Bybelboek nommer 39—Maleagi
Skrywer: Maleagi
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: Ná 443 v.G.J.
1. Waaruit blyk Maleagi se ywer vir Jehovah?
WIE was Maleagi? Daar is nie ’n enkele feit oor sy afkoms of persoonlike geskiedenis opgeteken nie. Uit die strekking van sy profesie is dit egter baie duidelik dat hy baie ywerig in sy toegewydheid aan Jehovah God was, dat hy Sy naam en rein aanbidding hooggehou het en dat hy baie verontwaardig was jeens diegene wat bely het dat hulle God dien maar wat net hulleself gedien het. Die naam Jehovah word 48 keer in die vier hoofstukke van sy profesie gemeld.
2. Wat beteken Maleagi se naam moontlik, en wanneer het hy blykbaar gelewe?
2 In Hebreeus is sy naam Mal·ʼa·khiʹ, wat moontlik “My boodskapper” beteken. Die Hebreeuse Geskrifte, die Septuagint, sowel as die chronologiese orde van die boeke, plaas Maleagi aan die einde van die 12 sogenaamde klein profete. Volgens die oorlewering van die Groot Sinagoge het hy ná die profete Haggai en Sagaria gelewe en was hy ’n tydgenoot van Nehemia.
3. Wat dui daarop dat die profesie van Maleagi ná 443 v.G.J. geskryf is?
3 Wanneer is die profesie geskryf? Dit was gedurende die bestuur van ’n goewerneur, wat dit in die tyd van die herstel van Jerusalem ná die 70-jarige verwoesting van Juda plaas (Mal. 1:8). Maar watter goewerneur? Aangesien die tempeldiens gemeld word maar daar nie van die bou van die tempel gepraat word nie, moes dit ná die tyd van goewerneur Serubbabel gewees het, gedurende wie se ampstermyn die tempel voltooi is. Die Skrif meld net een ander goewerneur van hierdie tydperk, en dit is Nehemia. Pas die profesie in Nehemia se tyd? Daar word niks in Maleagi oor die herbouing van Jerusalem en sy muur gesê nie, wat die vroeë deel van Nehemia se goewerneurskap uitskakel. Daar word egter baie gesê oor die misbruike waaraan die priesterdom hom skuldig gemaak het, wat Maleagi verbind met die situasie wat bestaan het toe Nehemia ’n tweede keer na Jerusalem gekom het nadat Artasasta hom in 443 v.G.J., die 32ste jaar van die koning se regering, na Babel herroep het (Mal. 2:1; Neh. 13:6). Gedeeltes in Maleagi en Nehemia wat ooreenkomste met mekaar toon, dui daarop dat die profesie op hierdie besondere tyd van toepassing is.—Mal. 2:4-8, 11, 12—Neh. 13:11, 15, 23-26; Mal. 3:8-10—Neh. 13:10-12.
4. Wat bewys dat die boek Maleagi eg en geïnspireerd is?
4 Die boek Maleagi is nog altyd deur die Jode as eg aanvaar. Aanhalings daaruit in die Christelike Griekse Geskrifte, waarvan ’n aantal op vervullings van sy profesie wys, bewys dat Maleagi geïnspireerd was en deel uitgemaak het van die kanon van Hebreeuse Geskrifte wat deur die Christengemeente erken is.—Mal. 1:2, 3—Rom. 9:13; Mal. 3:1—Matt. 11:10 en Luk. 1:76 en 7:27; Mal. 4:5, 6—Matt. 11:14 en 17:10-13, Mark. 9:11-13 en Luk. 1:17.
5. Watter lae geestelike peil het tot Maleagi se profesie aanleiding gegee?
5 Maleagi se profesie gee te kenne dat die godsdiensywer en -geesdrif wat deur die profete Haggai en Sagaria ten tyde van die herbouing van die tempel opgewek is, verdwyn het. Die priesters het onverskillig, trots en selfvoldaan geword. Die tempeldienste het ’n bespotting geword. Tiendes en offerandes is agterweë gelaat as gevolg van die mening dat God nie in Israel belangstel nie. Die hoop wat op Serubbabel gevestig was, is nie verwesenlik nie, en teen sommige verwagtinge in het die Messias nie gekom nie. Die Jode se geestelike toestand het ’n baie lae peil bereik. Watter grondslag was daar vir bemoediging en hoop? Hoe kon die volk tot die besef van hulle ware toestand gebring en wakker geskud word sodat hulle tot regverdigheid sou terugkeer? Die profesie van Maleagi het die antwoord verskaf.
6. Wat is Maleagi se skryfstyl?
6 Maleagi se skryfstyl is direk en kragtig. Hy stel eers die argument en beantwoord dan die besware van diegene wat hy toespreek. Ten slotte herhaal hy sy oorspronklike argument. Dit maak sy argument kragtig en lewendig. In plaas van groot hoogtes van welsprekendheid te bereik, gebruik hy ’n kortaf, sterk betogende styl.
