Bybelboek nommer 32—Jona
Skrywer: Jona
Geskrif voltooi: ca. 844 v.G.J.
1. Watter vrae word in die boek Jona beantwoord, en wat toon dit ten opsigte van Jehovah se barmhartigheid?
JONA—’n sendeling in die negende eeu v.G.J. met ’n buitelandse toewysing! Hoe het hy sy opdrag van Jehovah beskou? Watter nuwe ervarings het dit vir hom meegebring? Was die mense in sy sendingveld ontvanklik? Hoe suksesvol was sy prediking? Die dramatiese verslag van die boek Jona beantwoord hierdie vrae. Die profetiese verslag, wat geskryf is op ’n tyd toe Jehovah se uitverkore nasie hulle verbond met hom verbreek en in heidense afgodery verval het, toon dat God se barmhartigheid nie tot een nasie beperk is nie, nie eens tot Israel nie. Daarbenewens verheerlik dit Jehovah se groot barmhartigheid en liefderyke goedheid, in teenstelling met die gebrek aan barmhartigheid, geduld en geloof wat so dikwels by onvolmaakte mense bespeur word.
2. Wat is oor Jona bekend, en omstreeks watter jaar het hy geprofeteer?
2 Die naam Jona (Hebreeus, Joo·nahʹ) beteken “Duif”. Hy was die seun van die profeet Amittai van Gat-Hefer in Galilea in die gebied van Sebulon. In 2 Konings 14:23-25 lees ons dat Jerobeam, die koning van Israel, die grens van die nasie uitgebrei het ooreenkomstig die woord wat Jehovah deur Jona gespreek het. Dit beteken dat Jona omstreeks 844 v.G.J. geprofeteer het, die jaar toe Jerobeam II van Israel die troon bestyg het en baie jare voor Assirië, met sy hoofstad Nineve, oor Israel begin heers het.
3. Wat bewys dat die verslag van Jona eg is?
3 Daar bestaan geen twyfel dat die hele verslag van Jona eg is nie. Die “Voleinder van die geloof”, Jesus, het van Jona gepraat as iemand wat werklik bestaan het en het die geïnspireerde uitleg van twee van die profetiese gebeure in Jona gegee, waardeur hy getoon het dat die boek ware profesieë bevat (Hebr. 12:2; Matt. 12:39-41; 16:4; Luk. 11:29-32). Die Jode het Jona altyd onder hulle kanonieke boeke geplaas en beskou die boek as histories. Jona se eie openhartigheid deur sy foute en swakhede te beskryf, sonder enige poging om hulle te verbloem, kenmerk ook die verslag as eg.
4. Deur watter soort vis is Jona moontlik ingesluk? Wat is egter vir ons voldoende inligting?
4 Wat van die “groot vis” waardeur Jona ingesluk is? Daar is al baie gegis oor watter soort vis dit kon gewees het. Die potvis is heeltemal daartoe in staat om ’n mens heel in te sluk. So ook die witdoodshaai. Die Bybel sê egter eenvoudig: “Die HERE het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk” (Jona 1:17). Die soort vis word nie gemeld nie. Daar kan nie met sekerheid vasgestel word of dit ’n potvis, ’n witdoodshaai of ’n ander onbekende seedier was nie.a Die Bybelverslag dat dit “’n groot vis” was, is vir ons voldoende inligting.
