“God is liefde”
“Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.”—1 JOHANNES 4:8.
1-3. (a) Watter stelling maak die Bybel oor Jehovah se eienskap liefde, en in watter opsig is hierdie stelling uniek? (b) Waarom sê die Bybel “God is liefde”?
AL Jehovah se eienskappe is voortreflik, volmaak en aantreklik. Maar die innemendste van al Jehovah se eienskappe is liefde. Niks anders trek ons so kragtig tot Jehovah aan as sy liefde nie. Gelukkig is liefde ook sy vernaamste eienskap. Hoe weet ons dit?
2 Die Bybel sê iets van liefde wat dit nooit van Jehovah se ander hoofeienskappe sê nie. Die Skrif sê nie dat God krag is of dat God geregtigheid is of selfs dat God wysheid is nie. Hy besit hierdie eienskappe en is die uiteindelike bron van al drie. Maar van liefde word iets betekenisvollers gesê in 1 Johannes 4:8: “God is liefde.” Ja, liefde is ’n fundamentele eienskap van Jehovah. Dit is sy wese, of natuur. In algemene sin kan ons so daaraan dink: Jehovah se krag stel hom in staat om op te tree. Sy geregtigheid en sy wysheid rig die manier waarop hy optree. Maar Jehovah se liefde beweeg hom om op te tree. En sy liefde is altyd teenwoordig in die manier waarop hy sy ander eienskappe gebruik.
3 Daar word dikwels gesê dat Jehovah die verpersoonliking van liefde is. As ons dus van liefde wil leer, moet ons van Jehovah leer. Kom ons kyk dus na fasette van Jehovah se weergalose liefde.
Die grootste liefdesdaad
4, 5. (a) Wat is die grootste liefdesdaad van alle tye? (b) Waarom kan ons sê dat Jehovah en sy Seun verenig is deur die sterkste band van liefde wat nog gesmee is?
4 Jehovah het op baie maniere liefde betoon, maar een daarvan staan bo al die ander uit. Wat is dit? Die feit dat Hy sy Seun gestuur het om vir ons te ly en te sterf. Ons kan met sekerheid sê dat dit die grootste liefdesdaad van alle tye is. Waarom?
5 Die Bybel noem Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Dink net—Jehovah se Seun het voor die fisiese heelal bestaan. Hoe lank was Vader en Seun dan saam? Party wetenskaplikes skat dat die heelal 13 miljard jaar oud is. Maar al sou hierdie skatting reg wees, is dit nog steeds nie so lank soos die lewensduur van Jehovah se eersgebore Seun nie! Waarmee was hy gedurende al daardie eeue besig? Die Seun het vreugdevol as sy Vader se “meesterwerker” gedien (Spreuke 8:30; Johannes 1:3). Jehovah en sy Seun het saamgewerk om alle ander dinge te skep. Watter opwindende, vreugdevolle tye het hulle tog geniet! Wie van ons kan ons dan enigsins voorstel hoe sterk ’n band sal wees wat so ontsettend lank bestaan het? Dit is duidelik dat Jehovah God en sy Seun verenig is deur die sterkste band van liefde wat nog gesmee is.
6. Hoe het Jehovah sy gevoelens vir Sy Seun uitgedruk toe Jesus gedoop is?
6 Nietemin het Jehovah sy Seun aarde toe gestuur om as ’n mensebaba gebore te word. Dit het beteken dat Jehovah intieme omgang met sy geliefde Seun in die hemel vir ’n paar dekades moes prysgee. Hy het met groot belangstelling vanuit die hemel toegekyk terwyl Jesus opgegroei en ’n volmaakte man geword het. Toe Jesus omtrent 30 jaar oud was, is hy gedoop. By daardie geleentheid het die Vader self vanuit die hemel gepraat: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Dit moes die Vader baie bly gemaak het om te sien dat Jesus getrou alles doen wat voorspel is, alles wat van hom verwag is!—Johannes 5:36; 17:4.
