Hoofstuk tien
Die belofte van ’n Vredevors
1. Wat ervaar die mensdom al sedert die tyd van Kain?
SOWAT sesduisend jaar gelede is die eerste mensebaba gebore. Sy naam was Kain, en sy geboorte was baie spesiaal. Nie een van sy ouers, of die engele, of selfs die Skepper het voor daardie tyd ’n mensebaba gesien nie. Hierdie pasgebore babatjie kon hoop gebring het vir ’n veroordeelde mensegeslag. Hoe teleurstellend was dit tog toe hy, nadat hy grootgeword het, ’n moordenaar geword het! (1 Johannes 3:12). Sedertdien het die mensdom tallose ander moorde gesien. Aangesien mense geneig is om te doen wat sleg is, lewe hulle nie in vrede met mekaar of met God nie.—Genesis 6:5; Jesaja 48:22.
2, 3. Watter vooruitsig is deur Jesus Christus moontlik gemaak, en wat moet ons doen om hierdie seëninge te geniet?
2 Sowat vierduisend jaar ná die geboorte van Kain is ’n ander baba gebore. Sy naam was Jesus, en sy geboorte was ook baie spesiaal. Hy is uit ’n maagd gebore, deur die krag van die heilige gees—die enigste mens in die geskiedenis wat so gebore is. Met sy geboorte het ’n menigte vreugdevolle engele lofliedere tot God gesing en gesê: “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid” (Lukas 2:13, 14). Jesus was alles behalwe ’n moordenaar, en hy het dit vir mense moontlik gemaak om vrede met God te geniet en die ewige lewe te kry.—Johannes 3:16; 1 Korintiërs 15:55.
3 Jesaja het voorspel dat Jesus die “Vredevors” genoem sou word (Jesaja 9:6). Hy sou sy lewe ten behoewe van die mensdom opoffer, en sodoende die vergifnis van sondes moontlik maak (Jesaja 53:11). Vandag kan vrede met God en die vergifnis van sondes verkry word op grond van geloof in Jesus Christus. Maar hierdie seëninge kom nie vanself nie (Kolossense 1:21-23). Dié wat hierdie seëninge wil geniet, moet leer om gehoorsaam te wees aan Jehovah God. (1 Petrus 3:11; vergelyk Hebreërs 5:8, 9.) In Jesaja se dag het Israel en Juda presies die teenoorgestelde gedoen.
Hulle wend hulle tot demone
4, 5. Wat is die toedrag van sake in Jesaja se dag, en tot wie wend party hulle?
4 Weens hulle ongehoorsaamheid is Jesaja se tydgenote in ’n droewige sedelike toestand, as ’t ware in ’n put van geestelike duisternis. Selfs die suidelike koninkryk van Juda, waar God se tempel geleë is, het geen vrede nie. As gevolg van hulle ontrouheid, word die mense van Juda deur ’n Assiriese inval bedreig, en swaar tye lê voor. Tot wie wend hulle hulle om hulp? Ongelukkig wend baie hulle tot Satan, nie tot Jehovah nie. Nee, hulle roep Satan nie direk aan nie. Maar soos koning Saul van die ou tyd raak hulle by spiritisme betrokke deur met die dooies te probeer kommunikeer om antwoorde op hulle probleme te vind.—1 Samuel 28:1-20.
5 Party probeer hierdie gebruik selfs aanmoedig. Jesaja praat van sulke afvalligheid wanneer hy sê: “As hulle vir julle sou sê: ‘Wend julle tot die spiritistiese mediums of tot dié wat ’n voorspellende gees het, wat piep en mompel’—moet ’n volk hom nie tot sy God wend nie? Moet mense hulle wend tot die dooies ten behoewe van die lewendes?” (Jesaja 8:19). Geestemediums kan mense bedrieg deur ‘te piep en te mompel’. ’n Lewende medium kan sulke klanke, wat aan die geeste van die dooies toegeskryf word, deur buikspraak voortbring. Soms kan die demone egter direk betrokke raak en hulle as die dooies voordoen, soos blykbaar gebeur het toe Saul die heks van En-Dor geraadpleeg het.—1 Samuel 28:8-19.
