Hy was lief vir mense
“Die dinge waarvoor ek lief was, was by die mensekinders.”—SPREUKE 8:31.
1, 2. Hoe het Jesus bewys dat hy baie lief is vir mense?
GOD se eersgebore Seun is die verpersoonliking van Jehovah se ontsagwekkende wysheid en hy was ’n “meesterwerker” naas sy Vader. Stel jou Jesus se blydskap en tevredenheid voor toe sy Vader “die hemele berei het” en “die fondamente van die aarde verorden het”. Maar wat sy Vader se skeppingswerke betref, was Jesus besonder ‘lief vir die mensekinders’ (Spreuke 8:22-31). Ja, hy het mense van die begin af liefgehad.
2 Jesus het bewys dat hy lojaal is en dat hy sy Vader sowel as alle mense baie liefhet toe hy die hemel gewillig verlaat het en as ’n mens aarde toe gekom het. Jesus het dit gedoen sodat hy sy lewe as “’n losprys in ruil vir baie” kon gee (Matteus 20:28; Filippense 2:5-8). Toe Jesus op die aarde was, het God hom die krag gegee om wonderwerke te verrig. Hierdie wonderwerke toon hoe lief Jesus vir mense is en watter wonderlike dinge hy binnekort vir die mensdom sal doen.
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Terwyl Jesus op die aarde was, het hy ook “die goeie nuus van die koninkryk van God” verkondig (Lukas 4:43). Hy het geweet dat hierdie Koninkryk sy Vader se naam sal heilig en die mensdom se probleme vir ewig sal oplos. Terwyl Jesus gepreek het, het hy baie wonderwerke verrig. Hierdie wonderwerke het getoon dat hy baie besorg is oor mense. Waarom is dit vir ons belangrik? Omdat dit ons hoop en vertroue vir die toekoms gee. Kom ons bespreek vier van Jesus se wonderwerke.
KRAG OM GESOND TE MAAK
4. Wat het gebeur toe Jesus ’n melaatse man teëgekom het?
4 Gedurende Jesus se bediening het hy eenkeer ’n stad in Galilea besoek. Daar het hy ’n man teëgekom wat gely het aan ’n verskriklike siekte—melaatsheid (Markus 1:39, 40). Die man was so siek dat Lukas, ’n dokter, gesê het dat hy “vol melaatsheid” is (Lukas 5:12). Volgens die Bybel het die man “op sy gesig geval” toe hy Jesus sien “en hom gesmeek en gesê: ‘Here, as u net wil, kan u my rein maak.’” Die man het geweet dat Jesus die krag het om hom gesond te maak, maar hy wou weet of Jesus hom gesond wil maak. Waarom? Omdat die man gewoond was aan die Fariseërs wat neergesien het op melaatses. Maar wat het deur Jesus se gedagtes gegaan? Hoe sou hy hierdie man, wat waarskynlik erg misvormd was, behandel? Wat sou jy gedoen het?
5. Waarom wou Jesus die melaatse man gesond maak?
5 Die siek man het blykbaar nie “Onrein, onrein!” uitgeroep soos die Mosaïese Wet vereis het nie (Levitikus 13:43-46). Maar Jesus het nie kwaad geword nie. Hy was eerder besorg oor die man en wou hom help. Ons weet nie presies wat Jesus gedink het nie, maar ons weet wel hoe hy gevoel het. Hy het die man so jammer gekry dat hy ’n wonderwerk verrig het. Hy het die man aangeraak—iets wat niemand anders sou doen nie. Met vertroue en medelye het Jesus gesê: “Ek wil. Word gereinig.” Toe “het die melaatsheid van hom verdwyn” (Lukas 5:13). Dit is duidelik dat Jehovah Jesus die krag gegee het om hierdie groot wonderwerk te verrig sodat Jesus kon toon hoe lief hy vir mense is.—Lukas 5:17.
6. Wat is opmerkenswaardig omtrent die wonderwerke wat Jesus verrig het, en wat toon dit?
6 God het Jesus die krag gegee om talle verstommende wonderwerke te verrig. Hy het nie net melaatsheid genees nie. Hy het ook baie ander siektes genees. Die Bybel sê vir ons dat mense verbaas was toe “hulle sien dat die stommes praat en die kreupeles loop en die blindes sien” (Matteus 15:31). Wanneer Jesus iemand genees het, het hy nie ’n gesonde persoon se organe nodig gehad nie. Nee, Jesus het die krag gehad om mense se liggaamsdele te genees. En hy het mense onmiddellik genees, al was hulle soms ver van hom af (Johannes 4:46-54). Wat toon hierdie verstommende wonderwerke? Dat ons Koning, Jesus Christus, die krag en die begeerte het om alle siektes permanent uit die weg te ruim. Wanneer ons sien hoe Jesus mense behandel het, gee dit ons die vertroue dat hy in die nuwe wêreld “sal jammer voel vir die geringe en die arme” (Psalm 72:13). Jesus sal almal wat ly, genees omdat hy werklik wil.
