HOOFSTUK 14
Bewaar die vrede en reinheid van die gemeente
ELKE jaar stroom duisende mense na Jehovah se huis van rein aanbidding in vervulling van Bybelprofesie (Miga 4:1, 2). Hoe bly is ons tog om hulle in “die gemeente van God” te verwelkom! (Hand. 20:28). Hulle waardeer die geleentheid om Jehovah saam met ons te dien en om die reinheid en vrede van ons geestelike paradys te geniet. God se heilige gees en die wyse raad in sy Woord help ons om die vrede te bewaar en die gemeente rein te hou. – Ps. 119:105; Sag. 4:6.
2 Deur Bybelbeginsels toe te pas, trek ons “die nuwe persoonlikheid” aan (Kol. 3:10). Ons vermy kleinlike argumente en persoonlike geskille. Omdat ons Jehovah se beskouing van sake het, oorkom ons wêreldse invloede wat ons kan verdeel en werk ons as ’n internasionale broederskap in eenheid saam. – Hand. 10:34, 35.
3 Ongelukkig ontstaan daar van tyd tot tyd probleme wat die vrede en eenheid van die gemeente versteur. Hoekom gebeur dit? In die meeste gevalle is dit omdat Bybelraad nie toegepas word nie. Ons moet nog steeds teen ons onvolmaakte menslike neigings stry. Nie een van ons is sonder sonde nie (1 Joh. 1:10). Iemand kan ’n verkeerde rigting inslaan wat sedelike of geestelike onreinheid in die gemeente kan inbring. Ons kan iemand aanstoot gee deur ons onbedagsame woorde of dade. Of iets wat iemand gesê of gedoen het, laat ons dalk struikel (Rom. 3:23). Wat kan ons doen om sake reg te stel wanneer dit gebeur?
4 Jehovah het dit alles liefdevol in ag geneem. Sy Woord bevat raad oor wat ons kan doen wanneer probleme ontstaan. Ons kan persoonlike hulp kry by ons liefdevolle geestelike herders, die ouermanne. Deur hulle skriftuurlike raad toe te pas, kan ons weer ’n goeie verhouding met ander geniet en ons goeie posisie voor Jehovah behou. As ons dissipline of teregwysing ontvang as gevolg van ’n oortreding, kan ons seker wees dat sulke teregwysing ’n bewys van ons hemelse Vader se liefde vir ons is. – Spr. 3:11, 12; Heb. 12:6.
HOE OM KLEIN GESKILLE OP TE LOS
5 Soms kan persoonlike geskille of klein probleempies tussen mense in die gemeente ontstaan. Dit moet gou en in ’n gees van broederlike liefde opgelos word (Ef. 4:26; Fil. 2:2-4; Kol. 3:12-14). Jy sal heel moontlik vind dat persoonlike probleme wat jou verhouding met ’n mede-Christen in die gemeente raak, opgelos kan word deur die apostel Petrus se raad toe te pas. Hy het gesê dat ons “intense liefde vir mekaar moet hê, want die liefde bedek baie sondes” (1 Pet. 4:8). Die Bybel sê: “Ons almal struikel dikwels” (Jak. 3:2). As ons die Goue Reël toepas, deur alles aan ander te doen wat ons wil hê hulle aan ons moet doen, kan ons gewoonlik klein oortredings vergewe en vergeet. – Matt. 6:14, 15; 7:12.
6 As jy besef dat jy iemand aanstoot gegee het deur iets wat jy gesê of gedoen het, moet jy dadelik die inisiatief neem om die vrede te herstel. Onthou, dit raak ook jou verhouding met Jehovah. Jesus het sy dissipels die volgende raad gegee: “As jy dan jou offer na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, los jou offer daar voor die altaar en gaan weg. Maak eers vrede met jou broer en kom dan terug en bring jou offer” (Matt. 5:23, 24). Daar was dalk ’n misverstand. Indien wel, kommunikeer openlik. Goeie kommunikasie tussen almal in die gemeente help baie om misverstande te voorkom en probleme op te los wat as gevolg van menslike onvolmaaktheid ontstaan.
WANNEER SKRIFTUURLIKE RAAD GEGEE MOET WORD
7 Soms besluit opsieners dat dit nodig is om iemand raad te gee om sy denke te probeer regstel. Dit is nie altyd maklik nie. Die apostel Paulus het aan die Christene in Galasië geskryf: “Broers, selfs al begin iemand ’n verkeerde rigting inslaan voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelik volwasse is, so iemand op ’n sagmoedige manier probeer reghelp.” – Gal. 6:1.