7, 8. (a) Wat het Jesus op 14 Nisan 33 G.J. deurgemaak, en hoe het dit sy hemelse Vader geraak? (b) Waarom het Jehovah toegelaat dat sy Seun ly en sterf?
7 Maar hoe het Jehovah op 14 Nisan 33 G.J. gevoel toe Jesus verraai en daarna deur ’n oproerige skare in hegtenis geneem is? Toe Jesus bespot, daar op hom gespoeg en hy met vuiste geslaan is? Toe hy gegesel is totdat sy rug die ene skeurwonde was? Toe hy aan sy hande en voete aan ’n houtpaal genael is en daar gehang het terwyl mense hom gesmaad het? Hoe het die Vader gevoel toe sy geliefde Seun hom aanroep terwyl hy in hewige pyn verkeer het? Hoe het Jehovah gevoel toe Jesus sy laaste asem uitblaas en Sy dierbare Seun vir die eerste keer sedert die begin van die hele skepping nie bestaan het nie?—Matteus 26:14-16, 46, 47, 56, 59, 67; 27:26, 38-44, 46; Johannes 19:1.
8 Aangesien Jehovah gevoelens het, is die pyn wat hy oor die dood van sy Seun verduur het, iets wat ons nie in woorde kan uitdruk nie. Wat wel in woorde uitgedruk kan word, is die beweegrede wat Jehovah gehad het om dit toe te laat. Waarom het die Vader homself aan sulke pyn onderwerp? Jehovah openbaar iets wonderliks aan ons in Johannes 3:16—’n Bybelvers wat so belangrik is dat dit al die klein Evangelie genoem is. Dit sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” God se beweegrede het dus hierop neergekom: liefde. Geen groter liefde is al ooit betoon nie.
Hoe Jehovah ons van sy liefde verseker
9. Wat wil Satan ons graag laat glo oor Jehovah se beskouing van ons, maar waarvan verseker Jehovah ons?
9 ’n Belangrike vraag ontstaan egter: Het God ons as individue lief? Party stem dalk saam dat God die mensdom in die algemeen liefhet, soos Johannes 3:16 sê. Maar hulle voel in werklikheid: ‘God kan my as individu nooit liefhê nie.’ Feit is dat Satan die Duiwel ons graag wil laat glo dat Jehovah ons nie liefhet nie en dat ons geen waarde in sy oë het nie. Daarenteen verseker Jehovah ons dat elkeen van sy getroue knegte vir hom waardevol is, ongeag hoe onbeminlik of niks werd ons dalk dink ons is.
10, 11. Hoe toon Jesus se illustrasie van die mossies dat ons waardevol is in Jehovah se oë?
10 Let byvoorbeeld op Jesus se woorde wat in Matteus 10:29-31 opgeteken staan. Jesus het verduidelik hoe waardevol sy dissipels is en gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Dink net wat hierdie woorde vir Jesus se eerste-eeuse toehoorders beteken het.
11 In Jesus se dag was die mossie die goedkoopste voël wat as kos verkoop is. Vir een muntstuk van geringe waarde kon iemand twee mossies koop. Maar later het Jesus volgens Lukas 12:6, 7 gesê dat iemand wat twee muntstukke gegee het, nie vier mossies nie, maar vyf kon kry. Die ekstra voël is bygevoeg asof dit absoluut geen waarde gehad het nie. Hierdie voëls was miskien in die oë van mense niks werd nie, maar hoe het die Skepper hulle beskou? Jesus het gesê dat “nie een van hulle [nie eens die een wat bygevoeg word] voor God vergeet” word nie. Nou kan ons Jesus se punt begin verstaan. As Jehovah soveel waarde aan ’n enkele mossie heg, hoeveel waardevoller is ’n mens dan! Soos Jesus gesê het, ken Jehovah elke besonderheid omtrent ons. Selfs die hare op ons kop is getel!
