Hoofstuk 72
Jesus stuur die 70 uit
DIT is die noordelike herfs van 32 G.J., ’n volle drie jaar sedert Jesus se doop. Hy en sy dissipels het onlangs die Huttefees in Jerusalem bygewoon, en blykbaar is hulle nog in die omgewing. Trouens, Jesus bring die grootste deel van die oorblywende ses maande van sy bediening in Judea of net oorkant die Jordaanrivier in die streek Perea deur. Hierdie gebied moet ook gedek word.
Na die Pasga van 30 G.J. het Jesus weliswaar ongeveer agt maande lank in Judea gepreek. Maar nadat die Jode op die Pasga van 31 G.J. hom daar probeer doodmaak het, het hy die volgende anderhalf jaar feitlik uitsluitlik in Galilea onderrig. Gedurende daardie tyd het hy ’n groot, goed opgeleide organisasie van predikers op die been gebring, iets wat hy nie vroeër gehad het nie. En nou stuur hy ’n finale intensiewe predikingsveldtog in Judea van stapel.
Jesus begin hierdie veldtog deur 70 dissipels te kies en hulle twee-twee uit te stuur. Daar is dus altesaam 35 pare Koninkrykspredikers wat in die gebied werk. Hulle gaan vooruit na elke stad en plek wat Jesus, blykbaar vergesel van sy apostels, voornemens is om te besoek.
Pleks van die 70 na sinagoges te stuur, beveel Jesus hulle om in private huise in te gaan en verduidelik: “In watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis! En as dáár ’n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus.” Wat moet hulle boodskap wees? Jesus sê: “Sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.” Matthew Henry’s Commentary sê aangaande die 70 se werksaamhede: “Hulle het, soos hulle Meester, oral waar hulle gekom het van huis tot huis gepreek.”
Jesus se opdragte aan die 70 is soortgelyk aan dié wat hy aan die 12 gegee het toe hy hulle ongeveer ’n jaar tevore op ’n predikingsveldtog in Galilea uitgestuur het. Om die 70 voor te berei om die boodskap aan huisbewoners te verkondig, waarsku hy hulle nie net dat hulle teenkanting gaan kry nie, maar hy gee hulle ook die mag om die siekes gesond te maak. Wanneer Jesus kort daarna daar aankom, sal talle dus gretig wees om die Meester te ontmoet wie se dissipels sulke wonderbaarlike dinge kan doen.
Die prediking deur die 70 en Jesus se opvolgwerk duur ’n betreklike kort tydjie. Die 35 pare Koninkrykspredikers begin kort voor lank na Jesus terugkeer. “Here”, sê hulle met blydskap, “ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.” So ’n uitstekende diensverslag verskaf Jesus beslis groot vreugde, want hy antwoord: “Ek het die Satan reeds soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk! Ek het aan julle gesag gegee om slange en skerpioene te vertrap” (NW).
Jesus weet dat Satan en sy demone na die oprigting van God se Koninkryk in die tyd van die einde uit die hemel gewerp sou word. Maar nou maak die feit dat nietige mense onsigbare demone uitwerp daardie komende gebeurtenis nog sekerder. Daarom praat Jesus van Satan se toekomstige val uit die hemel as ’n absolute sekerheid. Dit is dus in simboliese sin dat die 70 die mag gegee word om slange en skerpioene te vertrap. Jesus sê egter: “Moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.”
Dit verskaf Jesus groot vreugde, en hy loof sy Vader in die openbaar omdat Hy hierdie nederige knegte van hom op so ’n kragtige wyse gebruik. Hy wend hom tot sy dissipels en sê: “Salig is die oë wat sien wat julle sien; want Ek sê vir julle, baie profete en konings het gewens om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.” Lukas 10:1-24; Mattheüs 10:1-42; Openbaring 12:7-12.
▪ Waar het Jesus tydens die eerste drie jaar van sy bediening gepreek, en watter gebied dek hy gedurende sy laaste ses maande?
▪ Waarheen stuur Jesus die 70 om mense te vind?
▪ Waarom sê Jesus dat hy Satan reeds uit die hemel sien val het?
▪ In watter sin kan die 70 slange en skerpioene vertrap?