Verlossing deur God se Koninkryk is op hande!
“Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—MATT. 6:10.
1. Wat was Jesus se hooflering?
TOE Jesus Christus sy Bergpredikasie gelewer het, het hy ’n modelgebed ingesluit wat sy hooflering opgesom het. Hy het sy volgelinge geleer om tot God te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matt. 6:9-13). Jesus het “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” (Luk. 8:1). Christus het sy volgelinge aangespoor: ‘Hou aan om eers die koninkryk en God se regverdigheid te soek’ (Matt. 6:33). Terwyl jy hierdie artikel bestudeer, kan jy gerus maniere soek om die inligting in jou bediening te gebruik. Dink byvoorbeeld hoe jy hierdie vrae sal beantwoord: Hoe belangrik is die Koninkryksboodskap? Waarvan moet die mensdom verlos word? En hoe sal God se Koninkryk verlossing voorsien?
2. Hoe belangrik is die Koninkryksboodskap?
2 Jesus het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Die goeie nuus oor God se Koninkryk is van die allergrootste belang. Ja, dit is die belangrikste boodskap in die wêreld! In meer as 100 000 gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die aarde neem sowat sewemiljoen knegte van God aan ’n ongeëwenaarde predikingswerk deel, en hulle vertel ander dat die Koninkryk reeds opgerig is. Die oprigting daarvan is goeie nuus omdat dit beteken dat God ’n regering in die hemel tot stand gebring het om volle beheer van die aarde se aangeleenthede oor te neem. Onder die Koninkryksheerskappy gaan Jehovah se wil op die aarde geskied net soos in die hemel.
3, 4. Wat sal die gevolg wees wanneer God se wil op die aarde geskied?
3 Wat sal met die mensdom gebeur wanneer God se wil op die aarde geskied? Jehovah sal “elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Op. 21:4). Mense sal nie siek word of sterf as gevolg van oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid nie. Die dooies in God se geheue sal die geleentheid hê om vir ewig te lewe, want die Bybel belowe dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Hand. 24:15). Daar sal nie meer oorlog, siekte of honger wees nie, en die aarde sal in ’n paradys omskep word. Selfs diere wat nou gevaarlik is, sal in vrede met mense en met mekaar lewe.—Ps. 46:9; 72:16; Jes. 11:6-9; 33:24; Luk. 23:43.
4 Met sulke wonderlike seëninge wat uit Koninkryksheerskappy voortspruit, is dit geen wonder nie dat ’n Bybelprofesie die lewe gedurende daardie tyd met hierdie bemoedigende woorde beskryf: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Maar wat van moeilikheidmakers? Die Skrif voorspel: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie.” Maar “dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit”.—Ps. 37:9-11.
5. Wat sal met die teenswoordige stelsel van dinge gebeur?
5 Voordat dit alles kan plaasvind, moet die teenswoordige stelsel van dinge met sy strydende regerings, godsdienste en kommersiële stelsels verwyder word. En dit is presies wat die hemelse regering sal doen. Die profeet Daniël is geïnspireer om te voorspel: “In die dae van dié konings [wat nou bestaan,] sal die God van die hemel ’n koninkryk [in die hemel] oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie [teenswoordige] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Dan. 2:44). God se Koninkryk—’n nuwe hemelse regering—sal dan oor ’n nuwe aardse gemeenskap heers. Daar sal “nuwe hemele en ’n nuwe aarde [wees], en daarin sal regverdigheid woon”.—2 Pet. 3:13.
Verlossing nou nodiger as ooit tevore
6. Hoe beskryf die Bybel die slegtheid van hierdie goddelose wêreld?
6 Toe Satan, Adam en Eva teen God in opstand gekom het en self wou besluit wat reg en wat verkeerd is, het hulle die mensdom op ’n rampspoedige weg geplaas. Voor die wêreldwye Vloed, meer as 1 600 jaar later, ‘was die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde en was elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg’ (Gen. 6:5). Sowat 1 300 jaar daarna het Salomo gevind dat toestande so sleg is dat hy geskryf het: “Ek het die dooies wat reeds gesterf het, gelukgewens eerder as die lewendes wat nog gelewe het. En die een wat nog nie in aansyn gekom het nie, wat nie die rampspoedige werk gesien het wat onder die son gedoen word nie, is dan beter daaraan toe as hulle albei” (Pred. 4:2, 3). Ongeveer 3 000 jaar later bring ons by ons dag, waarin slegtheid nog steeds floreer.
7. Waarom is verlossing deur God nou nodiger as ooit tevore?
7 Hoewel dit waar is dat slegtheid al lank bestaan, is verlossing deur God se Koninkryk nou nodiger as in enige ander tyd. Gedurende die afgelope 100 jaar was toestande erger as ooit tevore, en dit versleg nog steeds. Die Worldwatch-instituut berig byvoorbeeld: “Drie keer meer mense het gedurende [die 20ste] eeu in oorloë gesterf as in al die oorloë vanaf die eerste eeu n.C. tot 1899.” Sedert 1914 het meer as 100 miljoen mense hulle lewe in oorloë verloor! Een ensiklopedie skat dat daar tot 60 miljoen mense in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Noudat party nasies selfs kernwapens het, het die mens die vermoë om groot dele van die aarde se bevolking uit te wis. En ten spyte van vooruitgang op wetenskaplike en mediese gebied eis honger nog steeds elke jaar die lewe van sowat vyfmiljoen kinders.—Sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?
