Jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie!
“Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie.”—PRED. 11:6.
1. Waarom is dit verbasend en laat dit ’n mens nederig voel om die groeiproses te aanskou?
’N BOER moet geduldig wees (Jak. 5:7). Nadat hy die saad gesaai het, moet hy wag totdat dit ontkiem en groei. Wanneer die toestande gunstig is, begin spruitjies geleidelik bo die grond verskyn. Dan ontwikkel hulle tot plante waaraan are vorm. Uiteindelik het die boer ’n land wat geoes kan word. Hoe verbasend is dit tog om die wonder van die groeiproses te aanskou! En dit laat ons nederig voel wanneer ons besef wie die Bron van hierdie groei is. Ons kan na die saad omsien. Ons kan help om dit nat te gooi. Maar net God kan dit laat groei.—Vergelyk 1 Korintiërs 3:6.
2. Watter gedagtes het Jesus omtrent geestelike groei tuisgebring in die illustrasies wat in die vorige artikel bespreek is?
2 Soos in die vorige artikel gemeld is, het Jesus die Koninkrykspredikingswerk vergelyk met ’n boer wat saad saai. In die illustrasie van die verskillende soorte grond het Jesus beklemtoon dat selfs wanneer die boer goeie saad saai, dit die hartstoestand van ’n persoon is wat bepaal of die saad tot rypheid sal groei of nie (Mark. 4:3-9). In die illustrasie van die saaier wat slaap, het Jesus beklemtoon dat die boer nie die groeiproses ten volle verstaan nie. Dit is omdat groei weens God se krag plaasvind, nie weens mensepogings nie (Mark. 4:26-29). Laat ons nou nog drie van Jesus se illustrasies beskou—die mosterdsaadjie, die suurdeeg en die sleepnet.a
Die illustrasie van die mosterdsaadjie
3, 4. Watter aspekte van die Koninkryksboodskap word deur die illustrasie van die mosterdsaadjie beklemtoon?
3 Die illustrasie van die mosterdsaadjie, wat ook in Markus hoofstuk 4 opgeteken is, beklemtoon twee dinge: eerstens die verbasende groei van die Koninkryksboodskap; tweedens die beskerming wat dié ontvang wat die boodskap aanneem. Jesus het gesê: “Waarmee sal ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter illustrasie sal ons dit uiteensit? Dit is soos ’n mosterdsaadjie wat die kleinste van al die sade op die aarde was toe dit in die grond gesaai is—maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit groter as al die ander groentesoorte en maak dit groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee blyplek kan vind.”—Mark. 4:30-32.
4 Hier sien ons ’n uitbeelding van die groei van “die koninkryk van God”, soos blyk uit die verspreiding van die Koninkryksboodskap en die groei van die Christengemeente sedert Pinkster 33 G.J. ’n Mosterdsaadjie is klein en kan dus iets baie kleins voorstel. (Vergelyk Lukas 17:6.) Maar ’n mosterdplant kan uiteindelik ’n hoogte van drie tot vyf meter bereik en stewige takke hê, sodat dit byna ’n boom word.—Matt. 13:31, 32.
5. Watter groei het die eerste-eeuse Christengemeente ervaar?
5 Die groei van die Christengemeente het in 33 G.J. op klein skaal begin toe ongeveer 120 dissipels met heilige gees gesalf is. Binne ’n betreklike kort tydjie het hierdie klein gemeente van dissipels duisende gelowiges ingesluit. (Lees Handelinge 2:41; 4:4; 5:28; 6:7; 12:24; 19:20.) Binne drie dekades het die aantal oeswerkers so toegeneem dat die apostel Paulus vir die gemeente in Kolosse kon sê dat die goeie nuus reeds “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). Watter ongelooflike groei!
6, 7. (a) Watter uitbreiding het sedert 1914 plaasgevind? (b) Watter verdere groei sal plaasvind?
6 Sedert die oprigting van God se Koninkryk in die hemel in 1914 het die takke van die “mosterdboom” bo verwagting gegroei. God se volk het die letterlike vervulling gesien van die profesie wat deur Jesaja opgeteken is: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie” (Jes. 60:22). Die klein groepie gesalfdes wat vroeg in die 20ste eeu aan die Koninkrykswerk deelgeneem het, sou nooit kon raai dat daar teen 2008 sowat sewemiljoen Getuies sou wees wat in meer as 230 lande aan hierdie werk deelneem nie. Waarlik verbasende groei—vergelykbaar met dié van die mosterdsaadjie in Jesus se illustrasie!
