Armoede—Die permanente oplossing
ONDANKS negatiewe berigte oor armoede uit alle wêrelddele, is daar diegene wat steeds optimisties is dat iets daadwerkliks gedoen kan word. ’n Opskrif in die Manila Bulletin dui byvoorbeeld aan wat die Ontwikkelingsbank van Asië hieroor berig het: “Asië kan armoede binne 25 jaar uitwis.” Die bank het ekonomiese groei aanbeveel as ’n manier om mense uit die greep van armoede te verlos.
Ander organisasies en regerings het met ’n lang lys voorstelle en planne vorendag gekom om die probleem te probeer oplos. Dit sluit in: maatskaplike versekeringsprogramme, verbeterde onderwys, die kwytskelding van ontwikkelende lande se skuld aan nywerheidslande, die opheffing van invoerbeperkings sodat lande met ’n groot persentasie arm mense hulle produkte makliker kan verkoop, en laekostebehuising vir die armes.
In die jaar 2000 het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering doelwitte gestel wat hulle teen 2015 wil bereik. Hulle wil onder meer volslae armoede en honger uit die weg ruim, asook die groot inkomsteverskille in lande. Ongeag hoe edel hierdie doelwitte is, twyfel baie of dit in hierdie verdeelde wêreld bereik kan word.
Praktiese stappe om armoede die hoof te bied
Aangesien die hoop om werklik vooruitgang op wêreldskaal te maak so skraal is, wonder ’n mens dalk waarheen jy jou moet wend vir hulp. Soos vroeër gemeld is, is daar ’n bron van praktiese wysheid wat mense nou reeds kan help. Wat is dit? Dit is God se Woord, die Bybel.
Waarom is die Bybel anders as alle ander inligtingsbronne? Dit kom van die hoogste gesag, ons Skepper. Hy het in die bladsye daarvan juwele van wysheid laat opteken—praktiese beginsels wat op alle mense, op alle plekke en te alle tye van toepassing is. As hierdie beginsels gevolg word, kan dit armes help om selfs nou ’n bevredigender lewe te geniet. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.
Die regte beskouing van geld. Die Bybel sê: “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien; maar die voordeel van kennis is dat wysheid die besitters daarvan in die lewe hou” (Prediker 7:12). Wat toon dit? Dat geld nie alles is nie. Dit bied wel ’n mate van sekuriteit. Dit stel ons in staat om sekere dinge te koop wat ons nodig het, maar dit het beperkings. Daar is waardevoller dinge wat geld nie kan koop nie. As ons hierdie feit besef, sal dit ons help om materiële dinge in die regte perspektief te sien, en ons sal sodoende die frustrasies vermy van diegene wie se lewe om die verkryging van geld draai. Geld kan nie lewe koop nie, maar as ons wys optree, kan dit ons lewe nou beskerm en selfs ewige lewe moontlik maak.
Lewe binne jou vermoë. Ons begeertes is nie noodwendig dieselfde as ons behoeftes nie. Ons behoeftes moet voorkeur geniet. Ons kan onsself maklik wysmaak dat ons iets nodig het, terwyl dit in werklikheid net ’n begeerte is en nie ’n noodsaaklikheid nie. Die verstandige persoon sal eers sy inkomste bestee aan onmiddellike behoeftes—kos, klere, behuising, ensovoorts. Dan sal hy kyk of hy met die geld wat hy oor het, enige verdere items kan bekostig. In een van sy illustrasies het Jesus voorgestel dat ’n persoon “eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het”.—Lukas 14:28.
In die Filippyne het Eufrosina, ’n enkelmoeder van drie, die moeilike taak gehad om ’n bestaan te maak en volgens ’n streng begroting te lewe nadat haar man haar ’n paar jaar gelede verlaat het. Terselfdertyd het sy haar kinders geleer watter dinge in die begroting voorkeur moet kry. Byvoorbeeld, die kinders sien dalk iets wat hulle graag wil hê. Sy sê nie net nee nie, maar redeneer eerder met hulle deur te sê: “Wel, jy kan dit kry as jy dit wil hê, maar dan moet jy besluit. Ons het net genoeg geld vir een ding. Ons kan koop wat jy wil hê, of ons kan ’n bietjie vleis of groente koop om hierdie week saam met ons rys te eet. Wat sal jy verkies? Besluit jy.” Gewoonlik snap die kinders gou die punt en stem hulle in dat hulle eerder kos sal wil hê as iets anders.
Wees tevrede. “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees”, sê ’n ander Bybelbeginsel (1 Timoteus 6:8). Geld op sigself bring nie geluk nie. Talle ryk mense is ongelukkig, terwyl daar heelwat arm mense is wat baie gelukkig is. Laasgenoemde het geleer om tevrede te wees met die eenvoudige dinge wat in die lewe nodig is. Jesus het gesê dat ons ’n ‘eenvoudige oog’ moet hê wat op die belangriker dinge gefokus is (Matteus 6:22). Dit help ’n mens om tevrede te wees. Talle arm mense is heel tevrede omdat hulle ’n goeie verhouding met God aangekweek het en ’n gelukkige gesinslewe het—dinge wat nie met geld gekoop kan word nie.
