Hoofstuk 45
’n Onwaarskynlike dissipel
WAT ’n skrikwekkende gesig begroet Jesus tog toe hy aan wal gaan! Twee buitengewoon gewelddadige mans kom uit die nabygeleë begraafplaas en hardloop na hom toe. Hulle is demonbesete. Aangesien een van hulle moontlik gewelddadiger as die ander is en langer onder demonbeheer gely het, word die aandag op hom toegespits.
Hierdie patetiese man woon al lank naak tussen die grafte. Hy skreeu voortdurend, dag en nag, en kap hom met klippe stukkend. Hy is so gewelddadig dat niemand die moed het om die pad daarlangs te gebruik nie. Die mense het hom probeer boei, maar hy ruk die kettings uitmekaar en breek die voetboeie stukkend. Niemand het die krag om hom te tem nie.
Toe die man Jesus nader en voor hom neerval, laat die demone wat hom beheer hom skreeu: “Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.”
“Onreine gees, gaan uit die man uit!” sê Jesus. Maar dan vra Jesus: “Wat is jou naam?”
“Legio is my naam, want ons is baie”, is die antwoord. Die demone verlustig hulle daarin om die lyding te sien van diegene wat hulle kan bemeester en put blykbaar genot daaruit om soos ’n lafhartige bende teen hulle saam te span. Maar noudat Jesus hulle konfronteer, smeek hulle hom om hulle nie in die afgrond in te stuur nie. Ons sien weer eens dat Jesus groot mag het; hy kon selfs boosaardige demone oorwin. Dit toon ook dat die demone weet dat God se uiteindelike straf vir hulle is dat hulle saam met hulle leier, Satan die Duiwel, in die afgrond gewerp gaan word.
’n Trop van sowat 2 000 varke wei daar naby teen die berg. Daarom sê die demone: “Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar.” Die demone put blykbaar die een of ander onnatuurlike, sadistiese genot daaruit om in die liggame van vleeslike skepsele te vaar. Toe Jesus hulle toelaat om in die varke te vaar, storm al 2 000 oor die krans en verdrink in die see.
Toe die wagters van die varke dit sien, haas hulle hulle om die nuus in die stad en die buitewyke te versprei. Die mense kom uit om te sien wat gebeur het. Toe hulle daar aankom, sien hulle die man wat van die demone bevry is. Hulle is verbaas om te sien dat hy aan Jesus se voete sit, gekleed en by sy volle verstand!
Ooggetuies vertel hoe die man genees is. Hulle vertel die mense ook van die varke se vreemde dood. Toe die mense dit hoor, word hulle baie bevrees, en hulle smeek Jesus om hulle gebied te verlaat. Hy willig in en klim in die skuit. Die voormalige demonbesetene smeek Jesus om hom toe te laat om met hom saam te gaan. Maar Jesus sê vir hom: “Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.”
Jesus beveel gewoonlik diegene wat hy genees om niemand te vertel nie, omdat hy nie wil hê dat mense op grond van sensasionele berigte gevolgtrekkings moet maak nie. Maar hierdie uitsondering is gepas, aangesien die voormalige demonbesetene vir mense sal getuig wat Jesus nou waarskynlik nie sal kan bereik nie. Daarbenewens sal die man se teenwoordigheid getuig van Jesus se mag om goed te doen en enige ongunstige berig wat miskien oor die verlies van die varke versprei word, teëwerk.
Gehoorsaam aan Jesus se bevel gaan die voormalige demonbesetene weg. Hy begin om al die dinge wat Jesus vir hom gedoen het dwarsdeur die Dekapolis te verkondig, en die mense is eenvoudig verwonderd. Mattheüs 8:28-34; Markus 5:1-20; Lukas 8:26-39; Openbaring 20:1-3.
▪ Waarom word die aandag moontlik op een demonbesetene gevestig terwyl daar twee is?
▪ Wat toon dat die demone weet dat hulle in die afgrond gewerp gaan word?
▪ Waarom hou die demone blykbaar daarvan om in mense en diere te vaar?
▪ Waarom maak Jesus ’n uitsondering met die voormalige demonbesetene deur hom te beveel om ander te vertel wat Hy vir hom gedoen het?