12. Waarom kan ons seker wees dat Jesus realisties was toe hy gesê het dat die hare op ons kop getel is?
12 Party meen dalk dat Jesus hier oordryf het. Maar dink net aan die opstanding. Hoe intiem moet Jehovah ons tog ken om ons te kan herskep! Ons is vir hom so waardevol dat hy elke besonderheid onthou, met inbegrip van ons ingewikkelde genetiese kode en al ons jare van herinneringe en ondervindinge. In vergelyking hiermee sou dit iets eenvoudigs wees om ons hare te tel—waarvan daar omtrent 100 000 op die gemiddelde kop groei. Hoe pragtig verseker Jesus se woorde ons tog dat Jehovah vir ons as individue omgee!
13. Hoe toon die geval van koning Josafat dat Jehovah die goeie in ons sien al is ons onvolmaak?
13 Die Bybel openbaar iets anders wat ons van Jehovah se liefde verseker. Hy let op die goeie in ons en waardeer dit. Beskou die voorbeeld van goeie koning Josafat. Toe die koning iets dwaas gedoen het, het Jehovah se profeet vir hom gesê: “Hiervoor is daar verontwaardiging teen u van die kant van Jehovah.” Wat ’n ontstellende gedagte! Maar Jehovah se boodskap het nie daar geëindig nie. Dit het verder gegaan: “Daar is nietemin goeie dinge by u gevind” (2 Kronieke 19:1-3). Jehovah se regverdige toorn het hom dus nie verblind vir die “goeie dinge” in Josafat nie. Is dit nie gerusstellend om te weet dat ons God die goeie in ons sien al is ons onvolmaak nie?
’n God wat “vergewensgesind” is
14. Watter ontstellende gevoelens ondervind ons dalk wanneer ons sondig, maar hoe kan ons by Jehovah se vergifnis baat vind?
14 Wanneer ons sondig, kan die teleurstelling, skaamte en skuldgevoel wat ons ondervind, ons moontlik laat dink dat ons nooit waardig kan wees om Jehovah te dien nie. Maar onthou dat Jehovah “vergewensgesind” is (Psalm 86:5). Ja, as ons berou toon oor ons sondes en hard werk om dit nie weer te doen nie, kan ons by Jehovah se vergifnis baat vind. Let op hoe die Bybel hierdie wonderlike faset van Jehovah se liefde beskryf.
15. Hoe ver van ons af verwyder Jehovah ons sondes?
15 Die psalmis Dawid het ’n treffende beeld gebruik om Jehovah se vergifnis te beskryf: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (Ons kursiveer; Psalm 103:12, Die Bybel, 1953.) Hoe ver is die ooste van die weste? In sekere sin is die ooste altyd die verste afstand denkbaar van die weste; die twee kan nooit bymekaar uitkom nie. Een geleerde sê dat hierdie uitdrukking beteken “so ver as moontlik; so ver as wat ons ons kan voorstel”. Dawid se geïnspireerde woorde sê vir ons dat Jehovah, wanneer hy ons vergewe, ons sondes so ver van ons af verwyder as wat ons ons kan voorstel.
16. Waarom kan ons, wanneer Jehovah ons sondes vergewe, verseker voel dat hy ons daarna as rein beskou?
16 Het jy al ooit probeer om ’n vlek uit ’n ligkleurige kledingstuk te verwyder? Ondanks al jou pogings kon die vlek dalk nog steeds gesien word. Let op hoe Jehovah sy vergewensgesindheid beskryf: “Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word; al sou dit rooi soos karmosyn stof wees, dit sal soos wol word” (Jesaja 1:18). Die woord “skarlaken” verwys na ’n helderrooi kleur.a “Karmosyn” was een van die diep kleure waarmee stowwe gekleur is. Ons kan nooit die vlek van sonde deur ons eie pogings verwyder nie. Maar Jehovah kan sondes wat soos skarlaken en karmosyn is, so wit soos sneeu of ongekleurde wol maak. Wanneer Jehovah dus ons sondes vergewe, hoef ons nie te voel dat ons vir die res van ons lewe die vlek van hierdie sondes dra nie.
