Hoofstuk 111
Die teken van die laaste dae
DIT is nou al Dinsdagmiddag. Terwyl Jesus op die Olyfberg sit en op die tempel afkyk, kom Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes alleen na hom. Hulle is bekommerd oor die tempel, want Jesus het so pas voorspel dat nie een klip daarvan op die ander gelaat sal word nie.
Maar hulle het blykbaar meer as dit op die hart wanneer hulle na Jesus kom. ’n Paar weke tevore het hy van sy “teenwoordigheid” (NW) gepraat, ’n tyd “wanneer die Seun van die mens geopenbaar word”. En by ’n vorige geleentheid het hy hulle vertel van “die voleinding van die wêreld”. Die apostels is dus baie nuuskierig.
“Vertel ons”, sê hulle, “wanneer sal hierdie dinge wees [wat op die vernietiging van Jerusalem en sy tempel sal uitloop], en wat is die teken van u koms [“teenwoordigheid”, NW] en van die voleinding van die wêreld?” Hulle vra in werklikheid ’n drieledige vraag. Hulle wil ten eerste weet van die einde van Jerusalem en sy tempel, dan van Jesus se teenwoordigheid in Koninkryksmag en ten laaste van die einde van die wêreld, oftewel die hele stelsel van dinge.
In sy lang antwoord beantwoord Jesus al drie dele van die vraag. Hy gee ’n teken wat toon wanneer die Joodse stelsel van dinge tot ’n einde sal kom; maar hy gee meer. Hy gee ook ’n teken wat sy toekomstige dissipels sal waarsku sodat hulle kan weet dat hulle gedurende sy teenwoordigheid en naby aan die einde van die hele stelsel van dinge leef.
Mettertyd sien die apostels die vervulling van Jesus se profesie. Ja, die einste dinge wat hy voorspel het, begin in hulle dag gebeur. Daarom word die Christene wat 37 jaar later, in 70 G.J., leef nie onverhoeds betrap deur die vernietiging van die Joodse stelsel met sy tempel nie.
Maar Christus se teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge vind nie in 70 G.J. plaas nie. Sy teenwoordigheid in Koninkryksmag vind eers veel later plaas. Maar wanneer? Ons kry die antwoord hierop as ons Jesus se profesie ondersoek.
Jesus voorspel dat daar “oorloë en gerugte van oorloë” sal wees. “Die een nasie sal teen die ander opstaan”, sê hy, en daar sal hongersnode, aardbewings en pessiektes wees. Sy dissipels sal gehaat en doodgemaak word. Valse profete sal opstaan en baie mense mislei. Die ongeregtigheid sal vermeerder en die liefde van die meeste sal verkoel. Terselfdertyd sal die goeie nuus van God se Koninkryk tot ’n getuienis vir al die nasies verkondig word.
Al het Jesus se profesie ’n beperkte vervulling voor die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J., vind die groter vervulling daarvan gedurende sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge plaas. ’n Noukeurige oorsig van wêreldgebeure sedert 1914 toon dat die groter vervulling van Jesus se belangrike profesie sedert daardie jaar plaasvind.
Nog ’n deel van die teken wat Jesus gegee het, is die verskyning van “die gruwel van die verwoesting”. In 66 G.J. verskyn hierdie gruwel in die vorm van die “leërs” van Rome wat Jerusalem omsingel en die tempelmuur ondergrawe. “Die gruwel” staan waar dit nie behoort te staan nie.
In die groter vervulling van die teken is die gruwel die Volkebond en sy opvolger, die Verenigde Nasies. Hierdie organisasie vir wêreldvrede word deur die Christendom as ’n plaasvervanger vir God se Koninkryk beskou. Hoe gruwelik tog! Gevolglik sal die politieke magte wat met die VN geassosieer word mettertyd teen die Christendom (antitipiese Jerusalem) draai en dit vernietig.
Daarom voorspel Jesus: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.” Hoewel die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. inderdaad ’n groot verdrukking is en meer as ’n miljoen volgens berig gedood word, is dit nie ’n groter verdrukking as die wêreldvloed van Noag se dag nie. Die groter vervulling van hierdie deel van Jesus se profesie moet dus nog plaasvind.
Vertroue gedurende die laaste dae
Terwyl Dinsdag, 11 Nisan, ten einde loop, gaan Jesus voort met sy gesprek met sy apostels oor die teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag en van die einde van die stelsel van dinge. Hy waarsku hulle om nie agter valse Christusse aan te gaan nie. Hy sê dat daar pogings sal wees “om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei”. Maar hierdie uitverkorenes sal soos versiende arende saamkom waar die ware geestelike voedsel gevind kan word, naamlik by die ware Christus tydens sy onsigbare teenwoordigheid. Hulle sal nie mislei word en om ’n valse Christus vergader nie.—Sien NW.