6. Waarom is die Israeliete wat hulle tot spiritisme gewend het veral afkeurenswaardig?
6 Dit alles gaan in Juda aan ondanks die feit dat Jehovah spiritisme verbied het. Onder die Mosaïese Wet is dit ’n halsmisdaad (Levitikus 19:31; 20:6, 27; Deuteronomium 18:9-12). Waarom maak mense wat Jehovah se spesiale eiendom is hulle aan so ’n ernstige oortreding skuldig? Omdat hulle hulle rug op Jehovah se Wet en raad gedraai het en “deur die bedrieglike krag van die sonde verhard” geword het (Hebreërs 3:13). “Hulle hart het ongevoelig geword soos vet”, en hulle het vervreemd geword van hulle God.—Psalm 119:70.a
7. Hoe doen baie vandag dieselfde as die Israeliete van Jesaja se dag, en wat sal die toekoms van sulke persone wees as hulle nie berou toon nie?
7 Hulle redeneer waarskynlik: ‘Van watter nut is die Wet van Jehovah as ons enige tyd deur die Assiriërs aangeval kan word?’ Hulle wil ’n vinnige en maklike oplossing vir hulle probleem hê en stel nie daarin belang om te wag dat Jehovah sy wil uitvoer nie. In ons dag is daar ook baie wat Jehovah se wet ignoreer en geestemediums raadpleeg, lees wat die sterre voorspel en hulle tot ander vorme van die okkulte wend om hulle probleme op te los. Maar dit is vandag net so belaglik vir die lewendes om antwoorde by die dooies te soek as wat dit destyds was. Die toekoms van enigiemand wat sulke dinge onberouvol beoefen, sal saam met die “moordenaars en hoereerders en . . . afgodedienaars en al die leuenaars” wees. Hulle het geen toekomstige vooruitsig op die lewe nie.—Openbaring 21:8.
God se ‘wet en getuienis’
8. Wat is “die wet” en “die getuienis” waar ons vandag hulp moet soek?
8 Jehovah se wet wat spiritisme verbied, asook sy ander gebooie, is nie ’n geheim in Juda nie. Dit is in geskrewe vorm bewaar. Vandag is sy Woord in sy geheel in geskrewe vorm beskikbaar. Dit is die Bybel, wat nie net ’n uiteensetting van God se wette en voorskrifte bevat nie, maar ook ’n verslag van God se handelinge met sy volk. Hierdie Bybelverslag van Jehovah se handelinge vorm ’n getuienis wat ons van Jehovah se persoonlikheid en eienskappe leer. Waar moet die Israeliete eerder hulp soek as om die dooies te raadpleeg? Jesaja antwoord: “Tot die wet en tot die getuienis!” (Jesaja 8:20a). Ja, dié wat ware verligting soek, moet hulle tot God se geskrewe Woord wend.
9. Het dit enige nut as onberouvolle sondaars van tyd tot tyd die Bybel aanhaal?
9 Party Israeliete wat hulle met spiritisme bemoei, sê dalk dat hulle respek het vir die geskrewe Woord van God. Maar sulke bewerings is leeg en geveins. Jesaja sê: “Waarlik, hulle sal bly praat volgens hierdie verklaring wat geen lig van die dagbreek sal hê nie” (Jesaja 8:20b). Van watter verklaring praat Jesaja hier? Moontlik die verklaring: “Tot die wet en tot die getuienis!” Moontlik verwys party afvallige Israeliete na die Woord van God, net soos afvalliges en ander vandag soms die Skrif aanhaal. Maar dit is bloot lippediens. As ’n mens nie Jehovah se wil doen en onrein gebruike vermy nie, sal die feit dat jy die Skrif aanhaal jou nie tot enige “lig van die dagbreek”, of verligting van Jehovah, lei nie.b
“Nie ’n honger na brood nie”
