Wie was Pontius Pilatus?
“DIE spottende, skeptiese Pilatus is ’n geskiedkundige figuur wat ons verbeelding gaande maak. Vir party is hy ’n heilige, vir ander die verpersoonliking van menslike swakheid, ’n tipiese politikus wat bereid was om een man ter wille van stabiliteit op te offer.”—Pontius Pilate, deur Ann Wroe.
Hetsy jy enige van hierdie beskouings huldig of nie, Pontius Pilatus het vir hom ’n naam gemaak weens die manier waarop hy Jesus Christus behandel het. Wie was Pilatus? Wat is oor hom bekend? ’n Beter begrip van sy posisie sal ons help om die belangrikste gebeure wat al ooit op die aarde plaasgevind het, beter te verstaan.
Posisie, pligte en gesag
Die Romeinse keiser Tiberius het Pilatus in 26 G.J. as die goewerneur van die provinsie Judea aangestel. Sulke prefekte was manne van die sogenaamde ruiterorde—die laer adelstand, in teenstelling met aristokrate met senaatstatus. Pilatus het waarskynlik as ’n militêre tribuun, of junior bevelvoerder, by die leër aangesluit, hom gedurende opeenvolgende diensbeurte van rang tot rang opgewerk en is as goewerneur aangestel voordat hy 30 jaar oud was.
Wanneer Pilatus in uniform was, sou hy ’n leertuniek en metaalborsplaat gedra het. Sy openbare kleredrag was ’n wit toga met ’n pers rand. Sy hare sou kort gewees het en sy gesig gladgeskeer. Hoewel party meen dat hy van Spanje gekom het, gee sy naam te kenne dat hy behoort het tot die stam van die Pontii—Samnitiese adellikes uit Suid-Italië.
Prefekte met Pilatus se rang is gewoonlik na barbaarse gebiede gestuur. Die Romeine het Judea as so ’n plek beskou. Behalwe dat Pilatus die orde gehandhaaf het, het hy ook toesig gehou oor die insameling van indirekte belasting en hoofbelasting. Gewone regsake is deur die Joodse howe behartig, maar sake wat die doodstraf vereis het, is blykbaar na die goewerneur verwys, wat die hoogste regsgesag gehad het.
Pilatus en sy vrou het saam met ’n klein personeel wat uit kopiïste, metgeselle en boodskappers bestaan het, in die hawestad Sesarea gewoon. Pilatus het bevel gevoer oor vyf infanterieafdelings van 500 tot 1 000 man elk, asook oor ’n kavallerieregiment wat waarskynlik uit 500 man bestaan het. Sy soldate het die paalstraf gereeld aan wetsoortreders voltrek. In vredestyd het teregstellings op summiere verhore gevolg, maar gedurende ’n opstand is rebelle op die plek en in groot getalle doodgemaak. Die Romeine het byvoorbeeld 6 000 slawe aan pale gehang om die opstand te onderdruk wat deur Spartakus gelei is. As moeilikheid in Judea gedreig het, kon die goewerneur hom gewoonlik wend tot die keiserlike gesant in Sirië, wat in bevel was van legioene. Gedurende ’n groot deel van Pilatus se ampstermyn was die gesant egter afwesig, en Pilatus moes oproere gou onderdruk.
Goewerneurs het gereeld met die keiser gekommunikeer. Sake wat sy waardigheid geraak het of wat enige bedreiging vir Rome se gesag ingehou het, moes aangemeld word en het keiserlike bevele tot gevolg gehad. ’n Goewerneur was dalk angstig om sy eie weergawe van gebeure in sy provinsie aan die keiser te gee voordat ander kon kla. Aangesien moeilikheid in Judea gedreig het, was dit ’n wesenlike probleem vir Pilatus.
Benewens die Evangelieverslae is die geskiedskrywers Flavius Josefus en Filo die vernaamste bronne van inligting oor Pilatus. Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus meld ook Pilatus se teregstelling van Christus, van wie Christene hulle naam afgelei het.
