Kweek ’n Christelike beskouing van grootheid aan
“Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.”—Matteus 20:26.
1. Wat is die wêreld se beskouing van grootheid?
NABY die eertydse Egiptiese stad Tebe (vandag Karnak), omtrent 500 kilometer suid van Kaïro, staan ’n 18 meter hoë standbeeld van farao Amenhotep III. ’n Mens kan nie anders as om klein te voel in vergelyking met hierdie ontsaglike standbeeld nie. Hierdie monument, wat ongetwyfeld opgerig is om ontsag vir die heerser in te boesem, is ’n simbool van die wêreld se beskouing van grootheid—om jouself so groot en belangrik as moontlik te laat lyk en ander onbelangrik te laat voel.
2. Watter voorbeeld het Jesus vir sy volgelinge gestel, en watter vrae moet ons ons afvra?
2 Vergelyk hierdie beskouing van grootheid met wat Jesus Christus mense geleer het. Hoewel hy die “Here en Leermeester” van sy volgelinge was, het Jesus hulle geleer dat grootheid daarin lê dat ’n mens ander dien. Op die laaste dag van sy lewe op aarde het Jesus die betekenis van wat hy hulle geleer het, toegelig deur sy dissipels se voete te was. Wat ’n nederige diens! (Johannes 13:4, 5, 14). Wat vind jy aantrekliker—om te dien of gedien te word? Wek Christus se voorbeeld by jou die begeerte om nederig te wees soos hy was? Kom ons ondersoek Christus se beskouing van grootheid in teenstelling met die algemene beskouing in die wêreld.
Vermy die wêreld se beskouing van grootheid
3. Watter Bybelse voorbeelde toon die droewige uiteinde vir diegene wat deur mense verheerlik wil word?
3 Daar is baie Bybelvoorbeelde wat toon dat die wêreld se beskouing van grootheid tot rampspoed lei. Dink aan die magtige Haman, ’n vooraanstaande man aan die Persiese koninklike hof gedurende die dae van Ester en Mordegai. Haman se oordrewe begeerte na heerlikheid het tot sy vernedering en dood gelei (Ester 3:5; 6:10-12; 7:9, 10). Wat van hoogmoedige Nebukadnesar, wat met kranksinnigheid getref is toe hy die hoogtepunt van sy mag bereik het? Sy verwronge idee van grootheid is in hierdie woorde weerspieël: “Is dit nie Babilon die Grote wat ek vir die koninklike huis gebou het met die sterkte van my mag en vir die waardigheid van my majesteit nie?” (Daniël 4:30). Dan was daar trotse Herodes Agrippa I, wat onverdiende heerlikheid vir homself aanvaar het in plaas van die heerlikheid aan God te gee. Hy is “deur wurms opgeëet en het gesterf” (Handelinge 12:21-23). Omdat nie een van hierdie manne Jehovah se beskouing van grootheid gehad het nie, het dit tot hulle vernederende ondergang gelei.
4. Wie is verantwoordelik vir die wêreld se trotse gees?
4 Dit is nie verkeerd as ons ons lewe wil gebruik op ’n manier wat eer en respek vir ons sal meebring nie. Maar die Duiwel buit hierdie begeerte uit deur ’n trotse gees by ons aan te wakker, wat sy eie eersugtige begeertes weerspieël (Matteus 4:8, 9). Moet nooit vergeet dat hy “die god van hierdie stelsel van dinge” is nie, en hy is vasbeslote om sy denke hier op die aarde te bevorder (2 Korintiërs 4:4; Efesiërs 2:2; Openbaring 12:9). Omdat Christene weet wie die bron van sulke denke is, vermy hulle die wêreld se beskouing van grootheid.
5. Waarborg prestasies, erkenning en rykdom blywende bevrediging? Verduidelik.
5 Een idee wat die Duiwel bevorder, is dat ’n groot naam in die wêreld, eer van mense en sakke vol geld outomaties tot ’n gelukkige lewe lei. Is dit waar? Waarborg prestasies, erkenning en rykdom ’n bevredigende lewe? Die Bybel waarsku ons om nie deur sulke denke mislei te word nie. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Ek het al die harde werk en al die bedrewenheid in die werk gesien, dat dit die wedywering van die een teenoor die ander beteken; ook dit is nietigheid en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:4). Baie mense wat hulle lewe daaraan gewy het om opgang in die wêreld te maak, kan getuig van die waarheid van hierdie geïnspireerde Bybelraad. Een voorbeeld is dié van ’n man wat gehelp het om die ruimtetuig wat mense na die maan geneem het, te ontwerp, te bou en te toets. Hy het gesê: “Ek het hard gewerk en het baie bekwaam geword in my werk. Tog kon dit my nie blywende geluk en gemoedsrus verskaf nie.”a Die wêreld se idee van grootheid, hetsy dit in die sake-, sport- of vermaaklikheidswêreld is, verseker nie blywende bevrediging nie.