10. Hoe ly die mense van Juda omdat hulle Jehovah verwerp het?
10 Ongehoorsaamheid aan Jehovah het verstandelike duisternis tot gevolg (Efesiërs 4:17, 18). Geestelik gesproke het die mense van Juda blind geword, sonder begrip (1 Korintiërs 2:14). Jesaja beskryf hulle toestand: “Elkeen sal beslis gekneld en honger deur die land trek” (Jesaja 8:21a). Weens die nasie se ontrouheid—veral gedurende die heerskappy van koning Agas—word die voortbestaan van Juda as ’n onafhanklike koninkryk bedreig. Die nasie word omring deur vyande. Die Assiriese leër val die een Judese stad na die ander aan. Die vyand vernietig die vrugbare land sodat kos skaars word. Baie is “gekneld en honger”. Maar daar is ook ’n ander soort hongersnood wat die land teister. Etlike dekades vroeër het Amos voorspel: “‘Kyk! Daar kom dae’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘en ek sal ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van Jehovah te hoor’” (Amos 8:11). Juda is nou in die greep van net so ’n geestelike hongersnood!
11. Sal Juda ’n les leer uit die dissipline wat hulle ontvang?
11 Sal Juda sy les leer en na Jehovah terugkeer? Sal sy mense spiritisme en afgodediens laat vaar en “tot die wet en tot die getuienis” terugkeer? Jehovah voorspel hulle reaksie: “Omdat hy honger is en homself verontwaardig laat voel het, sal hy kwaad oor sy koning en oor sy God uitspreek en beslis na bo tuur” (Jesaja 8:21b). Ja, baie mense sal hulle mensekoning die skuld gee dat hy hulle in hierdie situasie laat beland het. Party sal selfs dwaas genoeg wees om Jehovah die skuld te gee vir hulle probleme! (Vergelyk Jeremia 44:15-18.) Vandag reageer baie op ’n soortgelyke manier en gee God die skuld vir tragiese situasies wat deur die mens se goddeloosheid veroorsaak word.
12. (a) Wat was die gevolg omdat Juda God verwerp het? (b) Watter belangrike vrae word geopper?
12 Sal dit vir die inwoners van Juda vrede bring as hulle kwaad uitspreek oor God? Nee. Jesaja voorspel: “Die aarde sal hy aanskou, en kyk! benoudheid en duisternis, donkerte, moeilike tye en somberheid sonder enige helderheid” (Jesaja 8:22). Nadat hulle hulle oë na die hemel opgeslaan het om God die skuld te gee, kyk hulle terug na die aarde, terug na hulle eie hopelose vooruitsigte. Hulle verwerping van God het rampspoedige gevolge gehad (Spreuke 19:3). Maar wat van die beloftes wat God aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het? (Genesis 22:15-18; 28:14, 15). Sal Jehovah dit nie nakom nie? Sal die Assiriërs of ’n ander militêre mag ’n einde bring aan die koninklike lyn wat aan Juda en Dawid belowe is? (Genesis 49:8-10; 2 Samuel 7:11-16). Sal die Israeliete vir ewig tot duisternis gedoem wees?
’n Land wat “met veragting bejeën is”
13. Wat is “Galilea van die nasies”, en hoe word dit “met veragting bejeën”?
13 Jesaja verwys nou na een van die ergste van die katastrofiese gebeure wat oor die nakomelinge van Abraham gekom het: “Die donkerte sal nie wees soos toe die land in benoudheid was nie, soos in die vroeëre tyd toe die land van Sebulon en die land van Naftali met veragting bejeën is en toe dit in die latere tyd tot eer gebring is—die weg aan die see, in die Jordaanstreek, Galilea van die nasies” (Jesaja 9:1). Galilea is ’n gebied in die noordelike koninkryk van Israel. In Jesaja se profesie sluit dit “die land van Sebulon en die land van Naftali” in sowel as “die weg aan die see”, ’n ou pad wat langs die See van Galilea geloop en na die Middellandse See gelei het. In Jesaja se dag word die gebied “Galilea van die nasies” genoem, heel moontlik omdat baie van sy stede deur nie-Israeliete bewoon word.c Hoe word hierdie land “met veragting bejeën”? Die heidense Assiriërs verower dit, voer die Israeliete in ballingskap weg en bevolk die hele gebied met heidene, wat nie afstammelinge van Abraham is nie. So verdwyn die noordelike tienstammeryk as ’n afsonderlike nasie uit die geskiedenis!—2 Konings 17:5, 6, 18, 23, 24.
