Bybelboek nommer 40—Mattheüs
Skrywer: Mattheüs
Waar geskryf: Palestina
Geskrif voltooi: ca. 41 G.J.
Beskrewe tydperk: 2 v.G.J.–33 G.J.
1. (a) Watter belofte het Jehovah sedert Eden aan die mensdom voorgehou? (b) Hoe is die hoop op die Messias stewig bevestig onder die Jode?
SEDERT die opstand in Eden het Jehovah aan die mensdom die vertroostende belofte voorgehou dat hy vir alle liefhebbers van geregtigheid redding deur die Saad van sy “vrou” sal voorsien. Hy was van voorneme om hierdie Saad, of Messias, uit die nasie Israel voort te bring. Deur die eeue heen het hy tientalle profesieë deur die geïnspireerde Hebreeuse skrywers laat opteken, waarin getoon is dat die Saad Heerser in die Koninkryk van God sou wees en dat hy stappe sou doen om Jehovah se naam te heilig, sodat dit vir ewig gesuiwer sal wees van die smaad wat daaroor gebring is. Hierdie profete het talle besonderhede verskaf oor die een wat Jehovah se regverdiger sou wees en wat bevryding van vrees, verdrukking, sonde en die dood sou bring. Met die voltooiing van die Hebreeuse Geskrifte is die hoop op die Messias stewig bevestig onder die Jode.
2. Waarom was omstandighede by die Messias se verskyning besonder gunstig vir die verspreiding van die goeie nuus?
2 Intussen het die wêreldtoneel veranderinge ondergaan. God het die nasies gemaneuvreer ter voorbereiding van die Messias se verskyning, en die omstandighede was ideaal om die tyding van daardie gebeurtenis wyd en syd te versprei. Die vyfde wêreldmoondheid, Griekeland, het ’n gemeenskaplike taal voorsien, ’n universele kommunikasiemiddel onder die nasies. Rome, die sesde wêreldmoondheid, het die nasies wat hy onderwerp het tot een wêreldryk gesmee en het paaie voorsien om alle dele van die ryk toeganklik te maak. Baie Jode was in die hele ryk verstrooi, sodat ander gehoor het dat die Jode ’n komende Messias verwag. En nou, meer as 4 000 jaar na die Edeniese belofte, het die Messias verskyn! Die lang verwagte beloofde Saad het gekom! Die allerbelangrikste gebeure tot op daardie tydstip in die mensegeskiedenis het hulle ontvou namate die Messias getrou die wil van sy Vader hier op aarde uitgevoer het.
3. (a) Watter voorsiening het Jehovah gemaak sodat die besonderhede van Jesus se lewe opgeteken kon word? (b) Wat is kenmerkend van elkeen van die Evangelies, en waarom is al vier nodig?
3 Dit was weer eens die tyd om geïnspireerde geskrifte op te stel om hierdie gewigtige gebeure vas te lê. Die gees van Jehovah het vier getroue manne geïnspireer om onafhanklike verslae neer te skryf, waardeur ’n viervoudige getuienis gelewer is dat Jesus die Messias was, die beloofde Saad en Koning, en wat die besonderhede van sy lewe, sy bediening, sy dood en sy opstanding verstrek het. Hierdie verslae word Evangelies genoem, en die woord “evangelie” beteken “goeie nuus”. Hoewel die vier verslae parallelle verslae is en dikwels dieselfde gebeurtenisse beskryf, is hulle geensins blote afskrifte van mekaar nie. Die eerste drie Evangelies word dikwels sinopties genoem, wat “soortgelyke beskouing” beteken, aangesien hulle verhale van Jesus se lewe op aarde op eenderse wyse benader word. Maar elkeen van die vier skrywers—Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes—vertel sy eie verhaal van die Christus. Elkeen het sy eie besondere tema en oogmerk, weerspieël sy eie persoonlikheid en hou sy onmiddellike lesers in gedagte. Hoe meer ons hulle geskrifte ondersoek, des te meer waardeer ons elkeen se besondere kenmerke en dat hierdie vier geïnspireerde Bybelboeke onafhanklike, aanvullende en harmoniese verslae van Jesus Christus se lewe vorm.
