Hoofstuk 94
Gebed en nederigheid is nodig
TOE Jesus vroeër in Judea was, het hy ’n gelykenis vertel oor hoe belangrik dit is om in gebed te volhard. Nou, met sy laaste reis na Jerusalem, beklemtoon hy weer hoe belangrik dit is om nie op te hou bid nie. Jesus is waarskynlik nog in Samaria of Galilea wanneer hy sy dissipels hierdie verdere gelykenis vertel:
“Daar was ’n regter in ’n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad ’n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En ’n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.”
Jesus maak dan die toepassing van sy verhaal en sê: “Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?”
Jesus bedoel nie dat Jehovah God enigsins soos daardie onregverdige regter is nie. Maar as selfs ’n onregverdige regter op herhaalde smekinge sal ag slaan, behoort daar geen twyfel te bestaan dat God, wat volkome regverdig en goed is, sal antwoord as sy volk nie ophou bid nie. Jesus gaan dus voort: “Ek sê vir julle dat [God] gou aan hulle reg sal doen.”
Die geringes en die armes word dikwels geregtigheid ontsê, terwyl die invloedrykes en die welgesteldes dikwels begunstig word. God sal egter nie net sorg dat die goddeloses tereg gestraf word nie, maar sal ook verseker dat sy knegte regverdig behandel word deur hulle die ewige lewe te gee. Maar hoeveel mense glo vas dat God gou reg sal laat geskied?
Jesus praat in die besonder van geloof in die krag van gebed wanneer hy vra: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” Hoewel die vraag nie beantwoord word nie, impliseer dit moontlik dat sulke geloof nie algemeen te vinde sal wees wanneer Christus in Koninkryksmag kom nie.
Onder diegene wat na Jesus luister, is sommige wat heel selfversekerd in hulle geloof voel. Hulle vertrou op hulleself dat hulle regverdig is, en hulle sien op ander neer. Selfs party van Jesus se dissipels is moontlik onder hierdie groep. Hy rig dus die volgende gelykenis tot sulke persone:
“Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.”
Die Fariseërs is bekend vir hulle openbare vertonings van regverdigheid om ander te beïndruk. Die gebruiklike dae vir hulle selfopgelegde vaste is Maandae en Donderdae, en hulle betaal nougeset die tiende van selfs die klein kruie van die land. ’n Paar maande vroeër, tydens die Huttefees, was hulle minagting vir die gewone mense duidelik te sien toe hulle gesê het: “Hierdie skare wat die wet nie ken nie, [dit wil sê, die Fariseïese vertolking wat daaraan gegee is] is vervloek!”
Jesus gaan voort met sy gelykenis en vertel van so ’n ‘vervloekte’ persoon: “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!” Omdat die tollenaar sy tekortkominge nederig erken het, sê Jesus: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.”
Jesus beklemtoon dus weer dat nederigheid nodig is. Aangesien Jesus se dissipels in ’n gemeenskap grootgemaak is waar die selfvoldane Fariseërs soveel invloed het en waar posisie en stand altyd beklemtoon word, is dit nie verbasend dat selfs hulle beïnvloed is nie. Maar watter goeie lesse in nederigheid leer Jesus hulle tog! Lukas 18:1-14; Johannes 7:49.
▪ Waarom staan die onregverdige regter die weduwee se versoek toe, en watter les bevat Jesus se gelykenis?
▪ Watter geloof sal Jesus soek wanneer hy kom?
▪ Tot wie rig Jesus sy gelykenis van die Fariseër en die tollenaar?
▪ Watter gesindheid van die Fariseërs moet vermy word?