14. In watter sin sal Juda se “donkerte” minder wees as dié van die tienstammeryk?
14 Juda is ook onder druk vanweë die Assiriërs. Sal dit permanent in “donkerte” wegsink soos die tienstammeryk wat deur Sebulon en Naftali verteenwoordig is? Nee. In ’n “latere tyd” sal Jehovah seëninge bring oor die gebied van die suidelike koninkryk van Juda en selfs oor die land waaroor die noordelike koninkryk vroeër geheers het. Hoe?
15, 16. (a) In watter “latere tyd” sal die situasie vir “die gebied van Sebulon en Naftali” verander? (b) Hoe word die land wat met veragting bejeën is tot eer gebring?
15 Die apostel Matteus beantwoord hierdie vraag in sy geïnspireerde verslag van Jesus se aardse bediening. Wanneer Matteus die vroeë dae van daardie bediening beskryf, sê hy: “Nadat hy Nasaret verlaat het, [het Jesus hom] in Kapernaum by die see in die gebied van Sebulon en Naftali kom vestig, sodat vervul sou word wat deur middel van Jesaja, die profeet, gespreek is, wat gesê het: ‘O land van Sebulon en land van Naftali, aan die seepad, aan die oorkant van die Jordaan, Galilea van die nasies! die volk wat in die duisternis gesit het, het ’n groot lig gesien, en dié wat in ’n streek van doodskaduwee gesit het, oor hulle het die lig opgegaan.’”—Matteus 4:13-16.
16 Ja, “die latere tyd” wat Jesaja voorspel het, is die tyd van Christus se aardse bediening. Jesus het die grootste deel van sy aardse lewe in Galilea deurgebring. Hy het sy bediening in die gebied van Galilea begin en van daardie tyd af gesê: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). In Galilea het hy sy beroemde Bergpredikasie gegee, sy apostels gekies, sy eerste wonderwerk verrig en ná sy opstanding aan sowat 500 volgelinge verskyn (Matteus 5:1–7:27; 28:16-20; Markus 3:13, 14; Johannes 2:8-11; 1 Korintiërs 15:6). Op hierdie manier het Jesus Jesaja se profesie vervul deur “die land van Sebulon en die land van Naftali” te eer. Jesus het natuurlik nie sy bediening tot die mense van Galilea beperk nie. Deur die goeie nuus in die hele land te verkondig, het Jesus die hele nasie Israel, wat Juda ingesluit het, “tot eer gebring”.
Die “groot lig”
17. Hoe skyn “’n groot lig” in Galilea?
17 Wat dan van Matteus se vermelding van “’n groot lig” in Galilea? Dit was ook ’n aanhaling uit Jesaja se profesie. Jesaja het geskryf: “Die volk wat in die duisternis gewandel het, het ’n groot lig gesien. Wat dié betref wat in die land van diep skaduwee woon, lig het oor hulle geskyn” (Jesaja 9:2). Teen die eerste eeu G.J. is die lig van die waarheid deur heidense valshede verberg. Joodse godsdiensleiers het die probleem vererger deur aan hulle godsdienstradisies vas te hou waardeur hulle “die woord van God kragteloos gemaak” het (Matteus 15:6). Nederiges was verdruk en verward en het “blinde gidse” gevolg (Matteus 23:2-4, 16). Toe Jesus die Messias verskyn het, is die oë van talle nederige mense op ’n wonderlike manier geopen (Johannes 1:9, 12). Jesus se werk terwyl hy op die aarde was en die seëninge wat uit sy offerande voortvloei, word tereg in Jesaja se profesie as “’n groot lig” beskryf.—Johannes 8:12.
