Beeldspraak in die Bybel—Verstaan jy dit?
’N PRENT is miskien ’n duisend woorde werd, maar soms kan net ’n woord of twee ’n prentjie in ’n leser se gedagtes skilder. Beeldspraak, wat so ’n prentjie skilder, kom dikwels in die Bybel voor.a Byvoorbeeld, volgens een telling het Jesus in net een toespraak—die Bergpredikasie—meer as 50 voorbeelde van beeldspraak gebruik.
Waarom moet jy in sulke beeldspraak belangstel? Om maar een ding te noem, as jy dit verstaan, sal dit jou Bybellees kleurryker en treffender maak, wat dan jou waardering vir God se Woord sal vergroot. En as jy die beeldspraak korrek identifiseer, sal jy die Bybel se boodskap beter verstaan. Trouens, as ’n mens nie beeldspraak in ’n Bybelgedeelte identifiseer nie, kan dit nie net tot verwarring lei nie, maar ook tot verkeerde gevolgtrekkings.
Verstaan beeldspraak
In beeldspraak word een begrip met ’n ander vergelyk. Die begrip wat met iets vergelyk word, word die onderwerp genoem, en die begrip waarmee dit vergelyk word, die beeld. Die vergelyking tussen die twee begrippe is die ooreenkoms. Om die ware betekenis van beeldspraak te onderskei, moet ’n mens derhalwe elk van hierdie drie elemente identifiseer en verstaan.
Soms kan dit redelik maklik wees om die onderwerp en die beeld te identifiseer. Maar wat die ooreenkoms betref, kan daar verskeie moontlikhede wees. Wat sal jou help om die ooreenkoms korrek te identifiseer? Die antwoord word dikwels in die konteks, of die omliggende materiaal, gevind.b
Jesus het byvoorbeeld vir die gemeente in Sardis gesê: “Waarlik, tensy jy wakker word, sal ek soos ’n dief kom.” Hier het Jesus sy koms (die onderwerp) met die koms van ’n dief (die beeld) vergelyk. Maar wat was die ooreenkoms? Die konteks help ons. Jesus het verder gesê: “Jy sal glad nie weet in watter uur ek op jou sal afkom nie” (Openbaring 3:3). Die vergelyking wys dus nie op die doel van sy koms nie. Hy het nie geïmpliseer dat hy sou kom om iets te steel nie. Die ooreenkoms het eerder te doen met die onverwagse, onaangekondigde aspek van sy koms.
Maar soms kan beeldspraak wat in een deel van die Bybel voorkom, jou help om soortgelyke beeldspraak in ’n ander deel te verstaan. Die apostel Paulus het byvoorbeeld dieselfde beeldspraak as Jesus gebruik toe hy geskryf het: “Julle weet self heel goed dat Jehovah se dag net soos ’n dief in die nag kom” (1 Tessalonisense 5:2). Die konteks van Paulus se woorde spel nie die ooreenkoms uit nie. Maar as jy hierdie beeldspraak vergelyk met die beeldspraak wat Jesus in Openbaring 3:3 gebruik het, kan dit jou help om die ooreenkoms te verstaan. Wat ’n kragtige herinnering is hierdie beeldspraak tog dat alle ware Christene geestelik wakker moet bly!
Beeldspraak wat ons meer oor God leer
Geen mens kan ooit al die aspekte van die persoonlikheid en vermoëns van die Almagtige begryp nie. In die ou tyd het koning Dawid geskryf dat Jehovah se ‘grootheid ondeurgrondelik is’ (Psalm 145:3). Nadat Job oor party van God se skeppingswerke nagedink het, het hy uitgeroep: “Kyk! Dít is die rande van sy weë, en wat ’n fluistering van ’n saak is omtrent hom gehoor! Maar wie kan sy magtige donder verstaan?”—Job 26:14.
Die Bybel gebruik nietemin beeldspraak om jou te help om, in beperkte sin, die luisterryke eienskappe van ons hemelse God te verstaan. Jehovah word uitgebeeld as ’n Koning, ’n Wetgewer, ’n Regter en ’n Krygsman—beslis iemand wat jy moet respekteer. Hy word ook uitgebeeld as ’n Herder, ’n Raadgewer, ’n Onderrigter, ’n Vader, ’n Geneser en ’n Redder—iemand wat jy kan liefhê (Psalm 16:7; 23:1; 32:8; 71:17; 89:26; 103:3; 106:21; Jesaja 33:22; 42:13; Johannes 6:45). Al hierdie eenvoudige beskrywings wek ’n menigte aangename beelde met verskeie ooreenkomste. Hierdie beeldspraak dra meer oor as wat ’n oorvloed woorde ooit sou kon doen.
Die Bybel vergelyk Jehovah ook met lewelose dinge. Hy word beskryf as “die Rots van Israel”, as ’n “groot rots” en as ’n “vesting” (2 Samuel 23:3; Psalm 18:2; Deuteronomium 32:4). Wat is die ooreenkoms? Net soos ’n groot rots stewig, onbeweeglik is, so kan Jehovah God ’n vaste Bron van veiligheid vir jou wees.
