Ouer manne—Lei ander op om die vrag te dra
DAAR is wêreldwyd in gemeentes van Jehovah se Getuies ’n dringende behoefte aan manne wat in opsienersposisies kan dien. Daar is drie hoofredes hiervoor.
Eerstens, Jehovah vervul sy belofte om “die geringste ’n magtige nasie” te maak (Jesaja 60:22). Deur sy onverdiende goedhartigheid is byna eenmiljoen nuwe dissipels gedurende die afgelope drie jaar as Getuies van Jehovah gedoop. Verantwoordelike manne is nodig om hierdie pasgedooptes te help om tot Christelike volwassenheid te vorder.—Hebreërs 6:1.
Tweedens, sommige wat al dekades lank as ouer manne dien, moes weens ouderdom of gesondheidsprobleme hulle werklas in die gemeente verminder.
Derdens, ’n aantal ywerige Christen- ouer manne dien nou as lede van Hospitaalskakelkomitees, Streekboukomitees of Byeenkomssaalkomitees. In sommige gevalle moes hulle ’n balans vind deur ten minste van sommige van hulle verantwoordelikhede in hulle plaaslike gemeente afstand te doen.
Hoe kan daar in die dringende behoefte aan nog gekwalifiseerde manne voorsien word? Opleiding is die sleutel. Die Bybel spoor Christenopsieners aan om ‘getroue mense op te lei, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer’ (2 Timoteus 2:2). Die werkwoord “oplei” beteken om te leer met die doel om bekwaam, gekwalifiseerd of vaardig te maak. Kom ons kyk na hoe ouer manne ander bekwame manne kan oplei.
Volg Jehovah se voorbeeld
Jesus Christus was beslis ’n bekwame, gekwalifiseerde en vaardige werker—en geen wonder nie! Hy is deur Jehovah God self opgelei. Watter faktore het daardie opleidingsprogram so doeltreffend gemaak? Jesus het drie genoem, soos in Johannes 5:20 opgeteken is: “Die Vader [1] het geneentheid vir die Seun en [2] wys hom alles wat hy self doen, en hy sal hom [3] groter werke as dié wys.” ’n Ondersoek na elkeen van hierdie faktore sal ons help om te verstaan wat opleiding behels.
Let op dat Jesus eers gesê het: “Die Vader het geneentheid vir die Seun.” Van die begin van die skepping af het ’n liefdevolle verhouding tussen Jehovah en sy Seun bestaan. Spreuke 8:30 (NW) werp lig op daardie verhouding: “Toe het ek [Jesus] ’n meesterwerker naas hom [Jehovah God] geword, en ek het die een geword vir wie hy dag na dag besonder lief was, terwyl ek die hele tyd voor hom verheug was.” Daar was geen twyfel by Jesus dat Jehovah “besonder lief” was vir hom nie. En Jesus het nie sy vreugde om saam met sy Vader te werk, weggesteek nie. Hoe goed is dit tog wanneer daar ’n liefdevolle, openhartige verhouding bestaan tussen Christen- ouer manne en dié wat deur hulle opgelei word!
Die tweede faktor wat Jesus genoem het, is die feit dat die Vader ‘hom alles wys wat hy self doen’. Hierdie woorde bevestig wat in Spreuke 8:30 gesê word, naamlik dat Jesus “naas” Jehovah was terwyl die heelal geskep is (Genesis 1:26). Ouer manne kan daardie uitstekende voorbeeld volg deur ten nouste met bedieningsknegte saam te werk en vir hulle te wys hoe hulle hulle verpligtinge goed kan nakom. Maar dit is nie net nuut aangestelde bedieningsknegte wat progressiewe opleiding nodig het nie. Wat van daardie getroue broers wat al jare lank na die opsienersamp streef, maar nooit aangestel is nie? (1 Timoteus 3:1). Die ouer manne moet hierdie manne spesifieke raad gee sodat hulle weet waaraan hulle moet werk.
Byvoorbeeld, ’n bedieningskneg is dalk betroubaar, stiptelik en pligsgetrou in die nakoming van sy pligte. Hy is dalk ook ’n goeie onderrigter. In baie opsigte doen hy miskien uitstekende werk in die gemeente. Maar hy besef dalk nie dat hy geneig is om weens sy optrede ergernis onder sy mede-Christene te veroorsaak nie. Ouer manne moet “’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort”, aan die dag lê (Jakobus 3:13). Sal dit nie goed van ’n ouer man wees om met die bedieningskneg te praat en die probleem duidelik onder sy aandag te bring, spesifieke voorbeelde te noem en praktiese wenke te gee sodat hy kan verbeter nie? As die ouer man sy raad ‘smaaklik maak met sout’, sal dit waarskynlik verwelkom word (Kolossense 4:6). Die bedieningskneg sal die ouer man se taak natuurlik baie aangenamer maak as hy ontvanklik is vir enige raad wat hy kry.—Psalm 141:5.
In party gemeentes voorsien ouer manne praktiese, voortgesette opleiding aan bedieningsknegte. Hulle neem byvoorbeeld bekwame bedieningsknegte saam met hulle wanneer hulle die siekes en die bejaardes besoek. So doen die bedieningsknegte ondervinding in die herderswerk op. ’n Bedieningskneg kan natuurlik baie tot sy eie geestelike vooruitgang bydra.—Sien venster hieronder met die titel “Wat bedieningsknegte kan doen”.
Die derde faktor wat Jesus se opleiding so doeltreffend gemaak het, was die feit dat Jehovah hom opgelei het met toekomstige vooruitgang in gedagte. Jesus het van die Vader gesê dat hy die Seun “groter werke as dié” sal wys. Die ondervinding wat Jesus op die aarde opgedoen het, het hom in staat gestel om eienskappe aan te kweek wat hy nodig sou hê om toekomstige toewysings uit te voer (Hebreërs 4:15; 5:8, 9). Wat ’n groot toewysing sal Jesus byvoorbeeld binnekort ontvang—naamlik om miljarde mense wat nou dood is, op te wek en te oordeel!—Johannes 5:21, 22.