“STAAN OP, TEL JOU DRAAGBED OP EN LOOP”
7, 8. Wat het Jesus gedoen nadat hy Galilea verlaat het?
7 ’n Paar maande nadat Jesus die melaatse man genees het, het hy van Galilea na Judea gereis, waar hy voortgegaan het om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Daar was sekerlik duisende mense wat Jesus se boodskap gehoor het en wat diep getref is deur sy liefde vir hulle. Jesus wou die armes en die onderdruktes werklik vertroos en hoop gee.—Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:18-21.
8 In die maand Nisan het Jesus na Jerusalem gereis om die Pasga te vier. Die stad was in rep en roer omdat mense vir die spesiale fees daar aangekom het. Net noord van die tempel was daar ’n bad wat as Betsata bekend gestaan het, en daar het Jesus ’n man teëgekom wat nie kon loop nie.
9, 10. (a) Waarom het mense na die bad van Betsata gegaan? (b) Wat het Jesus by die bad gedoen, en wat leer dit ons? (Sien prent aan begin van artikel.)
9 Siek mense het na Betsata gestroom. Waarom? Omdat hulle gedink het dat ’n siek persoon wonderdadig genees sou word as hy in die bad klim wanneer die water in beweging kom. Stel jou voor hoeveel wanorde daar geheers het, aangesien so baie desperate, angstige en radelose mense genees wou word. Jesus was volmaak en het beslis nie genesing nodig gehad nie. Waarom was hy dan daar? Sy liefde vir mense het hom beweeg om daarheen te gaan. En dit is waar hy ’n man teëgekom het wat al langer siek was as wat Jesus op die aarde was.—Lees Johannes 5:5-9.
Jesus het gesoek na mense wat hulp nodig het
10 Jesus het die man gevra of hy weer wil loop. Stel jou voor hoe hartseer die man was toe hy vir Jesus sê dat hy gesond wil word, maar dat daar niemand is om hom in die bad te sit nie. Toe het Jesus vir die man gesê om die onmoontlike te doen. Hy het vir hom gesê om sy draagbed op te tel en te loop. Die man het toe sy draagbed opgetel en begin loop! Hierdie wonderwerk is ’n wonderlike bewys van wat Jesus in die nuwe wêreld sal doen. Dit toon ook dat Jesus baie lief is vir mense. Hy het gesoek na mense wat hulp nodig het. Jesus se voorbeeld moet ons aanspoor om te bly soek na mense in ons gebied wat terneergedruk is as gevolg van die verskriklike dinge wat in hierdie wêreld gebeur.
“WIE HET AAN MY BOKLERE GERAAK?”
11. Hoe toon Markus 5:25-34 dat Jesus medelye gehad het met siek mense?
11 Lees Markus 5:25-34. Hierdie verslag praat van ’n vrou wat 12 jaar lank aan ’n pynlike siekte gely het. Haar siekte het vir haar verleentheid veroorsaak en het haar hele lewe geraak, insluitende haar aanbidding. Sy was by baie dokters en het al haar geld bestee om genees te word, maar haar siekte het net erger geword. Op ’n dag het sy aan ’n ander oplossing gedink. Sy het deur ’n skare geloop en aan Jesus se kleed geraak (Levitikus 15:19, 25). Toe Jesus besef dat krag van hom uitgegaan het, het hy gevra wie aan hom geraak het. Die vrou het “bang en bewend . . . voor hom kom neerval en vir hom die hele waarheid vertel”. Omdat Jesus geweet het dat Jehovah die vrou genees het, het hy liefdevol gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.”
12. (a) Hoe sal jy Jesus beskryf na aanleiding van wat ons bespreek het? (b) Watter voorbeeld het Jesus vir ons gestel?
