HOOFSTUK 15
Sien die goeie vir jou harde werk
“Elke mens [moet] die goeie sien vir al sy harde werk.”—PREDIKER 3:13.
1-3. (a) Hoe voel baie mense oor hulle werk? (b) Watter beskouing van werk staan die Bybel voor, en watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?
VIR baie mense in vandag se wêreld is werk allesbehalwe ’n genot. Omdat hulle hulle ure lank afsloof in ’n werk wat hulle nie juis geniet nie, sien hulle elke dag daarteen op om werk toe te gaan. Hoe kan diegene met so ’n gesindheid gemotiveerd voel om belang te stel in hulle werk—wat nog te sê werksbevrediging geniet?
2 Die Bybel staan ’n positiewe beskouing van harde werk voor. Dit sê dat werk en die resultaat daarvan ’n seën is. Salomo het geskryf: “Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God” (Prediker 3:13). Jehovah, wat ons liefhet en altyd ons belange op die hart dra, wil hê dat ons bevrediging uit ons werk moet put en die vrug van ons arbeid moet geniet. Om in sy liefde te bly, moet ons ons lewe lei in ooreenstemming met sy beskouing van werk en sy beginsels in verband daarmee.—Prediker 2:24; 5:18.
3 In hierdie hoofstuk sal ons vier vrae bespreek: Hoe kan ons die goeie vir ons harde werk sien? Watter soort werk is nie geskik vir ware Christene nie? Hoe kan ons sekulêre werk en geestelike bedrywighede balanseer? En wat is die belangrikste werk wat ons kan doen? Maar kom ons ondersoek eers die voorbeeld van die twee grootste werkers in die heelal—Jehovah God en Jesus Christus.
DIE ALLERGROOTSTE WERKER EN DIE MEESTERWERKER
4, 5. Hoe toon die Bybel dat Jehovah ’n produktiewe werker is?
4 Jehovah is die Allergrootste Werker. Genesis 1:1 sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Toe God sy skeppingswerke met betrekking tot die aarde voltooi het, het hy gesê dat die resultate “baie goed” is (Genesis 1:31). Met ander woorde, hy was heeltemal tevrede met al sy werk in verband met die aarde. Jehovah, “die gelukkige God”, het ongetwyfeld groot vreugde daaruit geput om ’n produktiewe werker te wees.—1 Timoteus 1:11.
5 Ons hardwerkende God het nog nooit opgehou werk nie. Lank nadat die fisiese skepping met betrekking tot die aarde voltooi is, het Jesus gesê: “My Vader het tot nou toe aangehou werk” (Johannes 5:17). Wat het die Vader gedoen? Vanuit die hemel was hy aktief daarmee besig om vir die mensdom leiding te voorsien en vir hulle te sorg. Hy het “’n nuwe skepping” voortgebring, geesverwekte Christene wat uiteindelik saam met Jesus in die hemel sal regeer (2 Korintiërs 5:17). Die doel van hierdie werk was om sy voorneme met die mensdom te verwesenlik—dat diegene wat hom liefhet, die ewige lewe in ’n nuwe wêreld sal beërf (Romeine 6:23). Jehovah is ongetwyfeld heeltemal tevrede met die resultate van sy werk. Miljoene het gunstig gereageer op die Koninkryksboodskap, is deur God getrek en het aanpassings in hulle lewe gemaak om in sy liefde te bly.—Johannes 6:44.
6, 7. Watter lang rekord van harde werk het Jesus?
6 Jesus het ’n lang rekord van harde werk. In sy voormenslike bestaan het hy as God se “meesterwerker” gedien in die skepping van alle dinge “in die hemele en op die aarde” (Spreuke 8:22-31; Kolossense 1:15-17). Toe hy op die aarde was, was Jesus steeds ’n harde werker. Vroeg in sy lewe het hy ’n ambag geleer en bekend geword as “die timmerman” (Markus 6:3).a Hierdie ambag behels vermoeiende werk en ’n verskeidenheid vaardighede—veral in die tyd voor saagmeule, hardewarewinkels en kraggereedskap. Kan jy jou voorstel hoe Jesus uitgaan om sy eie hout te kry—dalk selfs bome afkap en die hout sleep tot waar hy werk? Kan jy hom sien huise bou—die dakbalke voorberei en insit, die deure en selfs van die meubels maak? Jesus het ongetwyfeld self geweet hoe bevredigend dit kan wees om harde werk vaardig te doen.
7 Jesus was ’n besonder ywerige werker in die uitvoering van sy bediening. Hy was drie en ’n half jaar lank intensief besig met hierdie allerbelangrikste werk. Omdat hy soveel mense as moontlik wou bereik, het hy sy dae goed benut deur vroeg op te staan en tot laat in die nag te werk (Lukas 21:37, 38; Johannes 3:2). Hy het “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie [gereis] en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” (Lukas 8:1). Jesus het letterlik honderde kilometers op stowwerige paaie te voet afgelê om die boodskap van die goeie nuus aan mense te verkondig.