INHOUD VAN MALEAGI
7. Watter liefde en haat spreek Jehovah uit?
7 Jehovah se gebod aan die priesters (1:1–2:17). Jehovah spreek eers sy liefde vir sy volk uit. Hy het Jakob liefgehad en Esau gehaat. Laat Edom sy puinhope probeer opbou; Jehovah sal dit afbreek en dit sal die “grondgebied van goddeloosheid”, die volk wat deur Jehovah veroordeel is, genoem word, want Jehovah sal ‘groot wees oor die gebied van Israel’.—1:4, 5.
8. Hoe het die priesters Jehovah se tafel besoedel, en waarom sal ’n vloek oor hulle kom?
8 Nou spreek Jehovah die ‘priesters wat sy naam verag’ regstreeks toe. Wanneer hulle hulle probeer regverdig, wys Jehovah op hulle blinde, lam en siek offers, en hy vra: Sal die goewernéúr sulke offers goedkeur? Jehovah self het geen behae daarin nie. Sy naam moet onder die nasies verheerlik word, maar hierdie manne ontheilig hom deur te sê: “Die tafel van die HERE is verontreinig.” ’n Vloek sal oor hulle kom omdat hulle hul geloftes op slinkse wyse omseil het deur waardelose offers te bring. “Want Ek is ’n groot Koning, sê die HERE van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene.”—1:6, 12, 14.
9. Wat het die priesters versuim om te doen, en hoe het hulle Jehovah se heiligheid geskend?
9 Jehovah gee die priesters nou ’n gebod en sê dat as hulle nie hierdie raad ter harte neem nie hy ’n vloek oor hulle en oor hulle seëninge sal laat kom. Hy sal die mis van hulle feeste op hulle gesigte strooi weens hulle versuim om die verbond van Levi te hou. “Want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ’n boodskapper van die HERE van die leërskare” (2:7). Maleagi bely die groot sonde van Israel en Juda. Hulle het troueloos met mekaar gehandel en het die heiligheid van Jehovah, hulle Vader en Skepper, geskend deur die dogter van ’n uitlandse god as bruid te neem. Hulle het Jehovah tot die uiterste vermoei. Hulle het selfs gevra: “Waar is . . . die God van die reg?”—2:17.
10. Vir watter oordeelswerk kom die Here na sy tempel?
10 Die ware Here en die boodskapper (3:1-18). Die profesie bereik nou ’n hoogtepunt met die woorde van ‘Jehovah van die leërskare’: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die [ware] Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom” (3:1, vgl. NW). As ’n louteraar sal Hy die kinders van Levi reinig en ’n haastige getuie teen die goddelose word wat Hom nie gevrees het nie. Jehovah verander nie, en omdat hulle kinders van Jakob is, sal hy uit barmhartigheid na hulle terugkeer as hulle na hom terugkeer.
11. Hoe moet hulle God nou op die proef stel, en watter seëninge sal volg?
11 Hulle het God beroof, maar laat hulle hom nou op die proef stel deur hulle tiendes na die skathuis te bring sodat daar voedsel in sy huis kan wees, vol vertroue dat hy die volheid van sy seën vanuit die sluise van die hemele sal uitstort. Hulle sal ’n land van welbehae word wat deur al die nasies as gelukkig geprys word. Dié wat Jehovah vrees, het met mekaar gespreek, en Jehovah het dit opgemerk en gehoor. “Daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer” (3:16). Hulle sal beslis Jehovah s’n word op die dag wanneer hy ’n spesiale eiendom voortbring.
12. Wat word met betrekking tot Jehovah se vreesinboesemende dag belowe?
12 Die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah (4:1-6). Dit is die komende dag wat die goddelose sal verslind en geen wortel of tak sal oorlaat nie. Maar die son van geregtigheid sal op diegene skyn wat Jehovah se naam vrees, en hulle sal genees word. Jehovah vermaan hulle om aan die Wet van Moses te dink. Jehovah belowe om die profeet Elia vóór sy groot en vreesinboesemende dag te stuur. “En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.”—4:6.
WAAROM NUTTIG
13. Wat sê Maleagi oor (a) Jehovah se barmhartigheid en liefde? (b) die verantwoordelikheid van onderrigters van God se Woord? (c) diegene wat God se wette en beginsels oortree?