17. In watter sin werp Jehovah ons sondes agter sy rug?
17 In ’n roerende danklied wat Hiskia gekomponeer het nadat hy van ’n dodelike siekte genees is, het hy vir Jehovah gesê: “U het al my sondes agter u rug gewerp” (Jesaja 38:17). Jehovah word hier uitgebeeld as iemand wat die sondes van ’n berouvolle oortreder neem en dit agter Hom werp waar Hy dit nie meer sien of daarop let nie. Volgens een naslaanwerk kan die gedagte wat oorgedra word, soos volg weergegee word: “U het [my sondes] gemaak asof dit nooit bestaan het nie.” Is dit nie bemoedigend nie?
18. Hoe toon die profeet Miga dat Jehovah ons sondes vir goed verwyder wanneer Hy vergewe?
18 In ’n herstellingsbelofte het die profeet Miga sy oortuiging uitgespreek dat Jehovah sy berouvolle volk sou vergewe: “Wie is ’n God soos u, een wat . . . die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel oorsien? . . . En u sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:18, 19). Dink aan wat hierdie woorde beteken het vir mense wat in Bybeltye gelewe het. Was daar enige kans om iets terug te kry wat “in die dieptes van die see” gewerp is? Miga se woorde toon dus dat Jehovah ons sondes vir goed verwyder wanneer hy vergewe.
“Die tere medelye van ons God”
19, 20. (a) Wat beteken die Hebreeuse werkwoord wat met “barmhartigheid bewys” of “ontferm” weergegee word? (b) Hoe gebruik die Bybel ’n moeder se gevoelens vir haar baba om ons van Jehovah se medelye te leer?
19 Medelye is nog ’n faset van Jehovah se liefde. Wat is medelye? In die Bybel is daar ’n noue verband tussen medelye en barmhartigheid. ’n Aantal Hebreeuse en Griekse woorde dra die gedagte van medelye oor. Die Hebreeuse werkwoord ra·chamʹ word byvoorbeeld dikwels met “barmhartigheid bewys” of “ontferm” weergegee. Hierdie Hebreeuse term, wat Jehovah op homself toepas, is verwant aan die woord vir “moederskoot” en kan as “moederlike medelye” beskryf word.
20 Die Bybel gebruik die gevoelens van ’n moeder vir haar baba om ons te leer wat Jehovah se medelye beteken. Jesaja 49:15 sê: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, sodat sy nie medelye [ra·chamʹ] met die seun van haar moederskoot het nie? Ja, hulle vergeet dalk, maar ek sal jou nie vergeet nie” (The Amplified Bible). ’n Mens kan jou nouliks voorstel dat ’n moeder sal vergeet om haar baba te voed en te versorg. ’n Baba is immers hulpeloos; hy het dag en nag sy moeder se aandag nodig. Maar ongelukkig is dit veral in hierdie “kritieke tye” niks vreemds vir moeders om hulle kinders te verwaarloos nie (2 Timoteus 3:1, 3). “Maar”, sê Jehovah, “ek sal jou nie vergeet nie.” Die tere medelye wat Jehovah met sy knegte het, is oneindig sterker as die teerste natuurlike gevoel wat ons ons kan voorstel—die medelye wat ’n moeder gewoonlik vir haar baba voel.
21, 22. Wat het die Israeliete in eertydse Egipte deurgemaak, en hoe het Jehovah op hulle geroep gereageer?
21 Hoe toon Jehovah medelye soos ’n liefdevolle ouer? Hierdie eienskap kan duidelik gesien word in die manier waarop hy eertydse Israel behandel het. Teen die einde van die 16de eeu v.G.J. was miljoene Israeliete slawe in Egipte, waar hulle swaar onderdruk is (Eksodus 1:11, 14). In hulle benoudheid het die Israeliete tot Jehovah om hulp geroep. Hoe het die God van medelye gereageer?