Dit is maar net ’n paar voorbeelde van die praktiese wenke in die Bybel wat arm mense kan help om hulle situasie die hoof te bied. Daar is nog baie meer. Vermy byvoorbeeld verderflike gewoontes soos om te rook of te dobbel, wat geld mors; identifiseer die belangriker dinge in die lewe, veral geestelike doelwitte; waar werk skaars is, kan jy ’n vaardigheid of diens aanbied wat ander nodig het (Spreuke 22:29; 23:21; Filippense 1:9-11). Die Bybel stel voor dat ons “praktiese wysheid en denkvermoë” aan die dag lê, want dit “sal lewe vir jou siel wees”.—Spreuke 3:21, 22.
Hoewel die Bybel se wenke dalk ’n mate van verligting kan bring vir diegene wat met armoede worstel, is daar steeds vrae oor die toekoms. Is die armes gedoem om vir ewig in die kloue van armoede vasgevang te wees? Sal die ongelykhede tussen die skatrykes en die brandarmes ooit reggestel word? Kom ons ondersoek ’n oplossing waarvan baie mense nie bewus is nie.
Die Bybel gee rede vir hoop
Baie erken dat die Bybel ’n goeie boek is. Maar hulle is dikwels onbewus van die feit dat dit spesifieke inligting gee oor groot veranderinge wat binnekort gaan plaasvind.
Dit is God se voorneme om op te tree en die mensdom se probleme, waaronder armoede, op te los. Aangesien menseregerings óf nie in staat óf nie bereid is om dit te doen nie, gaan God hulle vervang. Hoe? Die Bybel sê nadruklik in Daniël 2:44: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”
Nadat hierdie “koninkryke”, of regerings, verwyder is, sal die Heerser wat deur God self aangestel is, optree. Daardie Heerser is nie ’n mens nie, maar ’n magtige hemelse wese soos God, wat die vermoë het om die drastiese veranderinge teweeg te bring wat nodig is om die huidige ongelykhede uit die weg te ruim. God het sy eie Seun gekies om dit te doen (Handelinge 17:31). Psalm 72:12-14 beskryf wat hierdie Heerser sal doen en sê: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.” Wat ’n wonderlike vooruitsig! Uiteindelik verligting! God se aangestelde Heerser sal ten behoewe van die arme en die geringe optree.
Al die probleme wat met armoede gepaardgaan, sal dan opgelos wees. Vers 16 van Psalm 72 sê: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.” Daar sal nie meer voedseltekorte as gevolg van hongersnood, te min geld of gebrekkige administrasie wees nie.
Ander probleme sal ook opgelos word. Byvoorbeeld, ’n groot persentasie van die aarde se bewoners besit nie vandag hulle eie huis nie. Maar God belowe: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut” (Jesaja 65:21, 22). Elkeen sal sy eie huis hê en sy werk geniet. God belowe dus ’n algehele en permanente oplossing vir armoede. Die groot kloof tussen rykes en armes sal nie meer daar wees nie; niemand sal meer sukkel om ’n bestaan te maak nie.
Wanneer ’n mens die eerste keer van hierdie Bybelse beloftes hoor, dink jy dalk dat dit onrealisties is. Maar ’n nadere ondersoek van die Bybel toon dat al God se beloftes in die verlede bewaarheid is (Jesaja 55:11). Dit is dus nie ’n geval van as dit gebeur nie. Die eintlike vraag is eerder: Wat moet jy doen om daarby baat te vind wanneer dit gebeur?
Sal jy daar wees?
Aangesien dit God se regering is, moet ons die soort mense wees wat God onder hierdie heerskappy sal aanvaar. Hy het ons nie in die duister gelaat oor wat ons moet doen om te kwalifiseer nie. Die riglyne word in die Bybel uiteengesit.
Die aangestelde Heerser, God se Seun, is regverdig (Jesaja 11:3-5). Gevolglik sal daar ook van die onderdane van hierdie regering verwag word om regverdig te wees. Spreuke 2:21, 22 sê: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”
Is daar ’n manier waarop ’n mens kan leer hoe om aan hierdie vereistes te voldoen? Ja, daar is. Deur die Bybel te bestudeer en die riglyne daarin toe te pas, kan jy in aanmerking kom vir hierdie wonderlike toekoms (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies sal bly wees om jou met so ’n studie te help. Ons nooi jou om gebruik te maak van hierdie geleentheid om deel te word van ’n gemeenskap wat nooit armoede en ongeregtigheid sal ondervind nie.
[Prent op bladsy 5]
Eufrosina: “’n Streng begroting help my gesin om die nodige te hê”
[Prente op bladsy 6]
’n Goeie verhouding met God en ’n gelukkige gesinslewe kan nie met geld gekoop word nie