8 Deur hulle herderswerk kan opsieners die gemeente teen baie geestelike gevare beskerm en dalk voorkom dat ernstige probleme ontstaan. Ouermanne probeer die gemeente dien op ’n manier wat ooreenstem met die belofte wat Jehovah deur Jesaja gemaak het: “Elkeen sal soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot rots in ’n dorre land.” – Jes. 32:2.
MERK DIÉ WAT WANORDELIK IS
9 Die apostel Paulus het gewaarsku teen sekere persone wat ’n slegte invloed in die gemeente kon wees. Paulus het gesê: “Ons gee dan nou . . . instruksies aan julle om elke broer te vermy wat hom wanordelik gedra en nie lewe volgens die tradisies wat julle van ons ontvang het nie.” Hy het hierdie woorde verduidelik deur te skryf: “As iemand nie gehoorsaam is aan ons woorde in hierdie brief nie, moet julle hom merk en ophou om met hom te assosieer, sodat hy skaam kan kry. Moet hom nogtans nie as ’n vyand beskou nie, maar hou aan om hom raad te gee as ’n broer.” – 2 Tess. 3:6, 14, 15.
10 Van tyd tot tyd kan iemand skaamteloos disrespekvol teenoor God se standaarde wees waardeur Christene gerig moet word. Maar hy het nie ernstig gesondig waarvoor hy uit die gemeente gesit kan word nie. Dit kan dinge insluit soos om uiters lui, krities of vuil te wees. Dalk ‘meng hy in met dinge wat niks met hom te doen het nie’ (2 Tess. 3:11). Of dit kan iemand wees wat planne maak om ander geldelik uit te buit of wat vermaak geniet wat beslis nie gepas is nie. Die wanordelike gedrag is ernstig genoeg om die gemeente in ’n slegte lig te stel, en dit kan ander Christene beïnvloed.
11 Die ouermanne sal ’n wanordelike persoon eers probeer help deur hom Bybelse raad te gee. Maar as die persoon aanhou om Bybelbeginsels te ignoreer nadat daar herhaaldelik met hom gepraat is, sal die ouermanne dalk besluit dat ’n toespraak gehou moet word om die gemeente te waarsku. Ouermanne sal met goeie oordeel vasstel of ’n spesifieke situasie ernstig en ontstellend genoeg is dat ’n waarskuwende toespraak gehou moet word. Die spreker sal gepaste raad oor wanordelike gedrag gee, maar hy sal nie die naam van die wanordelike persoon noem nie. Daarom sal mense wat bewus is van die situasie wat in die toespraak beskryf word, versigtig wees om nie sosiaal met so iemand te kuier nie. Maar hulle sal nog steeds geestelike assosiasie met hom hê en ‘aanhou om hom raad te gee as ’n broer’.
12 Die ferm standpunt wat getroue Christene inneem, sal die wanordelike persoon hopelik tot skaamte en berou beweeg. Wanneer dit duidelik is dat die persoon opgehou het met sy wanordelike gedrag, sal dit nie meer nodig wees om hom as iemand te behandel wat gemerk is nie.
HOE OM SEKERE ERNSTIGE OORTREDINGS TE HANTEER
13 As ons bereid is om ander se oortredings oor te sien en dit te vergewe, beteken dit nie dat oortredings ons nie pla of dat ons dit goedkeur nie. Nie alle oortredings is as gevolg van oorgeërfde onvolmaaktheid nie. Dit is ook verkeerd om ’n oortreding oor te sien wat meer as net ’n klein foutjie is (Lev. 19:17; Ps. 141:5). Volgens die Wetsverbond was party sondes ernstiger as ander, en dit is ook in die Christengemeente die geval. – 1 Joh. 5:16, 17.
14 Jesus het spesifieke stappe uiteengesit om ernstige probleme tussen mede-Christene op te los. Kyk na die stappe wat hy genoem het: “As jou broer ’n sonde pleeg, [1] gaan praat alleen met hom en sê vir hom wat hy verkeerd gedoen het. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen. Maar as hy nie luister nie, [2] neem nog een of twee saam met jou, sodat elke saak deur twee of drie getuies bevestig kan word. As hy nie na hulle luister nie, [3] praat met die gemeente. As hy nie eens na die gemeente luister nie, laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees.” – Matt. 18:15-17.
