Wanneer dit verstandig is om weg te hardloop
IN VANDAG se wêreld kom ’n gees van bravade en konfrontasie of versoekings dikwels voor. Iemand wat van ’n situasie af wegvlug, word gewoonlik as swak of lafhartig beskou. Hy kan selfs bespot word.
Die Bybel maak dit egter duidelik dat daar tye is wanneer dit verstandig sowel as moedig is om weg te hardloop. Dit word bevestig deur Jesus Christus se woorde aan sy dissipels voordat hy hulle in die bediening uitgestuur het: “Wanneer hulle julle in een stad vervolg, vlug na ’n ander” (Matteus 10:23). Ja, Jesus se dissipels moes van hulle vervolgers af probeer wegvlug. Hulle moes nie iets soos ’n kruistog voer om ander met geweld te probeer bekeer nie. Hulle het ’n boodskap van vrede verkondig (Matteus 10:11-14; Handelinge 10:34-37). Christene moes dus nie toelaat dat humeure opvlam nie, hulle moes eerder vlug en ver van die bron van onenigheid af wegkom. Sodoende het hulle ’n goeie gewete behou, asook hulle kosbare verhouding met Jehovah.—2 Korintiërs 4:1, 2.
In teenstelling hiermee vertel die Bybelboek Spreuke van ’n jong man wat nie van versoeking af weggevlug het nie, maar agter ’n prostituut aangeloop het “soos ’n bul wat gaan om geslag te word”. Die gevolg? Rampspoed omdat hy geswig het voor die versoeking wat sy siel geraak het.—Spreuke 7:5-8, 21-23.
Gestel jy kom voor ’n versoeking soos geslagsonsedelikheid of ’n ander potensiële gevaar te staan. Volgens God se Woord sal die gepaste optrede heel moontlik wees om te vlug, om onmiddellik van die toneel af weg te kom.—Spreuke 4:14, 15; 1 Korintiërs 6:18; 2 Timoteus 2:22.