Hoofstuk 65
’n Geheime reis na Jerusalem
DIT is die noordelike herfs van 32 G.J., en die Huttefees is naby. Sedert die Pasga van 31 G.J. toe die Jode probeer het om Jesus dood te maak, het hy sy bedrywigheid hoofsaaklik tot Galilea beperk. Jesus was waarskynlik sedertdien slegs in Jerusalem om die Jode se drie jaarlikse feeste by te woon.
Nou dring Jesus se broers by hom aan: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea.” Jerusalem is die hoofstad van Judea en die gosdienssentrum van die hele land. Sy broers redeneer: “Niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie.”
Hoewel Jakobus, Simon, Josef en Judas nie glo dat hulle ouer broer Jesus werklik die Messias is nie, wil hulle hê dat hy sy wonderkragte aan al die feesgangers moet toon. Maar Jesus is bewus van die gevaar. “Die wêreld kan julle nie haat nie”, sê hy, “maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is.” Daarom sê Jesus vir sy broers: “Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie.”
Die Huttefees is ’n sewedaagse viering. Op die agtste dag word dit met plegtige verrigtinge afgesluit. Die fees dui die einde van die landboujaar aan en is ’n tyd van groot vreugde en danksegging. Etlike dae nadat Jesus se broers vertrek om die fees saam met die meeste reisigers by te woon, gaan hy en sy dissipels in die geheim en sorg hulle dat hulle nie die mense se aandag trek nie. Hulle volg die roete deur Samaria, pleks van die een naby die Jordaanrivier wat die meeste mense volg.
Aangesien Jesus en sy geselskap huisvesting in ’n Samaritaanse dorp sal nodig hê, stuur hy boodskappers vooruit om voorbereidings te tref. Die mense weier egter om enigiets vir Jesus te doen nadat hulle verneem het dat hy na Jerusalem reis. Jakobus en Johannes vra met verontwaardiging: “Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer?” Jesus bestraf hulle omdat hulle so iets voorstel, en hulle reis verder na ’n ander dorp.
Terwyl hulle met die pad langs loop, sê ’n skrifgeleerde vir Jesus: “Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan.”
“Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste”, antwoord Jesus, “maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.” Jesus verduidelik hier dat die skrifgeleerde ontbering sal ly as hy Sy volgeling word. En die implikasie is blykbaar dat die skrifgeleerde te trots is om hierdie lewenswyse aan te neem.
Vir ’n ander man sê Jesus: “Volg My.”
“Laat my toe om eers my vader te gaan begrawe”, antwoord die man.
“Laat die dooies hul eie dooies begrawe”, antwoord Jesus, “maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.” Die man se vader het blykbaar nog nie gesterf nie, want as dit die geval was, sou sy seun waarskynlik nie hier gewees het om na Jesus te luister nie. Die seun vra blykbaar tyd sodat hy op sy vader se dood kan wag. Hy is nie bereid om die Koninkryk van God eerste in sy lewe te stel nie.
Terwyl hulle verder gaan op die pad na Jerusalem sê ’n ander man vir Jesus: “Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is.”
In antwoord sê Jesus: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” Diegene wat Jesus se dissipels sal wees, moet hulle oë op Koninkryksdiens gevestig hou. Net soos ’n voor waarskynlik skeef sal loop as die ploeër nie aanhou om reguit voor hom te kyk nie, sal enigiemand wat na hierdie ou stelsel omkyk moontlik van die pad wat na die ewige lewe lei af struikel. Johannes 7:2-10; Lukas 9:51-62; Mattheüs 8:19-22.
▪ Wie is Jesus se broers, en hoe beskou hulle hom?
▪ Waarom is die Samaritane so onbeleef, en wat wil Jakobus en Johannes doen?
▪ Watter drie gesprekke voer Jesus op die pad, en hoe beklemtoon hy die nodigheid van selfopofferende diens?