15 Die illustrasie wat Jesus daarna gegee het, soos opgeteken in Matteus 18:23-35, wys moontlik dat een van die sondes waarna Matteus 18:15-17 verwys, verband hou met finansiële of eiendomsake, soos om nie ’n lening terug te betaal nie of bedrog te pleeg. Of die oortreding is dalk laster, wat iemand se reputasie ernstig skend.
16 As jy bewyse het dat iemand in die gemeente op so ’n manier teen jou gesondig het, moet jy nie haastig wees om die ouermanne te vra om in te gryp nie. Soos Jesus gesê het, moet jy eers met die persoon praat teen wie jy ’n klagte het. Probeer om die saak tussen julle twee alleen op te los sonder om iemand anders daarby te betrek. Hou in gedagte dat Jesus nie gesê het: ‘Gaan net een keer, en sê vir hom wat hy verkeerd gedoen het’ nie. As die persoon dus nie die oortreding erken en om vergifnis gevra het nie, sal dit dalk goed wees om later weer met hom te gaan praat. As die saak so opgelos kan word, sal die een wat gesondig het, dit beslis waardeer dat jy ander nie van sy sonde vertel of sy goeie reputasie in die gemeente skend nie. Jy sal “jou broer gewen” het.
17 As die oortreder verantwoordelikheid aanvaar, vergifnis vra en stappe doen om die saak reg te stel, is dit nie nodig om die saak verder te vat nie. Hoewel die sonde ernstig was, kan hierdie soort oortreding tussen die betrokke individue opgelos word.
18 As jy nie jou broer kan wen deur ‘alleen met hom te praat’ en vir hom te sê wat hy verkeerd gedoen het nie, kan jy doen wat Jesus gesê het: “Neem nog een of twee saam met jou” en praat weer met jou broer. Diegene wat jy saam met jou neem, moet ook die doelwit hê om jou broer te wen. Hulle moet verkieslik getuies van die beweerde oortreding wees, maar as daar geen ooggetuies is nie, kan jy een of twee ander persone vra om getuies van die bespreking te wees. Hulle het miskien ondervinding met hierdie soort sake en sal moontlik kan vasstel of wat plaasgevind het, werklik ’n oortreding was. Ouermanne wat as getuies gekies word, verteenwoordig nie die gemeente nie, aangesien die liggaam van ouermanne hulle nie spesifiek toegewys het om dit te doen nie.
19 As die saak ná herhaalde pogings nie opgelos is nie, en jy voel dat jy die oortreding nie kan oorsien nie, moet jy die opsieners van die gemeente van die saak laat weet. Maar jy moet dit net doen nadat jy met hom alleen gepraat het en nadat jy met een of twee ander na hom toe gegaan het. Hou in gedagte dat dit die ouermanne se doelwit is om die vrede en reinheid van die gemeente te bewaar. As jy na hulle toe gegaan het, moet jy die saak in hulle hande los en op Jehovah vertrou. Jy moet nooit toelaat dat iemand anders se gedrag jou laat struikel of jou vreugde in Jehovah se diens wegneem nie. – Ps. 119:165.
20 Die herders van die kudde sal die saak ondersoek. As dit duidelik is dat die persoon wel ernstig teen jou gesondig het, onberouvol is en nie bereid is om op ’n redelike en gepaste manier daarvoor te vergoed nie, sal ’n komitee van opsieners die oortreder dalk uit die gemeente moet sit. Op dié manier beskerm hulle die kudde en bewaar hulle die reinheid van die gemeente. – Matt. 18:17.
HOE OM SAKE VAN ERNSTIGE OORTREDING TE HANTEER
21 Sekere ernstige oortredings, soos seksuele onsedelikheid, egbreuk, homoseksualiteit, godslastering, afvalligheid, afgodediens en soortgelyke growwe sondes, vereis meer as net die vergifnis van die persoon teen wie daar oortree is (1 Kor. 6:9, 10; Gal. 5:19-21). Aangesien sulke ernstige sondes ’n bedreiging vir die geestelike en sedelike reinheid van die gemeente is, moet die ouermanne daarvan in kennis gestel word en moet húlle dit hanteer (1 Kor. 5:6; Jak. 5:14, 15). Party persone gaan moontlik na die ouermanne om hulle eie sonde te bely of om hulle te vertel wat hulle van die oortreding van ander weet (Lev. 5:1; Jak. 5:16). Dit maak nie saak hoe die ouermanne uitvind van die ernstige oortreding van ’n gedoopte Getuie nie, ’n ondersoek sal eers deur twee ouermanne gedoen word. As daar vasgestel word dat die berig beslis nie vals is nie en dat daar bewyse is wat wys dat ’n ernstige sonde wel gepleeg is, sal die liggaam van ouermanne ’n regterlike komitee van ten minste drie ouermanne aanstel om die saak te hanteer.
