Hoofstuk 75
Die bron van geluk
TYDENS sy bediening in Galilea het Jesus wonderwerke gedoen, en nou herhaal hy dit in Judea. Hy dryf byvoorbeeld ’n demon uit ’n man wat die man verhinder het om te praat. Die skares is verwonderd, maar kritici opper dieselfde beswaar wat in Galilea geopper is. “Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit”, beweer hulle. Ander wil hê dat Jesus verdere bewys van sy identiteit moet lewer, en hulle probeer hom versoek deur ’n teken uit die hemel te vra.
Jesus weet wat hulle dink en gee dieselfde antwoord aan sy kritici in Judea as wat hy aan dié in Galilea gegee het. Hy sê dat elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, sal val. “En”, vra hy, “as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan?” Hy toon in watter gevaarlike posisie sy kritici is deur te sê: “As Ek deur die vinger van God die demone uitdryf, het die koninkryk van God julle waarlik ingehaal” (NW).
Diegene wat Jesus se wonderwerke aanskou, behoort te reageer soos diegene wat Moses eeue tevore ’n wonderwerk sien doen het. Hulle het uitgeroep: “Dit is die vinger van God!” Dit was ook “die vinger van God” wat die Tien Gebooie op tafels van klip geskryf het. En dit is “die vinger van God”—sy heilige gees, of werkende krag—wat Jesus in staat stel om demone uit te dryf en die siekes te genees. Die Koninkryk van God het hierdie kritici dus inderdaad ingehaal, aangesien Jesus, die aangewese Koning van die Koninkryk, daar in hulle midde is.
Jesus verduidelik voorts dat sy vermoë om demone uit te dryf ’n bewys van sy mag oor Satan is, net soos wanneer ’n sterker man kom en ’n goed bewapende man wat sy paleis bewaak, oormeester. Hy herhaal ook die gelykenis wat hy in Galilea oor ’n onreine gees vertel het. Die gees gaan uit ’n man uit, maar as die man die leegte nie met goeie dinge vul nie, kom die gees saam met sewe ander terug en word die man se toestand erger as wat dit vantevore was.
Terwyl sy na hierdie onderrigting luister, word ’n vrou in die skare beweeg om hardop uit te roep: “Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.” Aangesien dit die begeerte van elke Joodse vrou is om die moeder van ’n profeet en in die besonder van die Messias te wees, kan ons begryp hoekom hierdie vrou dit sê. Sy het blykbaar gedink Maria kan haar besonder gelukkig ag omdat sy Jesus se moeder is.
Maar Jesus help die vrou gou reg oor wat die ware bron van geluk is. “Nee”, antwoord hy, “gelukkig is eerder dié wat die woord van God hoor en dit onderhou” (NW). Jesus het nooit te kenne gegee dat spesiale eer aan sy moeder, Maria, gegee moet word nie. Hy het eerder getoon dat ’n mens ware geluk vind deur ’n getroue kneg van God te wees en nie deur enige vleeslike bande of prestasies nie.
Soos hy in Galilea gedoen het, gaan Jesus ook voort om die mense in Judea te bestraf omdat hulle ’n teken uit die hemel gevra het. Hy sê vir hulle geen teken behalwe die teken van Jona sal gegee word nie. Jona het ’n teken geword deur sy drie dae in die vis sowel as deur sy moedige prediking, wat die Nineviete tot inkeer laat kom het. “En”, sê Jesus, “meer as Jona is hier!” Die koningin van Skeba was insgelyks verwonderd oor Salomo se wysheid. “En”, sê Jesus weer, “meer as Salomo is hier!”
Jesus verduidelik dat wanneer ’n mens ’n lamp opsteek hy dit nie in ’n verborge plek of onder ’n maatemmer sit nie maar op ’n lampstaander sodat mense die lig kan sien. Hy bedoel moontlik dat om hierdie hardnekkige mense in sy gehoor te leer en wonderwerke voor hulle te doen, vergelyk kan word met wanneer ’n mens die lig van ’n lamp versteek. Die oë van sulke waarnemers is nie reg, oftewel in fokus, nie, en daarom bereik sy wonderwerke nie die beoogde doel nie.
Jesus het kort tevore ’n demon uitgedryf en ’n stom man laat praat. Dit behoort mense wie se oë reg, of in fokus, is te beweeg om hierdie skitterende daad te prys en die goeie nuus te verkondig! Maar dit is nie die geval met hierdie kritici nie. Jesus sê dus ten slotte: “Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.” Lukas 11:14-36; Exodus 8:18, 19; 31:18; Mattheüs 12:22, 28.
▪ Wat is die reaksie wanneer Jesus die man gesond maak?
▪ Wat is “die vinger van God”, en hoe het God se Koninkryk Jesus se luisteraars ingehaal?
▪ Wat is die bron van ware geluk?
▪ Hoe kan ’n mens se oog reg wees?