Wat ons by Jesus leer
Oor die toekoms van die mensdom
Het Jesus belowe dat mense in die hemel sal lewe?
Ja, hy het! Jesus is self opgewek en het na die hemel opgevaar om saam met sy Vader te wees. Maar voor sy dood en opstanding het hy vir sy 11 getroue apostels gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. . . . Ek gaan om vir julle ’n plek te berei” (Johannes 14:2). Daar sou egter min mense wees wat hierdie voorreg ontvang. Jesus het dit duidelik gemaak toe hy vir sy dissipels gesê het: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee.”—Lukas 12:32.
Wat sal die “klein kuddetjie” in die hemel doen?
Die Vader wil hê dat hierdie klein groepie saam met Jesus deel van ’n regering in die hemel moet wees. Hoe weet ons dit? Ná sy opstanding het Jesus aan die apostel Johannes geopenbaar dat party getroues “as konings oor die aarde [sal] heers” (Openbaring 1:1; 5:9, 10). Dit is goeie nuus. ’n Goeie regering is een van die mensdom se grootste behoeftes. Wat sal hierdie regering onder Jesus se heerskappy bereik? Jesus het gesê: “In die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy glorieryke troon gaan sit, sal ook julle wat my gevolg het, op twaalf trone sit” (Matteus 19:28). Die heerskappy van Jesus en sy volgelinge sal “die herskepping” tot gevolg hê, waardeur die volmaakte toestande wat die eerste mensepaar op die aarde geniet het voordat hulle gesondig het, herstel sal word.
Watter hoop het Jesus die res van die mensdom gebied?
In teenstelling met Jesus, wat geskep is om in die hemel te lewe, is die mensdom geskep om op die aarde te lewe (Psalm 115:16). Jesus het dus gesê: “Julle is van die ryke hier onder; ek is van die ryke daar bo” (Johannes 8:23). Jesus het gepraat van ’n wonderlike toekoms vir die mensdom op die aarde. Hy het eenkeer gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Hy het na die geïnspireerde psalm verwys wat sê: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede. Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:11, 29.
Die “klein kuddetjie”, wat hemel toe gaan, is dus nie die enigstes wat die ewige lewe ontvang nie. Jesus het ook gepraat van ’n hoop wat aan die hele wêreld, met al sy miljoene mense, gebied word. Hy het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
Hoe sal God die mensdom van lyding bevry?
Jesus het gepraat van twee oorsake van verdrukking wat verwyder sal word toe hy gesê het: “Nou vind daar ’n oordeel van hierdie wêreld plaas; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgewerp word” (Johannes 12:31). Eerstens, goddelose mense wat lyding veroorsaak, sal geoordeel en vernietig word. Tweedens, Satan sal uitgewerp word en sal die mensdom nie meer mislei nie.
Wat van diegene wat deur die geskiedenis heen gesterf het sonder om ’n kans te kry om God en Christus te leer ken en om geloof in hulle te beoefen? Jesus het vir ’n kwaaddoener wat langs hom gesterf het, gesê: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Daardie persoon, en miljoene ander, sal ’n geleentheid hê om van God te leer wanneer Jesus hom uit die dode opwek in ’n paradys op aarde. Hy sal dan die kans kry om onder die sagmoediges en regverdiges te wees wat die ewige lewe op aarde sal ontvang.—Handelinge 24:15.
Vir verdere inligting, sien hoofstukke 3 en 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?a
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 23]
“Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29