Behou ’n gebalanseerde beskouing van die gebruik van alkohol
“Wyn is ’n spotter, sterk drank is luidrugtig, en elkeen wat daardeur afdwaal, is nie wys nie.”—SPREUKE 20:1.
1. Hoe het die psalmis sy waardering uitgespreek vir party van die goeie gawes wat van Jehovah kom?
“ELKE goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte”, het die dissipel Jakobus geskryf (Jakobus 1:17). Dankbaarheid vir God se talle goeie gawes het die psalmis beweeg om te sing: “Hy laat groen gras uitspruit vir die diere, en plante tot nut van die mens, om voedsel uit die aarde te laat voortkom, en wyn wat die hart van die sterflike mens vrolik maak, om die gesig te laat blink van olie, en brood wat die hart van die sterflike mens versterk” (Psalm 104:14, 15). Wyn en ander alkoholiese drank is, soos plante, brood en olie, goeie voorsienings van God. Hoe moet ons dit gebruik?
2. Watter vrae gaan ons oor die gebruik van alkohol bespreek?
2 ’n Gawe wat genot verskaf, is net goed wanneer dit reg gebruik word. Byvoorbeeld, heuning “is goed”, maar “dit is nie goed om te veel heuning te eet nie” (Spreuke 24:13; 25:27). Hoewel dit aangenaam kan wees om “’n bietjie wyn” te drink, is die misbruik van alkohol ’n ernstige probleem (1 Timoteus 5:23). “Wyn is ’n spotter”, waarsku die Bybel, “sterk drank is luidrugtig, en elkeen wat daardeur afdwaal, is nie wys nie” (Spreuke 20:1). Maar wat beteken dit om deur alkohol af te dwaal?a Hoeveel is te veel? Wat is ’n gebalanseerde beskouing in hierdie opsig?
Om deur alkohol ‘af te dwaal’—Hoe?
3, 4. (a) Wat toon dat die Skrif dit veroordeel as iemand hom dronk drink? (b) Wat is party van die simptome van dronkenskap?
3 In eertydse Israel moes ’n seun wat ’n onberouvolle vraat en ’n dronkaard was, gestenig word (Deuteronomium 21:18-21). Die apostel Paulus het Christene vermaan om “op te hou om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en om nie eens saam met so iemand te eet nie”. Dit is duidelik dat die Skrif dit veroordeel as iemand hom dronk drink.—1 Korintiërs 5:11; 6:9, 10.
4 Die Bybel beskryf die simptome van dronkenskap en sê: “Moenie na wyn kyk wanneer dit ’n rooi kleur het, wanneer dit in die beker vonkel, wanneer dit glad afgly nie. Op die ou end byt dit soos ’n slang, en dit skei gif af soos ’n adder. Jou oë sal vreemde dinge sien, en jou hart sal verdorwe dinge spreek” (Spreuke 23:31-33). Oormatige drinkery byt soos ’n giftige slang en veroorsaak olikheid, verwardheid, selfs bewusteloosheid. ’n Dronkaard sien dalk “vreemde dinge” omdat hy hallusineer of fantaseer. Hy spreek moontlik ook makliker verdorwe gedagtes en begeertes uit wat gewoonlik onderdruk word.
5. Hoe is die oormatige gebruik van alkohol skadelik?
5 Sê nou iemand gebruik alkohol maar sorg dat hy nie soveel drink dat hy sigbaar dronk is nie? Party mense toon min tekens van dronkenskap selfs nadat hulle ’n aantal drankies gedrink het. Maar as iemand dink dat so ’n gebruik onskadelik is, mislei hy homself (Jeremia 17:9). ’n Persoon kan stadigaan, progressief, afhanklik raak van alkohol en “aan baie wyn verslaaf” raak (Titus 2:3). Die skryfster Caroline Knapp sê oor die proses wat tot alkoholisme lei: “Dit is ’n stadige, geleidelike, verraderlike, bedrieglike proses.” Wat ’n dodelike strik is die oormatige gebruik van alkohol tog!
6. Waarom moet ’n mens die oormatige gebruik van alkohol sowel as voedsel vermy?
6 Dink ook aan Jesus se waarskuwing: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon” (Lukas 21:34, 35). ’n Persoon hoef hom nie dronk te drink voordat die drinkery hom lomerig en lui maak nie—fisies sowel as geestelik. Sê nou Jehovah se dag oorval hom in so ’n toestand?