8, 9. Hoe het Jesus die goeie vir sy harde werk gesien?
8 Het Jesus die goeie gesien vir sy harde werk in die bediening? Ja! Hy het saadjies van Koninkrykswaarheid gesaai en lande agtergelaat wat reg was om geoes te word. Dit het Jesus so versterk om God se werk te doen dat hy bereid was om ter wille daarvan sonder kos te bly (Johannes 4:31-38). Dink aan die bevrediging wat dit hom verskaf het om aan die einde van sy aardse bediening in alle eerlikheid aan sy Vader te kan sê: “Ek het u op die aarde verheerlik, aangesien ek die werk volbring het wat u my gegee het om te doen.”—Johannes 17:4.
9 Jehovah en Jesus is beslis die beste voorbeelde van persone wat die goeie vir hulle harde werk sien. Ons liefde vir Jehovah beweeg ons om “navolgers van God” te word (Efesiërs 5:1). Ons liefde vir Jesus spoor ons aan om “sy voetstappe noukeurig [te] volg” (1 Petrus 2:21). Kom ons ondersoek nou hoe ons ook die goeie vir ons harde werk kan sien.
HOE OM DIE GOEIE VIR ONS HARDE WERK TE SIEN
10, 11. Wat kan ons help om ’n positiewe gesindheid teenoor ons werk aan te kweek?
10 Sekulêre werk het ’n plek in die lewe van ware Christene. Ons wil bevrediging en ’n mate van tevredenheid uit ons werk put, maar dit kan werklik ’n uitdaging wees as ons nie van ons sekulêre werk hou nie. Hoe is dit moontlik om onder sulke omstandighede die goeie vir ons werk te sien?
11 Kweek ’n positiewe gesindheid aan. Ons kan nie altyd ons omstandighede verander nie, maar ons kan ons gesindheid verander. As ons oor God se beskouing peins, kan dit ons help om ’n positiewe gesindheid teenoor werk aan te kweek. Byvoorbeeld, as jy ’n gesinshoof is, peins oor die feit dat jou werk, ongeag hoe nederig dit dalk lyk, jou in staat stel om in die materiële behoeftes van jou gesin te voorsien. Om op dié manier vir jou geliefdes te sorg, is iets wat in God se oë van groot belang is. Sy Woord sê dat iemand wat nie vir sy gesin sorg nie, “erger [is] as iemand wat Jehovah verloën het” (1 Timoteus 5:8; voetnoot in NW). As jy besef dat jou werk ’n middel tot ’n doel is—iets wat jou in staat stel om ’n godgegewe verantwoordelikheid na te kom—kan dit jou help om ’n mate van voldoening daaruit te put wat jou kollegas dalk nooit sal ervaar nie.
12. Watter voordele hou dit in om vlytig en eerlik in ons werk te wees?
12 Wees vlytig en eerlik. Dit kan tot seëninge lei as ons hard werk en leer om ons werk goed te doen. Vlytige, vaardige werkers word dikwels hoog op prys gestel deur hulle werkgewers (Spreuke 12:24; 22:29). As ware Christene moet ons ook eerlik wees in ons werk—en nie geld, goed of tyd van ons werkgewer steel nie (Efesiërs 4:28). Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, hou dit voordele in om eerlik te wees. ’n Werknemer wat ’n reputasie as ’n eerlike persoon het, sal waarskynlik vertrou word. En of ons werkgewer ons voorbeeld as ’n harde werker raaksien of nie, ons kan die tevredenheid hê wat ’n mens kry wanneer jy “’n eerlike gewete” het en weet dat jy die God wat jy liefhet, gelukkig maak.—Hebreërs 13:18; Kolossense 3:22-24.
13. Watter resultate kan ons goeie voorbeeld by die werk hê?
13 Besef dat ons gedrag God kan verheerlik. Wanneer ons ’n hoë standaard van Christelike gedrag by ons werk handhaaf, sal ander dit beslis opmerk. Met watter resultaat? Ons kan sodoende “die leer van ons Redder, God, . . . versier” (Titus 2:9, 10). Ja, ons goeie gedrag kan daartoe lei dat ander die voortreflikheid van ons manier van aanbidding sien, wat dit vir hulle aantrekliker kan maak. Dink net hoe jy sou voel as ’n kollega die waarheid aanneem weens jou goeie voorbeeld by die werk! Nog belangriker, dink hieraan: Wat kan groter bevrediging verskaf as die wete dat jou goeie gedrag Jehovah verheerlik en sy hart bly maak?—Spreuke 27:11; 1 Petrus 2:12.
