Hoofstuk 76
’n Ete saam met ’n Fariseër
NADAT Jesus die kritici beantwoord het wat die bron van sy mag om ’n stom man te genees bevraagteken, nooi ’n Fariseër hom vir ete. Voordat hulle eet, volg die Fariseërs die ritueel om hulle hande tot by die elmboë te was. Hulle doen dit voor en na ’n maaltyd en selfs tussen geregte. Hoewel die tradisie nie God se geskrewe wet skend nie, gaan dit verder as God se vereistes aangaande seremoniële reinheid.
Toe Jesus nie by die tradisie hou nie, is sy gasheer verbaas. Hoewel hy miskien nie sy verbasing uitspreek nie, merk Jesus dit en sê: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid. Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?”
Jesus stel dus die geveinsdheid van die Fariseërs, wat ritualisties hulle hande was maar nie hulle harte van goddeloosheid reinig nie, aan die kaak. Hy sê: “Gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein.” Wanneer hulle gee, moet hulle deur ’n liefdevolle hart beweeg word, nie deur ’n begeerte om ander met hulle skyn van geregtigheid te beïndruk nie.
“Wee julle, Fariseërs”, sê Jesus vervolgens, “want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” God se Wet aan Israel vereis dat hulle tiendes van die opbrengs van die land betaal. Die kruisement en die wynruit is plantjies of kruie wat gebruik word om kos te geur. Die Fariseërs betaal nougeset ’n tiende van selfs hierdie onbeduidende kruie, maar Jesus veroordeel hulle, omdat hulle die belangriker vereiste veronagsaam, naamlik dié om liefde te betoon en om vriendelik en beskeie te wees.
Jesus veroordeel hulle verder en sê: “Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is soos grafte wat onherkenbaar is, en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.” Hulle onreinheid is nie sigbaar nie. Die godsdiens van die Fariseërs het uiterlike vertoon maar geen innerlike waarde nie! Dit is op geveinsdheid gegrond.
’n Wetgeleerde, een van die wat God se Wet goed ken, luister na hierdie veroordeling en kla: “Meester, as U só spreek, beledig U ons ook.”
Jesus hou hierdie geleerdes in die Wet ook aanspreeklik en sê: “Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie. Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle gedood.”
Die laste wat Jesus meld is die mondelinge tradisies, maar hierdie wetgeleerdes sal nie eens een klein verordening ophef om dit vir die mense makliker te maak nie. Jesus openbaar dat hulle selfs die moord van die profete goedgekeur het, en hy waarsku: “Van hierdie geslag [sal] afgeëis word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaria wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.”
Die wêreld van loskoopbare mense het met die geboorte van Adam en Eva se kinders begin; Abel het dus tydens “die grondlegging van die wêreld” gelewe. Na die wrede moord op Sagaria het ’n Siriese leër Juda geplunder. Maar Jesus voorspel ’n erger plundering van sy eie geslag vanweë hulle goddeloosheid wat groter is. Hierdie plundering vind ongeveer 38 jaar later, in 70 G.J., plaas.
Jesus gaan voort met sy veroordeling en sê: “Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.” Die geleerdes in die Wet moet God se Woord aan die mense verduidelik en die betekenis daarvan ontsluit. Maar hulle doen dit nie en ontneem selfs die mense die geleentheid om dit te verstaan.
Die Fariseërs en die wetgeleerdes is woedend vir Jesus omdat hy hulle aan die kaak stel. Wanneer hy die huis verlaat, begin hulle hom hewig teenstaan en bestook hom met vrae. Hulle probeer vir hom ’n strik stel sodat hy iets kan sê waarvoor hulle hom gevange kan laat neem. Lukas 11:37-54; Deuteronomium 14:22; Miga 6:8; 2 Kronieke 24:20-25.
▪ Waarom veroordeel Jesus die Fariseërs en die wetgeleerdes?
▪ Watter laste plaas die wetgeleerdes op die mense?
▪ Wanneer was “die grondlegging van die wêreld”?