Hoofstuk 106
Aan die kaak gestel deur wingerdgelykenisse
JESUS is by die tempel. Hy het so pas die godsdiensleiers, wat daarop aangedring het om te weet deur wie se gesag hy dinge doen, verbluf laat staan. Voor hulle van hul verwarring herstel, vra Jesus: “Wat dink julle?” En dan toon hy deur middel van ’n gelykenis aan hulle watter soort mense hulle werklik is.
“’n Man het twee kinders gehad”, vertel Jesus. “En hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen?” vra Jesus.
“Die eerste”, antwoord sy teenstanders.
Daarom verduidelik Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.” Die tollenaars en die hoere het in werklikheid aanvanklik geweier om God te dien. Maar toe het hulle, soos die eerste kind, berou gehad en hom wel gedien. Aan die ander kant het die godsdiensleiers, soos die tweede kind, voorgegee dat hulle God dien, maar, soos Jesus sê: “Johannes [die Doper] het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.”
Jesus toon vervolgens dat daardie godsdiensleiers se oortreding nie net hulle versuim is om God te dien nie. Nee, maar hulle is in werklikheid bose, goddelose manne. Jesus vertel: “Daar was ’n sekere huisheer wat ’n wingerd geplant het; en hy het ’n heining daarom gesit en ’n parskuip daarin gegrawe en ’n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak.”
Die “diensknegte” is die profete wat die “huisheer”, Jehovah God, na “die landbouers” van sy “wingerd” gestuur het. Hierdie landbouers is die vooraanstaande verteenwoordigers van die nasie Israel, die nasie wat in die Bybel as God se “wingerd” geïdentifiseer word.
Aangesien “die landbouers” die “diensknegte” mishandel en doodmaak, verduidelik Jesus: “Oplaas het [die eienaar van die wingerd] sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.”
Nou spreek Jesus die godsdiensleiers aan en vra: “Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?”
“Die slegte mense”, antwoord die godsdiensleiers, “hy sal hulle ’n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat die vrugte op die regte tyd sal gee.”
Hulle spreek sodoende onwetend oordeel oor hulleself uit, want hulle tel onder die Israelitiese “landbouers” van Jehovah se “wingerd”, die nasie Israel. Die vrug wat Jehovah van sulke landbouers verwag, is geloof in sy Seun, die ware Messias. Omdat hulle nie sulke vrug gedra het nie, waarsku Jesus: “Het julle nooit in die Skrifte [in Psalm 118:22, 23] gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.”
Die skrifgeleerdes en owerpriesters besef nou dat Jesus van hulle praat, en hulle wil hom, die regmatige “erfgenaam”, doodmaak. Daarom sal die voorreg om heersers in God se Koninkryk te wees van hulle as nasie weggeneem word, en ’n nuwe nasie van ‘landbouers van die wingerd’ sal geskep word, ’n nasie wat die regte vrugte sal dra.
Omdat die godsdiensleiers bang is vir die skare, wat Jesus as ’n profeet beskou, probeer hulle hom nie op hierdie geleentheid doodmaak nie. Mattheüs 21:28-46; Markus 12:1-12; Lukas 20:9-19; Jesaja 5:1-7.
▪ Wie word deur die twee kinders in Jesus se eerste gelykenis afgebeeld?
▪ Wie word in die tweede gelykenis deur die “huisheer”, die “wingerd”, “die landbouers”, die “diensknegte” en “die erfgenaam” afgebeeld?
▪ Wat sal van die ‘landbouers van die wingerd’ word, en deur wie sal hulle vervang word?