4. Wat is bekend oor die skrywer van die eerste Evangelie?
4 Mattheüs was die eerste een wat die goeie nuus oor die Christus op skrif gestel het. Sy naam is waarskynlik ’n verkorte vorm van die Hebreeuse “Mattitja”, wat “Gawe van Jehovah” beteken. Hy was een van die 12 apostels, wat deur Jesus gekies is. Gedurende die tyd dat die Meester die land Palestina deurreis en oor God se Koninkryk gepreek en onderrig het, het Mattheüs ’n hegte, intieme verhouding met hom gehad. Voor Mattheüs ’n dissipel van Jesus geword het, was hy ’n tollenaar, of belastinggaarder, ’n beroep waarvan die Jode ’n grondige afkeer gehad het, aangesien dit hulle voortdurend daaraan herinner het dat hulle nie vry was nie maar onder die heerskappy van keiserlike Rome gestaan het. Mattheüs het ook bekend gestaan as Levi en was die seun van Alfeüs. Hy het Jesus se uitnodiging om hom te volg geredelik aanvaar.—Matt. 9:9; Mark. 2:14; Luk. 5:27-32.
5. Hoe word daar bevestig dat Mattheüs die skrywer van die eerste Evangelie was?
5 Hoewel die Evangelie wat aan Mattheüs toegeskryf word hom nie as die skrywer meld nie, stempel die oorweldigende getuienis van vroeë kerkhistorici hom as sodanig. Geen ou boek se skrywer word waarskynlik so duidelik en eenparig uitgewys soos die skrywer van die boek Mattheüs nie. Reeds sedert Papias van Hiërapolis (vroeg tweede eeu G.J.) het ons ’n reeks vroeë getuies van die feit dat Mattheüs hierdie Evangelie geskryf het en dat dit ’n egte deel van die Woord van God is. McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Gedeeltes van Mattheüs word aangehaal deur Justinus Martyr, deur die skrywer van die brief aan Diognetus (sien Otto se Justin Martyr, dl. ii), deur Hegesippus, Ireneus, Tatianus, Athenagoras, Theophilus, Clemens, Tertullianus en Origines. Dit is nie net die feit dat daar aanhalings is nie, maar die manier waarop daar aangehaal word, die kalm beroep soos op ’n gevestigde gesag, die afwesigheid van enige sweem van twyfel, wat ons dit as bewese laat aanvaar dat die boek wat ons besit nie aan ’n skielike verandering onderhewig was nie.”a Die feit dat Mattheüs ’n apostel was en as sodanig God se gees gehad het, verseker ons dat wat hy geskryf het ’n getroue verslag is.
6, 7. (a) Wanneer en in watter taal is Mattheüs se Evangelie aanvanklik geskryf? (b) Wat dui daarop dat dit hoofsaaklik vir die Jode geskryf is? (c) Hoeveel keer kom die naam Jehovah in hierdie Evangelie in die New World Translation voor, en waarom?
6 Mattheüs het sy verslag in Palestina geskryf. Die presiese jaar is nie bekend nie, maar onderskrifte aan die einde van party manuskripte (almal later as die tiende eeu G.J.) sê dat dit 41 G.J. was. Daar is bewyse wat daarop dui dat Mattheüs oorspronklik sy Evangelie in die algemene Hebreeus van die tyd geskryf en dit later in Grieks vertaal het. In sy werk De viris inlustribus (Oor beroemde manne), hoofstuk III, sê Hieronimus: “Mattheüs, wat ook Levi is, en wat eers ’n belastinggaarder was maar ’n apostel geword het, was die eerste wat ’n Evangelie van Christus in Judea in die Hebreeuse taal en karakters opgestel het vir die besnedenes wat geglo het.”b Hieronimus voeg by dat die Hebreeuse teks van hierdie Evangelie in sy dag (vierde en vyfde eeu G.J.) bewaar is in die biblioteek wat Pamfilus in Cesarea versamel het.
7 Volgens Eusebius het Origines vroeg in die derde eeu, toe hy die Evangelies bespreek het, gesê dat die “eerste geskryf is . . . deur Mattheüs, . . . wat dit uitgegee het vir diegene wat uit Judaïsme gekom en geglo het, aangesien dit in die Hebreeuse taal opgestel is”.c Dat dit hoofsaaklik vir die Jode geskryf is, word aangedui deur die geslagsregister daarin, wat Jesus se wetlike afstamming van Abraham af toon, en deur die talle verwysings na die Hebreeuse Geskrifte wat toon dat hulle vooruit gewys het na die komende Messias. Dit is redelik om te glo dat Mattheüs die goddelike naam Jehovah in die vorm van die Tetragrammaton gebruik het wanneer hy aangehaal het uit dele van die Hebreeuse Geskrifte wat die naam bevat het. Dit is waarom die boek Mattheüs in die New World Translation die naam Jehovah 18 keer bevat, net soos die Hebreeuse weergawe van Mattheüs wat oorspronklik deur F. Delitzsch in die 19de eeu uitgegee is. Mattheüs sou dieselfde gesindheid as Jesus teenoor die goddelike naam gehad het en sou hom nie deur ’n heersende Joodse bygeloof laat keer het om daardie naam te gebruik nie.—Matt. 6:9; Joh. 17:6, 26.
