê: “As jy . . . jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matt. 5:23, 24). God sal ons seën as ons liefde aan ons broer betoon en so gou as moontlik met hom vrede probeer maak.
10. Waarom moet ons nie krities wees nie?
10 Moenie krities wees nie. “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie”, het Jesus gesê, “want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle vir julle uitmeet. Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Laat my toe om die strooihalm uit jou oog uit te haal’; wanneer daar, kyk! ’n balk in jou eie oog is? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien hoe om die strooihalm uit jou broer se oog uit te haal” (Matt. 7:1-5). Wat ’n kragtige manier om ons te vermaan om nie die klein tekortkominge van ander te kritiseer terwyl ons self dalk baie groot tekortkominge het nie!
’N SPESIALE MANIER OM NAASTELIEFDE TE BETOON
11, 12. Op watter unieke manier betoon ons liefde aan ons naaste?
11 Daar is ’n unieke manier waarop ons liefde aan ons naaste betoon. Soos Jesus, verkondig ons die goeie nuus van die Koninkryk (Luk. 8:1). Jesus het sy volgelinge die opdrag gegee om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies’ (Matt. 28:19, 20). Deur ons deel te doen om hierdie opdrag uit te voer, probeer ons ons naaste help om die breë en wye pad te verlaat wat na vernietiging lei en die smal pad te vind wat na die lewe lei (Matt. 7:13, 14). Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah hierdie pogings seën nie.
12 Soos Jesus, help ons mense om bewus te raak van hulle geestelike behoefte (Matt. 5:3). Wanneer mense gunstig reageer, speel ons ’n rol in die bevrediging van daardie behoefte deur “God se goeie nuus” aan hulle bekend te maak (Rom. 1:1). Diegene wat die Koninkryksboodskap aanneem, word deur Jesus Christus met God versoen (2 Kor. 5:18, 19). Deur die goeie nuus te verkondig, betoon ons dus werklik op ’n lewensbelangrike manier liefde aan ons naaste.
13. Hoe voel jy oor die werk wat ons as Koninkryksverkondigers doen?
13 Wanneer ons op doeltreffende wyse herbesoeke doen en tuisbybelstudies hou, ervaar ons die tevredenheid wat dit meebring om mense te help om volgens God se regverdige standaarde te lewe. Dit kan daartoe lei dat ’n Bybelstudent groot veranderinge in sy lewenswyse aanbring (1 Kor. 6:9-11). Dit is beslis hartverblydend om te sien hoe God diegene wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, help om die nodige veranderinge te maak en ’n hegte verhouding met hom op te bou (Hand. 13:48). In baie gevalle word wanhoop dus met vreugde vervang, en oormatige angstigheid met vertroue in ons hemelse Vader. Hoe bly is ons tog om te sien hoe nuwelinge geestelike vordering maak! Jy sal sekerlik saamstem dat dit ’n seën is om as Koninkryksverkondigers op hierdie spesiale manier naasteliefde te betoon.
’N GEÏNSPIREERDE BESKRYWING VAN DIE LIEFDE
14. Meld ’n paar aspekte van liefde wat in 1 Korintiërs 13:4-8 bespreek word.
14 As ons wat Paulus oor liefde geskryf het, in ons handelinge met ons naaste toepas, kan dit baie probleme voorkom en geluk sowel as God se seën meebring. (Lees 1 Korintiërs 13:4-8.) Kom ons ondersoek kortliks wat Paulus oor liefde gesê het en sien hoe ons sy woorde in ons verhouding met ons naaste kan toepas.
15. (a) Waarom moet ons lankmoedig en goedhartig wees? (b) Waarom moet ons jaloesie en grootpratery vermy?
15 “Die liefde is lankmoedig en goedhartig.” Net soos God lankmoedig en goedhartig is in sy handelinge met onvolmaakte mense, moet ons lankmoedig en goedhartig wees wanneer ander foute maak en onbedagsaam, of selfs onbeskof, is. “Die liefde is nie jaloers nie”, en daarom sal ware liefde ons nie toelaat om iemand anders se besittings of voorregte in die gemeente hebsugtig te begeer nie. Wat meer is, as ons liefde het, sal ons nie grootpraat of opgeblase van trots raak nie. Die Bybel sê immers: “Hoogmoedige oë en ’n trotse hart, die lamp van die goddeloses, is sonde.”—Spr. 21:4.
