Hoofstuk 74
Raad aan Martha, en onderrig oor gebed
GEDURENDE Jesus se bediening in Judea kom hy in die dorpie Betanië aan. Dit is waar Martha, Maria en hulle broer Lasarus woon. Jesus het hierdie drie moontlik vroeër in sy bediening ontmoet en hulle is dus reeds goeie vriende. In elk geval, Jesus gaan nou na die huis van Martha en word deur haar verwelkom.
Martha wil Jesus graag bedien met die beste wat sy het. Dit is inderdaad ’n groot eer as die beloofde Messias ’n mens se huis besoek! Martha is dus baie besig om ’n groot maaltyd te berei en na baie ander dinge om te sien sodat Jesus se verblyf genotvol en gerieflik kan wees.
Daarenteen sit Martha se suster Maria by Jesus se voete na hom en luister. Martha kom naderhand na Jesus en sê vir hom: “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.”
Maar Jesus weier om enigiets vir Maria te sê. Hy gee Martha eerder raad omdat sy te besorg is oor materiële dinge. “Martha, Martha”, vermaan hy vriendelik, “jy is besorg en verontrus oor baie dinge. Tog is maar ’n paar dinge nodig, of net een” (NW). Jesus sê dat dit nie nodig is om baie tyd daaraan te bestee om baie geregte vir ’n maaltyd voor te berei nie. Net ’n paar geregte of selfs net een gereg is genoeg.
Martha se bedoelings is goed; sy wil ’n gasvrye gasvrou wees. Maar omdat sy besorg is oor die materiële dinge verspeel sy die kans om persoonlike onderrig van God se eie Seun te ontvang! Jesus sluit dus af: “Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.”
Later, by ’n ander geleentheid, vra ’n dissipel vir Jesus: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.” Hierdie dissipel was dalk nie ongeveer anderhalf jaar gelede teenwoordig toe Jesus die modelgebed in sy Bergpredikasie gegee het nie. Jesus herhaal dus sy instruksies maar vertel dan ’n gelykenis om te beklemtoon hoe belangrik dit is om in die gebed te volhard.
“Wie van julle sal ’n vriend hê”, begin Jesus, “en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want ’n vriend van my het van ’n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie—en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskroomdheid [“vrymoedige volharding”, NW] opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.”
Deur hierdie vergelyking probeer Jesus nie impliseer dat Jehovah God, soos die vriend in sy verhaal, nie gewillig is om op versoeke te reageer nie. Nee, maar hy lig toe dat as ’n onwillige vriend op herhaalde versoeke sal reageer ons hemelse Vader dit soveel te meer sal doen! Jesus sê dus voorts: “Derhalwe sê ek vir julle: Bly vra, en vir julle sal gegee word; bly soek, en julle sal vind; bly klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, vind; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (NW).
Jesus maak dan melding van onvolmaakte, sondige menslike vaders en sê: “En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ’n klip gee; of ook ’n vis, en hy sal hom in plaas van ’n vis ’n slang gee; of ook as hy ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” Jesus verskaf inderdaad sterk aansporing om in die gebed te volhard. Lukas 10:38–11:13.
▪ Waarom is Martha so besig om dinge vir Jesus te berei?
▪ Wat doen Maria, en waarom prys Jesus haar pleks van Martha?
▪ Wat lei daartoe dat Jesus sy instruksies oor gebed herhaal?
▪ Hoe lig Jesus die belangrikheid van volharding in gebed toe?