Aanvaar jy Jehovah se hulp?
“Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie.”—HEBREËRS 13:6.
1, 2. Waarom is dit belangrik dat ons Jehovah se hulp en leiding in die lewe aanvaar?
STEL jou voor dat jy op ’n staptog in die berge is. Maar jy is nie alleen nie, want ’n gids het aangebied om jou te vergesel, en hy is die beste gids wat daar is. Hy het baie meer ondervinding en stamina as jy, maar hy loop geduldig naby jou. Hy sien dat jy soms struikel. Uit besorgdheid oor jou veiligheid steek hy sy hand uit om jou oor ’n besonder gevaarlike gedeelte te help. Sal jy sy hulp weier? Natuurlik nie! Jou veiligheid is op die spel.
2 As Christene het ons ’n moeilike pad om te bewandel. Moet ons alleen op hierdie smal pad wandel? (Matteus 7:14). Nee, die Bybel toon dat die beste Gids wat ons ooit sal kan vind, Jehovah God, mense toelaat om met hom te wandel (Genesis 5:24; 6:9). Help Jehovah sy knegte op hulle weg? Hy sê: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help’” (Jesaja 41:13). Soos die gids in ons illustrasie, steek Jehovah liefdevol sy helpende hand uit na dié wat met hom wil wandel en bied hy hulle sy vriendskap aan. Nie een van ons sal tog sekerlik sy hulp wil weier nie!
3. Watter vrae sal ons in die loop van hierdie bespreking ondersoek?
3 In die vorige artikel het ons vier maniere bespreek waarop Jehovah sy knegte in die ou tyd gehelp het. Help hy sy knegte vandag op dieselfde maniere? En hoe kan ons seker maak dat ons enige vorm van hierdie hulp aanvaar? Kom ons ondersoek hierdie vrae. Dit sal ons groter vertroue gee dat Jehovah waarlik ons Helper is.—Hebreërs 13:6.
Hulp van engele
4. Waarom kan God se hedendaagse knegte vol vertroue wees dat hulle die ondersteuning van engele het?
4 Help die engele Jehovah se hedendaagse knegte? Ja. Hulle verskyn nou wel nie in ’n sigbare vorm om ware aanbidders uit gevaar te verlos nie. Selfs in Bybeltye het engele slegs by uitsondering op dié manier ingegryp. Die meeste van die dinge wat hulle gedoen het, was onsigbaar vir menseoë, soos ook vandag die geval is. Nietemin het knegte van God wat besef het dat die engele daar was om hulle te ondersteun, groot aanmoediging uit hierdie wete geput (2 Konings 6:14-17). Ons het goeie rede om ook so te voel.
5. Hoe toon die Bybel dat die engele vandag by die predikingswerk betrokke is?
5 Jehovah se engele stel veral belang in ’n spesiale werk waarby ons betrokke is. Watter werk is dit? Ons kan die antwoord in Openbaring 14:6 vind: “Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk.” Hierdie “ewige goeie nuus” hou onteenseglik verband met die “goeie nuus van die koninkryk”, wat, soos Jesus voorspel het, “in die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word as ’n getuienis vir al die nasies” voordat die einde van hierdie stelsel van dinge kom (Matteus 24:14). Die engele doen die predikingswerk natuurlik nie direk nie. Jesus het hierdie gewigtige opdrag aan mense gegee (Matteus 28:19, 20). Is dit nie goed om te weet dat ons die hulp het van heilige engele, wyse en kragtige geesskepsele, terwyl ons hierdie opdrag uitvoer nie?
6, 7. (a) Wat toon dat die engele ons predikingswerk ondersteun? (b) Hoe kan ons seker maak dat ons die ondersteuning van Jehovah se engele ontvang?
6 Daar is baie bewyse dat die engele ons werk ondersteun. Ons hoor byvoorbeeld dikwels dat Jehovah se Getuies tydens hulle bediening iemand teëkom wat kort tevore tot God gebid het om hom die waarheid te help vind. Hierdie ondervindinge kom gans te dikwels voor om dit aan blote toeval toe te skryf. Danksy hierdie hulp van engele leer al hoe meer mense om gehoor te gee aan die uitroep van die ‘engel wat in die middel van die hemel vlieg’: “Vrees God en gee hom heerlikheid.”—Openbaring 14:7.
7 Wil jy graag die ondersteuning van Jehovah se magtige engele hê? Dan moet jy alles in jou vermoë doen om jou bediening ten volle uit te voer (1 Korintiërs 15:58). As ons vryelik van onsself gee in hierdie spesiale toewysing van Jehovah af, kan ons op die hulp van sy engele staatmaak.
