Hoofstuk 126
“Waarlik, Hy was die Seun van God”
JESUS is nog nie lank aan die paal nie toe daar teen twaalfuur die middag ’n onverklaarbare duisternis kom wat drie uur duur. Dit word nie deur ’n sonsverduistering veroorsaak nie, aangesien dít net gebeur wanneer dit nuwemaan is, en tydens die Pasga is dit volmaan. Daarbenewens duur ’n sonsverduistering net ’n paar minute. Die duisternis is dus van goddelike oorsprong! Dit stem moontlik diegene wat Jesus bespot tot nadenke, en laat hulle gehoon selfs ophou.
As die onheilspellende verskynsel plaasvind vóór die een kwaaddoener sy maat ernstig berispe en Jesus vra om aan hom te dink, dra dit dalk daartoe by dat hy hom bekeer. Dit is moontlik tydens die duisternis dat vier vroue, naamlik Jesus se moeder en haar suster Salome, Maria Magdalena en Maria, die moeder van die apostel Jakobus die kleine, naby die folterpaal gaan staan. Johannes, Jesus se geliefde apostel, is saam met hulle daar.
Hoe ‘deurboor’ dit tog die hart van Jesus se moeder terwyl sy toekyk hoe die seun wat sy gesoog en grootgemaak het daar in folterende pyn hang! Tog dink Jesus nie aan sy eie pyn nie maar aan haar welsyn. Met groot inspanning knik hy na Johannes en sê vir sy moeder: “Vrou, dáár is u seun!” Dan knik hy na Maria en sê vir Johannes: “Dáár is jou moeder!”
Hiermee vertrou Jesus die sorg van sy moeder, wat blykbaar nou ’n weduwee is, toe aan die apostel wat hy besonder liefhet. Hy doen dit omdat Maria se ander seuns tot dusver nog nie getoon het dat hulle in hom glo nie. Sodoende stel hy ’n goeie voorbeeld deur nie net voorsiening te maak vir sy moeder se fisiese behoeftes nie maar ook vir haar geestelike behoeftes.
Ongeveer drie-uur die middag sê Jesus: “Ek het dors!” Jesus besef dat sy Vader as ’t ware Sy beskerming van hom weggeneem het sodat sy onkreukbaarheid tot die uiterste beproef kan word. Daarom roep hy met ’n groot stem uit: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Toe sommige van dié wat daar naby staan dit hoor, sê hulle: “Kyk, Hy roep na Elia.” Dadelik hardloop een van hulle, sit ’n spons wat met suur wyn deurweek is op ’n hisopstingel en laat hom drink. Maar ander sê: “Wag, laat ons sien of Elia kom om Hom af te haal.”
Wanneer Jesus die suur wyn neem, roep hy uit: “Dit is volbring!” Ja, hy het alles gedoen waarvoor sy Vader hom na die aarde toe gestuur het. Heel laaste sê hy: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Jesus vertrou sodoende sy lewenskrag aan God toe in die vertroue dat God dit weer aan hom sal teruggee. Dan buig hy sy hoof en sterf.
Die oomblik wanneer Jesus sy laaste asem uitblaas, is daar ’n geweldige aardbewing wat die rotse laat skeur. Die aardbewing is so hewig dat die gedenkgrafte buite Jerusalem oopgebreek en lyke uitgeslinger word. Verbygangers, wat die lyke buite sien lê, gaan na die stad en vertel ander daarvan.
Die groot voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste in God se tempel skei, skeur ook die oomblik dat Jesus sterf van bo tot onder in twee. Hierdie pragtig versierde voorhangsel is blykbaar 18 meter lank en baie swaar! Die verbasende wonderwerk openbaar nie net God se toorn teenoor die moordenaars van Sy Seun nie, maar beteken ook dat Jesus se dood dit nou moontlik maak om in die Allerheiligste, die hemel self, in te gaan.
Wel, wanneer mense die aardbewing voel en hierdie dinge sien gebeur, word hulle baie bevrees. Die hoofman oor honderd wat verantwoordelik was vir die teregstelling verheerlik God. “Waarlik, Hy was die Seun van God”, sê hy. Hy was waarskynlik by toe Jesus se verklaring dat hy die Seun van God is tydens sy verhoor voor Pilatus bespreek is. En nou is hy oortuig dat Jesus die Seun van God is, ja, dat hy inderdaad die grootste mens is wat nog geleef het.
Ander is ook oorweldig deur hierdie wonderbaarlike gebeurtenisse, en hulle begin om huis toe te gaan, terwyl hulle op hulle bors slaan as ’n blyk van hulle intense droefheid en skaamte. Baie vroue wat dissipels van Jesus is, is diep getref deur hierdie betekenisvolle gebeure en aanskou hierdie dinge op ’n afstand. Die apostel Johannes is ook daar. Mattheüs 27:45-56; Markus 15:33-41; Lukas 23:44-49; 2:34, 35; Johannes 19:25-30.
▪ Waarom kan ’n sonsverduistering nie die oorsaak wees van die duisternis wat drie uur duur nie?
▪ Watter goeie voorbeeld stel Jesus kort voor sy dood vir diegene met bejaarde ouers?
▪ Wat is die vier laaste dinge wat Jesus sê voordat hy sterf?
▪ Wat word deur die aardbewing veroorsaak, en wat beteken dit wanneer die tempel se voorhangsel in twee geskeur word?
▪ Watter uitwerking het die wonderwerke op die hoofman oor honderd wat vir die teregstelling verantwoordelik was?