Hoofstuk 119
Jesus word na Annas en dan na Kajafas geneem
JESUS is soos ’n slegte misdadiger geboei en word na Annas, die invloedryke oud-hoëpriester, gelei. Annas was hoëpriester toe Jesus die rabbynse leraars as 12-jarige seun by die tempel verbaas het. ’n Paar van Annas se seuns het later as hoëpriester gedien, en sy skoonseun Kajafas beklee nou daardie posisie.
Jesus word waarskynlik eers na die huis van Annas gelei omdat daardie hoëpriester so lank ’n vername posisie in die Joodse godsdienslewe beklee het. Omdat hulle Annas eers besoek, kan hoëpriester Kajafas die Sanhedrin, die Joodse hoër hof van 71 lede, laat vergader, asook valse getuies bymekaar kry.
Owerpriester Annas ondervra Jesus nou oor sy dissipels en oor sy leer. Jesus se antwoord is egter: “Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie. Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het.”
Hierop klap een van die beamptes wat naby Jesus staan hom deur die gesig en sê: “Is dit die manier waarop jy die owerpriester antwoord gee?”—NW.
“As Ek verkeerd gespreek het”, antwoord Jesus, “getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?” Ná hierdie gesprek stuur Annas Jesus geboeid weg na Kajafas.
Teen hierdie tyd begin al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes, ja, die hele Sanhedrin, bymekaarkom. Hulle vergaderplek is blykbaar Kajafas se huis. Dit is beslis in stryd met die Joodse wet om so ’n verhoor op die aand van ’n Pasga te hou. Maar dit verhinder die godsdiensleiers nie om hulle bose plan uit te voer nie.
Weke vantevore, toe Jesus Lasarus opgewek het, het die Sanhedrin reeds onder mekaar besluit dat hy moet sterf. En net twee dae vroeër, Woensdag, het die godsdiensowerhede saam beraadslaag om Jesus met ’n slinkse plan te vang en dood te maak. Stel jou dit voor, hy is selfs voor sy verhoor al veroordeel!
Nou probeer hulle getuies vind wat valse getuienis sal lewer sodat ’n saak teen Jesus gemaak kan word. Maar hulle kan geen getuies kry wie se getuienis ooreenstem nie. Uiteindelik kom daar twee valse getuies na vore en beweer: “Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.”
“Antwoord U niks nie?” vra Kajafas. “Wat getuig hierdie manne teen U?” Maar Jesus bly stil. Selfs met hierdie valse aantyging kan die getuies, tot verleentheid van die Sanhedrin, hulle getuienis nie met mekaar s’n laat ooreenstem nie. Die hoëpriester probeer dus ’n ander taktiek.
Kajafas weet hoe sensitief die Jode daaroor is as iemand beweer dat hy die Seun van God is. By twee vorige geleenthede het hulle nie geskroom om Jesus ’n godslasteraar te noem wat die dood verdien nie—en een van daardie kere het hulle verkeerdelik gedink dat hy beweer het dat hy aan God gelyk is. Kajafas dring nou listig aan: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?”
Jesus is, ongeag wat die Jode dink, werklik die Seun van God. En as hy stilbly, kan hulle dink dat hy ontken dat hy die Christus is. Jesus antwoord dus moedig: “Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.”
Hierop skeur Kajafas in ’n dramatiese vertoon sy klere en roep uit: “Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle?”
“Hy is die dood skuldig”, verklaar die Sanhedrin. Dan begin hulle hom bespot, en hulle sê baie lasterlike dinge teen hom. Hulle klap hom deur die gesig en spoeg op hom. Ander blinddoek hom en slaan hom met hulle vuiste en sê sarkasties: “Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?” Hierdie mishandeling en onwettige gedrag vind gedurende die nagverhoor plaas. Mattheüs 26:57-68; 26:3, 4; Markus 14:53-65; Lukas 22:54, 63-65; Johannes 18:13-24; 11:45-53; 10:31-39; 5:16-18.
▪ Waarheen word Jesus eers gelei, en wat gebeur daar met hom?
▪ Waarheen word Jesus vervolgens geneem, en met watter doel?
▪ Hoe kry Kajafas dit reg om die Sanhedrin te laat verklaar dat Jesus die dood skuldig is?
▪ Watter mishandeling en onwettige gedrag vind gedurende die verhoor plaas?