Die boek Psalms is vol beeldspraak wat verskillende fasette van Jehovah se persoonlikheid beskryf. Byvoorbeeld, Psalm 84:11 praat van Jehovah as “’n son en ’n skild” omdat hy die Bron van lig, lewe, energie en beskerming is. Daarteenoor sê Psalm 121:5: “Jehovah is jou skaduwee aan jou regterhand.” Net soos ’n skaduplek jou teen die bloedige son kan beskerm, kan Jehovah diegene wat hom dien, teen die hitte van teëspoed beskerm en vir hulle skaduagtige beskutting onder sy “hand” of onder sy “vleuels” gee.—Jesaja 51:16; Psalm 17:8; 36:7.
Beeldspraak wat Jesus beskryf
Die Bybel verwys herhaaldelik na Jesus as die “Seun van God” (Johannes 1:34; 3:16-18). Dít is vir party nie-Christene moeilik om te verstaan, aangesien God nie letterlik ’n vrou het of ’n mens is nie. Dit spreek vanself dat God nie ’n seun op dieselfde manier as ’n mens voortbring nie. Hierdie uitdrukking is dus ’n vorm van beeldspraak. Dit is bedoel om die leser te help verstaan dat Jesus se verhouding met God ooreenkom met dié van ’n menseseun met sy vader. Hierdie beeldspraak beklemtoon ook dat Jesus sy lewe van Jehovah ontvang het, aangesien hy deur Hom geskep is. Die eerste mens, Adam, word eweneens die “seun van God” genoem.—Lukas 3:38.
Jesus het beeldspraak gebruik om die verskillende rolle te beskryf wat hy in die verwesenliking van God se voorneme speel. Hy het byvoorbeeld gesê: “Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die landbouer.” Jesus het toe sy dissipels met die lote van ’n wingerdstok vergelyk (Johannes 15:1, 4). Watter belangrike punte dra hierdie beeldspraak oor? Om aan die lewe en vrugbaar te bly, moet die lote van ’n letterlike wingerdstok aan die stam vasgeheg bly. Christus se dissipels moet eweneens in eenheid met hom bly. “Sonder my kan julle hoegenaamd niks doen nie”, het Jesus gesê (Johannes 15:5). En net soos ’n landbouer verwag dat ’n wingerdstok vrug moet dra, verwag Jehovah dat diegene in eenheid met Christus geestelike vrugte moet voortbring.—Johannes 15:8.
Stel vas wat die ooreenkoms is
Ons kan die verkeerde indruk kry as ons beeldspraak net lees sonder om vas te stel wat die ooreenkoms is. Neem byvoorbeeld die woorde in Romeine 12:20: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, sal jy vurige kole op sy hoof hoop.” Verwys die gedagte dat vurige kole op iemand se hoof gehoop word, na ’n vergeldingsdaad? Nee, nie wanneer ons die ooreenkoms verstaan nie. Hierdie beeldspraak hou verband met die eertydse smeltproses. Erts is op ’n laag kole verhit, en kole is ook bo-op die erts gepak. Hierdie proses het die erts laat smelt en die suiwer metaal van enige onsuiwerhede geskei. Net so sal die betoning van goedhartigheid dikwels iemand se gesindheid laat versag en die goeie in hom na vore bring.
As ons beeldspraak reg verstaan, gee dit ons nie net insig nie, maar raak dit ook ons hart. Ons voel die las van sonde wanneer dit met skuld vergelyk word (Lukas 11:4). Maar wat ’n verligting is dit tog wanneer Jehovah ons vergewe en die skuld uitdelg wat ons andersins toegereken sou word! Wanneer ons lees dat hy ons sondes “bedek” en ‘uitwis’—die lei as ’t ware skoonvee—gee dit ons die versekering dat hy nie sulke sondes in die toekoms teen ons sal hou nie (Psalm 32:1, 2; Handelinge 3:19). En hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah sondes wat so skreiend soos skarlaken of karmosyn is, so wit soos sneeu kan maak!—Jesaja 1:18.
Dit is net ’n paar van die honderde voorbeelde van beeldspraak wat in God se Woord, die Bybel, gevind word. Wanneer jy dus jou Bybel lees, moet jy spesifiek let op die beeldspraak. Neem tyd om vas te stel wat die ooreenkomste is en peins daaroor. Dit sal jou begrip van die Skrif verryk en jou waardering daarvoor vergroot.
[Voetnote]
a In hierdie artikel verwys die woord “beeldspraak” in ’n algemene sin na alle vorme van figuurlike taal—metafore, vergelykings, ensovoorts.
b Die tweedelige Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, voorsien omvattende agtergrondinligting wat in baie gevalle help om die ooreenkoms te verklaar.
[Venster op bladsy 13]
Hoe beeldspraak help
Beeldspraak help ons in verskeie opsigte. ’n Moeilike punt kan vergelyk word met iets wat maklik is om te verstaan. Meer as een voorbeeld van beeldspraak kan gebruik word om verskeie aspekte van ’n spesifieke onderwerp duidelik te maak. Belangrike begrippe kan deur middel van beeldspraak beklemtoon of treffender gemaak word.
[Venster op bladsy 14]
Identifiseer die Verskillende Elemente
BEELDSPRAAK: “Julle is die sout van die aarde” (Matteus 5:13).
ONDERWERP: Julle (Jesus se dissipels)
BEELD: Sout
OOREENKOMS IN HIERDIE KONTEKS: Preserveermiddel
LES: Die dissipels het ’n boodskap gehad wat die lewe van baie mense kon bewaar
[Lokteks op bladsy 15]
“Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.”—PSALM 23:1