7 Maar hou die groei hier op? Nee. Die onderdane van God se Koninkryk sal uiteindelik die hele aarde vul. Alle teenstanders sal uit die weg geruim wees. Dit sal nie die gevolg wees van mensepogings nie, maar van die Soewereine Heer Jehovah se ingryping in die aarde se aangeleenthede. (Lees Daniël 2:34, 35.) Dan sal ons die finale vervulling sien van nog ’n profesie wat deur Jesaja opgeteken is: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—Jes. 11:9.
8. (a) Wie stel die voëls in Jesus se illustrasie voor? (b) Waarteen word ons nou reeds beskerm?
8 Jesus sê dat die voëls van die hemel blyplek onder die skaduwee van hierdie Koninkryk kan vind. Hierdie voëls stel nie vyande van die Koninkryk voor wat die goeie saad probeer opeet, soos die voëls in die illustrasie van die man wat saad op verskillende soorte grond uitgestrooi het nie (Mark. 4:4). In hierdie illustrasie stel die voëls eerder regskapenes voor wat beskerming binne die Christengemeente soek. Hulle word nou reeds teen die geestelik verontreinigende gewoontes en onrein gebruike van hierdie goddelose wêreld beskerm. (Vergelyk Jesaja 32:1, 2.) Jehovah het ook die Messiaanse Koninkryk met ’n boom vergelyk en profeties gesê: “Op die berg van die hoogte van Israel sal ek dit oorplant, en dit sal beslis takke voortbring en vrug dra en ’n majestueuse seder word. En daaronder sal alle soorte voëls woon; in die skaduwee van sy blare sal hulle woon.”—Eseg. 17:23.
Die illustrasie van die suurdeeg
9, 10. (a) Watter punt het Jesus in die illustrasie van die suurdeeg beklemtoon? (b) Wat stel suurdeeg dikwels in die Bybel voor, en watter vraag oor Jesus se verwysing na suurdeeg sal ons bespreek?
9 Groei is nie altyd sigbaar vir mense-oë nie. Jesus beklemtoon hierdie punt in sy volgende illustrasie. Hy sê: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ’n vrou geneem en in drie groot mate meel verberg het, totdat die hele massa deursuur was” (Matt. 13:33). Wat stel hierdie suurdeeg voor, en hoe hou dit verband met die groei van die Koninkryk?
10 In die Bybel word suurdeeg dikwels gebruik om sonde voor te stel. Die apostel Paulus het in hierdie sin na suurdeeg verwys toe hy gepraat het van die verderflike invloed van ’n sondaar in die gemeente in eertydse Korinte (1 Kor. 5:6-8). Het Jesus nou suurdeeg gebruik om die groei van iets negatiefs voor te stel?
11. Hoe is suurdeeg in eertydse Israel gebruik?
11 Voordat ons hierdie vraag beantwoord, moet ons eers let op drie basiese feite. Eerstens, hoewel Jehovah gedurende die tyd van die Pasgafees geen suurdeeg toegelaat het nie, het hy by ander geleenthede wel offers aanvaar wat suurdeeg bevat het. Suurdeeg is gebruik in verband met gemeenskapsoffers wat as dankbetuiging gebring is, waarin die persoon sy offer vrywillig aangebied het in ’n gees van dankbaarheid vir al Jehovah se seëninge. Dit was ’n vreugdevolle maaltyd.—Lev. 7:11-15.
12. Wat kan ons leer uit die manier waarop die Bybel simbole gebruik?
12 Tweedens, hoewel ’n element by een geleentheid ’n negatiewe konnotasie in die Skrif kan hê, kan dieselfde element by ’n ander geleentheid gebruik word om iets positiefs voor te stel. Byvoorbeeld, in 1 Petrus 5:8 word Satan met ’n leeu vergelyk om sy gevaarlike, wreedaardige geaardheid uit te beeld. Maar in Openbaring 5:5 word Jesus met ’n leeu vergelyk—“die Leeu wat uit die stam Juda is”. In laasgenoemde geval word die leeu as ’n simbool van moedige geregtigheid gebruik.
