Hoofstuk 77
Die erfeniskwessie
DIE mense weet klaarblyklik dat Jesus ’n maaltyd in die Fariseër se huis geniet. Hulle kom dus by die duisende buite bymekaar en wag vir Jesus toe hy uitkom. In teenstelling met die Fariseërs wat Jesus teenstaan en ’n strik vir hom probeer stel sodat hy iets verkeerds kan sê, luister die mense gretig en met waardering na hom.
Jesus praat met sy dissipels en sê: “Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid.” Soos tydens die eetmaal getoon is, is die hele godsdiensstelsel van die Fariseërs vol geveinsdheid. Maar hoewel die goddeloosheid van die Fariseërs deur ’n vertoon van vroomheid verberg word, sal dit uiteindelik blootgelê word. “Daar is niks bedek”, sê Jesus, “wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.”
Jesus herhaal vervolgens die bemoediging wat hy aan die 12 gegee het toe hy hulle op ’n predikingsreis in Galilea uitgestuur het. Hy sê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie.” Aangesien God nie eens een mossie vergeet nie, verseker Jesus sy volgelinge dat God hulle nie sal vergeet nie. Hy sê: “Wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, . . . [sal] die Heilige Gees . . . julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.”
Toe praat ’n man uit die skare. “Meester”, versoek hy, “sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” Die Wet van Moses bepaal dat die eersgebore seun ’n dubbele deel van die erfenis moet ontvang. Daar behoort dus geen rede vir onenigheid te wees nie. Maar die man wil blykbaar meer as sy regmatige deel van die erfenis hê.
Jesus weier tereg om hierby betrokke te raak. “Mens, wie het My as ’n regter of deler oor julle aangestel?” vra hy. Hy rig dan hierdie noodsaaklike vermaning aan die skare: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” Ja, ongeag hoeveel iemand uiteindelik het, hy sal sterf en dit alles agterlaat. Jesus gebruik ’n gelykenis om hierdie feit te beklemtoon en ook om te toon hoe dwaas dit is om nie ’n goeie naam by God op te bou nie. Hy verduidelik:
“’n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?”
Jesus sê ten slotte: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” Hoewel die dissipels miskien nie verstrik raak deur die dwaasheid om rykdom te versamel nie, kan die daaglikse sorge van die lewe hul aandag maklik aflei van heelhartige diens aan Jehovah. Jesus gebruik dus die geleentheid om die goeie raad te herhaal wat hy ongeveer anderhalf jaar gelede in die Bergpredikasie gegee het. Hy sê vir sy dissipels:
“Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. . . . Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. . . . Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. . . .
“Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Veral gedurende tye van ekonomiese teenspoed verdien Jesus se woorde noukeurige aandag. Die persoon wat te besorg raak oor sy materiële behoeftes en geestelike strewes begin verwaarloos, toon inderdaad ’n gebrek aan geloof in God se vermoë om vir Sy knegte te sorg. Lukas 12:1-31; Deuteronomium 21:17.
▪ Waarom vra die man Jesus moontlik oor die erfenis, en watter vermaning rig Jesus aan die skare?
▪ Watter gelykenis gebruik Jesus, en wat is die les?
▪ Watter raad herhaal Jesus, en waarom is dit gepas?