8. Wat het duisende jare van menseheerskappy sonder twyfel bewys?
8 Mensepogings kon nie die vloedgolf van slegtheid stuit nie. Hierdie wêreld se politieke, kommersiële en godsdiensinstellings het nog nooit die mens se basiese behoefte aan vrede, voorspoed en gesondheid vervul nie. Hierdie instellings het nie die groot probleme opgelos wat die mensdom nou teister nie; inteendeel, hulle het daartoe bygedra. Duisende jare van menseheerskappy het beslis die woorde waar bewys dat “aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jer. 10:23). Ja, ‘die mens het oor die mens geheers tot sy nadeel’ (Pred. 8:9). Die feit is dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly”.—Rom. 8:22.
9. Watter toestande verwag ware Christene om gedurende hierdie “laaste dae” te sien?
9 Aangaande ons tyd het die Bybel voorspel: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom.” Nadat die profesie toestande gedurende die laaste dae onder menseheerskappy beskryf het, sê dit: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger.” (Lees 2 Timoteus 3:1-5, 13.) Dit is wat Christene verwag, want “die hele wêreld lê in die mag van die bose”, Satan (1 Joh. 5:19). Maar die goeie nuus is dat God diegene wat hom liefhet, binnekort sal verlos. Hulle sal verlos word van hierdie wêreld, wat vinnig al hoe slegter word.
Die enigste betroubare Bron van verlossing
10. Waarom is Jehovah die enigste betroubare Bron van verlossing?
10 Wanneer jy die goeie nuus verkondig, moet jy daarop wys dat Jehovah die enigste betroubare Bron van verlossing is. Hy alleen het die mag en die begeerte om sy knegte uit enige slegte situasie te verlos (Hand. 4:24, 31; Op. 4:11). Ons kan seker wees dat Jehovah altyd sy volk sal verlos en sy voornemens sal vervul, want hy het gesweer: “Net soos ek gedink het, so moet dit gebeur.” Sy woord “sal nie sonder resultate na [hom] toe terugkeer nie”.—Lees Jesaja 14:24, 25; 55:10, 11.
11, 12. Watter versekering gee God sy knegte?
11 Jehovah het die versekering gegee dat hy sy knegte sal verlos wanneer hy oordeel aan die goddeloses voltrek. Toe hy die profeet Jeremia gestuur het om moedig tot ernstige sondaars te spreek, het God gesê: “Moenie bang wees [nie].” Waarom nie? “Ek is met jou om jou te verlos” (Jer. 1:8). Ook het Jehovah, net voordat hy die goddelose Sodom en Gomorra sou vernietig, twee engele gestuur om Lot en sy gesin veilig uit die gebied uit te lei. “Toe het Jehovah swael en vuur . . . op Sodom en op Gomorra laat reën.”—Gen. 19:15, 24, 25.
12 Jehovah kan dié wat sy wil doen, selfs op ’n wêreldwye skaal verlos. Toe hy die eertydse goddelose wêreld in die Vloed vernietig het, het hy “Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar” (2 Pet. 2:5). Jehovah sal weer die regskapenes verlos wanneer hy die teenswoordige goddelose wêreld vernietig. Daarom sê sy Woord: “Soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde . . . Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word in die dag van Jehovah se toorn” (Sef. 2:3). As gevolg van daardie wêreldwye vernietiging ‘sal die regskapenes op die aarde woon, maar die goddeloses sal van die aarde af uitgeroei word’.—Spr. 2:21, 22.
13. Hoe sal Jehovah se knegte wat reeds gesterf het, verlos word?
13 Maar baie van God se knegte het reeds gesterf weens siekte, vervolging en ander faktore (Matt. 24:9). Hoe sal húlle almal dan verlos word? Soos vroeër gemeld is, sal “daar ’n opstanding van die regverdiges . . . wees” (Hand. 24:15). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat niks kan keer dat Jehovah sy knegte verlos nie!
’n Regverdige regering
14. Waarom het ons die vertroue dat God se Koninkryk ’n regverdige regering is?
14 In jou bediening kan jy verduidelik dat Jehovah se hemelse Koninkryk ’n regverdige regering is. Dit is die geval omdat dit God se wonderlike eienskappe, soos geregtigheid, regverdigheid en liefde, weerspieël (Deut. 32:4; 1 Joh. 4:8). God het die Koninkryk in die hande van Jesus Christus geplaas, die bevoegste persoon om oor die aarde te heers. Jehovah se voorneme sluit ook in dat 144 000 gesalfde Christene van die aarde geneem en tot hemelse lewe opgewek word as mede-erfgename van Christus om saam met hom die aarde se aangeleenthede te bestuur.—Op. 14:1-5.
