Volg die Gulde Reël in jou bediening
“Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—MATT. 7:12.
1. Is die manier waarop ons mense in die bediening behandel, belangrik? Gee ’n voorbeeld. (Sien prent aan begin van artikel.)
’N PAAR jaar gelede het ’n Christenegpaar in Fidji aan ’n kampanje deelgeneem om mense na die Herdenking van Christus se dood te nooi. Terwyl hulle met ’n vrou gepraat het buite haar huis, het dit begin reën. Die broer het die vrou ’n sambreel gegee, en hy en sy vrou het ’n sambreel gedeel. Die egpaar was baie bly om die vrou die aand van die Gedenkmaal daar te sien. Sy het erken dat sy nie veel kon onthou van wat die Getuies gedurende hulle besoek gesê het nie. Maar sy was so beïndruk met die manier waarop hulle haar behandel het, dat sy die Gedenkmaal eenvoudig moes bywoon. Wat het tot hierdie gunstige reaksie bygedra? Die egpaar het ’n reël gevolg wat dikwels die Gulde Reël genoem word.
2. Wat is die Gulde Reël, en hoe kan ons dit toepas?
2 Wat is die Gulde Reël? Dit is die raad wat Jesus gegee het toe hy gesê het: “Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matt. 7:12). Hoe kan ons hierdie reël toepas? Deur twee stappe te doen. Eerstens moet ons ons afvra: ‘Hoe sou ek behandel wou word as ek in die ander persoon se situasie was?’ Dan moet ons in ooreenstemming daarmee optree en die ander persoon sover moontlik tegemoetkom.—1 Kor. 10:24.
3, 4. (a) Verduidelik waarom ons die Gulde Reël nie net in ons handelinge met medegelowiges moet toepas nie. (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Ons pas dikwels die Gulde Reël in ons handelinge met medeaanbidders toe. Maar Jesus het nie bedoel dat ons dit net moet toepas wanneer dit kom by diegene wat in die geloof aan ons verwant is nie. Trouens, hy het die Gulde Reël gegee tydens ’n bespreking oor hoe ons mense oor die algemeen en selfs ons vyande moet behandel. (Lees Lukas 6:27, 28, 31, 35.) As ons die Gulde Reël in ons handelinge met ons vyande moet toepas, hoeveel te meer moet ons dit doen wanneer ons vir ander getuig—waarvan baie moontlik “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het!—Hand. 13:48.
4 Ons sal nou vier vrae bespreek wat ons in gedagte kan hou wanneer ons aan die bediening deelneem: Vir wie getuig ek? Waar getuig ek vir hulle? Wanneer is dit die beste tyd om vir mense te getuig? Hoe moet ek vir hulle getuig? Soos ons sal sien, kan hierdie vrae ons help om die gevoelens van diegene vir wie ons getuig, in ag te neem en ons benadering daarvolgens aan te pas.—1 Kor. 9:19-23.
VIR WIE GETUIG EK?
5. Watter vrae kan ons ons afvra?
5 In ons bediening praat ons gewoonlik met individue. Elke persoon het sy of haar unieke agtergrond en probleme (2 Kron. 6:29). Wanneer jy iemand van die goeie nuus probeer vertel, moet jy jou afvra: ‘Hoe sou ek wou hê moet hierdie persoon my beskou as ons rolle omgekeer was? Sou ek daarvan hou as hy oorhaastige gevolgtrekkings oor my maak of my oordeel voordat hy my leer ken het? Of sal ek verkies dat hy my as ’n individu leer ken?’ As ons oor sulke vrae nadink, kan dit ons daaraan herinner om elke huisbewoner as ’n individu te behandel.
6, 7. Wat moet ons doen wanneer dit lyk asof iemand wat ons in die bediening ontmoet, stryerig is?
6 Niemand hou daarvan om as “’n negatiewe persoon” bestempel te word nie. Ter toeligting: As Christene doen ons ons bes om die Bybel se raad te volg dat ‘ons woorde altyd aangenaam moet wees’ (Kol. 4:6). Maar omdat ons onvolmaak is, sê ons soms dinge waaroor ons later spyt is (Jak. 3:2). As ons op onvriendelike wyse met iemand praat—dalk omdat ons dag nie goed verloop nie—sal ons nie wil hê dat ons as “onbeskof” of “onbedagsaam” bestempel moet word nie. Ons sal hoop dat die ander persoon begrip sal toon. Moet ons nie soortgelyke bedagsaamheid aan ander betoon nie?
7 As dit lyk asof iemand wat ons in die bediening ontmoet, stryerig is, sal dit goed wees as ons hom die voordeel van die twyfel gee. Miskien is hy onder druk by die werk of by die skool. Of dalk het hy met ’n ernstige gesondheidsprobleem te kampe. In baie gevalle het huisbewoners wat aanvanklik ontsteld was, gunstig gereageer toe Jehovah se knegte hulle met sagmoedigheid en respek behandel het.—Spr. 15:1; 1 Pet. 3:15.