Valse Christusse kan net ’n sigbare verskyning maak. Jesus se teenwoordigheid sal daarenteen onsigbaar wees. Dit sal plaasvind gedurende ’n skrikwekkende tyd in die mensegeskiedenis, soos Jesus sê: “Die son [sal] verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie.” Ja, dit sal die donkerste tydperk in die bestaan van die mensdom wees. Dit sal wees asof die son gedurende die dag verduister is en asof die maan nie gedurende die nag sy glans gee nie.
“Die kragte van die hemele sal geskud word”, sê Jesus voorts. Sodoende dui hy aan dat die fisiese hemele ’n onheilspellende voorkoms sal aanneem. Die hemele sal nie bloot die gebied van voëls wees nie, maar sal gevul wees met krygsvliegtuie, vuurpyle en ruimtetuie. Die vrees en geweld sal erger wees as enigiets wat ooit in die mensegeskiedenis ervaar is.
Jesus sê dat daar gevolglik “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid [sal wees], wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”. Hierdie donkerste tydperk van die mens se bestaan sal gewis tot die tyd lei wanneer, soos Jesus sê, “die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf”.
Maar nie almal sal rou bedryf wanneer ‘die Seun van die mens met groot krag kom’ om hierdie goddelose stelsel van dinge te vernietig nie. Die “uitverkorenes”, die 144 000 wat saam met Christus in sy hemelse Koninkryk gaan regeer, en hulle metgeselle, diegene wat Jesus vroeër sy “ander skape” genoem het, sal nie rou bedryf nie. Ondanks die feit dat hulle in die donkerste tydperk in die mensegeskiedenis lewe, gee hulle ag op Jesus se aanmoediging: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”
Om sy dissipels wat gedurende die laaste dae lewe te help om vas te stel hoe naby die einde is, gebruik Jesus hierdie illustrasie: “Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.”
Wanneer sy dissipels dus sien hoe al die verskillende fasette van die teken in vervulling gaan, moet hulle besef dat die einde van die stelsel van dinge naby is en dat God se Koninkryk binnekort alle goddeloosheid gaan uitwis. Trouens, die einde sal kom gedurende die lewe van die mense wat die vervulling sien van al die dinge wat Jesus voorspel! Jesus waarsku daardie dissipels wat gedurende die betekenisvolle laaste dae sal lewe, en sê:
“Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Die verstandige en die dwase maagde
Jesus het sy apostels ’n antwoord gegee op hulle vraag oor ’n teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag. Nou meld hy verdere aspekte van die teken in drie gelykenisse, of illustrasies.
Diegene wat gedurende sy teenwoordigheid lewe, sal die vervulling van elke gelykenis sien. Hy lei die eerste in met die woorde: “Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.”
Met die uitdrukking ‘die koninkryk van die hemele sal soos tien maagde wees’, bedoel Jesus nie dat die helfte van diegene wat die hemelse Koninkryk beërwe dwaas is en dat die helfte verstandig is nie! Nee, maar hy bedoel dat daar ’n aspek in verband met die Koninkryk van die hemele is wat soos die een of die ander sal wees, of dat aangeleenthede in verband met die Koninkryk soos hierdie of daardie ding sal wees.
Die tien maagde simboliseer alle Christene wat die verwagting het om die hemelse Koninkryk te beërwe, of wat sê dat hulle daardie verwagting het. Met Pinkster 33 G.J. is die Christengemeente as bruid vir die verrese, verheerlikte Bruidegom, Jesus Christus, belowe. Maar die huwelik sou op die een of ander onbekende, toekomstige tyd in die hemel plaasvind.
In die gelykenis gaan die tien maagde uit om die bruidegom te verwelkom en om hulle by die bruilofsoptog aan te sluit. Wanneer hy kom, sal hulle die roete van die optog met hulle lampe verlig en hom sodoende vereer wanneer hy sy bruid na die huis bring wat vir haar voorberei is. Maar Jesus verduidelik: “Toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.”
Die lang oponthoud van die bruidegom dui aan dat Christus se teenwoordigheid as heersende Koning in die verre toekoms sou wees. Hy bestyg uiteindelik in 1914 die troon. Gedurende die lang nag wat dit voorafgaan, raak al die maagde aan die slaap. Hulle word egter nie hiervoor veroordeel nie. Die dwase maagde word veroordeel omdat hulle nie olie vir hulle kanne het nie. Jesus verduidelik hoe die maagde wakker word voor die bruidegom opdaag: “Middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.”
Die olie simboliseer dit wat ware Christene soos ligte laat skyn. Dit is die geïnspireerde Woord van God waaraan Christene stewig vashou, sowel as die heilige gees wat hulle help om daardie Woord te verstaan. Die geestelike olie stel die verstandige maagde in staat om hulle lig te laat skyn om die bruidegom gedurende die optog na die bruilofsfees te verwelkom. Maar die ‘dwase maagde’-klas het nie die nodige geestelike olie in hulleself, in hulle kanne, nie. Jesus beskryf dus wat gebeur:
“Onderwyl [die dwase maagde] gaan om [olie] te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.”