8. Hoe weerspieël die inhoud van Mattheüs se Evangelie die feit dat hy ’n tollenaar was?
8 Aangesien Mattheüs ’n tollenaar was, was dit natuurlik dat hy spesifiek sou wees wanneer hy geld, syfers en waardes meld (Matt. 17:27; 26:15; 27:3). Hy het God se barmhartigheid wat hom, ’n veragte tollenaar, toegelaat het om ’n bedienaar van die goeie nuus en ’n intieme metgesel van Jesus te word hoog op prys gestel. Ons vind derhalwe dat Mattheüs die enigste van die Evangelieskrywers is wat meld hoe Jesus dit herhaaldelik benadruk het dat barmhartigheid benewens offerandes nodig is (9:9-13; 12:7; 18:21-35). Jehovah se onverdiende goedheid het Mattheüs grootliks aangemoedig en hy het gepas party van Jesus se vertroostendste woorde opgeteken: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (11:28-30). Hoe verkwikkend was hierdie tere woorde tog vir hierdie voormalige tollenaar, wat ongetwyfeld weinig anders as beledigings van sy landgenote moes aangehoor het!
9. Watter tema en skryfstyl is kenmerkend van Mattheüs?
9 Mattheüs het besondere nadruk daarop gelê dat “die koninkryk van die hemele” die tema van Jesus se leer was (4:17). Vir hom was Jesus die Prediker-Koning. Hy het die woord “koninkryk” so dikwels gebruik (meer as 50 keer) dat sy Evangelie die Koninkryksevangelie genoem kan word. ’n Logiese weergawe van Jesus se openbare toesprake en preke was vir Mattheüs belangriker as ’n streng chronologiese volgorde. In die eerste 18 hoofstukke het Mattheüs se beklemtoning van die Koninkrykstema daartoe gelei dat hy afgewyk het van ’n chronologiese rangskikking. Maar die laaste tien hoofstukke (19 tot 28) is oor die algemeen chronologies, terwyl dit nog steeds die Koninkryk benadruk.
10. Hoeveel van die inhoud word net in Mattheüs gevind, en watter tydperk dek die Evangelie?
10 Twee-en-veertig persent van Mattheüs se Evangelieverslag word in geeneen van die ander drie Evangelies aangetref nie.d Dit sluit ten minste tien gelykenisse, of illustrasies, in: Die onkruid in die land (13:24-30), die verborge skat (13:44), die uiters kosbare pêrel (13:45, 46), die visnet (13:47-50), die onbarmhartige dienskneg (18:23-35), die arbeiders en die penning (20:1-16), die vader en die twee kinders (21:28-32), die bruilof van die koning se seun (22:1-14), die tien maagde (25:1-13) en die talente (25:14-30). In sy geheel bevat die boek ’n verslag van die gebeure vanaf Jesus se geboorte in 2 v.G.J. tot sy vergadering met sy dissipels net voor sy hemelvaart in 33 G.J.
INHOUD VAN MATTHEÜS
11. (a) Hoe begin die Evangelie logieserwys, en watter vroeë gebeure word verhaal? (b) Wat is enkele van die profetiese vervullings waarop Mattheüs ons aandag vestig?
11 Jesus en die nuus van “die koninkryk van die hemele” word bekend gestel (1:1–4:25). Mattheüs begin logieserwys met Jesus se geslagsregister, waardeur hy Jesus se wetlike reg as erfgenaam van Abraham en Dawid bewys. Die aandag van die Joodse leser word aldus geboei. Dan lees ons die verslag van Jesus se wonderbaarlike ontvangenis, sy geboorte in Betlehem, die besoek van die astroloë, Herodes se woedende moord op al die seuntjies jonger as twee in Betlehem, Josef en Maria se vlug na Egipte met die jong kind en hulle daaropvolgende terugkeer om in Nasaret te woon. Mattheüs vestig die aandag spesifiek op die vervulling van profesieë om te bewys dat Jesus die voorspelde Messias is.—Matt. 1:23—Jes. 7:14; Matt. 2:1-6—Miga 5:1; Matt. 2:13-18—Hos. 11:1 en Jer. 31:15; Matt. 2:23—Jes. 11:1, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
12. Wat gebeur by Jesus se doop en onmiddellik daarna?
12 Mattheüs se verslag slaan nou bykans 30 jaar oor. Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 3:2). Hy doop die berouvolle Jode in die Jordaanrivier en waarsku die Fariseërs en Sadduseërs teen die komende toorn. Jesus kom van Galilea en word gedoop. God se gees daal onmiddellik op hom neer, en ’n stem uit die hemele sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (3:17). Jesus word dan na die woestyn gelei, waar hy, nadat hy 40 dae gevas het, deur Satan die Duiwel versoek word. Hy wys Satan drie keer af deur middel van aanhalings uit God se Woord en sê uiteindelik: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”—4:10.