Grootheid weens diens wat voortspruit uit liefde
6. Wat toon dat Jakobus en Johannes ’n verkeerde beskouing van grootheid gehad het?
6 ’n Gebeurtenis in Jesus se lewe toon wat ware grootheid behels. Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gereis vir die Pasga van 33 G.J. Op pad daarheen het twee van Jesus se neefs, Jakobus en Johannes, ’n verkeerde beskouing van grootheid geopenbaar. Deur middel van hulle moeder het hulle Jesus gevra: ‘Sê dat ons aan u regter- en aan u linkerhand in u koninkryk mag sit’ (Matteus 20:21). Onder die Jode is dit as ’n groot eer beskou om aan die regter- of linkerhand te sit (1 Konings 2:19). Jakobus en Johannes is deur ambisie gedryf om die vernaamste plekke te probeer verkry. Hulle wou seker maak dat hulle hierdie gesagsposisies inpalm. Jesus was bewus van wat hulle dink en het die geleentheid gebruik om hulle verkeerde beskouing van grootheid reg te stel.
7. Hoe het Jesus beskryf wat ware Christelike grootheid behels?
7 Jesus het geweet dat iemand in hierdie trotse wêreld as groot beskou word as hy ander beheer en bevele gee, as hy net sy vingers klap en alles word vir hom gedoen. Maar onder Jesus se volgelinge word grootheid gemeet aan nederige diens. Jesus het gesê: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.”—Matteus 20:26, 27.
8. Wat beteken dit om ’n dienaar te wees, en watter vrae kan ons ons afvra?
8 Die Griekse woord wat in die Bybel met “dienaar” vertaal word, verwys na iemand wat ywerig en voortdurend daarna streef om ander te dien. Jesus het sy dissipels ’n belangrike les geleer: Grootheid lê nie daarin dat ’n mens ander hiet en gebied nie, maar dat ’n mens ander uit liefde dien. Vra jou af: ‘Hoe sou ek gereageer het as ek Jakobus of Johannes was? Sou ek die punt gesnap het dat ware grootheid beteken dat ’n mens ander uit liefde dien?’—1 Korintiërs 13:3.
9. Watter voorbeeld het Jesus gestel in sy handelinge met ander?
9 Jesus het vir sy dissipels getoon dat die standaard van wêreldse grootheid nie die standaard van Christelike grootheid is nie. Hy het nooit ’n meerderwaardige houding ingeneem teenoor diegene wat hy gedien het of hulle minderwaardig laat voel nie. Alle soorte mense—manne, vroue en kinders, die rykes, die armes en die magtiges, sowel as bekende sondaars—het op hulle gemak by hom gevoel (Markus 10:13-16; Lukas 7:37-50). Mense is dikwels ongeduldig met diegene wat beperkings het. Jesus was anders. Hoewel sy dissipels soms onnadenkend opgetree het en met mekaar gestry het, het hy hulle geduldig onderrig en vir hulle gewys dat hy waarlik nederig en saggeaard is.—Sagaria 9:9; Matteus 11:29; Lukas 22:24-27.
10. Hoe het Jesus se hele lewe van onselfsugtige diens ten behoewe van ander getuig?
10 Die onselfsugtige voorbeeld wat hierdie besondere Seun van God gestel het, het getoon wat grootheid werklik beteken. Jesus het nie na die aarde gekom om bedien te word nie, maar om ander te dien en “allerhande siektes” te genees en mense te bevry wat onder die beheer van demone was. Hoewel hy soms moeg geraak het en moes rus, het hy altyd die behoeftes van ander bo sy eie gestel en alles in sy vermoë gedoen om hulle te vertroos (Markus 1:32-34; 6:30-34; Johannes 11:11, 17, 33). Sy liefde het hom beweeg om mense op geestelike gebied te help, en hy het honderde kilometers oor stowwerige paaie afgelê om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Markus 1:38, 39). Dit ly geen twyfel nie, Jesus het diens aan ander ernstig opgeneem.