18, 19. Waarom kon diegene wat op die lig gereageer het hulle grootliks verheug?
18 Diegene wat op die lig gereageer het, het groot rede tot vreugde gehad. Jesaja het verder gesê: “U het die nasie vermenigvuldig; u het hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle voor u verbly soos met die blydskap in die oestyd, soos dié wat bly is wanneer hulle die buit verdeel” (Jesaja 9:3). As gevolg van die predikingswerk van Jesus en sy volgelinge het opregtes van hart gekom en getoon dat hulle Jehovah met gees en waarheid wil aanbid (Johannes 4:24). In minder as vier jaar het menigtes die Christelike godsdiens aangeneem. Drieduisend is op Pinksterdag 33 G.J. gedoop. Kort daarna het “die getal van die manne . . . omtrent vyfduisend geword” (Handelinge 2:41; 4:4). Terwyl die dissipels die lig ywerig weerkaats het, het “die aantal dissipels . . . in Jerusalem geweldig bly toeneem; en ’n groot skare priesters het aan die geloof gehoorsaam begin word”.—Handelinge 6:7.
19 Soos diegene wat hulle oor ’n oorvloedige oes verheug of wat bly is oor die verdeling van waardevolle buit ná ’n groot militêre oorwinning, het Jesus se volgelinge hulle oor die vermeerdering verheug (Handelinge 2:46, 47). Mettertyd het Jehovah die lig onder die nasies laat skyn (Handelinge 14:27). So het mense van alle rasse hulle verheug omdat die weg om tot Jehovah te nader vir hulle geopen is.—Handelinge 13:48.
“Soos op die dag van Midian”
20. (a) Op watter maniere het die Midianiete getoon dat hulle vyande van Israel is, en hoe het Jehovah die bedreiging wat hulle ingehou het tot ’n einde gebring? (b) Hoe sal Jesus op ’n toekomstige “dag van Midian” die bedreiging wat vyande van God se volk inhou tot ’n einde bring?
20 Die gevolge van die werk van die Messias is permanent, soos ons uit Jesaja se volgende woorde kan sien: “Die juk van hulle vrag en die stok op hulle skouers, die staf van die een wat hulle dryf om te werk, het u verpletter soos op die dag van Midian” (Jesaja 9:4). Eeue voor Jesaja se dag het die Midianiete met die Moabiete saamgesweer om Israel te verlei om te sondig (Numeri 25:1-9, 14-18; 31:15, 16). Later het die Midianiete die Israeliete geterroriseer deur sewe jaar lank hulle dorpies en plase aan te val en te plunder (Rigters 6:1-6). Maar toe het Jehovah, deur sy kneg Gideon, die leërs van Midian verslaan. Ná daardie “dag van Midian” is daar geen bewys dat Jehovah se volk ooit weer onder die Midianiete gely het nie (Rigters 6:7-16; 8:28). In die nabye toekoms sal Jesus Christus, die grotere Gideon, die hedendaagse vyande van Jehovah se volk ’n doodslag toedien (Openbaring 17:14; 19:11-21). Dan, “soos op die dag van Midian”, sal ’n algehele en blywende oorwinning behaal word deur Jehovah se krag, nie deur menslike vermoëns nie (Rigters 7:2-22). God se volk sal nooit weer onder die juk van onderdrukking ly nie!
21. Wat toon Jesaja se profesie oor die toekoms van oorlogvoering?
21 Vertonings van Goddelike krag is nie ’n verheerliking van oorlog nie. Die verrese Jesus is die Vredevors, en deur sy vyande te vernietig, sal hy ewige vrede teweegbring. Jesaja sê nou hoe militêre toerusting heeltemal met vuur vernietig sal word: “Elke stewel van die een wat dreunend stamp en die mantel wat in bloed gerol is, moet verbrand word as voedsel vir die vuur” (Jesaja 9:5). Die dreuning wat veroorsaak word deur die stewels van soldate wat marsjeer, sal nooit weer gehoor word nie. Die bloedbevlekte uniforms van geharde krygers sal nie meer gesien word nie. Daar sal nie meer oorlog wees nie!—Psalm 46:9.
