Hoofstuk 59
Wie is Jesus werklik?
TOE die skuit met Jesus en sy dissipels by Betsaida aankom, bring die mense ’n blinde man na hom toe en smeek hom om die man aan te raak en te genees. Jesus neem die man by die hand en lei hom uit die dorp uit, en nadat hy op sy oë gespoeg het, vra hy: “Sien jy iets?”
“Ek sien mense”, antwoord die man, “want ek sien goed wat soos bome lyk, maar hulle loop rond” (NW). Jesus lê sy hande op die man se oë en herstel sy gesig sodat hy duidelik sien. Daarna stuur Jesus die man huis toe en beveel hom om nie in die dorp in te gaan nie.
Jesus vertrek nou saam met sy dissipels na die dorpies van Cesarea-Filippi in die verre noorde van Palestina. Dit is ’n lang opdraand van ongeveer 48 kilometer na die pragtige omgewing van Cesarea-Filippi, wat sowat 350 meter bo seespieël geleë is. Die reis duur waarskynlik ’n paar dae.
Op pad daarheen gaan Jesus opsy om alleen te bid. Daar is net nege of tien maande oor voor sy dood, en hy is besorg oor sy dissipels. Baie het alreeds opgehou om hom te volg. Ander is blykbaar verward en teleurgesteld omdat hy die mense se pogings om hom koning te maak verwerp het, en omdat hy nie, toe sy vyande hom uitgedaag het, ’n teken uit die hemel gegee het om sy koningskap te bewys nie. Wat glo sy apostels aangaande sy identiteit? Toe hulle by hom kom waar hy besig is om te bid, vra Jesus: “Wie sê die skare is Ek?”
“Sommige Johannes die Doper”, antwoord hulle, “en sommige Elia, en ander Jeremia of een van die profete.” Ja, die mense dink Jesus is een van hierdie manne wat uit die dood opgestaan het!
“Maar julle, wie sê julle is Ek?” vra Jesus.
Petrus antwoord dadelik: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Nadat Jesus Petrus se antwoord goedgekeur het, sê hy: “Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Hier maak Jesus vir die eerste keer bekend dat hy ’n gemeente gaan bou en dat selfs die dood nie die lede daarvan ná hulle getroue aardse loopbaan gevange sal hou nie. Toe sê hy vir Petrus: “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee.”
Jesus maak dus bekend dat Petrus spesiale voorregte sal ontvang. Nee, Petrus kry nie die vernaamste plek onder die apostels nie, en hy word ook nie die fondament van die gemeente gemaak nie. Jesus self is die Rots waarop sy gemeente gebou sal word. Petrus sal egter drie sleutels ontvang waarmee hy as ’t ware vir groepe mense die geleentheid moet bied om die Koninkryk van die hemele binne te gaan.
Petrus sou die eerste sleutel met Pinkster 33 G.J. gebruik om aan berouvolle Jode te toon wat hulle moet doen om gered te word. Hy sou die tweede sleutel kort daarna gebruik om aan gelowige Samaritane die geleentheid te bied om God se Koninkryk binne te gaan. Daarna sou hy die derde sleutel in 36 G.J. gebruik om dieselfde geleentheid aan onbesnede nie-Jode, Cornelius en sy vriende, te bied.
Jesus sit sy bespreking met sy apostels voort. Hy stel hulle teleur deur hulle te vertel van die lyding en dood wat hy weldra in Jerusalem sal ondergaan. Petrus begryp nie dat Jesus tot hemelse lewe opgewek gaan word nie en neem Jesus opsy. “Mag God dit verhoed, Here”, sê hy. “Dit sal U nooit oorkom nie!” Jesus draai om en antwoord: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
Buiten die apostels is daar blykbaar ander wat saam met Jesus reis en daarom roep Jesus hulle nou nader en verduidelik dat dit nie maklik sal wees om sy volgelinge te wees nie. “Wie agter My aan wil kom”, sê hy, “moet homself verloën en sy kruis [“folterpaal”, NW] opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.”
Ja, Jesus se volgelinge moet moedig en selfopofferend wees as hulle sy guns waardig wil wees. Hy sê: “Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.” Markus 8:22-38; Mattheüs 16:13-28; Lukas 9:18-27.
▪ Waarom is Jesus besorg oor sy dissipels?
▪ Watter beskouings aangaande Jesus se identiteit het die mense?
▪ Watter sleutels word aan Petrus gegee, en hoe moet hulle gebruik word?
▪ Watter teregwysing ontvang Petrus, en waarom?