Hulp van die hoof van die engele
8. Watter verhewe posisie beklee Jesus in die hemel, en waarom is dit vir ons bemoedigend?
8 Jehovah voorsien ook aan ons engelehulp van ’n ander aard. Openbaring 10:1 beskryf ’n ontsagwekkende “sterk engel” wie se ‘gesig soos die son was’. Hierdie engel wat in ’n visioen gesien is, beeld klaarblyklik die verheerlikte Jesus Christus in hemelse mag af (Openbaring 1:13, 16). Is Jesus werklik ’n engel? In sekere sin, ja, want hy is ’n aartsengel (1 Tessalonisense 4:16). Wat is ’n aartsengel? Dié woord beteken “vernaamste engel” of “hoofengel”. Jesus is die magtigste van al Jehovah se geesseuns. Jehovah het hom in bevel van al Sy engeleleërs geplaas. Hierdie aartsengel is inderdaad ’n kragtige bron van hulp. Op watter maniere?
9, 10. (a) Hoe dien Jesus as ons “helper” wanneer ons sondig? (b) Hoe kan Jesus se voorbeeld ons help?
9 Die bejaarde apostel Johannes het geskryf: “As iemand ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige” (1 Johannes 2:1). Waarom het Johannes te kenne gegee dat Jesus ons “helper” is veral wanneer ons “’n sonde begaan”? Wel, ons sondig elke dag, en sonde lei tot die dood (Prediker 7:20; Romeine 6:23). Maar Jesus het sy lewe afgelê as ’n offerande vir ons sondes. En hy is aan ons barmhartige Vader se sy om ten behoewe van ons te pleit. Elkeen van ons het hierdie hulp nodig. Hoe kan ons dit aanvaar? Ons moet berou toon oor ons sondes en vergifnis vra op grond van Jesus se offerande. Ons moet ook nie ons sondes herhaal nie.
10 Jesus het nie net vir ons gesterf nie, maar het ook vir ons die volmaakte voorbeeld gestel (1 Petrus 2:21). Sy voorbeeld is vir ons ’n gids, en dit help ons om ons koers te bepaal sodat ons ernstige sonde kan vermy en Jehovah God kan behaag. Is ons nie bly dat ons hierdie hulp het nie? Jesus het sy volgelinge beloof dat ’n ander helper voorsien sou word.
Die hulp van die heilige gees
11, 12. Wat is Jehovah se gees, hoe kragtig is dit, en waarom het ons dit vandag nodig?
11 Jesus het beloof: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees, die gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie” (Johannes 14:16, 17). Hierdie “gees van die waarheid”, of heilige gees, is nie ’n persoon nie maar ’n krag—Jehovah se werkende krag. Dit het geen perke nie. Dit is die krag wat Jehovah gebruik het om die heelal te skep, om skouspelagtige wonderwerke te verrig en om sy wil deur visioene te openbaar. Beteken die feit dat Jehovah sy gees vandag nie op hierdie spesifieke maniere gebruik nie dat ons dit nie nodig het nie?
12 Inteendeel! In hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, het ons Jehovah se gees nodiger as ooit tevore (2 Timoteus 3:1). Dit versterk ons om tydens beproewinge staande te kan bly. Dit help ons om pragtige eienskappe aan te kweek wat ons nader aan Jehovah en ons geestelike broers en susters laat kom (Galasiërs 5:22, 23). Hoe kan ons dan baat vind by hierdie wonderlike hulp wat Jehovah voorsien?
13, 14. (a) Waarom kan ons seker wees dat Jehovah sy heilige gees geredelik aan sy knegte gee? (b) Deur watter soort optrede kan ons toon dat ons nie werklik die gawe van die heilige gees aanvaar nie?
13 Eerstens moet ons bid vir heilige gees. Jesus het gesê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:13). Ja, Jehovah is die beste Vader moontlik. As ons hom in geloof opreg om heilige gees vra, is dit ondenkbaar dat hy ons hierdie gawe sal weier. Die vraag is dus: Vra ons dit? Ons het goeie rede om hierdie versoek elke dag in ons gebede in te sluit.
14 Tweedens aanvaar ons hierdie gawe deur in ooreenstemming daarmee op te tree. Ter toeligting: Gestel ’n Christen worstel met ’n neiging om na pornografie te kyk. Hy het gebid vir heilige gees om hom te help om hierdie vieslike gewoonte te bowe te kom. Hy het raad gevra by Christen- ouer manne, en hulle het hom aangeraai om met beslistheid op te tree en ver weg te bly van sulke verderflike materiaal (Matteus 5:29). Gestel hy ignoreer hulle raad en stel hom bloot aan verdere versoeking? Tree hy op in ooreenstemming met sy gebed dat die heilige gees hom moet help? Of loop hy eerder die gevaar om God se heilige gees te bedroef en hierdie gawe te verbeur? (Efesiërs 4:30). Ons almal moet werklik alles in ons vermoë doen om te verseker dat ons steeds hierdie wonderlike hulp van Jehovah ontvang.