Jode se woede verwek
Josefus sê dat Romeinse goewerneurs, uit respek vir die Jode se besware teen die maak van beelde, dit vermy het om militêre baniere met die beeld van die keiser daarop in Jerusalem in te bring. Omdat Pilatus hom nie hieraan gesteur het nie, het woedende Jode hulle na Sesarea gehaas om te kla. Pilatus het vyf dae lank niks gedoen nie. Op die sesde dag het hy sy soldate beveel om die protesteerders te omsingel en met teregstelling te dreig as hulle nie uitmekaargaan nie. Toe die Jode sê dat hulle eerder sal sterf as om te sien dat hulle Wet oortree word, het Pilatus toegegee en beveel dat die baniere verwyder word.
Pilatus het wel soms geweld gebruik. In ’n voorval wat deur Josefus opgeteken is, het die prefek aan ’n akwaduk begin werk om water in Jerusalem in te bring en het hy fondse uit die tempelskatkis gebruik om die projek te finansier. Pilatus het nie bloot op die geld beslag gelê nie, want hy het geweet dat dit heiligskennis was om die tempel te beroof en dat dit sou veroorsaak dat die woedende Jode Tiberius vra om hom terug te roep. Dit wil dus voorkom of Pilatus die samewerking van die tempelbestuur gehad het. Gewyde fondse, wat “korban” genoem is, kon tereg vir openbare werke tot voordeel van die stad gebruik word. Maar duisende Jode het bymekaargekom om hulle verontwaardiging uit te spreek.
Pilatus het soldate met die skare laat meng en hulle beveel om nie swaarde te gebruik nie, maar om die protesteerders met knuppels te slaan. Hy wou vermoedelik die oproerige skare beheer sonder om ’n slagting te veroorsaak. Dit het blykbaar gewerk, maar party het wel gesterf. Sommige wat vir Jesus vertel het dat Pilatus die bloed van Galileërs met hulle offerandes gemeng het, het moontlik na hierdie voorval verwys.—Lukas 13:1.
“Wat is waarheid?”
Wat Pilatus berug maak, is sy ondersoek van die aanklagte deur die Joodse hoofpriesters en ouer manne dat Jesus hom as ’n Koning voordoen. Toe Pilatus hoor van Jesus se sending om van die waarheid te getuig, het hy besef dat die gevangene geen bedreiging vir Rome inhou nie. “Wat is waarheid?” het hy gevra, blykbaar omdat hy gedink het dat waarheid ’n te ontwykende begrip was om baie aandag te verdien. Tot watter slotsom het hy gekom? “Ek vind geen misdaad in hierdie man nie.”—Johannes 18:37, 38; Lukas 23:4.
Dit moes die einde van Jesus se verhoor gewees het, maar die Jode het volgehou dat hy die nasie ondermyn. Die hoofpriesters het Jesus weens afguns oorgelewer, en Pilatus het dit geweet. Hy het ook geweet dat dit moeilikheid sou veroorsaak as hy Jesus vrylaat, iets wat hy wou vermy. Daar was reeds genoeg probleme, want Barabbas en ander was in aanhouding vir opstand en moord (Markus 15:7, 10; Lukas 23:2). Verder het vorige geskille met die Jode Pilatus se reputasie beklad by Tiberius, wat berug was vir sy streng optrede teen slegte goewerneurs. Maar om aan die eise van die Jode toe te gee, sou ’n teken van swakheid wees. Pilatus het dus voor ’n dilemma te staan gekom.
Toe hy hoor waar Jesus vandaan kom, het Pilatus die saak probeer oorgee aan Herodes Antipas, die distriksheerser van Galilea. Toe dit nie slaag nie, het Pilatus die skare buite sy paleis probeer oorreed om te vra dat Jesus vrygelaat word, ooreenkomstig die gebruik om ’n gevangene tydens die Pasga vry te laat. Die skare het aangedring op Barabbas.—Lukas 23:5-19.