13. Watter opwindende veldtog begin nou in Galilea?
13 “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Daardie opwindende woorde word nou deur die gesalfde Jesus in Galilea verkondig. Hy roep vier vissers van hulle nette om hom te volg en “vissers van mense” te word, en hy reis saam met hulle ‘deur die hele Galilea en leer in hulle sinagoges en verkondig die evangelie van die koninkryk en genees elke siekte en elke kwaal onder die volk’.—4:17, 19, 23.
14. Van watter toestande van geluk praat Jesus in sy Bergpredikasie, en wat sê hy oor regverdigheid?
14 Die Bergpredikasie (5:1–7:29). Wanneer skares hom begin volg, klim Jesus op die berg, gaan sit hy en begin hy sy dissipels leer. Hy begin hierdie aangrypende toespraak met nege dinge wat ’n mens “salig”, of gelukkig, maak: Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, diegene wat treur, die sagmoediges, diegene wat na die geregtigheid honger en dors, die barmhartiges, dié wat rein van hart is, die vredemakers, diegene wat ter wille van die geregtigheid vervolg word en diegene wat gesmaad en belaster word. “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.” Hy noem sy dissipels “die sout van die aarde” en “die lig van die wêreld” en gee ’n uiteensetting van regverdigheid, wat so anders as die vormdiens van die skrifgeleerdes en die Fariseërs is en wat nodig is om die Koninkryk van die hemele in te gaan. “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”—5:12-14, 48.
15. Wat sê Jesus oor gebed en oor die Koninkryk?
15 Jesus waarsku teen huigelagtige geskenke en gebede. Hy leer sy dissipels om te bid dat die Vader se naam geheilig word, dat Sy Koninkryk moet kom en dat hulle hul daaglikse brood sal ontvang. Dwarsdeur die preek vestig Jesus die aandag op die Koninkryk. Hy waarsku diegene wat hom volg om hulle nie oor materiële rykdom te bekommer of slegs dít na te streef nie, want die Vader weet wat hulle werklik nodig het. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”, sê hy.—6:33.
16. (a) Watter raad gee Jesus oor verhoudinge met ander, en wat sê hy oor diegene wat God se wil gehoorsaam en dié wat dit nie doen nie? (b) Watter uitwerking het sy toespraak?
16 Die Meester gee raad oor verhoudinge met ander en sê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.” Die paar wat die weg tot die lewe vind, sal diegene wees wat die wil van sy Vader doen. Die werkers van wetteloosheid sal aan hulle vrugte geken en verwerp word. Jesus vergelyk die een wat sy woorde gehoorsaam met die “verstandige man wat sy huis op die rots gebou het”. Watter uitwerking het hierdie toespraak op die luisterende skares? Hulle is “verslae oor sy leer”, want hy leer hulle “soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie”.—7:12, 24-29.
17. Hoe bewys Jesus sy gesag as Messias, en watter liefdevolle besorgdheid openbaar hy?
17 Die Koninkryksprediking word uitgebrei (8:1–11:30). Jesus doen baie wonders—hy genees melaatses, verlamdes en die duiwelbesetenes. Hy bewys selfs dat hy gesag het oor die wind en golwe deur ’n storm stil te maak, en hy wek ’n dogtertjie uit die dood op. Watter medelye voel Jesus tog vir die skare wanneer hy sien hoe uitgebuit en rondgeslinger hulle is, “soos skape wat geen herder het nie”! Dit is soos hy vir sy dissipels sê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.”—9:36-38.
18. (a) Watter instruksies en vermaninge gee Jesus sy apostels? (b) Waarom word wee oor “hierdie geslag” uitgespreek?