Hulp uit God se Woord
15. Hoe kan ons toon dat ons nie die Bybel as vanselfsprekend aanneem nie?
15 Die Bybel is al eeue lank ’n bron van hulp vir Jehovah se getroue knegte. Ons moet egter nie die Heilige Skrif as vanselfsprekend aanneem nie, maar moet eerder in gedagte hou wat ’n kragtige bron van hulp dit is. Dit verg inspanning om hierdie hulp te aanvaar. Ons moet Bybellees deel van ons gereelde roetine maak.
16, 17. (a) Hoe beskryf Psalm 1:2, 3 die voordele wat dit meebring om God se wet te lees? (b) Hoe skilder Psalm 1:3 ’n prentjie van harde werk?
16 Psalm 1:2, 3 sê van die godvrugtige man: “Sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees.” Snap jy die betekenis van hierdie vers? Dit is maklik om hierdie woorde te lees en tot die slotsom te kom dat dit bloot ’n mooi prentjie van ’n vreedsame toneel skilder—’n skaduboom wat by ’n rivier groei. Hoe aangenaam sal ’n middagslapie op so ’n plek tog wees! Maar hierdie psalm nooi ons nie om aan rus te dink nie. Dit skilder ’n heel ander prentjie, een wat op harde werk dui. Hoe so?
17 Let daarop dat die boom hier nie net ’n skaduboom is wat toevallig langs ’n rivier groei nie. Dit is ’n vrugdraende boom, wat doelbewus op ’n spesifieke plek “geplant” is—“by waterstrome”. Hoe kan een boom naby aan meer as een stroom groei? Wel, in ’n vrugteboord sal die eienaar heel moontlik leivore grawe om water by die wortels van sy waardevolle bome te kry. A, nou word die gedagte duidelik! As ons in geestelike sin floreer soos daardie boom, is dit omdat baie werk ten behoewe van ons gedoen is. Ons is deel van ’n organisasie wat die suiwer waters van waarheid tot by ons bring, maar ons moet ons deel doen. Ons moet sorg dat ons in ’n posisie is om hierdie kosbare water in te neem, deur die nodige bepeinsing en navorsing te doen om die waarhede van God se Woord in ons verstand en hart te kry. Sodoende sal ons ook goeie vrugte kan voortbring.
18. Wat is nodig om die Bybel se antwoorde op ons vrae te vind?
18 Die Bybel is vir ons van geen nut as dit op ’n rak lê en nie oopgemaak word nie. Dit is ook nie ’n gelukbringer nie—asof ons ons oë kan toemaak, ons Bybel net kan laat oopval en dan kan verwag dat die antwoord op ons vraag op die bladsy voor ons sal verskyn nie. Wanneer ons voor besluite te staan kom, moet ons na die “kennis van God” delf soos na ’n verborge skat (Spreuke 2:1-5). Ywerige en sorgvuldige navorsing is dikwels nodig om skriftuurlike raad vir ons spesifieke behoeftes te vind. Ons het baie Bybelpublikasies om ons in ons soeke te help. Wanneer ons dit gebruik om ywerig na die juwele van wysheid in God se Woord te soek, maak ons waarlik van Jehovah se hulp gebruik.
Hulp deur middel van medegelowiges
19. (a) Waarom kan artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! beskou word as hulp wat deur middel van medegelowiges voorsien word? (b) Hoe is jy al gehelp deur ’n spesifieke artikel in een van ons tydskrifte?
19 Jehovah se menseknegte was nog altyd vir mekaar ’n bron van hulp. Het Jehovah verander? Glad nie. Elkeen van ons kan ongetwyfeld dink aan gevalle waar ons presies die hulp wat ons nodig gehad het, op die regte tyd van ons medegelowiges ontvang het. Kan jy byvoorbeeld ’n artikel in Die Wagtoring of Ontwaak! onthou wat jou vertroos het toe jy dit nodig gehad het of wat jou gehelp het om ’n probleem op te los of om ’n toets van jou geloof die hoof te bied? Jehovah het daardie hulp aan jou voorsien deur middel van “die getroue en verstandige slaaf”, wat aangestel is om “voedsel op die regte tyd” te gee.—Matteus 24:45-47.