ONDERSKEIDINGSVERMOË IN ONS KEUSE VAN WERK
14-16. Aan watter belangrike vrae moet ons dink wanneer ons voor ’n besluit oor werk te staan kom?
14 Die Bybel spel nie in die fynste besonderhede uit watter soort sekulêre werk aanvaarbaar is en watter soort nie aanvaarbaar is nie. Dit beteken nie dat ons sommer enige soort werk kan aanvaar ongeag wat dit behels nie. Die Skrif kan ons help om produktiewe, eerlike werk te kies wat God se goedkeuring wegdra, terwyl ons werk vermy wat hom sal mishaag (Spreuke 2:6). Wanneer ons voor ’n besluit oor werk te staan kom, is daar twee belangrike vrae waaraan ons moet dink.
15 Sal hierdie werk vereis dat ons iets doen wat in die Bybel veroordeel word? God se Woord veroordeel uitdruklik diefstal, leuens en die maak van afgode (Eksodus 20:4; Handelinge 15:29; Efesiërs 4:28; Openbaring 21:8). Ons sal enige werk wat vereis dat ons sulke dinge doen, van die hand wys. Ons liefde vir Jehovah sal ons nooit toelaat om ’n werk te aanvaar wat behels dat ons dinge doen wat God se gebooie skend nie.—1 Johannes 5:3.
16 Sal ons, as ons hierdie werk doen, medepligtig wees aan ’n verkeerde daad of dit bevorder? Beskou ’n voorbeeld. Dit is nie verkeerd om as ’n ontvangsdame te werk nie. Maar sê nou ’n Christen word hierdie werk by ’n aborsiekliniek aangebied? Toegegee, haar werk sal nie vereis dat sy regstreeks met die aborsieprosedures help nie. Maar sal haar daaglikse werk nie die werksaamhede ondersteun van ’n kliniek wat aborsies uitvoer nie—’n gebruik wat in stryd is met God se Woord? (Eksodus 21:22-24). As liefhebbers van Jehovah wil ons glad nie geassosieer word met onskriftuurlike gebruike nie.
17. (a) Watter faktore moet ons oorweeg wanneer ons ’n besluit oor werk moet neem? (Sien die venster “Moet ek die werk aanvaar?”.) (b) Hoe kan ons gewete ons help om besluite te neem wat God gelukkig maak?
17 Baie kwessies in verband met werk kan opgelos word deur die antwoorde op die twee belangrike vrae in paragraaf 15 en 16 sorgvuldig te ontleed. Maar daar is ook ander faktore wat ons behoort te oorweeg wanneer ons ’n besluit oor werk moet neem.b Ons kan nie verwag dat die ‘getroue slaaf’-klas reëls moet neerlê wat elke moontlike situasie sal dek nie. In sulke gevalle moet ons onderskeidingsvermoë gebruik. Soos ons in Hoofstuk 2 geleer het, moet ons ons gewete oplei deur ’n studie te maak van hoe ons God se Woord in ons daaglikse lewe kan toepas. Aangesien ons “waarnemingsvermoëns” op hierdie manier “deur gebruik” geoefen is, kan ons gewete ons help om besluite te neem wat God gelukkig maak en ons in staat stel om in sy liefde te bly.—Hebreërs 5:14.
’N GEBALANSEERDE GESINDHEID TEN OPSIGTE VAN WERK
18. Waarom is dit nie maklik om ons geestelike balans te behou nie?
18 Dit is nie maklik om ons geestelike balans te behou in hierdie “laaste dae”, hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” nie (2 Timoteus 3:1). Dit kan ’n groot uitdaging wees om ’n werk te kry en dit te behou. As ware Christene besef ons hoe belangrik dit is om hard te werk sodat ons vir ons gesin kan sorg. Maar as ons nie versigtig is nie, kan druk by die werk of die verderflike invloed van die wêreld se materialistiese denke teen ons geestelike strewes werk (1 Timoteus 6:9, 10). Kom ons bespreek hoe ons ons balans kan behou en seker kan maak van “die belangriker dinge”.—Filippense 1:10.
19. Waarom verdien Jehovah ons volle vertroue, en wat help hierdie vertroue ons om te vermy?
19 Stel jou volle vertroue in Jehovah (Spreuke 3:5, 6). Verdien hy nie sulke vertroue nie? Hy sorg immers vir ons (1 Petrus 5:7). Hy ken ons behoeftes beter as wat ons dit self ken, en sy hand is nooit te kort nie (Psalm 37:25). Dit sal dus goed wees as ons luister wanneer sy Woord ons herinner: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want [God] het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie’” (Hebreërs 13:5). Baie voltydse dienaars kan getuig van God se vermoë om die lewensbenodigdhede te voorsien. As ons ten volle vertrou dat Jehovah vir ons sal sorg, sal ons ons nie oormatig kwel oor die versorging van ons gesin nie (Matteus 6:25-32). Ons sal nie geestelike bedrywighede, soos die verkondiging van die goeie nuus en vergaderingbywoning, afskeep weens sekulêre werk nie.—Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25.
