Wat ons by Jesus leer
Hoe geesskepsele ons lewe raak
“Voordat die wêreld was”, het Jesus saam met sy Vader in die geesteryk gelewe (Johannes 17:5). Daarom is hy heeltemal bevoeg om die volgende vrae te beantwoord.
Stel engele belang in ons?
▪ Ons leer by Jesus dat engele baie belangstel in mense. Hy het gesê: “Daar [ontstaan] vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het.”—Lukas 15:10.
Jesus het getoon dat engele die verantwoordelikheid het om na die geestelike welsyn van God se knegte om te sien. Toe Jesus sy dissipels gewaarsku het om ander nie te laat struikel nie, het hy dus gesê: “Sorg dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want ek sê vir julle dat hulle engele in die hemel altyd die aangesig aanskou van my Vader wat in die hemel is” (Matteus 18:10). Hiermee het Jesus nie noodwendig bedoel dat elkeen van sy volgelinge ’n spesifieke beskermengel het nie. Maar Jesus het wel geopenbaar dat engele wat ten nouste met God saamwerk, daadwerklik in die lede van die Christengemeente belangstel.
Hoe kan die Duiwel ons leed aandoen?
▪ Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat Satan probeer verhinder dat mense die waarheid omtrent God leer. “Wanneer iemand die woord van die koninkryk hoor, maar nie die sin daarvan begryp nie”, het Jesus gesê, “kom die bose en ruk weg wat in sy hart gesaai is.”—Matteus 13:19.
Jesus het een manier geopenbaar waarop Satan mense mislei toe hy ’n illustrasie gegee het oor ’n man wat koringsaad in sy land gesaai het. Die man het Jesus voorgestel, en die koring het ware Christene voorgestel wat saam met Jesus in die hemel sal heers. Jesus het gesê dat ’n vyand egter gekom het en ‘onkruid tussen die koring in gesaai het’. Die onkruid stel valse Christene voor. “Die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel” (Matteus 13:25, 39). Net soos onkruid soos koringspruite kan lyk, kan dié wat beweer dat hulle Christene is, soos ware aanbidders lyk. Godsdienste wat valse leerstellings leer, mislei mense sodat hulle aan God ongehoorsaam is. Satan gebruik valse godsdiens om mense van vriendskap met Jehovah te beroof.
Hoe kan ons verhoed dat Satan ons leed aandoen?
▪ Jesus het Satan “die heerser van die wêreld” genoem (Johannes 14:30). In gebed tot God het Jesus geopenbaar hoe ons beskerming teen Satan kan verkry. Aangaande sy dissipels het Jesus tot sy hemelse Vader gebid: “Waak [oor hulle] weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:15-17). Kennis van God se Woord kan ons beskerm sodat ons nie beïnvloed word deur die mensewêreld waaroor Satan heers nie.
Hoe raak engele vandag ons lewe?
▪ “In die voleinding van die stelsel van dinge”, het Jesus gesê, “[sal] die engele . . . uitgaan en die goddeloses onder die regverdiges uit afskei” (Matteus 13:49). Ons lewe nou in “die voleinding van die stelsel van dinge”, en miljoene reageer gunstig op die goeie nuus van God se Koninkryk.—Matteus 24:3, 14.
Maar nie almal wat God se Woord begin studeer, verkry sy goedkeuring nie. Engele rig die werk van Jehovah se knegte, en mense wat God opreg liefhet, word afgeskei van dié wat nie wil toepas wat hulle leer nie. Jesus het dié wat God se goedkeuring verkry, beskryf en gesê: “Dit is hulle wat die woord, nadat hulle dit met ’n edel en goeie hart gehoor het, vashou en met volharding vrug dra.”—Lukas 8:15.
Vir verdere inligting, sien hoofstuk 10 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 16]
Engele speel ’n rol in die insameling van opregte mense in die Christengemeente