Nadat Christus in sy hemelse Koninkryk aankom, word die ‘verstandige maagde’-klas van ware gesalfde Christene wakker vir hulle voorreg om lig tot lof van die teruggekeerde Bruidegom in hierdie donker wêreld te laat skyn. Maar diegene wat deur die dwase maagde afgebeeld word, is nie gereed om die Bruidegom só met lof te verwelkom nie. Wanneer die tyd dus aanbreek, maak Christus nie die deur tot die bruilofsfees in die hemel vir hulle oop nie. Hy laat hulle buite in die duisternis van die wêreld se donkerste nag om saam met alle ander werkers van wetteloosheid om te kom. “Waak dan”, sê Jesus ten slotte, “omdat julle die dag en die uur nie weet . . . nie.”
Die gelykenis van die talente
Jesus sit die bespreking met sy apostels op die Olyfberg voort deur hulle nog ’n gelykenis te vertel, die tweede in ’n reeks van drie. ’n Paar dae tevore, toe hy in Jerigo was, het hy die gelykenis van die ponde vertel om te toon dat die Koninkryk nog ver in die toekoms was. Hoewel die gelykenis wat hy nou vertel in sekere opsigte daarmee ooreenstem, beskryf dit in sy vervulling bedrywighede gedurende Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag. Dit lig toe dat sy dissipels moet werk om “sy besittings” te vermeerder terwyl hulle op aarde is.
Jesus begin: “Want dit [dit wil sê, omstandighede wat met die Koninkryk verband hou] is soos ’n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou.” Jesus is die man wat, voor hy hemel toe reis, sy besittings aan sy diensknegte—dissipels wat die verwagting het om die hemelse Koninkryk te beërwe—toevertrou. Hierdie besittings is nie iets fisies nie, maar hulle verteenwoordig ’n bewerkte akker waarin hy ’n potensiaal opgebou het om meer dissipels voort te bring.
Jesus vertrou sy besittings kort voordat hy na die hemel opvaar aan sy diensknegte toe. Hoe doen hy dit? Deur aan hulle die opdrag te gee om in die bewerkte akker te bly werk deur die Koninkryksboodskap tot aan die uiterste van die aarde te verkondig. Soos Jesus sê: “Aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.”
Die agt talente—Christus se besittings—word dus volgens die vermoë, of geestelike potensiaal, van die diensknegte verdeel. Die diensknegte verteenwoordig klasse dissipels. In die eerste eeu het die klas wat die vyf talente ontvang het klaarblyklik die apostels ingesluit. Jesus vertel verder dat die diensknegte wat die vyf en die twee talente ontvang het die talente verdubbel het deur die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak. Maar die dienskneg wat een talent gekry het, het dit in die grond weggesteek.
“Ná ’n lang tyd”, vervolg Jesus, “het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken.” Christus het eers in die 20ste eeu, sowat 1 900 jaar later, teruggekeer om met hulle af te reken; dus was dit beslis “ná ’n lang tyd”. Jesus verduidelik voorts:
“Die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” Die dienskneg wat twee talente ontvang het, het ook sy talente verdubbel, en hy het dieselfde lof en beloning ontvang.
Maar hoe gaan hierdie getroue diensknegte in die vreugde van hulle Heer in? Wel, die vreugde van hulle Heer, Jesus Christus, is dat hy die Koninkryk ontvang het toe hy na sy Vader in die hemel gereis het. Wat die getroue diensknegte in hedendaagse tye betref, hulle ondervind groot vreugde omdat verdere Koninkryksverantwoordelikhede aan hulle toevertrou word, en hulle vreugde sal ’n hoogtepunt bereik wanneer hulle, nadat hulle hul aardse loopbaan voltooi het, in die hemelse Koninkryk opgewek word. Maar wat van die derde dienskneg?
“Meneer, ek het u geken, dat u ’n harde man is”, kla hierdie dienskneg. “Omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.” Die dienskneg het opsetlik geweier om in die bewerkte akker te werk deur te preek en dissipels te maak. Daarom noem die heer hom ‘sleg en lui’ en spreek hy die oordeel uit: “Neem dan die talent van hom weg . . . En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.” Die lede van hierdie ‘slegte dienskneg’-klas word alle geestelike vreugde ontneem omdat hulle uitgewerp word.
Dit is ’n ernstige les vir almal wat sê dat hulle Christus volg. As hulle wil hê dat hulle hemelse Heer hulle moet prys en beloon en as hulle nie in die buitenste duisternis uitgewerp en uiteindelik vernietig wil word nie, moet hulle werk om sy besittings te vermeerder deur ’n volle aandeel in die predikingswerk te hê. Is jy ywerig in hierdie opsig?