13. Wat toon Jesus se illustrasie van die suurdeeg in verband met geestelike groei?
13 Derdens, Jesus het nie in sy illustrasie gesê dat die suurdeeg die hele massa bederf het en dit onbruikbaar gemaak het nie. Hy het eenvoudig verwys na die normale proses om brood te maak. Die huisvrou het doelbewus die suurdeeg bygevoeg, en die resultate was positief. Die suurdeeg is in die massa verberg. Die gistingsproses was dus onsigbaar vir die huisvrou. Dit herinner ons aan die man wat saad saai en snags slaap. Jesus het gesê: “Die saad spruit uit en word groot—presies hoe weet [die man] nie” (Mark. 4:27). Wat ’n eenvoudige manier om die onsigbare proses van geestelike groei te illustreer! Ons sien miskien aanvanklik nie die groei nie, maar uiteindelik word die resultate sigbaar.
14. Watter aspek van die predikingswerk word geïllustreer deur die feit dat die suurdeeg die hele massa deursuur?
14 Hierdie groei is nie net onsigbaar vir mense-oë nie, maar dit vind ook oral plaas. Dit is nog ’n aspek wat in die illustrasie van die suurdeeg beklemtoon word. Die suurdeeg deursuur die hele massa, die “drie groot mate meel” (Luk. 13:21). Soos suurdeeg het die Koninkrykspredikingswerk wat tot hierdie geestelike groei aanleiding gegee het, so uitgebrei dat die Koninkryk nou “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” verkondig word (Hand. 1:8; Matt. 24:14). Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog om deel te wees van hierdie verbasende uitbreiding van die Koninkrykswerk!
Die sleepnet
15, 16. (a) Som die illustrasie van die sleepnet op. (b) Wat stel die sleepnet voor, en op watter aspek van Koninkryksgroei sinspeel hierdie illustrasie?
15 Belangriker as die getal van dié wat sê dat hulle dissipels van Jesus Christus is, is die gehalte van hierdie dissipels. Jesus sinspeel op hierdie aspek van Koninkryksgroei wanneer hy nog ’n illustrasie gee, een oor ’n sleepnet. Hy het gesê: “Die koninkryk van die hemele is ook soos ’n sleepnet wat in die see laat sak word en allerhande soorte vis bymekaarbring.”—Matt. 13:47.
16 Die sleepnet, wat die Koninkrykspredikingswerk voorstel, bring allerhande soorte vis bymekaar. Jesus sê verder: “Toe [die sleepnet] vol geword het, het hulle dit op die strand uitgesleep, en hulle het gaan sit en die goeies in houers bymekaargemaak, maar dié wat nie geskik was nie, het hulle weggegooi. Só sal dit in die voleinding van die stelsel van dinge wees: die engele sal uitgaan en die goddeloses onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond werp. Dáár sal hulle gehuil en die gekners van hulle tande wees.”—Matt. 13:48-50.
17. Na watter tydperk verwys die skeiding wat in die illustrasie van die sleepnet genoem word?
17 Verwys hierdie skeiding na die finale oordeel van die skape en die bokke wat Jesus gesê het sal plaasvind wanneer hy in sy heerlikheid kom? (Matt. 25:31-33). Nee. Die finale oordeel sal plaasvind met Jesus se koms gedurende die groot verdrukking. Maar die skeiding wat in die illustrasie van die sleepnet genoem word, vind gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” plaas.b Dit is die tyd waarin ons nou lewe—die dae wat die groot verdrukking voorafgaan. Hoe vind daar dan nou ’n skeidingswerk plaas?
18, 19. (a) Hoe vind ’n skeidingswerk nou plaas? (b) Watter stap moet opregtes van hart doen? (Sien ook die voetnoot op bladsy 21.)
18 Letterlik miljoene simboliese visse uit die see van die mensdom is in ons tyd tot Jehovah se gemeente aangetrek. Party woon die Gedenkmaal by, ander kom na ons vergaderinge toe en nog ander is bly om die Bybel te studeer. Maar is hulle almal ware Christene? Hulle word dalk “op die strand uitgesleep”, maar Jesus sê vir ons dat net “die goeies” versamel word in houers, wat Christengemeentes voorstel. Dié wat nie geskik is nie, word weggegooi en sal uiteindelik in ’n simboliese vuuroond gewerp word, wat op toekomstige vernietiging dui.