Volg die nederigheid van Christus na
11. Watter eienskappe word vereis van broers wat as opsieners in die gemeente aangestel word?
11 In die laat 1800’s, toe manne gekies is om as reisende verteenwoordigers na die behoeftes van God se volk om te sien, is die aandag gevestig op die gepaste gesindheid wat Christenopsieners moet aankweek. Volgens Zion’s Watch Tower van 1 September 1894 is daar gesoek na manne “wat sagmoedig is—sodat hulle nie opgeblase sal raak nie . . . , wat nederig is en nie hulleself nie, maar Christus sal verkondig—nie om hulle eie kennis te versprei nie, maar Sy Woord in sy eenvoud en krag”. Ware Christene moet dus nooit verantwoordelikhede nastreef weens persoonlike ambisie of om vernaamheid, mag en beheer oor ander te verkry nie. ’n Nederige opsiener hou in gedagte dat sy verantwoordelikhede “’n voortreflike werk” is, nie ’n verhewe posisie om homself te verheerlik nie (1 Timoteus 3:1, 2). Alle ouer manne en bedieningsknegte moet hulle bes doen om nederig ten behoewe van ander te dien en om die leiding in heilige diens te neem, waardeur hulle ’n navolgenswaardige voorbeeld vir ander stel.—1 Korintiërs 9:19; Galasiërs 5:13; 2 Timoteus 4:5.
12. Watter vrae kan diegene wat voorregte in die gemeente nastreef, hulle afvra?
12 ’n Broer wat voorregte nastreef, moet hom miskien afvra: ‘Is ek op die uitkyk na geleenthede om ander te dien, of wil ek graag gedien word? Is ek gewillig om nuttige take te verrig wat ander nie maklik raaksien nie?’ Byvoorbeeld, ’n jong man is dalk gewillig om toesprake in die Christengemeente te hou, maar is dalk huiwerig om die bejaardes te help. Hy geniet dit moontlik om met verantwoordelike manne in die gemeente te assosieer, maar is nie so gretig om aan die predikingswerk deel te neem nie. So ’n jong man kan hom gerus afvra: ‘Spits ek my hoofsaaklik toe op aspekte van God se diens wat erkenning en lof bring? Probeer ek ander beïndruk?’ ’n Strewe na persoonlike heerlikheid is beslis nie die Christelike weg nie.—Johannes 5:41.
13. (a) Watter uitwerking kan ’n opsiener se voorbeeld van nederigheid op ander hê? (b) Waarom kan daar gesê word dat nederigheid, of ootmoed, nie vir ’n Christen opsioneel is nie?
13 Wanneer ons ons inspan om die nederigheid van Christus na te volg, beweeg dit ons om ander te dien. Beskou die voorbeeld van ’n sone-opsiener wat die werksaamhede by een van die takkantore van Jehovah se Getuies nagegaan het. Ten spyte van ’n baie besige program en baie verantwoordelikhede het hierdie opsiener tyd daaraan afgestaan om ’n jong broer te help wat gesukkel het om ’n draadhegmasjien reg in te stel. “Ek kon dit nie glo nie!” het die broer vertel. “Hy het vir my gesê dat hy met dieselfde soort masjien gewerk het toe hy ’n jong man by Bethel was, en hy kon onthou hoe moeilik dit was om dit reg in te stel. Hy het ’n ruk lank saam met my aan daardie masjien gewerk, al het hy soveel ander belangrike dinge gehad om te doen. Dit het ’n groot indruk op my gemaak.” Daardie broer, wat vandag ’n opsiener by een van die takkantore van Jehovah se Getuies is, onthou nog steeds daardie nederige daad. Mag ons nooit dink dat dit benede ons is om nederige werk te doen of dat ons te belangrik is om eenvoudige take te verrig nie. Ons moet ons eerder met “ootmoed” beklee. Dit is nie opsioneel nie. Dit is deel van “die nuwe persoonlikheid” waarmee ’n Christen hom moet beklee.—Filippense 2:3; Kolossense 3:10, 12; Romeine 12:16.
Hoe om die Christelike beskouing van grootheid te verkry
14. Hoe kan dit ons help om die regte beskouing van grootheid te verkry as ons nadink oor ons verhouding met God en met ons medemens?
14 Hoe kan ons die regte beskouing van grootheid verkry? Een manier is deur na te dink oor ons verhouding met Jehovah God. Sy majesteit, mag en wysheid verhef hom ver bo nietige mense (Jesaja 40:22). En as ons nadink oor ons verhouding met ons medemens, kan dit ons ook help om ootmoed aan te kweek. Byvoorbeeld, ons vaar dalk beter op sekere gebiede as ander, maar hulle munt moontlik uit in aspekte van die lewe wat baie belangriker is, of ons Christenbroers het miskien sekere eienskappe wat ons nie het nie. Trouens, baie persone wat kosbaar is in God se oë, is dikwels nie op die voorgrond nie weens hulle sagmoedige, nederige gesindheid.—Spreuke 3:34; Jakobus 4:6.