22 Die ouermanne is waaksaam en hou toesig oor die kudde en probeer dit beskerm teen enigiets wat geestelik skadelik kan wees. Hulle probeer om God se Woord ook goed te gebruik om enigiemand wat oortree het, tereg te wys en hom te help om weer geestelik gesond te word (Jud. 21-23). Dit stem ooreen met die instruksies wat die apostel Paulus aan Timoteus gegee het toe hy geskryf het: “Ek gee jou hierdie ernstige bevel voor God en Christus Jesus, wat die lewendes en die dooies sal oordeel, . . . Wys tereg, gee streng raad, moedig aan. Doen dit met alle geduld en deur goed te onderrig” (2 Tim. 4:1, 2). Om dit te doen, vat dalk baie tyd, maar is deel van die ouermanne se harde werk. Die gemeente waardeer hulle werk en dink dat hulle “dubbele eer [verdien]”. – 1 Tim. 5:17.
23 In elke situasie waar daar bewys is dat iemand skuldig is, is dit die opsieners se hoofdoel om die oortreder te help om geestelik gesond te word. As hy opreg berouvol is en hulle hom kan help, sal hulle hom teregwys, of dit nou privaat of voor persone is wat tydens die verhoor getuienis gegee het. Hierdie teregwysing sal as dissipline vir hom dien en almal help om gesonde vrees vir Jehovah te hê (2 Sam. 12:13; 1 Tim. 5:20). In alle gevalle van teregwysing deur ’n regterlike komitee word beperkings toegepas. Dit kan die oortreder help om daarna “reguit paaie” vir sy voete te maak (Heb. 12:13). Wanneer dit duidelik word dat die persoon geestelik herstel het, sal die beperkings ná verloop van tyd weggeneem word.
AANKONDIGING VAN TEREGWYSING
24 As ’n regterlike komitee bepaal dat ’n persoon berouvol is, maar dat die saak heel moontlik in die gemeente of in die gemeenskap bekend sal word of as die gemeente versigtig moet wees vir die berouvolle oortreder, sal ’n eenvoudige aankondiging gedurende die Lewe en Bediening-vergadering gemaak word. Dit moet sê: “[Naam van die persoon] is tereggewys.”
AS DAAR OP UITSETTING BESLUIT WORD
25 In party gevalle het die oortreder verhard geraak in sy sondige gedrag, en daarom reageer hy nie op pogings om hom te help nie. Daar is miskien nie genoeg ‘werke wat by berou pas’ wanneer die regterlike verhoor gehou word nie (Hand. 26:20). Wat dan? In sulke gevalle moet die onberouvolle oortreder uit die gemeente gesit word, wat beteken dat hy nie meer met Jehovah se rein volk mag assosieer nie. Die slegte invloed van die oortreder word uit die gemeente verwyder. Dit sal die sedelike en geestelike reinheid van die gemeente bewaar en die gemeente se goeie naam beskerm (Deut. 21:20, 21; 22:23, 24). Toe die apostel Paulus bewus geword het van die skandelike gedrag van iemand in die Korintiese gemeente, het hy vir die ouermanne gesê dat hulle “so iemand aan Satan [moet] oorlewer sodat . . . die gees van die gemeente gered kan word” (1 Kor. 5:5, 11-13). Paulus het ook van ander gepraat wat in die eerste eeu uitgesit is omdat hulle teen die waarheid in opstand gekom het. – 1 Tim. 1:20.