15. Vergelyk die heerskappy van God se Koninkryk met menseheerskappy.
15 Wat ’n groot verskil sal daar tog wees tussen die heerskappy van Jesus en die 144 000 en dié van onvolmaakte mense! Die heersers van hierdie stelsel van dinge is dikwels wreed en lei hulle onderdane na oorloë wat die slagting van miljoene tot gevolg het. Geen wonder dat die Skrif ons aanraai om nie ons vertroue in mense te stel, “aan wie geen redding behoort nie”! (Ps. 146:3). Maar wat ’n wonderlike gees sal Christus se heerskappy tog kenmerk! “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is”, het Jesus gesê, “en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matt. 11:28-30.
Die laaste dae sal binnekort eindig!
16. Hoe sal hierdie laaste dae eindig?
16 Hierdie wêreld is al sedert die jaar 1914 in die laaste dae, of “die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 24:3). Binnekort sal die “groot verdrukking”, soos Jesus dit genoem het, plaasvind. (Lees Matteus 24:21.) Hierdie ongeëwenaarde verdrukking sal Satan se hele wêreld tot ’n einde bring. Maar hoe begin die groot verdrukking? En hoe eindig dit?
17. Wat toon die Bybel omtrent die begin van die groot verdrukking?
17 Die groot verdrukking sal skielik begin. Ja, “Jehovah se dag” sal onverwags kom, “wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’” (Lees 1 Tessalonisense 5:2, 3.) Die voorspelde verdrukking sal begin wanneer die nasies dink dat hulle op die punt staan om party van hulle groot probleme op te los. Die skielike vernietiging van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, sal die wêreld onverwags oorval. Konings en ander sal verstom wees wanneer oordeel aan Babilon die Grote voltrek word.—Op. 17:1-6, 18; 18:9, 10, 15, 16, 19.
18. Hoe sal Jehovah reageer op Satan se aanval op Sy volk?
18 Op ’n kritieke tydstip sal daar “tekens in son en maan en sterre” wees en sal “die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn”. Ons kan dan ‘regop staan, want ons verlossing kom nader’ (Luk. 21:25-28; Matt. 24:29, 30). Satan, of Gog, sal sy magte teen God se volk rig. Maar Jehovah sê aangaande dié wat sy getroue knegte aanval: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sag. 2:8). Satan se poging om hulle te vernietig, sal dus nie slaag nie. Waarom nie? Omdat die Soewereine Heer Jehovah vinnig sal optree om sy knegte te verlos.—Eseg. 38:9, 18.
19. Waarom kan ons seker wees dat God se teregstellingsmagte Satan se stelsel sal vernietig?
19 Wanneer God teen die nasies optree, ‘sal hulle weet dat hy Jehovah is’ (Eseg. 36:23). Hy sal sy teregstellingsmagte—tienduisende geesskepsele onder leiding van Christus Jesus—stuur om die res van Satan se stelsel op aarde te vernietig (Op. 19:11-19). Wanneer ons daaraan dink dat ’n enkele engel in net een nag “honderd-vyf-en-tagtigduisend” van God se vyande doodgemaak het, kan ons verseker wees dat die hemelse leër maklik elke spoor van Satan se stelsel op aarde sal uitwis wanneer die groot verdrukking op Armageddon uitloop (2 Kon. 19:35; Op. 16:14, 16). Satan en sy demone sal vir ’n duisend jaar in die afgrond gewerp word. Hulle sal uiteindelik vernietig word.—Op. 20:1-3.
20. Wat sal Jehovah deur middel van die Koninkryk doen?
20 Die aarde sal dus van goddeloosheid gereinig wees, en regverdige mense sal vir ewig op die aarde woon. Jehovah sal bewys het dat hy die Groot Verlosser is (Ps. 145:20). Deur middel van die Koninkryk sal hy sy soewereiniteit regverdig, sy groot naam heilig en sy grootse voorneme vir die aarde vervul. Mag jy groot vreugde uit jou bediening put terwyl jy hierdie goeie nuus verkondig en dié met “die regte gesindheid vir die ewige lewe” help om te besef dat verlossing deur God se Koninkryk op hande is!—Hand. 13:48.
Onthou jy?
• Hoe het Jesus die belangrikheid van die Koninkryk beklemtoon?
• Waarom is verlossing nou nodiger as ooit tevore?
• Watter gebeure kan ons gedurende die groot verdrukking verwag?
• Hoe bewys Jehovah dat hy die Groot Verlosser is?
[Prente op bladsy 12, 13]
God se Woord het ’n ongeëwenaarde predikingswerk vir ons tyd voorspel
[Prent op bladsy 15]
Net soos Jehovah Noag en sy gesin verlos het, kan Hy ons verlos
[Prent op bladsy 16]
Jehovah “sal elke traan . . . afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie”. —Op. 21:4