22 Jehovah se hart is geroer. Hy het gesê: “Ek het . . . die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor . . . Ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). Jehovah kon nie die lyding van sy volk aanskou of hulle geroep hoor sonder om medelye vir hulle te voel nie. Jehovah is ’n God van empatie. En empatie—die vermoë om ander se pyn te voel—is nou verwant aan medelye. Maar Jehovah het nie net medelye gevoel vir sy volk nie; hy is beweeg om ten behoewe van hulle op te tree. Jesaja 63:9 sê: “Deur sy liefde en deur sy medelye het hy hulle teruggekoop.” Hy het die Israeliete “met ’n sterk hand” uit Egipte gered (Deuteronomium 4:34). Daarna het hy wonderdadig voedsel aan hulle voorsien en hulle in ’n vrugbare land ingebring wat aan hulle sou behoort.
23. (a) Hoe verseker die psalmis se woorde ons dat Jehovah diep besorg is oor ons as individue? (b) Op watter maniere help Jehovah ons?
23 Jehovah het nie net medelye met sy volk as ’n groep nie. Ons liefdevolle God is diep besorg oor ons as individue. Hy is deeglik bewus van enige lyding wat ons dalk verduur. Die psalmis het gesê: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep. Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (Psalm 34:15, 18). Hoe help Jehovah ons as individue? Hy verwyder nie noodwendig die oorsaak van ons lyding nie. Maar hy het ’n oorvloed voorsienings beskikbaar gestel vir diegene wat tot hom om hulp roep. Sy Woord bied praktiese raad wat ’n verskil kan maak. In die gemeente voorsien hy geestelik bekwame opsieners, wat probeer om sy medelye te weerspieël wanneer hulle ander help (Jakobus 5:14, 15). As die “Hoorder van die gebed” gee Jehovah “heilige gees . . . aan dié wat hom vra” (Psalm 65:2; Lukas 11:13). Al hierdie voorsienings is blyke van “die tere medelye van ons God”.—Lukas 1:78.
24. Hoe sal jy op Jehovah se liefde reageer?
24 Is dit nie wonderlik om ons hemelse Vader se liefde te bespreek nie? In die vorige artikel is ons daaraan herinner dat Jehovah sy krag, geregtigheid en wysheid op liefdevolle maniere tot ons voordeel aanwend. En in hierdie artikel het ons gesien dat Jehovah sy liefde vir die mensdom—en vir ons as individue—op merkwaardige maniere getoon het. Nou kan elkeen van ons ons gerus afvra: ‘Hoe sal ek op Jehovah se liefde reageer?’ Mag jy daarop reageer deur hom met jou hele hart, verstand, siel en krag lief te hê (Markus 12:29, 30). Mag die manier waarop jy jou lewe elke dag lei, jou opregte begeerte weerspieël om al hoe nader aan Jehovah te kom. En mag Jehovah, die God wat liefde is, al hoe nader aan jou kom—tot in alle ewigheid!—Jakobus 4:8.
[Voetnoot]
a Een geleerde sê dat skarlaken “kleurvas of kleurhoudend was. Nie dou, of reën, of wassery of lang gebruik kon die kleur verwyder nie.”
Onthou jy?
• Hoe weet ons dat liefde Jehovah se hoofeienskap is?
• Waarom kan die feit dat Jehovah sy Seun gestuur het om te ly en vir ons te sterf, die grootste liefdesdaad genoem word?
• Hoe verseker Jehovah ons dat hy ons as individue liefhet?
• Op watter treffende maniere beskryf die Bybel Jehovah se vergifnis?
[Prent op bladsy 15]
“God het . . . sy enigverwekte Seun gegee”
[Prent op bladsy 16, 17]
“Julle is meer werd as baie mossies”
[Erkenning]
© J. Heidecker/VIREO
[Prent op bladsy 18]
’n Moeder se gevoelens vir haar baba kan ons van Jehovah se medelye leer