13 Die boek Maleagi help ons om die onveranderlike beginsels en barmhartige liefde van Jehovah God te verstaan. Heel aan die begin benadruk dit Jehovah se groot liefde vir sy volk “Jakob”. Hy het vir die kinders van Jakob gesê: “Ek, [Jehovah], het nie verander nie.” Ondanks hulle groot goddeloosheid was hy bereid om na sy volk terug te keer as hulle na hom sou terugkeer. Inderdaad ’n barmhartige God! (Mal. 1:2; 3:6, 7, vgl. NW; Rom. 11:28; Ex. 34:6, 7). Deur Maleagi het Jehovah beklemtoon dat ’n priester se lippe ‘kennis moet bewaar’. Almal aan wie die verantwoordelikheid toevertrou is om onderrigters van God se Woord te wees, moet ag slaan op hierdie punt en seker maak dat hulle juiste kennis oordra. (Mal. 2:7; Filip. 1:9-11; vergelyk Jakobus 3:1.) Jehovah duld nie huigelaars nie, diegene wat probeer voorgee dat ‘om kwaad te doen goed is in die oë van Jehovah’. Niemand moet dink dat hy Jehovah kan mislei deur bloot voor te gee dat hy ’n offer aan hierdie groot Koning bring nie (Mal. 2:17; 1:14; Kol. 3:23, 24). Jehovah sal ’n haastige getuie wees teen almal wat sy regverdige wette en beginsels oortree; niemand moet verwag dat hy goddeloos kan handel en ongestraf sal bly nie. Jehovah sal hulle oordeel (Mal. 3:5; Hebr. 10:30, 31). Die regverdiges kan die volle versekering hê dat Jehovah hulle dade sal onthou en hulle sal beloon. Hulle moet aandag skenk aan die Wet van Moses, soos Jesus gedoen het, want dit bevat baie dinge wat in hom vervul is.—Mal. 3:16; 4:4; Luk. 24:44, 45.
14. (a) Veral waarna wys Maleagi vooruit? (b) Hoe is Maleagi 3:1 in die eerste eeu G.J. vervul?
14 As die laaste boek van die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte wys Maleagi vooruit na gebeure met betrekking tot die koms van die Messias, wie se verskyning meer as vier eeue later die rede was waarom die Christelike Griekse Geskrifte geskryf is. Soos in Maleagi 3:1 opgeteken is, het Jehovah van die leërskare gesê: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan.” Die bejaarde Sagaria het onder inspirasie gespreek en getoon dat dit in sy seun, Johannes die Doper, vervul is (Luk. 1:76). Jesus Christus het dit bevestig en terselfdertyd gesê: “Daar [het] nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” Johannes is gestuur om, soos Maleagi voorspel het, ‘die weg reg te maak’, wat beteken dat hy nie onder diegene was met wie Jesus later ’n verbond vir ’n Koninkryk gesluit het nie.—Matt. 11:7-12; Luk. 7:27, 28; 22:28-30.
15. Wie is die “Elia” van Maleagi se profesie?
15 Jehovah het vervolgens in Maleagi 4:5, 6 belowe: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia.” Wie is hierdie “Elia”? Jesus sowel as die engel wat aan Sagaria verskyn het, pas hierdie woorde op Johannes die Doper toe en wys dat dit hy was wat ‘alles sou herstel’ en ‘vir Jehovah ’n toegeruste volk sou berei’ om die Messias te ontvang. Maleagi sê egter ook dat “Elia” die voorloper is van “die groot en vreeslike dag van die HERE”, waarmee hy op ’n nog toekomstige vervulling op ’n oordeelsdag wys.—Matt. 17:11; Luk. 1:17; Matt. 11:14; Mark. 9:12.
16. Na watter geseënde dag wys Maleagi vooruit, en watter hartlike aanmoediging gee hy?
16 Met betrekking tot daardie toekomstige dag sê Jehovah van die leërskare: “Van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene . . . want Ek is ’n groot Koning . . . en my Naam is gedug onder die heidene.” Inderdaad gedug! Want ‘die dag sal brand soos ’n oond, en al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, sal soos ’n stoppel word’. Maar gelukkig is diegene wat Jehovah se naam vrees, want vir hulle “sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees”. Dit dui op die gelukkige tyd wanneer die gehoorsames van die mensdom heeltemal genees sal wees—geestelik, emosioneel, verstandelik en fisies (Openb. 21:3, 4). Maleagi wys vooruit na daardie glorieryke en geseënde dag en spoor ons aan om ons offerande heelhartig in Jehovah se huis in te bring: “Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”—Mal. 1:11, 14; 4:1, 2; 3:10.
17. Met watter optimistiese verklaring word Maleagi se waarskuwings getemper?
17 Hoewel hierdie laaste boek van die Profete voortdurend waarsku dat ‘die aarde met vernietiging getref sal word’, gee dit rede tot optimisme en vreugde in ooreenstemming met Jehovah se woorde aan sy volk: “Al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees.”—4:6, vgl. NW; 3:12.