Hoofstuk 38
Het Johannes nie genoeg geloof gehad nie?
JOHANNES die Doper, wat nou al omtrent ’n jaar in die tronk is, hoor van die opwekking van die weduwee se seun by Nain. Maar Johannes wil uit Jesus se eie mond hoor wat dit beteken. Daarom stuur hy twee van sy dissipels om navraag te doen: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”
Dit klink moontlik na ’n vreemde vraag, veral omdat Johannes God se gees op Jesus sien neerdaal het en hy God se stem van goedkeuring gehoor het toe hy Jesus byna twee jaar tevore gedoop het. Johannes se vraag kan party mense laat dink dat sy geloof verswak het. Maar dit is nie so nie. Jesus sal nie met soveel lof van Johannes praat, soos hy by hierdie geleentheid doen, as Johannes begin twyfel het nie. Waarom vra Johannes dan hierdie vraag?
Johannes wil moontlik net bevestiging van Jesus hê dat Hy die Messias is. Dit sal Johannes baie versterk terwyl hy in die tronk sit en wegkwyn. Maar Johannes se vraag behels blykbaar veel meer as dit. Hy wil blykbaar weet of daar iemand anders, as ’t ware ’n opvolger, gaan kom wat al die dinge gaan vervul wat volgens die profesieë deur die Messias gedoen sou word.
Volgens Bybelprofesieë waarmee Johannes bekend is, gaan die Gesalfde van God ’n koning, ’n verlosser, wees. Maar Johannes word nog steeds as ’n gevangene aangehou, selfs baie maande nadat Jesus gedoop is. Johannes vra Jesus dus klaarblyklik: ‘Is u werklik die een wat die Koninkryk van God gaan oprig, of is daar iemand anders, ’n opvolger, op wie ons moet wag om al die wonderlike profesieë in verband met die Messias se heerlikheid te vervul?’
Pleks van vir Johannes se dissipels te sê: ‘Natuurlik is ek die een wat sou kom!’ doen Jesus in daardie selfde uur iets merkwaardigs deur baie mense van allerhande siektes en kwale te genees. Dan sê hy vir die dissipels: “Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.”
Met ander woorde, Johannes se vraag dui moontlik op die verwagting dat Jesus meer sal doen as wat hy wel doen en dat hy Johannes self dalk sal bevry. Maar Jesus sê vir Johannes om nie meer te verwag as die wonderwerke wat Jesus doen nie.
Wanneer Johannes se dissipels vertrek, sê Jesus vir die skare dat Johannes die “boodskapper” van Jehovah is wat in Maleagi 3:1 voorspel is, sowel as die profeet Elia wat in Maleagi 4:5, 6 voorspel is. Sodoende loof hy Johannes as die gelyke van enige profeet wat voor hom gelewe het en verduidelik: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy. Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm.”
Jesus toon hier dat Johannes nie in die hemelse Koninkryk sal wees nie, aangesien die kleinste daar groter as Johannes is. Johannes het die weg vir Jesus gebaan, maar hy sterf voordat Christus die verbond, of ooreenkoms, met sy dissipels sluit sodat hulle medeheersers saam met hom in sy Koninkryk sal wees. Dit is waarom Jesus sê dat Johannes nie in die hemelse Koninkryk sal wees nie. Johannes sal eerder ’n aardse onderdaan van God se Koninkryk wees. Lukas 7:18-30; Mattheüs 11:2-15.
▪ Waarom vra Johannes of Jesus die Een is wat sou kom en of ’n ander een verwag moet word?
▪ Watter profesieë sê Jesus het Johannes vervul?
▪ Waarom sal Johannes die Doper nie saam met Jesus in die hemel wees nie?