20. Op watter maniere is Christen- ouer manne “gawes in die vorm van mense”?
20 Die hulp wat ons van medegelowiges ontvang, is egter dikwels meer direk. ’n Christen- ouer man hou ’n toespraak wat ons hart raak, of hy doen ’n herdersbesoek wat ons help om deur ’n moeilike tyd te kom, of hy gee ons vriendelike raad wat ons help om ’n swakheid raak te sien en te oorkom. ’n Dankbare Christen skryf oor die hulp wat ’n ouer man haar gegee het: “Terwyl ons velddiens gedoen het, het hy my aangespoor om oor my gevoelens te praat. Net die vorige aand het ek tot Jehovah gebid en gevra dat hy my iemand gee met wie ek kon praat. Daardie volgende dag het hierdie broer op medelydende wyse met my gepraat. Hy het my gehelp om te sien hoe Jehovah my al jare lank help. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hy hierdie ouer man na my toe gestuur het.” Op al hierdie maniere toon Christen- ouer manne dat hulle “gawes in die vorm van mense” is, wat Jehovah deur Jesus Christus voorsien om ons te help volhard op die weg na die lewe.—Efesiërs 4:8.
21, 22. (a) Wat is die gevolg wanneer diegene in die gemeente die raad in Filippense 2:4 toepas? (b) Waarom is selfs geringe dade van goedhartigheid belangrik?
21 Nie net die ouer manne nie, maar elke getroue Christen moet die geïnspireerde bevel toepas om “nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net [sy] eie sake [te] hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). Wanneer diegene in die Christengemeente hierdie raad toepas, het dit pragtige dade van goedhartigheid tot gevolg. Byvoorbeeld, een gesin is deur ’n skielike, veelvuldige tragedie getref. Die vader het sy jong dogter saam met hom winkel toe geneem. Op pad huis toe was hulle in ’n motorongeluk betrokke. Die dogter is dood; die vader is ernstig beseer. Toe hy uit die hospitaal ontslaan is, was hy aanvanklik so gestrem dat hy niks vir homself kon doen nie. Sy vrou was so verpletter dat sy nie alleen na hom kon omsien nie. Daarom het ’n egpaar in die gemeente hierdie bedroefde paartjie in hulle huis ingeneem en ’n paar weke lank na hulle omgesien.
22 Nie alle dade van goedhartigheid behels natuurlik so ’n tragedie en persoonlike opoffering nie. Ons ontvang soms hulp op ’n veel kleiner skaal. Maar ongeag hoe gering die daad van goedhartigheid is, ons waardeer dit, nie waar nie? Kan jy dink aan tye toe ’n vriendelike woord of ’n bedagsame daad van ’n broer of suster jou presies die hulp gegee het wat jy nodig gehad het? Jehovah sorg dikwels vir ons op hierdie maniere.—Spreuke 17:17; 18:24.
23. Hoe beskou Jehovah dit wanneer ons mekaar probeer help?
23 Wil jy hê dat Jehovah jou moet gebruik om ander te help? Jy kán hierdie voorreg geniet. Trouens, Jehovah waardeer dit as jy ’n poging in hierdie opsig aanwend. Sy Woord sê: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon” (Spreuke 19:17). Dit bring groot vreugde mee as ons van onsself gee ten behoewe van ons broers en susters (Handelinge 20:35). Diegene wat hulle doelbewus afsonder, ervaar nie die vreugde wat dit verskaf as ’n mens hierdie hulp voorsien nie of die aanmoediging wat dit gee as jy dit ontvang nie (Spreuke 18:1). Laat ons derhalwe ons Christelike vergaderinge getrou bywoon sodat ons mekaar kan aanmoedig.—Hebreërs 10:24, 25.
24. Waarom moet ons nie voel dat ons iets ontsê word omdat ons nie Jehovah se skouspelagtige wonderwerke van die verlede sien nie?
24 Is dit nie wonderlik om na te dink oor die maniere waarop Jehovah ons help nie? Hoewel ons nie gedurende ’n tyd lewe waarin Jehovah skouspelagtige wonderwerke verrig om sy voornemens te verwesenlik nie, hoef ons nie te voel dat ons iets ontsê word nie. Wat werklik saak maak, is dat Jehovah ons al die hulp gee wat ons nodig het om getrou te bly. En as ons saam in geloof volhard, sal ons daar wees om Jehovah se skouspelagtigste en roemrykste dade in die hele geskiedenis te sien! Laat ons vasbeslote wees om Jehovah se liefdevolle hulp te aanvaar en ten volle daarvan gebruik te maak sodat ons die woorde van ons jaarteks vir 2005 kan beaam: “My hulp is van Jehovah.”—Psalm 121:2.
Wat dink jy?
Hoe voorsien Jehovah die hulp wat ons vandag nodig het—
• deur middel van die engele?
• deur middel van sy heilige gees?
• deur sy geïnspireerde Woord?
• deur middel van medegelowiges?
[Prent op bladsy 18]
Dit is goed om te weet dat die engele die predikingswerk ondersteun
[Prent op bladsy 21]
Jehovah kan een van ons medegelowiges gebruik om ons die nodige vertroosting te gee