Hoofstuk 97
Arbeiders in die wingerd
“BAIE wat eerste is”, het Jesus pas gesê, “sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” Nou lig hy dit toe deur ’n verhaal te vertel. “Die koninkryk van die hemele”, begin hy, “is soos ’n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.”
Jesus sê voorts: “Nadat [die huisheer] met die arbeiders ooreengekom het vir ’n penning op ’n dag, stuur hy hulle in sy wingerd. En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en presies dieselfde gedoen. En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd.”
Die huisheer, of eienaar van die wingerd, is Jehovah God, en die wingerd is die nasie Israel. Die arbeiders in die wingerd is mense wat in die Wetsverbond ingebring is; hulle is spesifiek daardie Jode wat in die dae van die apostels lewe. Dit is net met die arbeiders wat ’n volle dag werk wat ’n loonooreenkoms aangegaan is. Die loon is ’n penning vir ’n dag se werk. Aangesien “die derde uur” 9:00 vm. is, werk diegene wat op die 3de, 6de, 9de en 11de uur geroep is net 9, 6, 3 en 1 uur onderskeidelik.
Die arbeiders wat 12 uur, of ’n volle dag, werk, beeld die Joodse leiers af wat deurentyd gewyde diens gelewer het. Hulle is nie soos Jesus se dissipels nie, want die dissipels was die grootste deel van hulle lewe in die vissersbedryf of ander sekulêre beroepe. Dit was eers in die noordelike herfs van 29 G.J. dat die “huisheer” Jesus Christus gestuur het om hierdie mense te versamel om sy dissipels te wees. Hulle het dus ‘die laastes’, of die wingerdarbeiders van die elfde uur, geword.
Die simboliese werkdag kom uiteindelik met die dood van Jesus tot ’n einde, en die tyd breek aan om die arbeiders te betaal. Die ongewone reël om die laastes eerste te betaal word gevolg, soos verduidelik word: “Toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen ’n penning ontvang. Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen ’n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ’n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” Ten slotte herhaal Jesus ’n gedagte waarop hy vroeër die aandag gevestig het, en sê: “So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste.”
Die ontvangs van die penning vind nie met Jesus se dood plaas nie, maar met Pinkster 33 G.J. wanneer Christus, die “opsigter”, heilige gees oor sy dissipels uitstort. Die dissipels van Jesus is soos “die laastes”, of die arbeiders wat die elfde uur begin het. Die penning beeld nie die gawe van die heilige gees self af nie. Die penning is iets wat die dissipels hier op aarde kan gebruik. Dit is iets waarvan hulle bestaan, hulle ewige lewe, afhang. Dit is die voorreg om ’n geestelike Israeliet te wees wat gesalf is om God se Koninkryk te verkondig.
Die arbeiders wat eerste gehuur is, merk spoedig dat Jesus se dissipels betaal is, en hulle sien dat hulle die simboliese penning gebruik. Maar hulle wil meer as die heilige gees en die gepaardgaande Koninkryksvoorregte hê. Hulle murmurering en besware blyk uit die feit dat hulle Christus se dissipels, ‘die laaste’ arbeiders in die wingerd, vervolg.
Is daardie eerste-eeuse vervulling die enigste vervulling van Jesus se gelykenis? Nee, die geestelikes van die Christendom in hierdie 20ste eeu is, op grond van hulle ampte en verantwoordelikhede, “eerste” vir werk in God se simboliese wingerd gehuur. Hulle het toegewyde predikers wat aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap verbonde is, as “die laastes” beskou wat ’n geldige toewysing in God se diens kan hê. Maar dit is juis hierdie persone, wat deur die geestelikes verag is, wat die penning—die voorreg om as gesalfde ambassadeurs van God se hemelse Koninkryk te dien—ontvang het. Mattheüs 19:30–20:16.
▪ Wat word deur die wingerd voorgestel? Wie word deur die wingerd se eienaar en deur die arbeiders wat 12 uur en 1 uur werk, voorgestel?
▪ Wanneer het die simboliese werkdag tot ’n einde gekom, en wanneer het die betaling plaasgevind?
▪ Wat word deur die betaling van die penning voorgestel?