18 Jesus kies die 12 apostels en gee hulle hul opdrag. Hy gee hulle definitiewe instruksies hoe hulle hul werk moet doen en beklemtoon die sentrale leerstelling van hulle leer: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Hy gee hulle wyse en liefdevolle vermaninge: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” “Wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Hulle sal gehaat en vervolg word, selfs deur naverwante, maar Jesus herinner hulle: “Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind” (10:7, 8, 16, 39). Hulle vertrek om in die stede waarheen hulle gestuur is te onderrig en te preek! Jesus identifiseer Johannes die Doper as die boodskapper wat voor hom uitgestuur is, die beloofde “Elia”, maar “hierdie geslag” aanvaar nòg Johannes nòg hom, die Seun van die mens (11:14, 16). Wee dus hierdie geslag en die stede wat nie berou het wanneer hulle sy kragtige werke sien nie! Maar diegene wat sy dissipels word, sal verkwikking vir hulle siele vind.
19. Hoe veroordeel Jesus die Fariseërs wanneer hulle sy handelwyse op die Sabbat bevraagteken?
19 Fariseërs se beskuldigings word weerlê, en hulle word veroordeel (12:1-50). Die Fariseërs probeer Jesus op ’n fout betrap met betrekking tot die Sabbatskwessie, maar hy weerlê hulle beskuldigings en spreek ’n vernietigende veroordeling oor hulle uit weens hulle huigelagtigheid. Hy sê vir hulle: “Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond” (12:34). Hulle sal geen teken behalwe dié van die profeet Jona gegee word nie: Die Seun van die mens sal drie dae en nagte in die hart van die aarde wees.
20. (a) Waarom spreek Jesus deur gelykenisse? (b) Watter Koninkryksgelykenisse vertel hy nou?
20 Sewe Koninkryksgelykenisse (13:1-58). Waarom spreek Jesus deur gelykenisse? Hy verduidelik aan sy dissipels: “Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.” Hy verklaar sy dissipels gelukkig omdat hulle sien en hoor. Watter verkwikkende onderrig verskaf hy hulle tog nou! Na Jesus die gelykenis van die saaier verduidelik het, vertel hy die gelykenisse van die onkruid in die land, die mosterdsaad, die suurdeeg, die verborge skat, die uiters kosbare pêrel en die visnet—almal beeld iets met betrekking tot “die koninkryk van die hemele” af. Die mense neem egter aanstoot aan hom, en Jesus sê vir hulle: “’n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.”—13:11, 57.
21. (a) Watter wonders doen Jesus, en as wat identifiseer hulle hom? (b) Watter visioen word oor die Seun van die mens se koms in sy Koninkryk gegee?
21 Verdere bediening en wonders van “die Christus” (14:1–17:27). Jesus is diep bedroef deur die berig dat Johannes die Doper op bevel van die papbroekige Herodes Antipas onthoof is. Hy voed ’n skare van ruim 5 000 op wonderdadige wyse; loop op die see; weerlê verdere kritiek van die Fariseërs, wat, sê hy, ‘die gebod van God ter wille van hulle oorlewering oortree’; genees die duiwelbesetenes, die “kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle”; en voed weer meer as 4 000 met sewe brode en ’n paar vissies (15:3, 30). In antwoord op ’n vraag deur Jesus identifiseer Petrus hom en sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Jesus prys Petrus en sê: “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou” (16:16, 18). Jesus begin nou van sy naderende dood en van sy opstanding op die derde dag praat. Maar hy belowe ook dat party van sy dissipels “die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (16:28). Ses dae later neem Jesus Petrus, Jakobus en Johannes saam op ’n hoë berg om hom ’n gedaantewisseling in heerlikheid te sien ondergaan. In ’n visioen sien hulle Moses en Elia met hom praat en hoor hulle ’n stem uit die hemel wat sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!” Wanneer hulle van die berg afgeklim het, sê Jesus vir hulle dat die beloofde “Elia” reeds gekom het, en hulle begryp dat hy van Johannes die Doper praat.—17:5, 12.
22. Watter raad gee Jesus oor vergewensgesindheid?
22 Jesus gee sy dissipels raad (18:1-35). Terwyl hulle in Kapernaüm is, praat Jesus met die dissipels oor nederigheid, die groot vreugde wanneer ’n afgedwaalde skaap gevind word en die beslegting van geskille tussen broers. Petrus vra: ‘Hoe dikwels moet ek my broer vergewe?’ en Jesus antwoord: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.” Om hieraan krag by te sit, vertel Jesus die gelykenis van die dienskneg wie se heer hom ’n skuld van 60 miljoen denarii kwytgeskeld het. Die dienskneg het ’n mededienskneg later weens ’n skuld van slegs 100 denarii in die tronk laat sit, en gevolglik is die onbarmhartige dienskneg eweneens aan die tronkbewaarders oorgegee.e Jesus gee die toepassing: “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.”—18:21, 22, 35.
