Hoofstuk 27
Die roeping van Mattheüs
KORT nadat Jesus die verlamde man genees het, gaan hy van Kapernaüm na die See van Galilea. Die skare kom weer na hom toe, en hy begin hulle leer. Terwyl hy loop, sien hy Mattheüs, wat ook Levi genoem word, by die tolhuis sit. “Volg My”, is Jesus se uitnodiging.
Mattheüs is waarskynlik reeds vertroud met Jesus se lering, net soos Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes was toe hulle geroep is. En soos hulle reageer Mattheüs onmiddellik op die uitnodiging. Hy staan op, verlaat sy pos as tollenaar en volg Jesus.
Later gee Mattheüs ’n groot feesmaal in sy huis, moontlik om die feit dat Jesus hom geroep het te vier. Buiten Jesus en Sy dissipels, is voormalige metgeselle van Mattheüs teenwoordig. Hierdie manne word gewoonlik deur ander Jode verag omdat hulle vir die gehate Romeinse owerheid tol insamel. Daarbenewens vorder hulle dikwels op oneerlike wyse meer geld van die mense as die gewone belastingkoers.
Die Fariseërs sien Jesus saam met sulke mense by die feesmaal en vra sy dissipels: “Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?” Jesus hoor die vraag en antwoord die Fariseërs: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”
Mattheüs het hierdie tollenaars klaarblyklik na sy huis genooi sodat hulle na Jesus kan luister en geestelike genesing kan ontvang. Jesus gaan dus met hulle om sodat hy hulle kan help om ’n gesonde verhouding met God te verkry. Jesus verag sulke mense nie soos die eiegeregtige Fariseërs doen nie. Hy word deur meegevoel beweeg om in werklikheid eerder ’n geestelike geneesheer vir hulle te wees.
Jesus se betoning van barmhartigheid teenoor sondaars is derhalwe nie ’n vergoeliking van hulle sondes nie, maar ’n blyk van dieselfde innige meegevoel wat hy teenoor diegene met liggaamlike siektes getoon het. Dink byvoorbeeld aan hoe hy medelydend sy hand uitgesteek, die melaatse aangeraak en gesê het: “Ek wil; word gereinig!” Laat ons eweneens barmhartigheid toon deur mense wat hulp nodig het te help, veral deur hulle geestelik by te staan. Mattheüs 8:3; 9:9-13; Markus 2:13-17; Lukas 5:27-32.
▪ Waar is Mattheüs wanneer Jesus hom sien?
▪ Watter werk doen Mattheüs, en waarom word sulke mense deur ander Jode verag?
▪ Watter klagte word teen Jesus ingebring, en hoe antwoord hy daarop?
▪ Waarom gaan Jesus met sondaars om?