Wanneer Christus in Koninkryksmag kom
Jesus is nog saam met sy apostels op die Olyfberg. In antwoord op hulle versoek om hulle ’n teken van sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge te gee, vertel hy hulle nou die laaste in ’n reeks van drie gelykenisse. “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom”, begin Jesus, “dan sal Hy op sy heerlike troon sit.”
Mense kan nie engele in hulle hemelse heerlikheid sien nie. Daarom sal die koms van die Seun van die mens, Jesus Christus, saam met die engele onsigbaar vir mense-oë wees. Die koms vind in die jaar 1914 plaas. Maar met watter doel? Jesus verduidelik: “Voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.”
Jesus beskryf wat met diegene aan die begunstigde kant gaan gebeur en sê: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” Die skape van hierdie gelykenis sal nie saam met Christus in die hemel regeer nie, maar sal die Koninkryk beërwe in die sin dat hulle die aardse onderdane daarvan sal wees. “Die grondlegging van die wêreld” het plaasgevind toe Adam en Eva kinders begin voortbring het wat voordeel kon trek uit God se voorsiening om die mensdom vry te koop.
Maar waarom word die skape aan die Koning se regterhand van guns geplaas? “Want Ek het honger gehad”, antwoord die Koning, “en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.”
Aangesien die skape op aarde is, wil hulle weet hoe hulle sulke goeie dade aan hulle hemelse Koning kon gedoen het. “Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed”, vra hulle, “of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?”
“Voorwaar Ek sê vir julle”, antwoord die Koning, “vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Christus se broeders is dié van die 144 000, die groep wat saam met hom in die hemel sal regeer, wat nog op aarde is. En Jesus sê om goed te doen aan hulle is dieselfde as om goed te doen aan hom.
Vervolgens praat die Koning met die bokke. “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ’n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.”
Maar die bokke kla: “Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ’n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?” Die bokke ontvang ’n ongunstige oordeel op dieselfde grondslag as wat die skape ’n gunstige oordeel ontvang. “Vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes [van My broeders] nie”, antwoord Jesus, “het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”
Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag, net voor hierdie goddelose stelsel van dinge in die groot verdrukking eindig, sal dus ’n tyd van oordeel wees. Die bokke “sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges [die skape] in die ewige lewe”. Mattheüs 24:2–25:46; 13:40, 49; Markus 13:3-37; Lukas 21:7-36; 19:43, 44; 17:20-30; 2 Timotheüs 3:1-5; Johannes 10:16; Openbaring 14:1-3.
▪ Wat gee aanleiding tot die apostels se vraag, maar wat anders het hulle blykbaar op die hart?
▪ Watter deel van Jesus se profesie word in 70 G.J. vervul, maar wat gebeur nie op daardie tyd nie?
▪ Wanneer het Jesus se profesie ’n eerste vervulling, maar wanneer het dit ’n groter vervulling?
▪ Wat is die gruwel in die eerste en in die finale vervulling?
▪ Waarom is die vernietiging van Jerusalem nie die finale vervulling van die groot verdrukking nie?
▪ Deur watter wêreldtoestande word Christus se teenwoordigheid gekenmerk?
▪ Wanneer sal “al die stamme van die aarde rou bedryf”, maar wat sal Christus se volgelinge doen?
▪ Watter illustrasie gebruik Jesus om sy toekomstige dissipels te help onderskei wanneer die einde naby is?
▪ Watter waarskuwing gee Jesus sy dissipels wat gedurende die laaste dae sal lewe?
▪ Wie word deur die tien maagde afgebeeld?
▪ Wanneer is die Christengemeente aan die bruidegom belowe, maar wanneer kom die bruidegom om sy bruid na die bruilofsfees te neem?
▪ Wat word deur die olie voorgestel, en wat kan die verstandige maagde doen omdat hulle dit het?
▪ Waar vind die bruilofsfees plaas?
▪ Watter wonderlike beloning word die dwase maagde ontsê, en wat is hulle uiteinde?
▪ Watter les leer ons uit die gelykenis van die talente?
▪ Wie is die diensknegte, en wat is die besittings wat aan hulle toevertrou word?
▪ Wanneer kom die heer om rekenskap te eis, en wat vind hy?
▪ Wat is die vreugde waarin die getroue diensknegte ingaan, en wat gebeur met die derde dienskneg, die slegte?
▪ Waarom sal Christus se teenwoordigheid onsigbaar wees, en watter werk doen hy in daardie tyd?
▪ In watter sin beërwe die skape die Koninkryk?
▪ Wanneer het “die grondlegging van die wêreld” plaasgevind?
▪ Op grond waarvan word mense as skape of as bokke geoordeel?