Hoofstuk 43
Onderrigting met illustrasies
JESUS is blykbaar in Kapernaüm wanneer hy die Fariseërs bestraf. Later daardie selfde dag verlaat hy die huis en hy stap tot naby die See van Galilea, waar ’n menigte mense vergader. Hy klim daar in ’n skuit, vaar ’n entjie weg en begin om die mense op die strand van die Koninkryk van die hemele te leer. Hy doen dit deur middel van ’n reeks gelykenisse, of illustrasies, elkeen met ’n agtergrond waarmee die mense vertroud is.
Jesus vertel eers van ’n saaier wat saad saai. Van die saad val langs die pad en word deur voëls opgeëet. Ander saad val op rotsagtige grond. Omdat die wortels nie diep kan groei nie, verwelk die nuwe plantjies in die skroeiende son. ’n Ander deel van die saad val tussen dorings wat die plante verstik wanneer hulle opkom. Laastens val van die saad op goeie grond en bring honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig voort.
In ’n ander illustrasie vergelyk Jesus die Koninkryk van God met ’n man wat saad saai. Met verloop van tyd, terwyl die man slaap en wanneer hy wakker is, groei die saad. Die man weet nie hoe nie. Dit groei vanself en bring koring voort. Wanneer die koring ryp word, oes die man dit.
Jesus vertel ’n derde illustrasie van ’n man wat die regte soort saad saai, maar “terwyl die mense slaap”, kom ’n vyand en saai onkruid onder die koring. Die man se diensknegte vra of hulle die onkruid moet uittrek. Maar hy antwoord: ‘Nee, as julle dit doen, sal julle van die koring uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe. Dan sal ek vir die maaiers sê om die onkruid bymekaar te maak en dit te verbrand en die koring in die skuur te sit.’
Jesus spreek die skare op die strand verder toe en gebruik nog twee illustrasies. Hy verduidelik “die koninkryk van die hemele” is soos ’n mosterdsaad wat ’n man plant. Hoewel dit die kleinste van al die soorte saad is, sê hy, word dit groter as al die groentesoorte. Dit word ’n boom waarheen voëls kom om skuiling tussen sy takke te vind.
Party mense sê vandag dat daar kleiner saadjies as mosterdsaad is. Maar Jesus gee nie ’n plantkundeles nie. Die mosterdsaad is werklik die kleinste saadjie wat Galileërs van sy dag ken. Hulle verstaan dus die fenomenale groei wat Jesus illustreer.
Ten slotte vergelyk Jesus “die koninkryk van die hemele” met suurdeeg wat ’n vrou neem en in drie groot mate meel inwerk. Mettertyd, sê hy, deurdring dit al die deeg.
Nadat hy hierdie vyf illustrasies vertel het, stuur Jesus die skare weg en keer hy terug na die huis waar hy bly. Sy 12 apostels en ander kom kort daarna daar na hom toe.
Hulle vind baat by Jesus se illustrasies
Toe die dissipels na Jesus toe kom ná sy toespraak voor die skare op die strand, is hulle nuuskierig oor sy nuwe onderrigmetode. O, hulle het hom voorheen illustrasies hoor gebruik, maar nog nooit so baie nie. Daarom vra hulle: “Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?”
Een rede waarom hy dit doen, is om die profeet se woorde te vervul: “Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.” Maar dit is nie al nie. Sy gebruik van illustrasies help om te toon wat mense se gesindheid is.
Die meeste mense stel eintlik net in Jesus belang as ’n baasverteller en wonderdoener, nie as iemand wat as Heer gedien en onselfsugtig gevolg moet word nie. Hulle wil nie in hulle beskouing van dinge of hulle lewenswyse versteur word nie. Hulle wil nie hê dat die boodskap hulle in so ’n mate moet beïnvloed nie.
Jesus sê derhalwe: “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: . . . Want die hart van hierdie volk het stomp geword.”
“Maar”, sê Jesus daarna, “julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.”
Ja, die 12 apostels en dié saam met hulle het ontvanklike harte. Daarom sê Jesus: “Dit [is] aan julle gegee . . . om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.” Omdat hulle graag wil verstaan, verduidelik Jesus die illustrasie van die saaier aan sy dissipels.
“Die saad is die woord van God”, sê Jesus, en die grond is die hart. Oor die saad wat op die harde grond langs die pad gesaai is, verduidelik hy: “Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul hart weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.”
Saad wat op rotsagtige grond gesaai word, stel andersyds die harte van mense voor wat die woord met vreugde aanvaar. Maar omdat die woord nie in sulke harte diep kan wortelskiet nie, struikel hierdie mense wanneer ’n tyd van beproewing en vervolging aanbreek.
Jesus sê voorts dat die saad wat tussen die dorings val mense is wat die woord gehoor het. Hulle word egter meegesleep deur sorge en rykdom en genietinge van die lewe en word derhalwe heeltemal verstik en dra geen ryp vrug nie.