“Wonderlike Raadgewer”
22. Watter veelvoudige profetiese naam word Jesus in die boek Jesaja gegee?
22 By die wonderdadige geboorte van die een wat gebore is om die Messias te wees, is hy die naam Jesus gegee, wat “Jehovah is Redding” beteken. Maar hy het ander name, profetiese name wat sy belangrike rol en sy verhewe posisie beskryf. Een van hierdie name is Immanuel, wat “Met ons is God” beteken (Jesaja 7:14; voetnoot in naslaanuitgawe). Jesaja beskryf nou ’n ander profetiese naam: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is vir ons gegee; en die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees. En hy sal genoem word: Wonderlike Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:6). Dink net hoe ryk aan betekenis hierdie veelvoudige profetiese naam is.
23, 24. (a) In watter opsig is Jesus ’n “Wonderlike Raadgewer”? (b) Hoe kan Christenraadgewers Jesus se voorbeeld vandag navolg?
23 ’n Raadgewer is iemand wat raad, of advies, gee. Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy wonderlike raad gegee. In die Bybel lees ons dat “die skare verstom was oor sy manier van leer” (Matteus 7:28). Hy is ’n wyse en medelydende Raadgewer, wat buitengewone insig in die menslike natuur het. Sy raad is nie net tot berisping en straf beperk nie. Dit is meer dikwels in die vorm van onderrigting en liefdevolle advies. Jesus se raad is wonderlik, want dit is altyd wys, volmaak en onfeilbaar. Wanneer dit gevolg word, lei dit tot die ewige lewe.—Johannes 6:68.
24 Jesus se raad is nie bloot die produk van ’n briljante verstand nie. Hy sê eerder: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Net soos met Salomo die geval was, is Jehovah God die Bron van Jesus se wysheid (1 Konings 3:7-14; Matteus 12:42). Jesus se voorbeeld behoort onderrigters en raadgewers in die Christengemeente te beweeg om hulle onderrigting altyd op God se Woord te grond.—Spreuke 21:30.
“Magtige God” en “Ewige Vader”
25. Wat sê die naam “Magtige God” vir ons van Jesus se hemelse posisie?
25 Jesus is ook “Magtige God” en “Ewige Vader”. Dit beteken nie dat hy hom die gesag en posisie toe-eien van Jehovah, wat “God, ons Vader,” is nie (2 Korintiërs 1:2). ‘Hy [Jesus] het geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg nie’ (Filippense 2:6). Hy word Magtige God genoem, nie Almagtige God nie. Jesus het homself nooit as God die Almagtige beskou nie, want hy het van sy Vader gepraat as “die enigste ware God”, dit wil sê die enigste God wat aanbid moet word (Johannes 17:3; Openbaring 4:11). Die woord “god” kan in die Skrif “magtige” of “sterke” beteken (Eksodus 12:12; Psalm 8:5; 2 Korintiërs 4:4). Voor Jesus na die aarde toe gekom het, was hy “’n god” en het hy “in God se gedaante bestaan”. Ná sy opstanding het hy na ’n selfs hoër posisie in die hemele teruggekeer (Johannes 1:1; Filippense 2:6-11). Die titel “god” het ook ’n bykomende betekenis. Regters in Israel is “gode” genoem—een keer deur Jesus self (Psalm 82:6; Johannes 10:35). Jesus is Jehovah se aangestelde Regter, “wat bestem is om die lewendes en die dooies te oordeel” (2 Timoteus 4:1; Johannes 5:30). Dit is duidelik dat hy die naam Magtige God verdien.