Waartoe alkoholmisbruik kan lei
7. Waarom is alkoholmisbruik onverenigbaar met die opdrag in 2 Korintiërs 7:1?
7 Die oormatige gebruik van alkohol stel ’n mens aan baie gevare bloot—fisies sowel as geestelik. Van die siektes wat deur alkoholmisbruik veroorsaak word, is lewersirrose, alkoholiese hepatitis en neurale versteurings soos delirium tremens, oftewel dronkmanswaansin. Langdurige alkoholmisbruik kan ook tot kanker, suikersiekte en party hart- en maagkwale lei. Dit is duidelik dat alkoholmisbruik onverenigbaar is met die skriftuurlike opdrag: “Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring.”—2 Korintiërs 7:1.
8. Waartoe kan alkoholmisbruik volgens Spreuke 23:20, 21 lei?
8 Alkoholmisbruik kan ook tot die verkwisting van inkomste en selfs afdanking lei. Koning Salomo van eertydse Israel het gewaarsku: “Moenie onder die wynsuipers wees, onder die vraatsugtige vleiseters nie.” Waarom nie? Hy het verduidelik: “Want ’n dronkaard en ’n vraat sal in armoede verval, en lomerigheid sal ’n mens vodde laat dra.”—Spreuke 23:20, 21.
9. Waarom is dit verstandig van ’n persoon om nie alkohol te drink as hy ’n voertuig gaan bestuur nie?
9 The Encyclopedia of Alcoholism wys op nog ’n gevaar en sê: “Volgens studies veroorsaak alkohol ’n afname in bestuursvaardighede, onder meer in reaksietyd, koördinasie, konsentrasie, visuele bewustheid en oordeelsvermoë.” Om onder die invloed van alkohol te bestuur, het rampspoedige gevolge. In die Verenigde State alleen is daar elke jaar tienduisende wat sterf en honderdduisende wat beseer word in alkoholverwante verkeersongelukke. Veral jongmense is blootgestel aan hierdie gevaar omdat hulle minder ervare is wanneer dit by bestuur sowel as alkoholgebruik kom. Kan enigiemand bestuur nadat hy ’n hele paar drankies gedrink het en terselfdertyd sê dat hy die lewe as ’n gawe van Jehovah God respekteer? (Psalm 36:9). Met die oog op die heiligheid van die lewe is dit die beste dat ’n persoon glad nie alkohol drink wanneer hy of sy gaan bestuur nie.
10. Watter uitwerking kan alkohol op ons verstand hê, en waarom is dit gevaarlik?
10 Oormatige drinkery benadeel mense nie net fisies nie, maar ook geestelik. “Wyn en soet wyn neem die goeie beweegrede weg”, sê die Bybel (Hosea 4:11). Alkohol het ’n uitwerking op die verstand. “Wanneer iemand ’n drankie drink”, verduidelik ’n publikasie deur die Amerikaanse Nasionale Instituut insake Dwelmmisbruik, “word die alkohol deur middel van die spysverteringstelsel in die bloedstroom opgeneem en bereik dit gou die brein. Dit begin die dele van die brein vertraag wat denke en emosies beheer. Die persoon het minder inhibisies, hy voel vryer.” In so ’n toestand is die moontlikheid groter dat ons sal “afdwaal”, ons vryhede sal veroorloof en aan baie versoekings blootgestel sal word.—Spreuke 20:1.
11, 12. Watter geestelike skade kan die oormatige gebruik van alkohol tot gevolg hê?
11 Daarbenewens beveel die Bybel: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God” (1 Korintiërs 10:31). Bring dit ooit heerlikheid aan God as iemand groot hoeveelhede alkohol drink? ’n Christen wil beslis nie ’n reputasie as ’n strawwe drinker hê nie. So ’n reputasie sal Jehovah se naam smaad aandoen, nie verheerlik nie.
12 Sê nou een Christen se oormatige drinkery laat ’n medegelowige, miskien ’n nuwe dissipel, struikel? (Romeine 14:21). “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat geloof in my stel, laat struikel”, het Jesus gewaarsku, “dit is vir hom voordeliger dat ’n meulsteen, soos wat deur ’n esel gedraai word, om sy nek gehang en hy in die wye, oop see gesink word” (Matteus 18:6). Oormatige drinkery kan ook veroorsaak dat ’n persoon voorregte in die gemeente verloor (1 Timoteus 3:1-3, 8). Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die konflik wat alkoholmisbruik in die gesin kan veroorsaak.
