Hoofstuk 125
Doodstryd aan die paal
TWEE rowers word saam met Jesus uitgelei om tereggestel te word. Die optog kom net buite die stad tot stilstand by die plek wat Golgota, of Plek van die Hoofskedel, genoem word.
Die gevangenes se klere word uitgetrek. Dan word hulle wyn gemeng met mirre gegee. Blykbaar berei die vroue van Jerusalem dit, en die Romeine ontsê diegene wat die paalstraf opgelê word nie hierdie verdowingsmiddel nie. Maar wanneer Jesus dit proe, weier hy om dit te drink. Waarom? Hy wil blykbaar by sy volle sinne wees terwyl sy geloof tot die uiterste beproef word.
Jesus word nou met sy hande bo sy kop op die paal uitgestrek. Dan slaan die soldate groot spykers deur sy hande en voete. Hy ruk van die pyn wanneer die spykers sy vlees en ligamente deurboor. Die pyn is intens wanneer die paal regop geswaai word, want die liggaam se gewig skeur aan die spykerwonde. Maar pleks van hulle te dreig, bid Jesus vir die Romeinse soldate: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Pilatus laat ’n teken op die paal aanbring wat sê: “Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode.” Hy skryf dit blykbaar nie net omdat hy Jesus respekteer nie, maar omdat hy die Joodse priesters verafsku, aangesien hulle Jesus se doodvonnis van hom afgedwing het. Sodat almal die teken kan lees, laat Pilatus dit in drie tale skryf—in Hebreeus, in die amptelike Latyn en in die gebruiklike Grieks.
Die owerpriesters, Kajafas en Annas inkluis, is ontsteld. Hierdie positiewe verklaring bederf hulle uur van triomf. Hulle protesteer dus: “Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.” Ergerlik omdat hy as werktuig vir die priesters gedien het, antwoord Pilatus met besliste minagting: “Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.”
Die priesters en ’n groot menigte vergader nou by die teregstellingsplek, en die priesters weerspreek die getuienis van die teken. Hulle herhaal die valse getuienis wat vroeër by die Sanhedrinverhore gelewer is. Dit is dus nie verbasend nie dat die verbygangers hom begin smaad, hulle hoofde spottend skud en sê: “U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As u die Seun van God is, kom af van die [folterpaal]!”
“Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.” spot die owerpriesters en hulle godsdienstrawante saam. “As hy die koning van Israel is, laat Hom nou van die [folterpaal] afkom, en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God.”
Die soldate word meegevoer deur die atmosfeer en dryf ook die spot met Jesus. Hulle bied hom spottend asyn aan en hou dit blykbaar net buite die bereik van sy droë lippe. “As U die Koning van die Jode is”, tart hulle, “verlos Uself.” Selfs die rowers—die een aan ’n paal aan Jesus se regter- en die ander aan sy linkerkant—smaad hom. Stel jou dit voor! Die grootste mens wat nog geleef het, ja, die een wat Jehovah God gehelp het om alle dinge te skep, verdra al hierdie hoon onverskrokke!
Die soldate neem Jesus se boklere en verdeel dit in vier dele. Hulle werp die lot daaroor om te sien wie s’n dit sal word. Die onderkleed is egter van hoë gehalte en het nie ’n naat nie. Die soldate sê dus vir mekaar: “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees.” Hulle vervul derhalwe onwetend die teks wat sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp.”
Een van die rowers besef mettertyd dat Jesus waarlik ’n koning moet wees. Daarom berispe hy sy maat en sê: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?—ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” Dan praat hy met Jesus en smeek hom: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.”
Jesus antwoord hom: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (NW). Hierdie belofte sal vervul word wanneer Jesus as Koning in die hemel regeer en die berouvolle kwaaddoener opwek tot lewe op die Paradysaarde wat Armageddon-oorlewendes en hulle metgeselle die voorreg sal hê om te bewerk. Mattheüs 27:33-44; Markus 15:22-32; Lukas 23:27, 32-43; Johannes 19:17-24.
▪ Waarom weier Jesus om die wyn gemeng met mirre te drink?
▪ Waarom word ’n teken op Jesus se paal aangebring, en watter woordewisseling laat dit tussen Pilatus en die owerpriesters ontstaan?
▪ Hoe word Jesus verder aan die folterpaal gehoon, en wat gee blykbaar aanleiding daartoe?
▪ Hoe word ’n profesie vervul in wat met Jesus se klere gedoen word?
▪ Hoe verander een van die rowers, en hoe sal Jesus aan sy versoek voldoen?