Hoofstuk 48
Jesus verlaat Jaïrus se huis en besoek Nasaret weer
JESUS het ’n besige dag gehad—’n seereis van die Dekapolis af, die genesing van die vrou met die bloedvloeiing en die opwekking van Jaïrus se dogtertjie. Maar die dag is nog nie verby nie. Klaarblyklik volg twee blinde mans Jesus wanneer hy die huis van Jaïrus verlaat, en hulle roep uit: “Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!”
Deur Jesus as “Seun van Dawid” aan te spreek, betuig hierdie mans hulle geloof dat Jesus die erfgenaam van die troon van Dawid en gevolglik die beloofde Messias is. Maar dit lyk asof Jesus hulle hulpgeroep ignoreer, moontlik om hulle volharding te toets. Die mans gee egter nie moed op nie. Hulle volg Jesus tot waar hy bly, en wanneer hy in die huis ingaan, volg hulle hom na binne.
Daar vra Jesus hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?”
“Ja, Here”, antwoord hulle vol vertroue.
Daarom raak Jesus hulle oë aan en sê: “Laat dit vir julle wees volgens julle geloof.” Skielik kan hulle sien! Jesus sê dan uitdruklik vir hulle: “Laat niemand dit te wete kom nie.” Maar hulle is so bly dat hulle Jesus se bevel ignoreer en oral in die streek van hom praat.
Net toe hierdie mans vertrek, bring mense ’n demonbesetene na hom wat deur die demon van sy spraak beroof is. Jesus dryf die demon uit, en die man begin onmiddellik praat. Die skare verwonder hulle oor hierdie wonderwerke en sê: “So iets is nog nooit in Israel gesien nie!”
Fariseërs is ook teenwoordig. Hulle kan nie die wonderwerke ontken nie, maar in hulle goddelose ongeloof herhaal hulle hul bewering oor die bron van Jesus se kragtige dade: “Deur die owerste van die duiwels dryf hy die duiwels uit.”
Kort daarna keer Jesus na sy tuisdorp Nasaret terug, hierdie keer saam met sy dissipels. Ongeveer ’n jaar vantevore het hy die sinagoge besoek en daar onderrig. Hoewel die mense hulle aanvanklik verwonder het oor sy aangename woorde, het hulle later aanstoot geneem aan sy onderrig en hom probeer doodmaak. Nou probeer Jesus weer eens genadig om sy voormalige bure te help.
Hoewel mense op ander plekke na Jesus toe stroom, doen hulle dit blykbaar nie hier nie. Hy gaan dus op die Sabbat na die sinagoge om hulle te leer. Die meeste wat hom hoor, is verslae. “Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan? Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?”
‘Jesus is ’n man van hier, net soos ons’, redeneer hulle. ‘Ons het hom sien grootword, en ons ken sy familie. Hoe kan hy die Messias wees?’ Ondanks al die bewyse—sy groot wysheid en wonderwerke—verwerp hulle hom dus. Omdat hulle hom so goed ken, neem selfs sy eie familielede aanstoot aan hom, sodat Jesus sê: “’n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis.”
Trouens, Jesus is verwonderd oor hulle ongeloof. Behalwe om ’n paar siekes die hande op te lê en hulle te genees, doen hy gevolglik geen wonderwerke daar nie. Mattheüs 9:27-34; 13:54-58; Markus 6:1-6; Jesaja 9:6.
▪ Watter geloof betuig die blinde mans wanneer hulle Jesus as “Seun van Dawid” aanspreek?
▪ By watter verklaring vir Jesus se wonderwerke hou die Fariseërs?
▪ Waarom is dit ’n blyk van genade wanneer Jesus terugkeer om mense in Nasaret te help?
▪ Hoe word Jesus in Nasaret ontvang, en waarom?