Vermy die gevare—Hoe?
13. Wat is noodsaaklik as ’n mens alkoholmisbruik wil vermy?
13 ’n Sleutelfaktor om die gevare van alkoholmisbruik te vermy, is om te weet waar om die lyn te trek, nie tussen onmatigheid en dronkenskap nie, maar tussen matigheid en onmatigheid. Wie kan bepaal waar hierdie lyn vir jou is? Aangesien daar baie faktore by betrokke is, kan daar nie ’n streng reël wees oor hoeveel drankies te veel is nie. Elkeen moet self weet wat sy perke is en binne daardie perke bly. Wat sal jou help om te besluit hoeveel vir jou te veel is? Is daar ’n beginsel wat as ’n riglyn kan dien?
14. Watter riglyn sal jou help om die lyn te trek tussen matigheid en onmatigheid?
14 Die Bybel sê: “Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë, en dit sal lewe vir jou siel wees en bekoorlikheid vir jou hals” (Spreuke 3:21, 22). Die riglyn om te volg, is dus: Enige hoeveelheid alkohol wat jou oordeel uitermate belemmer en jou denkvermoë aantas, is vir jóú te veel. Maar jy moet eerlik wees teenoor jouself en erken wat daardie perke in jou geval is!
15. Wanneer kan selfs net een drankie een te veel wees?
15 In party situasies kan selfs net een drankie een te veel wees. As gevolg van die gevaar vir die fetus besluit ’n swanger vrou dalk om glad nie te drink nie. En sal dit nie liefdevol wees om nie te drink in die teenwoordigheid van iemand wat ’n probleem met alkoholisme het of wie se gewete drinkery afkeur nie? Jehovah het diegene wat priesterlike pligte by die tabernakel verrig het, beveel: “Moenie wyn of sterk drank drink . . . wanneer julle in die tent van samekoms ingaan, sodat julle nie sterf nie” (Levitikus 10:8, 9). Moet dus nie alkohol drink net voordat jy Christelike vergaderinge bywoon, wanneer jy aan die bediening deelneem en wanneer jy na ander geestelike verantwoordelikhede omsien nie. En in lande waar alkoholgebruik verbode is of net toelaatbaar is vir diegene oor ’n sekere ouderdom, moet die nodige respek vir die landswette getoon word.—Romeine 13:1.
16. Hoe moet jy besluit wat om te doen wanneer jy ’n drankie gegee word?
16 Wanneer jy ’n drankie aangebied of een vir jou gegee word, is die eerste vraag om te vra: ‘Moet ek hoegenaamd drink?’ As jy besluit om te drink, moet jy jou eie perke duidelik in gedagte hou, en moenie daardie perke oorskry nie. Moenie dat ’n vrygewige gasheer jou beïnvloed nie. En pas op wanneer drank gratis en vryelik beskikbaar is by geleenthede soos huweliksonthale. Op baie plekke het kinders wettig toegang tot alkohol. Dit is die ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders aangaande alkoholgebruik te onderrig en hulle dade in hierdie verband te monitor.—Spreuke 22:6.
Jy kan die probleem die hoof bied
17. Wat kan jou help om te bepaal of jy ’n probleem met alkoholmisbruik het?
17 Is die misbruik van wyn en sterk drank vir jou ’n probleem? Een ding is seker, as alkoholmisbruik besig is om ’n verborge sonde te word, gaan dit jou vroeër of later inhaal. Doen dus ’n deeglike, eerlike selfondersoek. Stel selfondersoekende vrae soos: ‘Drink ek meer dikwels as vantevore? Het my drankies sterker geword? Gebruik ek alkohol om bekommernisse, spanning of probleme te ontvlug? Het ’n gesinslid of ’n vriend kommer oor my drinkery uitgespreek? Veroorsaak my drinkery probleme in my gesin? Is dit vir my moeilik om ’n week, ’n maand of ’n paar maande sonder alkohol klaar te kom? Steek ek vir ander weg hoeveel wyn of sterk drank ek drink?’ Sê nou die antwoord op party van hierdie vrae is ja? Moenie soos die mens wees ‘wat sy natuurlike gesig in ’n spieël bekyk en dan onmiddellik vergeet watter soort mens hy is’ nie (Jakobus 1:22-24). Doen stappe om die probleem reg te stel. Wat kan jy doen?
18, 19. Hoe kan jy ophou om te veel alkohol te drink?
