Ons lesers vra
Is God se Koninkryk in jou hart?
Baie glo vandag dat die antwoord op die vraag hierbo ja is. The Catholic Encyclopedia sê byvoorbeeld: “Die koninkryk van God beteken . . . God se heerskappy in ons hart.” Die geestelikes verkondig oor die algemeen hierdie idee. Leer die Bybel werklik dat God se Koninkryk in mense se harte is?
Party dink dat Jesus die eerste persoon was wat die idee bevorder het dat God se Koninkryk in mense se harte is. Jesus het wel gesê: “Kyk! die koninkryk van God is in julle midde” (Lukas 17:21). Party vertalings sê hier: “Die koninkryk van God is in julle” of selfs “binne-in julle”. Is dit juiste weergawes van Jesus se woorde? Het hy werklik bedoel dat God se Koninkryk in mense se harte is?
Eerstens, dink aan wat die mensehart is. Wanneer die Bybel na die figuurlike hart verwys, beteken dit die innerlike mens, die bron van ’n persoon se gedagtes, gesindhede en gevoelens. Die idee dat iets so verhewe soos die Koninkryk van God binne-in die mensehart is—in die sin dat dit byvoorbeeld mense verander en veredel—klink miskien goed, maar is dit redelik?
Die Bybel sê vir ons: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9). Jesus self het gesê: “Van binne af, uit die hart van die mens, kom skadelike redenasies: hoererye, diefstalle, moorde, egbreuk, hebsugtige begeertes, goddelose dade” (Markus 7:20-22). Dink ’n bietjie: Kan baie van die ellende wat ons vandag in die wêreld sien, nie teruggespoor word tot die sondige harte van mense nie? Hoe kan God se volmaakte Koninkryk dan uit so ’n bron kom? Die feit is dat die mensehart net so min God se Koninkryk kan voortbring as wat ’n dissel vye kan voortbring.—Matteus 7:16.
Tweedens, dink aan die gehoor met wie Jesus gepraat het toe hy die woorde in Lukas 17:21 gespreek het. Die vorige vers sê: “Toe hy deur die Fariseërs gevra word wanneer die koninkryk van God kom, het hy hulle geantwoord” (Lukas 17:20). Die Fariseërs was Jesus se vyande. Jesus het gesê dat daardie huigelaars nie in God se Koninkryk sou ingaan nie (Matteus 23:13). As die Fariseërs nie in God se Koninkryk sou ingaan nie, kon die Koninkryk dan in hulle harte wees? Onmoontlik! Wat het Jesus dan bedoel?
Waar dit hierdie woorde van Jesus weergee, gebruik ’n aantal noukeurige Bybelvertalings soortgelyke bewoording as dié in die Nuwe Wêreld-vertaling. Party sê dat die Koninkryk “onder julle” of “in julle midde” is. Hoe was God se Koninkryk onder daardie mense, met inbegrip van die Fariseërs? Wel, Jesus was die een wat deur Jehovah God aangestel is om die Koning van die Koninkryk te wees. As die aangewese Koning was Jesus daar in die midde van daardie mense. Hy het die Koninkryk van God verkondig en selfs wonderwerke verrig, wat hulle ’n voorskou gegee het van wat daardie Koninkryk sou doen. Die Koninkryk was dus in die ware sin van die woord in hulle midde.
Dit is duidelik dat daar geen skriftuurlike grondslag is vir die idee dat die Koninkryk van God in mense se harte is nie. Dit is eerder ’n werklike regering, wat dramatiese veranderinge op die aarde tot stand sal bring, net soos die profete voorspel het.—Jesaja 9:6, 7; Daniël 2:44.