8. Waarom moet ons nie huiwer om die Koninkryksboodskap aan “alle soorte mense” te verkondig nie?
8 Ons bediening bereik mense van alle agtergronde. Byvoorbeeld, oor die afgelope paar jaar is meer as 60 ondervindinge in die reeks “Die Bybel verander lewens” in Die Wagtoring gepubliseer. Party van die persone in hierdie artikels was voorheen diewe, dronkaards, bendelede of dwelmverslaafdes. Ander was politici, godsdiensleiers of beroepsmense. Sommige het ’n onsedelike lewe gelei. En tog het hulle almal die goeie nuus gehoor, ’n Bybelstudie aanvaar, veranderinge in hulle lewe aangebring en in die waarheid gekom. Daarom moet ons nooit aanneem dat die Koninkryksboodskap geen uitwerking op ’n sekere persoon sal hê nie. (Lees 1 Korintiërs 6:9-11.) Ons erken eerder dat “alle soorte mense” gunstig op die goeie nuus kan reageer.—1 Kor. 9:22.
WAAR GETUIG EK VIR MENSE?
9. Waarom moet ons ander mense se huise respekteer?
9 Waar getuig ons vir mense in ons bediening? Ons doen dit dikwels by hulle huis (Matt. 10:11-13). Ons waardeer dit wanneer ander ons huis en persoonlike eiendom respekteer. Ons huis is immers vir ons belangrik. Ons wil hê dat dit ’n plek moet wees waar ons privaatheid en veiligheid kan hê. Ons moet dieselfde respek vir ons medemens toon. Tydens ons huis-tot-huis-bediening moet ons dus let op hoe ons ons in hulle huis gedra.—Hand. 5:42.
10. Hoe kan ons verseker dat ons mense nie ontstel wanneer ons velddiens doen nie?
10 In vandag se wêreld wat so vol misdaad is, is baie huisbewoners agterdogtig teenoor vreemdelinge (2 Tim. 3:1-5). Ons moet hulle nie nog agterdogtiger maak nie. Byvoorbeeld, sê nou ons klop aan iemand se voordeur. As niemand die deur oopmaak nie, kan ons in die versoeking kom om deur die venster te loer of om op die eiendom rond te loop op soek na die huisbewoner. Sal dit ’n huisbewoner in julle gebied waarskynlik ontstel? Wat sal sy bure dink? Ons moet natuurlik deeglik wees in ons predikingswerk (Hand. 10:42). Ons is gretig om ’n positiewe boodskap bekend te maak en ons het goeie bedoelings (Rom. 1:14, 15). Maar dit is verstandig van ons om niks te doen wat mense in ons velddiensgebied onnodig sal ontstel nie. Die apostel Paulus het geskryf: “In geen opsig gee ons enige rede tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie” (2 Kor. 6:3). Wanneer ons respek toon vir die huise en eiendom van die mense in ons gebied, kan ons gedrag party na die waarheid aantrek.—Lees 1 Petrus 2:12.
WANNEER GETUIG EK VIR MENSE?
11. Waarom waardeer ons dit wanneer ander ons tyd respekteer?
11 As Christene lei die meeste van ons ’n besige lewe. Om ons verpligtinge na te kom, stel ons prioriteite en werk ons ons program fyn uit (Ef. 5:16; Fil. 1:10). As iets onverwags opduik, kan ons gefrustreerd voel. Ons waardeer dit dus as ander ons tyd respekteer; as hulle redelik is wanneer hulle ons besoek en nie te lank bly nie. Hoe kan ons die Gulde Reël volg en sodoende toon dat ons diegene vir wie ons preek, respekteer?
12. Hoe kan ons vasstel wanneer dit die beste tyd is om vir mense in ons gebied te getuig?
12 Ons moet probeer vasstel wanneer dit die beste tyd is om huisbewoners te besoek. Wanneer is mense in ons gebied gewoonlik tuis? Wanneer sal hulle waarskynlik ontvanklik wees? Dit sal goed wees as ons ons program daarvolgens aanpas. In party wêrelddele is dit beter om mense laat in die middag of vroeg in die aand te besoek. Kan jy, indien dit in julle gebied die geval is, reël om gedurende daardie tyd van die dag aan die huis-tot-huis-predikingswerk deel te neem? (Lees 1 Korintiërs 10:24.) Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah enige opofferings sal seën wat ons maak om aan die bediening deel te neem wanneer dit vir die mense in ons gebied die beste tyd is.
13. Hoe kan ons vir ’n huisbewoner respek toon?
13 Wat kan ons nog doen om vir ’n huisbewoner respek te toon? Wanneer ons iemand ontmoet wat gunstig reageer, moet ons ’n goeie getuienis lewer, maar nie te lank bly nie. Die huisbewoner het hierdie tyd dalk opsygesit om iets te doen wat vir hom belangrik is. As hy sê dat hy besig is, kan ons sê dat ons nie lank sal bly nie—en dan moet ons ons belofte hou (Matt. 5:37). Aan die einde van ’n gesprek sal dit goed wees as ons die persoon vra wanneer ons hom weer kan besoek. Party verkondigers het die volgende benadering doeltreffend gevind: “Ek sal jou graag weer wil besoek. Sal jy dit verkies dat ek jou bel of SMS voordat ek kom?” Wanneer ons ons by die mense in die gebied aanpas, volg ons die voorbeeld van Paulus wat ‘nie sy eie voordeel gesoek het nie, maar dié van die meerderheid, sodat hulle gered kan word’.—1 Kor. 10:33.