15. Hoe toon die onkreukbaarheid van God se knegte dat niemand rede het om te dink dat hy beter is as ander nie?
15 Ondervindinge van Jehovah se Getuies wat weens hulle geloof vervolg is, lig hierdie punt goed toe. Dit is dikwels dié wat deur die wêreld as doodgewoon beskou word, wat hulle onkreukbaarheid teenoor God tydens hewige toetse gehandhaaf het. As ons oor sulke voorbeelde peins, kan dit ons help om nederig te bly en ons leer ‘om nie meer van onsself te dink as wat dit nodig is om te dink nie’.—Romeine 12:3.b
16. Hoe kan almal in die gemeente grootheid aankweek in navolging van Jesus se voorbeeld?
16 Alle Christene, jonk en oud, moet daarna streef om die Christelike beskouing van grootheid aan te kweek. In die gemeente moet ’n verskeidenheid take verrig word. Moet nooit gegrief voel as jy gevra word om iets te doen wat na ’n nederige taak lyk nie (1 Samuel 25:41; 2 Konings 3:11). Ouers, moedig julle julle kinders en tieners aan om vreugdevol enige taak te verrig wat hulle ontvang, hetsy dit by die Koninkryksaal, ’n kringbyeenkoms of ’n streekbyeenkoms is? Sien hulle dat julle nederige take verrig? ’n Broer, wat tans by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies dien, kan sy ouers se voorbeeld nog goed onthou. Hy het vertel: “Die gesindheid waarmee hulle die Koninkryksaal of ’n byeenkomssentrum skoongemaak het, het vir my gewys dat hulle dit as belangrik beskou. Hulle het dikwels aangebied om take te verrig wat tot nut van die gemeente of die broederskap sou wees, ongeag hoe onbelangrik daardie take dalk gelyk het. Hierdie gesindheid het my gehelp om enige werkstoewysing hier by Bethel gewillig te aanvaar.”
17. Op watter maniere kan nederige vroue ’n seën vir die gemeente wees?
17 ’n Uitstekende voorbeeld van iemand wat die belange van ander bo haar eie gestel het, is dié van Ester, wat in die vyfde eeu v.G.J. die koningin van die Persiese Ryk geword het. Hoewel sy in ’n paleis gewoon het, was sy bereid om haar lewe in gevaar te stel ten behoewe van God se volk, en sy het in ooreenstemming met sy wil opgetree (Ester 1:5, 6; 4:14-16). Vandag kan Christenvroue, ongeag hulle ekonomiese situasie, ’n gesindheid soos dié van Ester openbaar deur die terneergedruktes aan te moedig, die siekes te besoek, aan die predikingswerk deel te neem en met die ouer manne saam te werk. Wat ’n seën is sulke nederige susters tog vir die gemeente!
Die seëninge van Christelike grootheid
18. Watter voordele hou dit vir jou in as jy Christelike grootheid aan die dag lê?
18 ’n Mens geniet baie voordele as jy ’n Christelike beskouing van grootheid handhaaf. Wanneer jy ander onselfsugtig dien, bring dit vreugde mee vir hulle asook vir jou (Handelinge 20:35). Wanneer jy jou gewillig en gretig ten behoewe van jou broers inspan, sal jy jou meer gelief by hulle maak (Handelinge 20:37). Nog belangriker, Jehovah beskou wat jy doen om die welsyn van mede-Christene te bevorder, as ’n welgevallige lofoffer.—Filippense 2:17.
19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen aangaande die Christelike beskouing van grootheid?
19 Elkeen van ons moet sy hart ondersoek en hom afvra: ‘Sal ek net lippediens aan Christus se beskouing van grootheid bewys, of sal ek my ywerig daarop toelê om dit aan te kweek?’ Dit is duidelik hoe Jehovah oor die hoogmoediges voel (Spreuke 16:5; 1 Petrus 5:5). Mag ons dade toon dat ons behae daarin skep om die Christelike beskouing van grootheid te openbaar, hetsy in die Christengemeente, in ons gesinslewe of in ons daaglikse handelinge met ons medemens—en laat ons alles tot heerlikheid en lof van God doen.—1 Korintiërs 10:31.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 15 Julie 1982, bladsye 3-6, “Op soek na sukses”.
b Sien voorbeelde in die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 181-2, en Die Wagtoring van 1 September 1993, bladsye 27-31.
Kan jy verduidelik?
• Waarom moet ons die wêreld se beskouing van grootheid vermy?
• Waaraan het Jesus grootheid gemeet?
• Hoe kan opsieners die nederigheid van Christus navolg?
• Wat kan ons help om Christelike grootheid aan te kweek?
[Venster op bladsy 17]
Wie het Christelike grootheid?
Iemand wat gedien wil word of iemand wat gewillig is om te dien?
Iemand wat hou van die kollig of iemand wat nederige take aanvaar?
Iemand wat homself verhef of iemand wat ander verhef?
[Prent op bladsy 14]
’n Ontsaglike beeld van farao Amenhotep III
[Prent op bladsy 15]
Weet jy wat tot Haman se ondergang gelei het?
[Prente op bladsy 16]
Is jy op die uitkyk na geleenthede om ander te dien?