INHOUD VAN JONA
5. Hoe reageer Jona op sy opdrag, en met watter gevolg?
5 Jona na Nineve gestuur, maar hy vlug (1:1-16). “En die woord van die HERE het gekom tot Jona, die seun van Amittai, en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Nineve en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig” (1:1, 2). Hou Jona van hierdie opdrag? Nie in die minste nie! Hy vlug in die teenoorgestelde rigting en haal ’n skip na Tarsis, wat moontlik met Spanje geassosieer kan word. Jona se skip word deur ’n groot storm getref. Vol vrees roep die seeliede om hulp, “elkeen tot sy god”, terwyl Jona in die skeepsruim slaap (1:5). Nadat hulle Jona wakker gemaak het, werp hulle die lot in ’n poging om uit te vind wie vir hulle verknorsing verantwoordelik is. Die lot val op Jona. Nou vertel hy hulle dat hy ’n Hebreër is, ’n aanbidder van Jehovah, en dat hy van sy godgegewe taak wegvlug. Hy sê hulle moet hom in die see gooi. Na verdere pogings om die skip te red, gooi hulle Jona uiteindelik oorboord. Die onstuimige see bedaar.
6 . Watter ondervinding het Jona met die “groot vis”?
6 Deur “’n groot vis” ingesluk (1:17–2:10). “En die HERE het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis” (1:17). Uit die ingewande van die vis bid hy vurig tot Jehovah. “Uit die binneste van die doderyk” roep hy om hulp, en hy verklaar dat hy sal betaal wat hy plegtig beloof het, want “die heil behoort aan die HERE” (2:2, 9). Op Jehovah se bevel spuug die vis Jona op die droë grond uit.
7. Watter welslae bereik Jona se prediking in Nineve?
7 Prediking in Nineve (3:1–4:11). Jehovah herhaal sy opdrag aan Jona. Jona skram nie meer weg van sy toewysing nie, maar gaan na Nineve. Daar loop hy deur die strate van die stad en roep hy uit: “Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes” (3:4). Sy prediking behaal welslae. ’n Golf van berou trek deur Nineve, en sy inwoners begin geloof in God stel. Die koning kondig af dat mens en dier moet vas en rouklere moet aantrek. Jehovah is barmhartig en spaar die stad.
8. Hoe reageer Jona wanneer Jehovah die stad barmhartigheid betoon, en hoe wys Jehovah op die profeet se inkonsekwentheid?
8 Dit is te veel vir Jona. Hy sê vir Jehovah dat hy heeltyd geweet het dat Hy barmhartigheid sou betoon en dat dit die rede is waarom hy na Tarsis gevlug het. Hy wens hy kon sterf. Hoogs ontevrede rig Jona oos van die stad vir hom ’n skerm op en wag hy om te sien wat gaan gebeur. Jehovah beskik ’n fleskalbasplant om oor sy humeurige profeet op te kom. Jona se vreugde hieroor is van korte duur. Die volgende oggend beskik Jehovah ’n wurm om die plant te dood, sodat die troosryke beskutting daarvan vervang word deur blootstelling aan ’n skroeiende oostewind en die brandende son. Weer eens wens Jona dat hy kan sterf. Selfregverdigend verdedig hy sy woede. Jehovah wys hom op sy inkonsekwentheid: Jona het jammer gevoel vir ’n fleskalbasplant maar is kwaad omdat Jehovah nou vir die groot stad Nineve jammer voel.
WAAROM NUTTIG
9. Watter gesindheid en handelwyse van Jona moet vir ons as waarskuwing dien?
9 Jona se handelwyse en die afloop daarvan moet vir ons as waarskuwing dien. Hy het gevlug vir godgegewe werk; hy moes sy hand aan die ploeg geslaan en op God vertrou het om hom te ondersteun (Jona 1:3; Luk. 9:62; Spr. 14:26; Jes. 6:8). Toe hy hom in die verkeerde rigting begeef het, het hy ’n negatiewe gesindheid getoon deur te versuim om hom openlik teenoor die seeliede as ’n aanbidder van Jehovah, “die God van die hemel”, te identifiseer. Hy het sy vrymoedigheid verloor (Jona 1:7-9; Ef. 6:19, 20). Jona se egotisme het hom Jehovah se barmhartigheid teenoor Nineve as ’n persoonlike belediging laat beskou; hy het sy aansien probeer red deur vir Jehovah te sê dat hy heeltyd geweet het dat dit die uiteinde sou wees—waarom hom dan as profeet stuur? Hy is tereggewys oor hierdie oneerbiedige, klaende gesindheid; ons moet derhalwe baat vind by sy ondervinding en nie fout vind met Jehovah se betoning van barmhartigheid of met die manier waarop hy dinge doen nie.—Jona 4:1-4, 7-9; Filip. 2:13, 14; 1 Kor. 10:10.