12 Dit is werklik hartroerend om te sien hoe liefdevol Jesus mense behandel het, veral dié wat siek was. Satan probeer ons natuurlik oortuig dat ons waardeloos is en dat niemand lief is vir ons nie. Maar Jesus se wonderwerke het bewys dat hy werklik besorg is oor ons en ons probleme. Hoe dankbaar is ons tog dat ons so ’n liefdevolle Koning en Hoëpriester het! (Hebreërs 4:15). Dit is dalk vir ons moeilik om te verstaan hoe iemand voel wat al lank siek is, veral as ons nie siek is nie. Maar dink aan Jesus. Hy het medelye gehad met siek mense, al was hy nooit self siek nie. Laat ons ons bes doen om Jesus se liefdevolle voorbeeld na te volg.—1 Petrus 3:8.
“JESUS HET TRANE GESTORT”
13. Wat leer die opstanding van Lasarus ons omtrent Jesus?
13 Jesus het diepe meegevoel gehad wanneer hy ander sien ly het. Toe sy vriend Lasarus byvoorbeeld gesterf het, het Jesus “gekreun en verontrus geword” omdat hy gesien het hoe hartseer Lasarus se familie en vriende is. (Lees Johannes 11:33-36.) Al het Jesus geweet dat hy Lasarus sou opwek, het hy gehuil. Hy was nie bang om vir ander te wys hoe hy voel nie. Jesus was so lief vir Lasarus en sy susters dat hy Lasarus met behulp van God se krag opgewek het!—Johannes 11:43, 44.
14, 15. (a) Wat toon dat Jehovah ’n einde wil maak aan die mensdom se lyding? (b) Wat leer ons uit die uitdrukking “gedenkgrafte”?
14 Die Bybel sê dat Jesus presies soos sy Vader, Jehovah, is (Hebreërs 1:3). Jesus se wonderwerke bewys dus dat Jehovah ’n einde wil maak aan siekte, pyn en die dood. Jehovah en Jesus sal baie mense binnekort uit die dood opwek. Jesus het gesê dat “die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is,” opgewek sal word.—Johannes 5:28, 29.
15 Jesus het die uitdrukking “gedenkgrafte” gebruik, wat toon dat hierdie persone in God se geheue is. God die Almagtige, die Skepper van die uitgestrekte heelal, kan elke besonderheid onthou van ons geliefdes wat gesterf het, insluitende hulle persoonlikheid (Jesaja 40:26). Dit is nie net dat Jehovah hulle kan onthou nie, hy wil hulle onthou. Die opstandings wat in die Bybel opgeteken is, is wonderlike voorbeelde van wat in die nuwe wêreld sal gebeur.
WAT ONS UIT JESUS SE WONDERWERKE LEER
16. Watter wonderwerk sal baie van God se knegte beleef?
16 As ons getrou bly, sal ons moontlik een van die grootste wonderwerke in die geskiedenis beleef—die wonderwerk om die groot verdrukking te oorleef! Net ná Armageddon sal ons nog baie ander wonderwerke sien. Dan sal elke mens volmaakte gesondheid verkry (Jesaja 33:24; 35:5, 6; Openbaring 21:4). Stel jou voor hoe mense brille, kieries, krukke, rolstoele en gehoorstukke weggooi. Jehovah weet dat almal wat Armageddon oorleef, sterk en gesond moet wees omdat hulle baie werk sal hê. Hulle sal ons pragtige planeet in ’n aardwye paradys omskep.—Psalm 115:16.
17, 18. (a) Waarom het Jesus wonderwerke verrig? (b) Waarom moet jy alles in jou vermoë doen om in God se nuwe wêreld te wees?
17 Dit is vandag vir die “groot menigte” aanmoedigend om te lees hoe Jesus die siekes genees het (Openbaring 7:9). Hierdie wonderwerke versterk ons wonderlike hoop om in die toekoms van alle siektes genees te word. Dit toon ook hoe lief God se eersgebore Seun vir die mensdom is (Johannes 10:11; 15:12, 13). Jesus se groot medelye is ’n weerspieëling van Jehovah se innige liefde vir elkeen van sy knegte.—Johannes 5:19.
18 Vandag gaan die mensdom gebuk onder pyn, lyding en die dood (Romeine 8:22). Daarom het ons God se nuwe wêreld nodig, waar alle mense volmaakte gesondheid sal geniet, soos God belowe het. Maleagi 4:2 gee ons die hoop dat ons soos vetgemaakte kalwers sal rondhuppel, gelukkig en opgewonde omdat ons genees is en van onvolmaaktheid bevry is. Mag ons waardering vir Jehovah en ons geloof in sy beloftes ons beweeg om alles te doen wat nodig is om in die nuwe wêreld te wees. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat die wonderwerke wat Jesus verrig het, ’n voorskou is van die permanente verligting wat die mensdom binnekort onder sy heerskappy sal geniet!