Hoofstuk 60
’n Voorafskaduwing van Christus se Koninkryksheerlikheid
JESUS het nou die omgewing van Cesarea-Filippi bereik, en hy onderrig ’n menigte wat sy apostels insluit. Hy deel hulle hierdie verbasende inligting mee: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”
‘Wat bedoel Jesus?’ wonder die dissipels seker. Ongeveer ’n week later neem Jesus Petrus, Jakobus en Johannes saam met hom, en hulle klim ’n hoë berg. Dit is waarskynlik in die nag, aangesien die dissipels vaak is. Terwyl Jesus bid, verander hy voor hulle van gedaante. Sy gesig begin soos die son blink, en sy klere word helder soos die lig.
Toe verskyn twee gedaantes, wat as “Moses en Elia” geïdentifiseer word, en hulle begin met Jesus praat oor sy ‘uitgang wat in Jerusalem sou plaasvind’. Die uitgang het klaarblyklik betrekking op Jesus se dood en daaropvolgende opstanding. Hierdie gesprek bewys dus dat sy vernederende dood nie iets is wat vermy moet word, soos Petrus graag wou hê nie.
Die dissipels is nou wawyd wakker en hulle kyk en luister met verwondering. Hoewel dit ’n gesig is, lyk dit so werklik dat Petrus daaraan begin deelneem en sê: “Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elia.”
Terwyl Petrus praat, oordek ’n helder wolk hulle, en ’n stem uit die wolk sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!” Toe die dissipels die stem hoor, val hulle op hul gesigte neer. Maar Jesus sê: “Staan op en moenie vrees nie.” Toe hulle dit doen, sien hulle niemand behalwe Jesus nie.
Terwyl hulle die volgende dag van die berg afklim, sê Jesus vir hulle: “Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.” Elia se verskyning in die gesig laat ’n vraag in die dissipels se gedagtes opkom. “Waarom”, vra hulle, “sê die skrifgeleerdes dan dat Elia eers moet kom?”
“Elia [het] al gekom”, sê Jesus, “en hulle het hom nie erken nie.” Jesus praat egter van Johannes die Doper, wat ’n rol soortgelyk aan Elia s’n vervul het. Johannes het die weg vir Christus berei, soos Elia dit vir Elisa gedoen het.
Hoe bemoedigend is hierdie gesig tog vir Jesus sowel as sy dissipels! Die gesig is as ’t ware ’n voorafskaduwing van Christus se Koninkryksheerlikheid. Die dissipels het in werklikheid “die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom”, net soos Jesus ’n week vroeër belowe het. Na Jesus se dood het Petrus geskryf dat hulle ‘aanskouers van Christus se majesteit was toe hulle saam met Hom op die heilige berg was’.
Die Fariseërs het ’n teken van Jesus geëis as bewys dat hy die een is wat volgens die Skrif God se uitverkore Koning sou wees. Hulle is nie so ’n teken gegee nie. Aan die ander kant is Jesus se intieme dissipels toegelaat om Jesus se verheerliking ter bevestiging van die Koninkryksprofesieë te sien. Petrus het dus later geskryf: “Gevolglik is die profetiese woord vir ons des te vaster gemaak” (NW). Mattheüs 16:13, 28–17:13; Markus 9:1-13; Lukas 9:27-37; 2 Petrus 1:16-19.
▪ Hoe sien sommige Christus in sy Koninkryk kom voordat hulle die dood smaak?
▪ Waaroor praat Moses en Elia tydens die gesig met Jesus?
▪ Waarom is hierdie gesig so bemoedigend vir die dissipels?