23. Wat verduidelik Jesus in verband met egskeiding en die weg tot die lewe?
23 Die laaste dae van Jesus se bediening (19:1–22:46). Die tempo van gebeure versnel en die spanning styg namate die skrifgeleerdes en Fariseërs al hoe meer ontstoke raak oor Jesus se bediening. Hulle kom en probeer om hom met ’n vraag oor egskeiding te verstrik, maar dit misluk hulle; Jesus toon dat hoerery die enigste skriftuurlike grond vir egskeiding is. ’n Ryk jongman kom na Jesus en vra watter weg tot die ewige lewe lei, maar gaan bedroef weg wanneer hy uitvind dat hy al sy besittings moet verkoop en ’n volgeling van Jesus moet wees. Na Jesus die gelykenis van die arbeiders en die penning vertel het, praat hy weer van sy dood en opstanding en sê: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”—20:28.
24. Watter botsings het Jesus met godsdiensteenstanders gedurende die laaste week van sy lewe as ’n mens, en hoe behandel hy hulle vrae?
24 Jesus betree nou die laaste week van sy lewe as ’n mens. Hy maak sy seëvierende intog in Jerusalem as ‘Koning, terwyl hy op ’n jong esel sit’ (21:4, 5). Hy reinig die tempel deur die geldwisselaars en ander profiteurs daaruit te dryf, en die haat van sy vyande neem toe wanneer hy vir hulle sê: “Die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God” (21:31). Sy pertinente gelykenisse van die wingerd en die bruilof tref die doel. Hy beantwoord die Fariseërs se vraag oor belasting op bekwame wyse deur vir hulle te sê om ‘aan die keiser te betaal wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom’ (22:21). Hy weer eweneens ’n strikvraag deur die Sadduseërs af en verdedig die opstandingshoop. Die Fariseërs kom weer eens na hom met ’n vraag oor die Wet, waarop Jesus vir hulle sê die grootste gebod is om Jehovah volkome lief te hê, en die tweede is om jou naaste soos jouself lief te hê. Jesus vra hulle dan: ‘Hoe kan die Christus Dawid se seun sowel as sy Heer wees?’ Niemand kan antwoord nie, en daarna waag niemand dit om hom nog iets te vra nie.—22:45, 46.
25. Hoe veroordeel Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs op kragtige wyse?
25 ‘Wee julle, geveinsdes’ (23:1–24:2). Wanneer Jesus met die skares by die tempel praat, spreek hy nog ’n vernietigende veroordeling oor die skrifgeleerdes en Fariseërs uit. Nie alleen het hulle hulself ongeskik gemaak om die Koninkryk in te gaan nie, maar hulle wend al hulle liste aan om te voorkom dat ander ingaan. Net soos gewitte grafte lyk hulle mooi van buite, maar van binne is hulle vol verdorwenheid en verrotting. Jesus sluit met hierdie oordeel oor Jerusalem af: “Julle huis word vir julle woes gelaat!” (23:38). Wanneer Jesus die tempel verlaat, profeteer hy dat dit vernietig sal word.
26. Watter profetiese teken voorspel Jesus ten opsigte van sy teenwoordigheid in koninklike heerlikheid?
26 Jesus gee ‘die teken van sy teenwoordigheid’ (24:3–25:46). Op die Olyfberg vra sy dissipels hom oor ‘die teken van sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge’. In antwoord wys Jesus vooruit na ’n tyd van oorloë, ‘die een nasie teen die ander en die een koninkryk teen die ander’, voedseltekorte, aardbewings, ’n vermeerdering in ongeregtigheid, die aardwye prediking van “hierdie goeie nuus van die koninkryk”, die aanstelling van “die getroue en verstandige dienskneg . . . oor al sy besittings” en talle ander aspekte van die saamgestelde teken wat ‘die koms van die Seun van die mens in sy heerlikheid om op sy heerlike troon te sit’ sal kenmerk (24:3, 7, 14, 45-47, vgl. NW; 25:31). Jesus sluit hierdie belangrike profesie af met die gelykenisse van die tien maagde en van die talente, wat vreugdevolle beloninge vir die wakkeres en getroues in die vooruitsig stel, en die gelykenis van die skape en die bokke, wat toon dat bokagtige mense “in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe” sal weggaan.—25:46.
