Hoofstuk 61
’n Besete seun word genees
TERWYL Jesus, Petrus, Jakobus en Johannes weg is, waarskynlik op ’n uitloper van die berg Hermon, ondervind die ander dissipels ’n probleem. Toe Jesus terugkeer, sien hy dadelik dat iets verkeerd is. Daar is ’n skare om sy dissipels, en die skrifgeleerdes redeneer met hulle. Die mense is baie verbaas toe hulle Jesus sien en hardloop nader om hom te groet. “Waaroor redetwis julle met hulle?” vra hy.
’n Man kom uit die skare na vore, kniel voor Jesus en verduidelik: “Meester, ek het my seun wat ’n stomme gees het na U gebring; en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom [“gooi hy hom op die grond neer”, NW]; en hy kry skuim in die mond en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.”
Die skrifgeleerdes buit blykbaar die dissipels se onvermoë om die seun gesond te maak uit en spot moontlik met hulle pogings. Jesus kom presies op hierdie kritieke tydstip daar aan. “o Ongelowige geslag”, sê hy, “hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra?”
Jesus rig sy woorde skynbaar tot al die aanwesiges, maar seker in die besonder tot die skrifgeleerdes wat dinge vir sy dissipels moeilik gemaak het. Vervolgens sê Jesus van die seun: “Bring hom na My toe.” Maar terwyl die seun na Jesus toe aankom, gooi die demon wat in hom ingevaar het hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Die seun rol op die grond rond en daar is skuim om sy mond.
“Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het?” vra Jesus.
“Van sy kindsdae af”, antwoord die vader. “Dikwels het [die demon] hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak.” Dan pleit die vader: “Maar as U iets kan doen, ontferm u oor ons en help ons.”
Die vader soek dalk al jare lank hulp. En nou is hy, weens die onvermoë van Jesus se dissipels, baie wanhopig. Jesus vestig die aandag op die man se desperate versoek en sê bemoedigend: “Wat dit betref—as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”
“Ek glo”, roep die vader dadelik uit, maar hy smeek: “Kom my ongeloof te hulp!”
Jesus sien dat die skare na hulle toe aangestroom kom en bestraf die demon: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Toe die demon uit die seun uitgaan, laat hy hom weer skreeu en hewige stuiptrekkings kry. Daarna lê die seun bewegingloos op die grond, sodat die meeste van die mense begin sê: “Hy is dood.” Maar Jesus neem die seun se hand, en hy staan op.
Toe die dissipels vroeër uitgestuur is om te preek, het hulle demone uitgedrywe. Daarom vra hulle nou vir Jesus afsonderlik toe hulle by ’n huis ingaan: “Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie?”
Jesus dui aan dat dit weens hulle gebrek aan geloof was deur te antwoord: “Hierdie geslag [“soort”, NW] kan deur niks anders uitgaan as deur gebed . . . nie.” Voorbereiding was ongetwyfeld nodig om hierdie besonder kragtige demon uit te drywe. Sterk geloof tesame met gebed tot God om aan hulle mag te verleen, was nodig.
En dan voeg Jesus by: “Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Hoe kragtig kan geloof tog wees!
Hindernisse en moeilikhede wat vooruitgang in Jehovah se diens verhinder, kan net so onoorkoomlik en onverwyderbaar soos ’n groot, letterlike berg lyk. Maar Jesus toon dat as ons geloof in ons harte kweek, dit natmaak en help om te groei, dit tot rypheid sal ontwikkel en ons in staat sal stel om sulke hindernisse en moeilikhede wat soos berge lyk te bowe te kom. Markus 9:14-29; Mattheüs 17:19, 20; Lukas 9:37-43.
▪ Watter situasie vind Jesus toe hy van die berg Hermon terugkeer?
▪ Watter bemoediging gee Jesus die vader van die demonbesete seun?
▪ Waarom kon die dissipels nie die demon uitdrywe nie?
▪ Hoe kragtig kan geloof volgens Jesus word?