16, 17. Hoe kan ons in ooreenstemming met 1 Korintiërs 13:5, 6 optree?
16 Liefde sal verseker dat ons welvoeglik teenoor ons naaste optree. Ons sal nie vir hom leuens vertel, by hom steel of enigiets anders doen wat Jehovah se wette en beginsels skend nie. Liefde sal ook verseker dat ons nie net uit eie belang optree nie, maar ook die belange van ander op die hart dra.—Fil. 2:4.
17 Ware liefde raak nie maklik ergerlik nie en “hou nie boek van die kwaad”, asof ons rekord hou van elke keer dat iemand iets doen wat nie liefdevol is nie (1 Tess. 5:15). As ons ’n wrok koester, sal dit God nie behaag nie, en dit is soos om ’n smeulende vuur lewend te hou wat kan ontvlam en ons sowel as ander skade kan aandoen (Lev. 19:18). Die liefde is bly saam met die waarheid, maar dit sal voorkom dat ons “bly [is] oor onregverdigheid”, selfs as iemand wat ons haat, sleg behandel word of die een of ander onreg verduur.—Lees Spreuke 24:17, 18.
18. Wat leer ons uit 1 Korintiërs 13:7, 8 omtrent die liefde?
18 Hoe beskryf Paulus die liefde verder? Hy het gesê dat die liefde ‘alles verdra’. As iemand ons aanstoot gee, maar om vergifnis vra, beweeg liefde ons om hom te vergewe. Die liefde “glo alles” in God se Woord en maak ons dankbaar vir die geestelike voedsel wat ons ontvang. Die liefde “hoop alles” wat in die Bybel opgeteken is en spoor ons aan om redes vir ons hoop aan ander te gee (1 Pet. 3:15). Ons hoop en bid ook vir die beste uitkoms wanneer ons ons in moeilike omstandighede bevind. Die liefde “verduur alles”, hetsy sondes wat teen ons gepleeg is, vervolging of ander beproewinge. Wat meer is, “die liefde faal nooit nie”. Gehoorsame mense sal dit tot in alle ewigheid openbaar.
HOU AAN OM JOU NAASTE LIEF TE HÊ SOOS JOUSELF
19, 20. Watter skriftuurlike raad moet ons beweeg om aan te hou om naasteliefde te betoon?
19 As ons die Bybel se raad toepas, kan ons aanhou om naasteliefde te betoon. Hierdie liefde moet aan alle mense betoon word, nie net aan diegene wat dieselfde etniese agtergrond as ons het nie. Ons moet ook in gedagte hou dat Jesus gesê het: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 22:39). God en Christus verwag dus dat ons ons naaste moet liefhê. As ons nie weet hoe om ’n sekere situasie met ons naaste te hanteer nie, moet ons tot God bid om ons deur middel van sy heilige gees te rig. Dit sal Jehovah se seën meebring en ons help om op ’n liefdevolle manier op te tree.—Rom. 8:26, 27.
20 Die gebod om ons naaste lief te hê soos onsself, word “die koninklike wet” genoem (Jak. 2:8). Nadat Paulus na ’n paar gebooie van die Mosaïese Wet verwys het, het hy gesê: “Watter ander gebod daar ook al is, word in hierdie woord saamgevat, naamlik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:8-10). Ons moet dus aanhou om naasteliefde te betoon.
21, 22. Waarom moet ons God en ons naaste liefhê?
21 Wanneer ons peins oor die redes waarom ons naasteliefde moet betoon, is dit goed om te dink aan Jesus se woorde toe hy gesê het dat sy Vader “sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matt. 5:43-45). Ons moet liefde aan ons naaste betoon, hetsy hy regverdig of onregverdig is. Soos ons vroeër gesien het, is die Koninkrykspredikingswerk ’n belangrike manier waarop ons dit doen. Watter seëninge hou dit tog vir ons naaste in as hy met opregte waardering op die goeie nuus reageer!
22 Ons het baie redes om Jehovah met ons hele hart, siel en verstand lief te hê. Daar is ook baie maniere waarop ons naasteliefde kan betoon. As ons liefde vir God en ons naaste openbaar, sal ons respek toon vir wat Jesus gesê het, die twee grootste gebooie is. Bowenal sal ons ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, behaag.