Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Markus
DIE Evangelie van Markus is die kortste van die vier Evangelies. Dit is sowat 30 jaar ná Jesus Christus se dood en opstanding deur Johannes Markus geskryf en is ’n aksiebelaaide verslag van Jesus se drie en ’n half jaar lange bediening waarin die gebeure vinnig op mekaar volg.
Die boek Markus is blykbaar bedoel vir nie-Jode, veral die Romeine, en beeld Jesus uit as die Seun van God wat wonderwerke verrig en ’n intensiewe predikingsveldtog onderneem. Die klem is op wat Jesus gedoen het eerder as wat hy ander geleer het. As ons op die Evangelie van Markus ag slaan, sal dit ons geloof in die Messias versterk en ons aanspoor om ywerige verkondigers van God se boodskap in die Christelike bediening te wees.—Heb. 4:12.
JESUS SE UITGEBREIDE BEDIENING IN GALILEA
Nadat Markus die bedrywighede van Johannes die Doper en Jesus se 40 dae in die wildernis in slegs 14 verse gedek het, begin hy met ’n opwindende verslag van Jesus se Galilese bediening. Die herhaalde gebruik van die uitdrukking “onmiddellik” verleen ’n gevoel van dringendheid aan die verslag.—Mark. 1:10, 12.
In minder as drie jaar voltooi Jesus drie predikingsveldtogte in Galilea. Markus se verslag is meestal in chronologiese volgorde geskryf. Die Bergpredikasie, sowel as baie van Jesus se ander langer toesprake, word weggelaat.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:15—“Die vasgestelde tyd” waarvoor is vervul? Jesus het gesê dat die vasgestelde tyd vervul is vir hom om met sy bediening te begin. Aangesien hy as die aangewese Koning teenwoordig was, het God se Koninkryk naby gekom. Regskape mense kon toe op sy predikingswerk reageer en stappe doen wat hulle God se goedkeuring sou meebring.
1:44; 3:12; 7:36—Waarom wou Jesus nie hê dat sy wonderwerke bekend gemaak moes word nie? Jesus wou nie hê dat mense op grond van sensasionele en moontlik verdraaide verslae gevolgtrekkings moes maak nie, maar wou eerder hê dat hulle self moes sien dat hy die Christus is en op grond van daardie bewyse ’n persoonlike besluit moes maak (Jes. 42:1-4; Matt. 8:4; 9:30; 12:15-21; 16:20; Luk. 5:14). ’n Uitsondering was die geval van die man wat voorheen ’n demoonbesetene was, in die land van die Geraseners. Jesus het vir hom gesê om huis toe te gaan en sy familielede te vertel wat met hom gebeur het. Die mense daar het Jesus gesoebat om uit die gebied weg te gaan, en hy sou dus baie min of geen kontak met hulle gehad het nie. Die teenwoordigheid en die getuienis van ’n man vir wie Jesus ’n goeie daad gedoen het, kon help om enige negatiewe praatjies omtrent die verlies van die varke teë te werk.—Mark. 5:1-20; Luk. 8:26-39.
2:28—Waarom word Jesus “Here selfs van die sabbat” genoem? “Die Wet [het] ’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge”, het die apostel Paulus geskryf (Heb. 10:1). Volgens die Wet het die Sabbat op ses werksdae gevolg, en Jesus het baie van sy genesings op daardie dag gedoen. Dit het die vreedsame rus en ander seëninge voorafgeskadu wat die mensdom onder die Duisendjarige Heerskappy van Christus sal geniet, ná die einde van Satan se onderdrukkende heerskappy. Daarom is die Koning van daardie Koninkryk ook “Here van die sabbat”.—Matt. 12:8; Luk. 6:5.
3:5; 7:34; 8:12—Hoe kon Markus besonderhede oor Jesus se emosionele toestand geweet het? Markus was nie een van die 12 apostels of ’n intieme metgesel van Jesus nie. Volgens ’n eertydse oorlewering het Markus baie van sy inligting by sy goeie vriend, die apostel Petrus, gekry.—1 Pet. 5:13.
6:51, 52—Wat was “die betekenis van die brode” wat die dissipels nie begryp het nie? Net ’n paar uur tevore het Jesus 5 000 mans, buiten vroue en kinders, met net vyf brode en twee visse gevoed. “Die betekenis van die brode” wat die dissipels ná hierdie gebeurtenis moes verstaan het, was dat Jehovah God vir Jesus die krag gegee het om wonderwerke te verrig (Mark. 6:41-44). As hulle begryp het watter ontsaglike krag Jesus gegee is, sou hulle nie so verstom gewees het toe hy wonderbaarlik op water geloop het nie.
8:22-26—Waarom het Jesus die blinde man se sig in twee stappe herstel? Jesus het dit moontlik uit bedagsaamheid teenoor die man gedoen. Die geleidelike herstel van die sig van ’n man wat lank aan duisternis gewoond was, het hom moontlik kans gegee om aan die helder sonlig gewoond te raak.