Pilatus wou dalk doen wat reg is, maar hy wou ook homself red en die skare tevrede stel. Uiteindelik het hy sy loopbaan bo sy gewete en geregtigheid gestel. Hy het gevra dat water gebring word, waarna hy sy hande gewas het en verklaar het dat hy onskuldig is aan die dood waarvoor hy daarna toestemming gegee het.a Hoewel Pilatus geglo het dat Jesus onskuldig is, het hy hom laat gesel en die soldate toegelaat om met hom die spot te dryf, hom te slaan en op hom te spoeg.—Matteus 27:24-31.
Pilatus het ’n laaste poging aangewend om Jesus te bevry, maar die skare het geskreeu dat hy nie ’n vriend van die keiser is as hy dit doen nie (Johannes 19:12). Daarop het Pilatus aan hulle eise toegegee. ’n Geleerde het die volgende oor Pilatus se besluit gesê: “Die oplossing was maklik: laat die man teregstel. Al wat daar was om te verloor, was die lewe van een skynbaar onbelangrike Jood; dit sou dwaas wees om toe te laat dat moeilikheid oor hom ontstaan.”
Wat het van Pilatus geword?
Die laaste opgetekende voorval in Pilatus se loopbaan was nog ’n konflik. Josefus sê dat ’n skare gewapende Samaritane op die berg Gerisim bymekaargekom het in die hoop om skatte te vind wat Moses glo daar begrawe het. Pilatus het ingegryp, en sy soldate het heelparty mense in die skare doodgemaak. Die Samaritane het gekla by Pilatus se meerdere, Lucius Vitellius, die goewerneur van Sirië. Of Vitellius gedink het dat Pilatus te ver gegaan het, word nie gesê nie. Hoe dit ook al sy, hy het Pilatus beveel om na Rome te gaan om aan die keiser rekenskap te gee van sy dade. Maar voordat hy daar aangekom het, is Tiberius oorlede.
“Op hierdie stadium”, sê een bron, “verdwyn Pilatus uit die geskiedenis, en daar is verder net legendes oor hom.” Maar baie het die ontbrekende besonderhede probeer invul. Daar word beweer dat Pilatus ’n Christen geword het. Etiopiese “Christene” het hom tot “heilige” verklaar. Eusebius, wat in die laat derde en vroeë vierde eeu geskryf het, was die eerste van baie wat gesê het dat Pilatus, soos Judas Iskariot, selfmoord gepleeg het. Maar presies wat van Pilatus geword het, is onseker.
Pilatus was soms hardkoppig, ligsinnig en hardvogtig. Maar hy het tien jaar lank in sy amp gebly, terwyl die meeste prefekte van Judea baie korter ampstermyne gehad het. Vanuit ’n Romeinse oogpunt het Pilatus hom dus goed van sy taak gekwyt. Hy is al ’n lafaard genoem wat laakbaar genoeg was om Jesus te laat folter en te laat teregstel om homself te beskerm. Ander voer aan dat dit Pilatus se taak was om vrede te bewaar en Romeinse belange te bevorder en nie soseer om geregtigheid te laat geskied nie.
Pilatus se tye het baie van ons s’n verskil. Maar geen regter is ooit geregverdig om ’n man te veroordeel wat hy as onskuldig beskou nie. As dit nie was vir sy ontmoeting met Jesus nie, sou Pontius Pilatus dalk net nog ’n naam in die geskiedenisboeke gewees het.
[Voetnoot]
a Dit was die Jode, nie die Romeine nie, wat gewoonlik hulle hande gewas het om te toon dat hulle nie ’n aandeel het aan bloedvergieting nie.—Deuteronomium 21:6, 7.
[Prent op bladsy 11]
Hierdie inskripsie wat Pontius Pilatus as die prefek van Judea identifiseer, is in Sesarea gevind