20. Wat beteken dit om ’n eenvoudige oog te behou, en hoe kan jy dit doen?
20 Hou jou oog eenvoudig (Matteus 6:22, 23). Om ’n eenvoudige oog te hê, beteken om ons lewe ongekompliseerd te hou. ’n Christen se eenvoudige oog is gefokus op net een doel—om God se wil te doen. As ons oog behoorlik gefokus is, sal ons nie daarmee behep wees om ’n werk met ’n groot salaris of ’n luukser lewenstyl na te jaag nie. Ons sal ook nie vasgevang raak in die eindelose soeke na die nuutste en die beste materiële dinge wat ons volgens adverteerders nodig het om gelukkig te wees nie. Hoe kan jy ’n eenvoudige oog behou? Moenie jou met onnodige skuld belas nie. Moenie jou lewe kompliseer met besittings wat baie tyd en aandag in beslag neem nie. Slaan ag op die Bybel se raad om tevrede te wees met “voedsel, klere en onderdak” (1 Timoteus 6:8). Probeer jou lewe sover moontlik vereenvoudig.
21. Waarom moet ons prioriteite stel, en wat moet die belangrikste in ons lewe wees?
21 Stel geestelike prioriteite, en bly daarby. Omdat daar net soveel is wat ons in die lewe kan doen, moet ons prioriteite stel. Anders kan minder belangrike dinge ons kosbare tyd in beslag neem en belangriker dinge verdring. Waaraan moet ons prioriteit gee in ons lewe? Baie mense in die wêreld plaas die grootste klem daarop om geleerdheid na te streef wat ’n goed betalende loopbaan in hierdie stelsel moontlik kan maak. Maar Jesus het sy volgelinge aangespoor: “Hou . . . aan om eers die koninkryk . . . te soek” (Matteus 6:33). Ja, as ware Christene stel ons God se Koninkryk eerste in ons lewe. Ons lewenspatroon—die keuses wat ons maak, die doelwitte wat ons stel en die dinge wat ons doen—behoort te toon dat Koninkryksbelange en God se wil vir ons belangriker is as materiële belange en sekulêre strewes.
WERK HARD IN DIE BEDIENING
22, 23. (a) Wat is die vernaamste werk vir ware Christene, en hoe kan ons toon dat hierdie werk vir ons belangrik is? (Sien die venster “My besluit het tot ’n gelukkige, bevredigende lewe gelei.”) (b) Wat is jy vasbeslote om te doen met betrekking tot sekulêre werk?
22 Omdat ons weet dat ons diep in die tyd van die einde lewe, hou ons aan om ons toe te spits op die vernaamste werk vir ware Christene—om te preek en dissipels te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Soos ons Voorbeeld, Jesus, wil ons intensief besig wees met hierdie lewensreddende werk. Hoe kan ons toon dat hierdie werk vir ons belangrik is? Die meerderheid van God se knegte neem heelhartig as gemeentelike verkondigers aan die predikingswerk deel. Party het hulle sake so gereël dat hulle as pioniers of sendelinge kan dien. Omdat baie ouers die belangrikheid van geestelike doelwitte besef, moedig hulle hulle kinders aan om ’n loopbaan in die voltydse diens na te streef. Sien ywerige Koninkryksverkondigers die goeie vir hulle harde werk in die bediening? Beslis! Heelhartige diens aan Jehovah is die versekerde weg na ’n vreugdevolle, bevredigende lewe en tallose seëninge.—Spreuke 10:22.
23 Baie van ons moet lang ure werk om materieel vir ons gesin te sorg. Onthou dat Jehovah wil hê dat ons die goeie vir ons harde werk moet sien. As ons ons gesindheid en gedrag in ooreenstemming met sy beskouing en beginsels bring, kan ons bevrediging uit ons werk put. Maar laat ons vasbeslote wees om nooit toe te laat dat sekulêre werk ons aandag aflei van ons vernaamste werk nie—om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. As ons hierdie werk eerste stel in ons lewe, toon ons ons liefde vir Jehovah en bly ons sodoende in sy liefde.
a Die Griekse woord wat met “timmerman” vertaal word, was blykbaar “’n algemene term vir iemand wat houtwerk gedoen het, hetsy hy huise gebou het of meubels of enige ander soort houtvoorwerpe gemaak het”.
b Vir ’n breedvoeriger bespreking van faktore wat in verband met werk oorweeg moet word, sien Die Wagtoring van 15 April 1999, bladsye 28-30, en 1 Oktober 1982, bladsy 26.