Lesse vir ons:
2:18; 7:11; 12:18; 13:3. Markus beskryf gebruike, terme, opvattings en plekke wat dalk vir nie-Joodse lesers onbekend was. Hy verduidelik dat die Fariseërs “die vaste onderhou” het, dat korban “’n gawe [is] wat aan God gewy is”, dat die Sadduseërs “sê dat daar geen opstanding is nie” en dat ’n mens van “die Olyfberg . . . ’n uitsig op die tempel” gehad het. Aangesien die geslagsregister van die Messias hoofsaaklik vir die Jode van belang sou wees, laat hy dit heeltemal uit. Markus stel sodoende vir ons ’n voorbeeld. Ons moet die agtergrond van ons toehoorders in ag neem wanneer ons aan die Christelike bediening deelneem of toesprake by gemeentelike vergaderinge hou.
3:21. Jesus se familielede was ongelowiges. Gevolglik het hy medelye met dié wat weens hulle geloof deur hulle ongelowige familielede teëgestaan of bespot word.
3:31-35. Toe Jesus gedoop is, het hy God se geestelike Seun geword, en “die Jerusalem daar bo” was sy moeder (Gal. 4:26). Van daardie tydstip af het Jesus ’n hegter band met sy dissipels as met sy vleeslike familielede gehad en was hulle vir hom kosbaarder. Dit leer ons om geestelike belange eerste in ons lewe te stel.—Matt. 12:46-50; Luk. 8:19-21.
8:32-34. Ons moet gou wees om enige misplaaste goedhartigheid wat ander moontlik toon, raak te sien en te verwerp. ’n Volgeling van Christus moet bereid wees om “homself [te] verloën”, dit wil sê, hy moet bereid wees om homself alles te ontsê en nee te sê vir selfsugtige begeertes en strewes. Hy moet gewillig wees om ‘sy folterpaal op te neem’—om te ly, indien nodig, of om verneder, vervolg of selfs doodgemaak te word omdat hy ’n Christen is. En hy moet Jesus “voortdurend volg”, met ander woorde hy moet sy lewenspatroon in ooreenstemming bring met Jesus s’n. Dissipelskap vereis dat ons ’n selfopofferende gees soos dié van Christus Jesus aankweek en behou.—Matt. 16:21-25; Luk. 9:22, 23.
9:24. Ons moenie skaam wees om ons geloof te bely of om te smeek vir meer geloof nie.—Luk. 17:5.
DIE LAASTE MAAND
Aan die einde van 32 G.J. gaan Jesus na “die grensgebiede van Judea en oorkant die Jordaan”, en weer eens kom ’n skare na hom toe (Mark. 10:1). Nadat hy daar gepreek het, vertrek hy na Jerusalem.
Op 8 Nisan is Jesus in Betanië. Hy is gedurende ’n maaltyd aan tafel wanneer ’n vrou inkom en geparfumeerde olie op sy kop uitgooi. Die gebeure van Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem tot sy opstanding word in chronologiese volgorde beskryf.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
10:17, 18—Waarom het Jesus ’n sekere man reggehelp omdat hy Hom “Goeie Leermeester” genoem het? Deur te weier om hierdie vleiende titel te aanvaar, het Jesus heerlikheid aan Jehovah gegee en getoon dat die ware God die bron van alle goeie dinge is. Wat meer is, Jesus het die aandag gevestig op die grondwaarheid dat net die Skepper van alle dinge, Jehovah God, die reg het om die standaarde van goed en sleg vas te stel.—Matt. 19:16, 17; Luk. 18:18, 19.
14:25—Wat het Jesus bedoel toe hy vir sy getroue apostels gesê het: “Ek sal hoegenaamd nie meer van die vrug van die wingerdstok drink tot op daardie dag wanneer ek dit nuut in die koninkryk van God drink nie”? Jesus het nie bedoel dat daar letterlike wyn in die hemel is nie. Maar aangesien vrolikheid soms deur wyn gesimboliseer word, het Jesus verwys na die vreugde om saam met sy verrese gesalfde volgelinge in die Koninkryk te wees.—Ps. 104:15; Matt. 26:29.
14:51, 52—Wie was die jong man wat “naak weggekom” het? Net Markus verwys na hierdie voorval, en ons kan dus redelikerwys tot die slotsom kom dat hy van homself gepraat het.
15:34—Het Jesus se woorde “my God, my God, waarom het u my verlaat?” getoon dat hy ’n gebrek aan geloof gehad het? Nee. Hoewel ons nie seker kan wees waarom Jesus dit gesê het nie, kan sy woorde aandui dat hy besef het dat Jehovah Sy beskerming onttrek het sodat Sy Seun se onkreukbaarheid ten volle op die proef gestel kon word. Dalk het Jesus dit ook gesê omdat hy wou vervul wat Psalm 22:1 oor hom voorspel het.—Matt. 27:46.
Lesse vir ons:
10:6-9. God se voorneme is dat huweliksmaats bymekaar moet bly. Mans en vrouens moet dus nie oorhaastig skei nie, maar moet hard probeer om Bybelbeginsels toe te pas om enige probleme wat moontlik in die huwelik opkom, uit die weg te ruim.—Matt. 19:4-6.
12:41-44. Die voorbeeld van die arm weduwee leer ons dat ons ware aanbidding onselfsugtig moet ondersteun.
[Prent op bladsy 29]
Waarom het Jesus vir hierdie man gesê om vir sy familielede te vertel wat met hom gebeur het?