26 Wanneer ’n regterlike komitee besluit dat ’n onberouvolle oortreder uitgesit moet word, moet hulle die persoon van die besluit in kennis stel en die skriftuurlike rede(s) vir die uitsetting duidelik uiteensit. Wanneer die regterlike komitee die oortreder van die besluit vertel, sal hulle vir hom sê dat hy teen die besluit kan appelleer as hy dink dat ’n ernstige oordeelsfout gemaak is. As hy dit wil doen, moet hy ’n brief skryf waarin hy die redes vir sy appèl duidelik uiteensit. Van die tyd af dat hy van die komitee se besluit in kennis gestel is, sal hy sewe dae hê om dit te doen. As ’n appèl ontvang word, moet die liggaam van ouermanne die kringopsiener kontak. Hy sal dan bekwame ouermanne aanwys om op ’n appèlkomitee te dien om die saak weer aan te hoor. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om die appèlverhoor binne een week nadat die brief ontvang is, te hou. As appèl aangeteken word, sal die aankondiging van die uitsetting uitgestel word. Die beskuldigde sal intussen nie toegelaat word om by vergaderinge te antwoord, te bid of spesiale diensvoorregte te geniet nie.
27 ’n Appèl word toegelaat uit goedhartigheid teenoor die beskuldigde en gee hom nog ’n geleentheid om sy saak te stel. As die oortreder dus opsetlik nie vir die appèlverhoor opdaag nie, sal die uitsetting aangekondig word nadat redelike pogings gemaak is om hom te kontak.
28 As die oortreder nie wil appelleer nie, moet die regterlike komitee aan hom verduidelik hoe belangrik dit is dat hy berou toon en watter stappe hy kan doen om ná verloop van tyd herstel te word. Dit sal liefdevol wees en hom help. Dit word gedoen in die hoop dat hy sy gedrag sal verander en mettertyd aan die vereistes sal voldoen om na Jehovah se organisasie terug te keer. – 2 Kor. 2:6, 7.
AANKONDIGING VAN UITSETTING
29 Wanneer dit nodig is om ’n onberouvolle oortreder uit die gemeente te sit, word ’n kort aankondiging gemaak, wat sê: “[Naam van die persoon] is nie meer een van Jehovah se Getuies nie.” Dan sal getroue Christene in die gemeente weet dat hulle nie meer met hierdie persoon moet assosieer nie. – 1 Kor. 5:11.
DISASSOSIASIE
30 Die term “disassosiasie” verwys na die optrede van iemand wat ’n gedoopte Getuie is maar opsetlik sy posisie as Christen verwerp deur te sê dat hy nie meer as een van Jehovah se Getuies erken wil word of bekend wil staan nie. Of hy verwerp sy posisie in die Christengemeente deur sy dade, soos deur aan te sluit by ’n sekulêre organisasie met doelwitte wat in stryd is met Bybelleringe en wat gevolglik deur Jehovah God veroordeel word. – Jes. 2:4; Op. 19:17-21.
31 Die apostel Johannes het die volgende geskryf oor mense wat in sy dag hulle Christelike geloof opgegee het: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons soort nie; want as hulle van ons soort was, sou hulle by ons gebly het.” – 1 Joh. 2:19.
32 Wanneer iemand homself disassosieer, is sy situasie voor Jehovah baie anders as dié van ’n onbedrywige Christen, wat nie meer aan die veldbediening deelneem nie. Hy het dalk onbedrywig geword omdat hy God se Woord nie gereeld studeer het nie. Of hy het dalk as gevolg van persoonlike probleme of vervolging sy ywer in Jehovah se diens verloor. Die ouermanne sowel as ander in die gemeente sal aanhou om gepaste geestelike hulp aan ’n onbedrywige Christen te gee. – Rom. 15:1; 1 Tess. 5:14; Heb. 12:12.
33 Maar as ’n Christen besluit om hom te disassosieer, sal die volgende kort aankondiging aan die gemeente gemaak word: “[Naam van die persoon] is nie meer een van Jehovah se Getuies nie.” Hierdie persoon word soos ’n uitgesette persoon behandel.
HERSTELLING
34 ’n Uitgesette persoon of iemand wat hom van die gemeente gedisassosieer het, kan herstel word as hy duidelik bewys dat hy berouvol is en as hy oor ’n redelike tydperk wys dat hy sy sondige weg verlaat het. Hy wys dat hy graag ’n goeie verhouding met Jehovah wil hê. Die ouermanne laat genoeg tyd verbygaan – baie maande, ’n jaar of selfs langer, afhangende van die omstandighede – sodat die persoon kan bewys dat sy berou opreg is. Wanneer die liggaam van ouermanne ’n brief kry van iemand wat vra om herstel te word, sal ’n herstelkomitee met die persoon praat. Die komitee sal kyk of daar genoeg bewyse is van ‘werke wat by berou pas’ en besluit of hy op daardie tyd herstel moet word of nie. – Hand. 26:20.