19 Soos in die geval van die visse wat nie geskik is nie, het baie wat die Bybel voorheen saam met Jehovah se volk gestudeer het, opgehou studeer. Party kinders van Christenouers wou nooit werklik voetstapnavolgers van Jesus word nie. Hulle was nie bereid om die besluit te neem om Jehovah te dien nie of het opgehou om hom te dien nadat hulle dit ’n ruk lank gedoen het (Eseg. 33:32, 33).c Dit is egter noodsaaklik dat alle opregtes van hart hulle voor die finale oordeelsdag in die houeragtige gemeentes laat versamel en dat hulle in ’n plek van veiligheid bly.
20, 21. (a) Wat het ons geleer uit die hersiening van Jesus se illustrasies oor groei? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?
20 Wat het ons dus geleer uit ons kort hersiening van Jesus se illustrasies oor groei? Eerstens, net soos met die groei van die mosterdsaadjie was daar ontsaglike groei in die Koninkryksbelange hier op die aarde. Niks kan die uitbreiding van Jehovah se werk stopsit nie! (Jes. 54:17). Daarbenewens word geestelike beskerming voorsien aan dié wat “onder [die boom se] skaduwee blyplek” soek. Tweedens, dit is God wat dit laat groei. Net soos die verborge suurdeeg deur die hele massa versprei het, kan hierdie groei nie altyd maklik gesien of verstaan word nie, maar dit vind wel plaas! Derdens, nie almal wat gunstig gereageer het, het getoon dat hulle geskik is nie. Party was soos die visse in Jesus se illustrasie wat nie geskik was nie.
21 Maar hoe aanmoedigend is dit tog om te sien dat so baie wat geskik is, deur Jehovah getrek word! (Joh. 6:44). Dit het ongelooflike vermeerdering in die een land na die ander tot gevolg gehad. Alle heerlikheid vir hierdie groei kom Jehovah God toe. As ooggetuies hiervan moet elkeen van ons beweeg word om die vermaning te gehoorsaam wat eeue gelede opgeteken is: “Saai jou saad in die oggend . . . , want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie, hetsy hier of daar, en of hulle al twee ewe goed sal wees nie.”—Pred. 11:6.
[Voetnote]
a Die volgende verduidelikings is ’n aanpassing van dié wat voorheen verskyn het in Die Wagtoring van 15 Junie 1992, bladsye 17-22, en van 1 Januarie 1976, bladsye 5-23.
b Hoewel Matteus 13:39-43 na ’n ander aspek van die Koninkrykspredikingswerk verwys, word dit gedurende dieselfde tyd vervul as die illustrasie van die sleepnet, naamlik gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge”. Die skeiding van die simboliese visse is ’n voortdurende proses, net soos die saai- en oeswerk regdeur hierdie tydperk voortduur.—Die Wagtoring, 15 Oktober 2000, bladsye 25-26; Aanbid die enigste ware God, bladsye 178-181, paragrawe 8-11.
c Beteken dit dat almal wat opgehou studeer het of wat nie meer met Jehovah se volk omgaan nie, deur die engele weggegooi is as persone wat nie geskik is nie? Nee! As iemand die opregte begeerte het om tot Jehovah terug te keer, sal hy vind dat die weg oop is.—Mal. 3:7.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat leer Jesus se illustrasie oor die mosterdsaadjie ons omtrent Koninkryksgroei en geestelike beskerming?
• Wat stel die suurdeeg in Jesus se illustrasie voor, en watter waarheid oor Koninkryksgroei beklemtoon Jesus?
• Op watter aspek van Koninkryksgroei wys die illustrasie van die sleepnet?
• Hoe kan ons seker maak dat ons deel bly van dié wat “in houers bymekaargemaak” is?
[Prente op bladsy 18]
Wat leer die illustrasie van die mosterdsaadjie ons omtrent Koninkryksvermeerdering?
[Prent op bladsy 19]
Wat leer ons uit die illustrasie van die suurdeeg?
[Prent op bladsy 21]
Wat word voorgestel deur die skeiding van die goeie visse en dié wat nie geskik is nie?