Hoofstuk 49
Nog ’n predikingsreis deur Galilea
SAL Jesus nou, ná sowat twee jaar van intensiewe prediking, begin verslap en dinge op sy gemak doen? Inteendeel, hy brei sy predikingswerk uit deur nog ’n reis aan te pak, ’n derde reis deur Galilea. Hy besoek al die stede en dorpe in die gebied, leer in die sinagoges en verkondig die goeie nuus van die Koninkryk. Wat hy op hierdie reis sien, oortuig hom meer as ooit dat die predikingswerk verskerp moet word.
Waar Jesus ook al gaan, sien hy dat die skares geestelike genesing en vertroosting nodig het. Hulle is soos skape sonder ’n herder wat gestroop en heen en weer gedryf is, en hy voel jammer vir hulle. Hy sê vir sy dissipels: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.”
Jesus het ’n plan van aksie. Hy roep die 12 apostels, wat hy bykans ’n jaar tevore gekies het, na hom. Hy verdeel hulle in pare sodat hulle ses spanne predikers uitmaak en gee hulle instruksies. Hy verduidelik: “Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ’n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Hierdie Koninkryk waaroor hulle moet preek, is die Koninkryk waarvoor Jesus hulle in die modelgebed leer bid het. Die Koninkryk het naby gekom in die sin dat God se aangewese Koning, Jesus Christus, teenwoordig is. Die feit dat Jesus sy dissipels in staat gestel het om die siekes te genees en selfs die dooies op te wek, dien as hulle geloofsbriewe as verteenwoordigers van daardie bomenslike regering. Hy beveel hulle om hierdie dienste kosteloos te lewer.
Vervolgens sê hy vir sy dissipels om nie materiële voorbereidings vir hulle predikingsreis te tref nie. “Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of ’n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd.” Diegene wat die boodskap waardeer, sal reageer en voedsel en verblyf verskaf. Soos Jesus sê: “In watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek.”
Jesus gee dan instruksies oor hoe om huisbewoners met die Koninkryksboodskap te nader. “As julle die huis ingaan”, sê hy, “groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.”
Jesus openbaar dat die oordeel oor ’n stad wat hulle boodskap verwerp inderdaad swaar sal wees. Hy verduidelik: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.” Mattheüs 9:35–10:15; Markus 6:6-12; Lukas 9:1-5.
▪ Wanneer begin Jesus sy derde predikingsreis deur Galilea, en waarvan oortuig dit hom?
▪ Watter instruksies gee Jesus sy 12 apostels wanneer hy hulle uitstuur om te preek?
▪ Waarom is dit korrek dat die dissipels vir ander leer dat die Koninkryk naby gekom het?