HOE MOET EK VIR MENSE GETUIG?
14-16. (a) Waarom moet ons duidelik vir die huisbewoner sê wat die doel van ons besoek is? Lig toe. (b) Watter benadering het ’n reisende opsiener doeltreffend gevind?
14 Stel jou voor dat jy ’n oproep ontvang, maar nie die persoon se stem herken nie. Hy is ’n vreemdeling en hy vra jou van watter soort kos jy hou. Jy wonder wie die persoon is en wat hy nou eintlik wil hê. Uit beleefdheid sal jy dalk kortliks met hom gesels, maar dan sal jy waarskynlik aandui dat jy verkies om die gesprek te beëindig. Maar stel jou voor dat die persoon wat jou bel, vir jou sê wat sy naam is, dat hy ’n voedingkundige is en dat hy vir jou nuttige inligting het. Jy sal waarskynlik ontvankliker wees. Ons waardeer dit immers wanneer mense reguit dog taktvol is wanneer hulle ons nader. Hoe kan ons dieselfde bedagsaamheid betoon teenoor diegene wat ons in ons bediening ontmoet?
15 In baie gebiede moet ons duidelik vir die huisbewoner sê wat die doel van ons besoek is. Ons het wel waardevolle inligting wat die huisbewoner nie het nie. Maar sê nou ons stel ons nie aan die huisbewoner voor nie en ons begin ons aanbieding bloot deur te sê: “As jy enige probleem in die wêreld kon oplos, wat sou dit wees?” Ons weet dat die doel van so ’n vraag is om uit te vind wat die persoon dink en om dan die aandag op die Bybel te vestig. Maar die huisbewoner sal dalk wonder: ‘Wie is hierdie vreemdeling, en waarom vra hy my hierdie vraag? Waaroor gaan dit nou eintlik?’ Ons moet die huisbewoner dus probeer gerusstel (Fil. 2:3, 4). Hoe kan ons dit doen?
16 ’n Reisende opsiener het die volgende benadering doeltreffend gevind. Nadat hy die huisbewoner gegroet het, gee hy hom ’n eksemplaar van die traktaat Die waarheid—Wil jy dit graag vind? en sê hy: “Ons gee hierdie traktaat vandag vir almal in ons gebied. Dit bespreek ses vrae waaroor baie mense wonder. Hier is jou eksemplaar.” Die broer sê dat die meeste mense blykbaar meer gerus voel sodra hulle weet wat die doel van die besoek is. Dan is dit dikwels makliker om die huisbewoner by ’n gesprek te betrek. Daarna vra die reisende opsiener die persoon: “Het jy al ooit oor enige van hierdie vrae gewonder?” As die huisbewoner een kies, vou die broer die traktaat oop en bespreek hy die Bybel se antwoord op daardie vraag. Andersins kies hy ’n vraag en sit hy die gesprek voort sonder om die huisbewoner ongemaklik te laat voel. Daar is natuurlik baie maniere om ’n gesprek te begin. In party gebiede verwag huisbewoners dalk ’n formeler groete voordat ons sê wat die doel van ons besoek is. Die sleutel is om ons aanbieding aan te pas by die manier waarop mense in ons gebied heel moontlik genader wil word.
HOU AAN OM DIE GULDE REËL IN JOU BEDIENING TE VOLG
17. Wat is party van die maniere waarop ons die Gulde Reël kan volg, soos ons in hierdie artikel bespreek het?
17 Wat is party maniere waarop ons die Gulde Reël in ons bediening kan volg? Ons behandel elke huisbewoner as ’n individu. Ons toon respek vir die huisbewoner se huis en ander eiendom. Ons probeer om aan die bediening deel te neem op tye wanneer huisbewoners waarskynlik by die huis en ontvanklik sal wees. En ons begin ons aanbieding op ’n manier wat by mense in die plaaslike gebied byval sal vind.
18. Watter voordele hou dit in om diegene in ons gebied te behandel soos ons behandel wil word?
18 Dit hou baie voordele in om diegene in ons gebied te behandel soos ons behandel wil word. As ons op ’n liefdevolle en bedagsame manier optree, laat ons ons lig skyn, beklemtoon ons die waarde van skriftuurlike beginsels en gee ons heerlikheid aan ons hemelse Vader (Matt. 5:16). Ons kan meer mense na die waarheid aantrek deur die manier waarop ons vir hulle getuig (1 Tim. 4:16). Hetsy diegene vir wie ons getuig die Koninkryksboodskap aanneem of nie, ons is tevrede in die wete dat ons ons bes doen om ons bediening uit te voer (2 Tim. 4:5). Mag elkeen van ons die apostel Paulus navolg, wat geskryf het: “Ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek met ander ’n deelgenoot daarvan kan word” (1 Kor. 9:23). Laat ons dus altyd die Gulde Reël in ons bediening volg.