10. Hoe word Jehovah se liefderyke goedheid en barmhartigheid in die boek Jona toegelig?
10 In die boek Jona word alles deur die uitbeelding van Jehovah se luisterryke eienskappe, naamlik liefderyke goedheid en barmhartigheid, oorskadu. Jehovah het Nineve liefderyke goedheid bewys deur sy profeet te stuur om die stad oor dreigende vernietiging te waarsku, en hy was bereid om barmhartigheid te toon toe die stad berou getoon het—barmhartigheid wat Nineve meer as 200 jaar laat voortbestaan het totdat dit omstreeks 632 v.G.J. deur die Meders en Babiloniërs vernietig is. Hy het Jona barmhartigheid getoon deur hom van die stormagtige see te red en deur die kalbasplant te voorsien om “hom van sy ontstemdheid te bevry”. Deur die beskermende kalbasplant te voorsien en dit toe weg te neem, het Jehovah aan Jona bekend gemaak dat Hy barmhartigheid en liefderyke goedheid sal betoon soos dit Hom behaag.—Jona 1:2; 3:2-4, 10; 2:10; 4:6, 10, 11, vgl. NW.
11. Wat is ‘die teken van Jona’?
11 In Mattheüs 12:38-41 het Jesus vir die godsdiensleiers gesê dat ‘die teken van Jona’ die enigste teken is wat hulle gegee sou word. Na drie dae en drie nagte in “die binneste van die doderyk” het Jona na Nineve gegaan en vir die stad gepreek en sodoende ’n “teken” vir die Nineviete geword (Jona 1:17; 2:2; 3:1-4). Jesus het eweneens dele van drie dae in die graf deurgebring en is opgewek. Toe sy dissipels die bewyse van daardie gebeurtenis bekend gemaak het, het Jesus ’n teken vir daardie geslag geword. Volgens die Joodse manier van tydmeting en die feite ter vervulling van Jesus se geval, verteenwoordig hierdie tydperk van “drie dae en drie nagte” minder as drie volle dae.b
12. (a) Wat anders sê Jesus oor die Nineviete en die Jode van sy geslag? (b) Hoe het “meer as Jona” verskyn, en watter verband is daar tussen hom en Jehovah se Koninkryk en redding?
12 In dieselfde bespreking stel Jesus die berou van die Nineviete teenoor die hardheid van hart en volslae verwerping wat hy onder die Jode gedurende sy eie bediening ondervind het en sê hy: “Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en—meer as Jona is hier!” (Sien ook Mattheüs 16:4 en Lukas 11:30, 32.) “Meer as Jona”—wat het Jesus met hierdie woorde bedoel? Hy het van homself gepraat as die allergrootste profeet, die Een wat deur Jehovah gestuur is om te preek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:17). Die meeste Jode van daardie geslag het nietemin ‘die teken van Jona’ verwerp. Wat van vandag? Hoewel die meeste nie op Jehovah se waarskuwingsboodskap ag slaan nie, het derduisende wêreldwyd die wonderlike geleentheid om die goeie nuus van God se Koninkryk te hoor wat eers deur Jesus, “die Seun van die mens”, verkondig is. Hulle kan ook, soos die berouvolle Nineviete wat deur die prediking van Jona geseën is, deel in Jehovah se oorvloedige en barmhartige voorsiening vir verlengde lewe, want waarlik, “die heil behoort aan die HERE”.—Jona 2:9.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 99-100.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 593.