18 Die apostel Paulus het Christene vermaan: “Moenie dronk word van wyn, waarin daar losbandigheid is nie, maar word voortdurend met gees vervul” (Efesiërs 5:18). Besluit wat ’n onmatige hoeveelheid alkohol vir jou is, en stel gepaste perke. Neem jou voor om dit nie te oorskry nie; beoefen selfbeheersing (Galasiërs 5:22, 23). Het jy metgeselle wat druk op jou uitoefen om te veel te drink? Pas op. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, sê die Bybel, “maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”—Spreuke 13:20.
19 As jy alkohol gebruik om die een of ander probleem te ontvlug, moet jy die probleem onder die oë sien. Probleme kan die hoof gebied word deur die raad in God se Woord toe te pas (Psalm 119:105). Moenie huiwer om ’n vertroude Christen- ouer man om hulp te vra nie. Maak goed gebruik van Jehovah se voorsienings om jou geestelikheid op te bou. Versterk jou verhouding met God. Bid gereeld tot hom—veral oor jou swakhede. Vra God om ‘jou niere en jou hart te louter’ (Psalm 26:2). Doen jou bes om in die weg van onkreukbaarheid te wandel, soos in die vorige artikel bespreek is.
20. Watter stappe moet jy dalk doen as onmatigheid ’n voortslepende probleem is?
20 Sê nou die probleem van onmatigheid duur voort ondanks jou pogings? Dan moet jy Jesus se raad volg: “As jou hand jou ooit laat struikel, kap dit af; dit is vir jou beter om vermink die lewe in te gaan as om met twee hande in Gehenna in te gaan” (Markus 9:43). Die antwoord is: Moet glad nie drink nie. Dit is wat ’n vrou wat ons Irene sal noem, besluit het. “Nadat ek feitlik twee en ’n half jaar lank glad nie gedrink het nie”, sê sy, “het ek begin dink dat net een drankie miskien nie skade sal doen nie, net om te sien hoe ek dit sal hanteer. Maar die oomblik dat ek so voel, bid ek dadelik tot Jehovah oor die saak. Ek is vasbeslote om tot die nuwe stelsel toe nie weer ’n drankie te drink nie—en miskien selfs dan ook nie.” Geheelonthouding sal nie ’n te hoë prys wees om te betaal vir lewe in God se regverdige nuwe wêreld nie.—2 Petrus 3:13.
“Hardloop só dat julle dit kan verkry”
21, 22. Watter struikelblok kan verhinder dat ons die eindstreep in die wedloop om die lewe bereik, en hoe kan ons dit vermy?
21 Die apostel Paulus het ’n Christen se lewensweg met ’n wedloop, of ’n wedstryd, vergelyk en gesê: “Weet julle nie dat die hardlopers in ’n wedloop almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit kan verkry. Wat meer is, elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, beoefen selfbeheersing in alles. Hulle doen dit natuurlik sodat hulle ’n verderflike kroon kan kry, maar ons ’n onverderflike. Daarom is die manier waarop ek hardloop, nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie; maar ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.”—1 Korintiërs 9:24-27.
22 Die prys word net gegee aan dié wat die wedloop suksesvol voltooi. In die wedloop om die lewe kan alkoholmisbruik ons verhinder om die eindstreep te bereik. Ons moet selfbeheersing beoefen. Om met sekerheid te hardloop, vereis dat ons ons nie aan “oordadighede met wyn” oorgee nie (1 Petrus 4:3). Inteendeel, ons moet selfbeheersing beoefen in alles. Wanneer dit by die drink van alkohol kom, is dit verstandig van ons “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid . . . te lewe”.—Titus 2:12.
[Voetnoot]
a In hierdie artikel verwys “alkohol” na bier, wyn en ander sterk drank.
Onthou jy?
• Wat is alkoholmisbruik?
• Watter skade berokken alkoholmisbruik?
• Hoe kan jy die gevare van alkoholmisbruik vermy?
• Hoe kan ’n mens die probleem van alkoholmisbruik die hoof bied?
[Prent op bladsy 19]
Wyn ‘maak die hart van die sterflike mens vrolik’
[Prent op bladsy 20]
Ons moet weet wat ons eie perke is en dit nie oorskry nie
[Prent op bladsy 21]
Besluit vooraf waar om die lyn te trek
[Prent op bladsy 22]
Bid gereeld tot Jehovah oor jou swakhede
[Prent op bladsy 23]
Dit is ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders aangaande alkoholgebruik te onderrig