35 As die persoon wat vra om herstel te word, deur ’n ander gemeente uitgesit is, sal ’n plaaslike herstelkomitee met die persoon bymekaarkom en die versoek oorweeg. As die lede van die plaaslike herstelkomitee dink dat hy herstel moet word, sal hulle hulle aanbeveling aan die liggaam van ouermanne stuur wat in die gemeente is waar die saak oorspronklik hanteer is. Die betrokke komitees sal saamwerk om seker te maak dat al die feite ingesamel word en ’n regverdige besluit geneem word. Maar die besluit om die persoon te herstel, word geneem deur ’n herstelkomitee van die gemeente waar die saak oorspronklik hanteer is.
AANKONDIGING VAN HERSTELLING
36 Wanneer die herstelkomitee oortuig is dat die uitgesette of gedisassosieerde persoon opreg berouvol is en herstel moet word, word ’n aankondiging van die herstelling gemaak in die gemeente waar die saak oorspronklik hanteer is. As die persoon nou in ’n ander gemeente is, sal die aankondiging ook daar gemaak word. Dit moet eenvoudig sê: “[Naam van die persoon] is herstel as een van Jehovah se Getuies.”
SAKE WAARBY GEDOOPTE MINDERJARIGE KINDERS BETROKKE IS
37 As ’n gedoopte minderjarige kind ’n ernstige oortreding begaan, moet die ouermanne daarvan in kennis gestel word. Wanneer die ouermanne ’n geval van ernstige sonde hanteer waarby ’n minderjarige betrokke is, is dit verkieslik dat die gedoopte ouers van die jong persoon teenwoordig is. Hulle moet met die regterlike komitee saamwerk en nie probeer keer dat die kind die nodige dissipline ontvang nie. Net soos in die geval van volwasse oortreders, probeer die regterlike komitee die oortreder teregwys en reghelp. Maar as die jong persoon onberouvol is, word hy uitgesit.
WANNEER ONGEDOOPTE VERKONDIGERS OORTREE
38 Wat moet gedoen word wanneer ongedoopte verkondigers by ’n ernstige oortreding betrokke raak? Aangesien hulle nie gedoopte Getuies is nie, kan hulle nie uitgesit word nie. Maar dalk verstaan hulle nie heeltemal die Bybel se standaarde nie en sal liefdevolle raad hulle help om “reguit paaie” vir hulle voete te maak. – Heb. 12:13.
39 As ’n ongedoopte oortreder onberouvol is nadat twee ouermanne met hom vergader en hom probeer help het, moet die gemeente in kennis gestel word. Die volgende kort aankondiging word gemaak: “[Naam van die persoon] word nie meer as ’n ongedoopte verkondiger erken nie.” Die gemeente sal die oortreder dan as ’n wêreldse persoon beskou. Hoewel die oortreder nie uitgesit is nie, is Christene versigtig om met hom te assosieer (1 Kor. 15:33). Geen velddiensrapporte sal van hom aanvaar word nie.
40 Ná verloop van tyd sal ’n ongedoopte persoon wat as ’n verkondiger verwyder is, dalk weer ’n verkondiger wil word. In daardie geval sal twee ouermanne met hom bymekaarkom en sy geestelike vooruitgang bepaal. As hy kwalifiseer, sal die volgende kort aankondiging gemaak word: “[Naam van die persoon] word weer as ’n ongedoopte verkondiger erken.”
JEHOVAH SEËN VREEDSAME EN REIN AANBIDDING
41 Almal wat vandag met die gemeente van God assosieer, kan bly wees oor die goeie geestelike toestand wat Jehovah se volk geniet. Ons het beslis ’n ryk geestelike weiveld en ’n oorvloed waters van waarheid wat ons nuwe krag gee. Ons geniet ook Jehovah se beskermende sorg deur sy teokratiese reëling onder die hoofskap van Christus (Ps. 23; Jes. 32:1, 2). Dit gee ons ’n gevoel van veiligheid om in hierdie moeilike laaste dae in die geestelike paradys te wees.
Deur die vrede en reinheid van die gemeente te bewaar, hou ons aan om ons lig van Koninkrykswaarheid te laat skyn
42 Deur die vrede en reinheid van die gemeente te bewaar, hou ons aan om ons lig van Koninkrykswaarheid te laat skyn (Matt. 5:16; Jak. 3:18). Met God se seën sal ons die vreugde geniet om te sien hoe daar nog baie mense Jehovah leer ken en hom saam met ons begin dien deur sy wil te doen.