26. Waarom kan Jesus die “Ewige Vader” genoem word?
26 Die titel “Ewige Vader” verwys na die Messiaanse Koning se mag en gesag om mense die vooruitsig op ewige lewe op aarde te gee (Johannes 11:25, 26). Die nalatenskap van ons eerste voorouer, Adam, was die dood. Jesus, die laaste Adam, “het ’n lewegewende gees geword” (1 Korintiërs 15:22, 45; Romeine 5:12, 18). Net soos Jesus, die Ewige Vader, vir ewig sal lewe, sal die gehoorsame mensdom die voordele van sy vaderskap vir ewig geniet.—Romeine 6:9.
“Vredevors”
27, 28. Watter wonderlike voordele sal onderdane van die “Vredevors” nou sowel as in die toekoms geniet?
27 Buiten die ewige lewe het die mens ook vrede nodig, met God sowel as met sy medemens. Diegene wat hulle aan die heerskappy van die “Vredevors” onderwerp het, het vandag al ‘van hulle swaarde ploegskare gesmee en van hulle spiese snoeimesse’ (Jesaja 2:2-4). Hulle koester nie haat as gevolg van politieke, geografiese, ekonomiese of rasseverskille nie. Hulle is verenig in die aanbidding van die enigste ware God, Jehovah, en hulle span hulle in om vreedsame verhoudinge met hulle medemens te behou, binne sowel as buite die gemeente.—Galasiërs 6:10; Efesiërs 4:2, 3; 2 Timoteus 2:24.
28 Op God se bestemde tyd sal Christus vrede op die aarde bring wat wêreldwyd, stewig bevestig, permanent, sal wees (Handelinge 1:7). “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk om dit stewig te vestig en om dit deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid in stand te hou, van nou af en tot onbepaalde tyd” (Jesaja 9:7a). Wanneer Jesus sy gesag as Vredevors uitoefen, sal hy nie van tirannieke metodes gebruik maak nie. Sy onderdane sal nie hulle wilsvryheid ontneem word en met geweld onderwerp word nie. Alles wat hy sal bereik, sal eerder “deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid” wees. Wat ’n welkome verandering!
29. Wat moet ons doen as ons die seëning van ewige vrede wil geniet?
29 In die lig van die wonderlike implikasies van Jesus se profetiese naam is die manier waarop Jesaja hierdie deel van sy profesie afsluit voorwaar opwindend. Hy skryf: “Die ywer van Jehovah van die leërs sal dit doen” (Jesaja 9:7b). Ja, Jehovah tree met ywer op. Hy doen niks halfhartig nie. Ons kan seker wees dat hy al sy beloftes ten volle sal nakom. As enigiemand dan daarna smag om ewige vrede te geniet, laat hy Jehovah heelhartig dien. Mag alle knegte van God net soos Jehovah God en Jesus, die Vredevors, “ywerig [wees] vir voortreflike werke”.—Titus 2:14.
[Voetnote]
a Baie reken dat Psalm 119 deur Hiskia geskryf is voordat hy koning geword het. Indien wel, is dit waarskynlik geskryf terwyl Jesaja geprofeteer het.
b Die frase “hierdie verklaring” in Jesaja 8:20 kan verwys na die verklaring aangaande spiritisme, wat in Jesaja 8:19 aangehaal is. As dit waar is, sê Jesaja dat die voorstanders van spiritisme in Juda sal aanhou om ander aan te spoor om hulle tot geestemediums te wend en gevolglik geen verligting van Jehovah sal kry nie.
c Party meen dat die 20 stede van Galilea wat koning Salomo vir Hiram die koning van Tirus aangebied het moontlik deur nie-Israeliete bewoon is.—1 Konings 9:10-13.
[Kaart/Prent op bladsy 122]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Gorasin
Betsaida
Kapernaum
Vlakte van Gennesaret
See van Galilea
Magadan
Tiberias
Jordaan rivier
GADARA
Gadara
[Prente op bladsy 119]
Die geboorte van Kain en Jesus was albei baie spesiaal. Maar Jesus se geboorte het ’n vreugdevolle resultaat gehad
[Prent op bladsy 121]
Daar sal ’n hongersnood wees wat baie erger is as ’n honger na brood en ’n dors na water
[Prent op bladsy 127]
Jesus was ’n lig in die land