27. Watter gebeure kenmerk Jesus se laaste dag op aarde?
27 Die gebeure op Jesus se laaste dag (26:1–27:66). Ná die viering van die Pasga stel Jesus iets nuuts saam met sy getroue apostels in deur hulle te nooi om ongesuurde brood en wyn as simbole van sy liggaam en sy bloed te gebruik. Dan gaan hulle na Getsemane, waar Jesus bid. Daar kom Judas met ’n gewapende skare en verraai Jesus met ’n huigelagtige soen. Jesus word na die hoëpriester geneem, en die owerpriesters en die hele Sanhedrin soek valse getuies teen Jesus. Ooreenkomstig Jesus se profesie verloën Petrus hom wanneer hy op die proef gestel word. Judas ondervind gewetenswroeging, gooi sy verraadgeld in die tempel en gaan hang homself. Daardie oggend word Jesus voor die Romeinse goewerneur Pilatus gebring, wat hom oorgee om aan ’n paal genael te word weens druk van die skare wat deur die priesters aangehits word en wat uitroep: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” Die goewerneur se soldate dryf die spot met sy koningskap en lei hom dan uit na Golgota, waar hy tussen twee rowers aan ’n paal gehang word met ’n teken bo sy kop wat lui: “Dit is Jesus, die koning van die Jode” (27:25, 37). Na ure van foltering sterf Jesus uiteindelik omstreeks drie-uur die middag en word hy dan in die nuwe gedenkgraf gelê wat aan Josef van Arimathea behoort. Dit was die mees gebeurtenisvolle dag in die hele geskiedenis!
28. Met watter allerbeste nuus bring Mattheüs sy verslag tot ’n hoogtepunt, en met watter opdrag sluit hy af?
28 Jesus se opstanding en laaste instruksies (28:1-20). Mattheüs bring nou sy verslag tot ’n hoogtepunt met die allerbeste nuus. Die afgestorwe Jesus is opgewek—hy lewe weer! Vroeg op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena en “die ander Maria” na die graf en hoor hulle die engel se aankondiging van hierdie vreugdevolle feit (28:1). Jesus self verskyn aan hulle om dit te bevestig. Die vyande probeer selfs die feit van sy opstanding bestry deur die soldate wat by die graf wag gestaan het om te koop om te sê: “Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.” In Galilea vergader Jesus later weer met sy dissipels. Wat is sy afskeidsopdrag aan hulle? Dit: “Gaan . . . maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Sou hulle leiding in hierdie predikingswerk hê? Die laaste woorde van Jesus wat Mattheüs opteken, gee hierdie versekering: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—28:13, 19, 20.
WAAROM NUTTIG
29. (a) Hoe verskaf Mattheüs ’n skakel tussen die Hebreeuse Geskrifte en die Griekse Geskrifte? (b) Watter voorreg wat Jesus geniet het, kan Christene vandag nog geniet?
29 Die boek Mattheüs, die eerste van die vier Evangelies, verskaf waarlik ’n uitstekende skakel tussen die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte. Dit identifiseer die Messias en Koning van God se beloofde Koninkryk onmiskenbaar, maak bekend wat die vereistes is om ’n volgeling van hom te word en beskryf die werk wat vir sy volgelinge op aarde voorlê. Eers het Johannes die Doper, toe het Jesus en uiteindelik het sy dissipels gaan preek: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Bowendien is Jesus se bevel tot die voleinding van die stelsel van dinge van krag: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Waarlik, dit was, en is steeds, ’n groot en wonderlike voorreg om aan hierdie Koninkrykswerk deel te neem, wat die taak insluit ‘om dissipels van mense van al die nasies te maak’, en hierdeur die voorbeeld van die Meester te volg.—3:2; 4:17; 10:7; 24:14; 28:19.
30. Watter besondere deel van Mattheüs het erkenning ontvang weens die praktiese waarde daarvan?
30 Mattheüs se Evangelie is inderdaad “goeie nuus”. Die geïnspireerde boodskap daarin was “goeie nuus” vir diegene wat in die eerste eeu van die Gewone Jaartelling daarop ag geslaan het, en Jehovah God het toegesien dat dit tot vandag toe as “goeie nuus” bewaar word. Selfs nie-Christene het hulle gedronge gevoel om die krag van hierdie Evangelie te erken, soos onder meer die Hindoeleier Mohandas (Mahatma) Gandhi, wat luidens berig vir lord Irwin, ’n voormalige onderkoning van Indië, gesê het: “Wanneer u land en myne die leerstellings toepas wat deur Christus in hierdie Bergpredikasie gemeld is, sal ons nie alleen die probleme van óns lande nie maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.”f By ’n ander geleentheid het Gandhi gesê: “Drink gerus diep van die fonteine wat vir julle in die Bergpredikasie gegee word . . . Want die leer van die Bergpredikasie is vir ’n ieder en ’n elk van ons bedoel.”g
31. Wie het innige waardering vir die raad in Mattheüs getoon, en waarom is dit nuttig om hierdie Evangelie oor en oor te bestudeer?
