Hoofstuk 40
’n Les in barmhartigheid
JESUS is dalk nog steeds in Nain, waar hy kort tevore ’n weduwee se seun opgewek het, of hy besoek moontlik ’n stad daar naby. ’n Fariseër genaamd Simon wil graag nader kennis maak met die een wat sulke merkwaardige werke doen. Hy nooi Jesus dus om by hom te kom eet.
Jesus beskou die geleentheid as ’n kans om die aanwesiges te dien, en hy neem derhalwe die uitnodiging aan, net soos hy uitnodigings aangeneem het om by tollenaars en sondaars te eet. Maar wanneer Jesus Simon se huis binnegaan, kry hy nie die hartlike aandag wat gaste gewoonlik geniet nie.
Voete in sandale word warm en vuil wanneer ’n mens op stowwerige paaie loop, en dit is ’n gebruiklike daad van gasvryheid om die voete van gaste met koel water te was. Maar Jesus se voete word nie gewas wanneer hy daar aankom nie. Hy ontvang ook nie ’n verwelkomingskus, iets wat algemene etiket is, nie. En die gebruiklike olie van gasvryheid word nie vir sy hare voorsien nie.
Gedurende die ete, terwyl die gaste aan tafel is, kom ’n ongenooide vrou die vertrek stilletjies binne. Dit is bekend in die stad dat sy onsedelik lewe. Sy het waarskynlik gehoor wat Jesus leer, onder meer sy uitnodiging dat ‘almal wat vermoeid en belas is na hom moet kom om verkwik te word’. En omdat die dinge wat sy gesien en gehoor het haar diep geroer het, het sy nou na Jesus toe gekom.
Die vrou loop tot agter Jesus waar hy aan tafel is en kniel by sy voete. Wanneer haar trane op sy voete val, droog sy hulle met haar hare af. Sy neem ook welriekende olie uit haar fles, en wanneer sy sy voete teer soen, gooi sy die olie op hulle uit. Simon kyk met afkeuring toe. “Hy, as Hy ’n profeet was”, redeneer hy, “sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ’n sondares.”
Omdat Jesus kan sien wat hy dink, sê hy: “Simon, Ek het iets om aan jou te sê.”
“Meester, spreek”, antwoord hy.
“’n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad”, begin Jesus. “Die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?”
“Ek veronderstel”, sê Simon, moontlik met ’n onverskillige houding weens die oënskynlike ontoepaslikheid van die vraag, “dié een aan wie hy die meeste geskenk het.”
“Jy het reg geoordeel”, sê Jesus. Daarop draai hy hom na die vrou en sê vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. ’n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.”
Die vrou het sodoende blyk gelewer van hartgrondige berou oor haar onsedelike verlede. Jesus sluit dus af en sê: “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.”
Jesus is hoegenaamd nie besig om onsedelikheid te verskoon of te vergoelik nie. Hierdie voorval toon eerder sy medelydende begrip vir mense wat foute in die lewe begaan maar dan toon dat hulle spyt is daaroor en na Christus toe kom vir verligting. Jesus bied die vrou ware verkwikking deur te sê: “Jou sondes is vergewe. . . . Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” Lukas 7:36-50; Mattheüs 11:28-30.
▪ Hoe word Jesus deur sy gasheer, Simon, ontvang?
▪ Wie kom na Jesus toe, en waarom?
▪ Watter gelykenis vertel Jesus, en hoe pas hy dit toe?