Ten slotte, die saad wat op goeie grond gesaai is, sê Jesus, is diegene wat die woord behou, nadat hulle dit met ’n edele en goeie hart gehoor het, en wat met volharding vrug dra.
Hoe geseënd is hierdie dissipels tog wat na Jesus gekom het om ’n verduideliking van sy gelykenisse te kry! Jesus wil hê dat sy illustrasies verstaan moet word, sodat ander ook van die waarheid kan leer. “Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie”, sê hy. Nee, “dit [is] om op die staander gesit te word”. Jesus voeg derhalwe by: “Pas dan op hoe julle hoor.”
Geseën met verdere onderrigting
Nadat die dissipels Jesus se verduideliking van die gelykenis van die saaier gehoor het, wil hulle meer leer. Hulle vra: “Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.”
Hoe verskil die gesindheid van die dissipels tog van dié van die res van die skare op die strand! Daardie mense het nie ’n opregte begeerte om die betekenis van die gelykenisse te leer nie. Hulle is tevrede met slegs die breë trekke van wat daarin uiteengesit is. Jesus vergelyk hierdie gehoor op die strand met sy weetgierige dissipels wat saam met hom in die huis ingegaan het en sê:
“Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor.” Die dissipels meet aan Jesus in opregte belangstelling en aandag uit, en hulle word gevolglik geseën met verdere onderrigting. In antwoord op sy dissipels se vraag verduidelik Jesus dus soos volg:
“Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.”
Nadat hy die hooftrekke van sy gelykenis verduidelik het, beskryf Jesus die uitslag daarvan. Hy sê dat die maaiers, of die engele, die onkruidagtige namaak-Christene gedurende die voleinding van die wêreld van die ware “kinders van die koninkryk” sal skei. Dan sal “die kinders van die Bose” vir vernietiging bestem word, maar die kinders van God se Koninkryk, “die regverdiges”, sal helder skyn in die Koninkryk van hulle Vader.
Jesus seën nou sy weetgierige dissipels met nog drie illustrasies. Hy sê ten eerste: “Die koninkryk van die hemele [is] soos ’n skat wat verborge is in die saailand, wat ’n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.”
“Verder”, gaan hy voort, “is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”
Jesus self is soos die man wat ’n verborge skat kry en soos die koopman wat die baie kosbare pêrel kry. Hy het as ’t ware alles verkoop deurdat hy ’n geëerde posisie in die hemel prysgegee het om ’n nederige mens te word. Daarna verduur hy as mens op aarde smaad en kwaadwillige vervolging, en bewys sodoende dat hy waardig is om die Heerser van God se Koninkryk te wees.
Ook Jesus se volgelinge het die uitdaging om alles te verkoop sodat hulle die wonderlike beloning kan verkry om ’n medeheerser met Christus of ’n aardse Koninkryksonderdaan te wees. Sal ons ’n aandeel in God se Koninkryk waardevoller as enigiets anders beskou, soos ’n kosbare skat of waardevolle pêrel?
Ten slotte vergelyk Jesus “die koninkryk van die hemele” met ’n sleepnet wat allerhande soorte visse vang. Wanneer die visse uitgesoek word, word die slegtes weggegooi, maar die goeies word gehou. So, sê Jesus, sal dit in die voleinding van die wêreld wees; die engele sal die slegte mense van die regverdiges skei en die slegtes vir vernietiging bewaar.
Jesus self begin met hierdie visvangprojek en roep sy eerste dissipels om “vissers van mense” te wees. Onder die toesig van die engele gaan hierdie visvangwerk deur die eeue heen voort. Uiteindelik breek die tyd aan om die “net” in te trek. Die “net” beeld die organisasies op aarde af wat bely dat hulle Christelik is.
Al word die slegte visse vernietig, kan ons gelukkig onder die ‘goeie visse’ gereken word wat gehou word. As ons ook soos Jesus se dissipels ’n opregte begeerte na meer kennis en insig openbaar, sal ons geseën word, nie alleen met verdere onderrigting nie, maar met God se seën van die ewige lewe. Mattheüs 13:1-52; Markus 4:1-34; Lukas 8:4-18; Psalm 78:2; Jesaja 6:9, 10.
▪ Wanneer en waar praat Jesus deur illustrasies met die skare?
▪ Watter vyf illustrasies vertel Jesus die skare?
▪ Waarom sê Jesus dat die mosterdsaad die kleinste van al die soorte saad is?
▪ Waarom gebruik Jesus illustrasies?
▪ Hoe toon Jesus se dissipels dat hulle anders as die skare is?
▪ Hoe verduidelik Jesus die illustrasie van die saaier?
▪ Hoe verskil die dissipels van die skare op die strand?
▪ Wie of wat word voorgestel deur die saaier, die saailand, die goeie saad, die vyand, die oes en die maaiers?
▪ Watter drie bykomende illustrasies vertel Jesus, en wat kan ons daaruit leer?