31 Die hele wêreld, met inbegrip van daardie deel wat beweer dat dit Christelik is, gaan egter steeds onder probleme gebuk. Dit is aan ’n klein minderheid ware Christene oorgelaat om die Bergpredikasie en al die ander gesonde raad van die goeie nuus volgens Mattheüs te koester, te bestudeer en toe te pas en daardeur onskatbare voordele te geniet. Dit is nuttig om Jesus se voortreflike vermaninge oor hoe om ware geluk te vind, asook oor sedes en die huwelik, die krag van die liefde, aanvaarbare gebed, geestelike waardes teenoor materiële waardes, voorkeur aan die Koninkryk, respek vir heilige dinge en waaksaamheid en gehoorsaamheid oor en oor te bestudeer. Mattheüs hoofstuk 10 verstrek Jesus se diensinstruksies vir diegene wat die verkondiging van die goeie nuus van “die koninkryk van die hemele” aanpak. Jesus se baie gelykenisse bevat die allerbelangrikste lesse vir almal wat ‘ore het om te hoor’. Daarbenewens bou Jesus se profesieë, soos sy gedetailleerde voorspelling van ‘die teken van sy teenwoordigheid’, sterk vertroue in en hoop op die toekoms.—5:1–7:29; 10:5-42; 13:1-58; 18:1–20:16; 21:28–22:40; 24:3–25:46.
32. (a) Lig toe hoe vervulde profesieë bewys dat Jesus die Messias is. (b) Watter kragtige versekering gee hierdie vervullings ons vandag?
32 Mattheüs se Evangelie is vol profesieë wat in vervulling gegaan het. Baie van sy aanhalings uit die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte was bedoel om op hierdie vervullings te wys. Hulle voorsien onweerlegbare bewys dat Jesus die Messias is, want dit sou heeltemal onmoontlik gewees het om al hierdie besonderhede vooraf te reël. Vergelyk byvoorbeeld Mattheüs 13:14, 15 met Jesaja 6:9, 10; Mattheüs 21:42 met Psalm 118:22, 23 en Mattheüs 26:31, 56 met Sagaria 13:7. Sulke vervullings gee ons ook ’n kragtige versekering dat al Jesus se profetiese voorspellings wat deur Mattheüs opgeteken is mettertyd in vervulling sal gaan namate Jehovah se glorieryke voornemens met betrekking tot “die koninkryk van die hemele” verwesenlik word.
33. In watter wete en hoop kan liefhebbers van geregtigheid hulle nou verheug?
33 Hoe akkuraat het God tog die lewe van die Koning van die Koninkryk tot in die fynste besonderhede voorspel! Hoe akkuraat was die geïnspireerde Mattheüs tog deur getrou die vervulling van hierdie profesieë op te teken! Wanneer liefhebbers van geregtigheid nadink oor al die profetiese vervullings en beloftes wat in die boek Mattheüs opgeteken is, kan hulle hulle inderdaad verheug in die wete en die hoop dat “die koninkryk van die hemele” Jehovah se werktuig is om sy naam te heilig. Dit is hierdie Koninkryk deur Jesus Christus wat “in die [herskepping] wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit” vir die sagmoediges en geestelik hongeriges onmeetlike seëninge in die vorm van lewe en geluk bring (Matt. 19:28, vgl. NW). Dit alles is vervat in die stimulerende goeie nuus “volgens Mattheüs”.
[Voetnote]
a Herdruk van 1981, Dl. V, bladsy 895.
b Vertaling uit die Latynse teks onder redaksie van E. C. Richardson, gepubliseer in die reeks “Texte und Untersuchungen zur Geschichte der altchristlichen Literatur”, Leipzig, 1896, Dl. 14, bladsye 8, 9.
c The Ecclesiastical History, VI, xxv, 3-6.
d Introduction to the Study of the Gospels, 1896, B. F. Westcott, bladsy 201.
e In Jesus se dag was ’n denarius gelyk aan ’n dag se loon; 100 denarii was derhalwe gelyk aan nagenoeg ’n derde van ’n jaar se lone. Sestigmiljoen denarii was gelyk aan lone wat net in duisende leeftye bymekaargemaak sou kon word.—Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 614.
f Treasury of the Christian Faith, 1949, onder redaksie van S. I. Stuber en T. C. Clark, bladsy 43.
g Mahatma Gandhi’s Ideas, 1930, deur C. F. Andrews, bladsy 96.