Wanneer ouer manne bedieningsknegte vandag oplei, moet hulle toekomstige behoeftes in gedagte hou. Dit lyk dalk of daar genoeg ouer manne en bedieningsknegte is om na huidige behoeftes om te sien, maar sal dit die geval wees as ’n nuwe gemeente gestig word? As ’n hele paar gemeentes gestig word? Gedurende die afgelope drie jaar is meer as 6 000 nuwe gemeentes wêreldwyd gestig. Dink net aan die groot aantal ouer manne en bedieningsknegte wat nodig is om vir daardie nuwe gemeentes te sorg!
Ouer manne, volg julle Jehovah se voorbeeld deur ’n hartlike, persoonlike verhouding aan te kweek met die manne wat julle oplei? Wys julle vir hulle hoe hulle werk gedoen moet word? Hou julle toekomstige behoeftes in gedagte? As ons Jehovah se voorbeeld volg in die manier waarop hy Jesus opgelei het, sal dit ryk seëninge vir baie tot gevolg hê.
Moenie bang wees om te delegeer nie
Bekwame ouer manne wat daaraan gewoond is om etlike veeleisende toewysings gelyktydig te behartig, is dalk ietwat huiwerig om gesag aan ander te delegeer. Hulle het dit miskien in die verlede probeer doen, maar sonder goeie resultate. Moontlik het hulle dus die gesindheid aangekweek van: ‘As jy iets reg gedoen wil hê, moet jy dit self doen.’ Maar stem hierdie gesindheid ooreen met Jehovah se wil, soos dit in die Skrif uiteengesit word, dat minder ervare manne opleiding ontvang van dié wat meer ervare is?—2 Timoteus 2:2.
Die apostel Paulus was teleurgesteld toe een van sy reisgenote, Johannes Markus, sy toewysing in Pamfilië verlaat en huis toe gegaan het (Handelinge 15:38, 39). Maar Paulus het nie toegelaat dat daardie terugslag hom daarvan weerhou om ander op te lei nie. Hy het ’n ander jong broer, Timoteus, gekies en hom in die sendingwerk opgelei (Handelinge 16:1-3).a In Berea is die sendelinge so kwaai teëgestaan dat dit vir Paulus onprakties geword het om daar te bly. Hy het gevolglik die nuwe gemeente aan die sorg van Silas, ’n volwasse ouer broer, en Timoteus toevertrou (Handelinge 17:13-15). Timoteus het ongetwyfeld baie by Silas geleer. Later, toe Timoteus gereed was om verdere verantwoordelikheid te dra, het Paulus hom na Tessalonika gestuur om die gemeente daar aan te moedig.—1 Tessalonisense 3:1-3.
Die verhouding tussen Paulus en Timoteus was nie saaklik, kil of onpersoonlik nie. Daar was ’n hartlike band tussen hulle. Toe Paulus aan die gemeente in Korinte geskryf het, het hy van Timoteus, wat hy van plan was om soontoe te stuur, as sy “geliefde en getroue kind in die Here” gepraat. Hy het bygevoeg: “[Timoteus] sal julle gedagtig maak aan my metodes in verband met Christus Jesus” (1 Korintiërs 4:17). Timoteus het ag geslaan op die opleiding wat hy van Paulus ontvang het en bekwaam geword om sy toewysings uit te voer. Talle jong broers het bekwame bedieningsknegte, ouer manne of selfs reisende opsieners geword omdat hulle baat gevind het by die opleiding wat hulle van besorgde ouer manne ontvang het wat opregte belangstelling in hulle getoon het, soos Paulus in die geval van Timoteus.
Ouer manne, lei ander op!
Die profesie in Jesaja 60:22 word beslis vandag vervul. Jehovah maak “die geringste ’n magtige nasie”. Om ‘magtig’ te bly, moet daardie nasie goed georganiseerd wees. Ouer manne, dink gerus aan maniere waarop verdere opleiding gegee kan word aan toegewyde manne wat kwalifiseer om dit te ontvang. Maak seker dat elke bedieningskneg presies weet waarop hy moet verbeter sodat hy vooruitgang kan maak. En as jy ’n gedoopte broer is, moet jy ten volle gebruik maak van enige persoonlike aandag wat jy ontvang. Benut geleenthede om jou vermoë, kennis en ondervinding uit te brei. Jehovah sal beslis so ’n program van liefdevolle opleiding seën.—Jesaja 61:5.
[Voetnoot]
a Later het Paulus weer saam met Johannes Markus gewerk.—Kolossense 4:10.
[Venster op bladsy 30]
Wat bedieningsknegte kan doen
Hoewel die ouer manne die bedieningsknegte moet oplei, kan die bedieningsknegte baie tot hulle eie geestelike vooruitgang bydra.
—Bedieningsknegte moet hulle toewysings vlytig en getrou nakom. Hulle moet ook goeie studiegewoontes aankweek. Vooruitgang hang in groot mate af van studie en die toepassing van wat geleer word.
—Wanneer ’n bedieningskneg voorberei vir ’n toespraak wat hy by ’n Christelike vergadering moet hou, moet hy nie huiwer om ’n bekwame ouer man wenke te vra om die materiaal aan te bied nie.
—Die bedieningskneg kan ’n ouer man ook vra om aandagtig na sy Bybeltoespraak te luister en hom raad te gee sodat hy kan verbeter.
Bedieningsknegte moet raad van die ouer manne vra, aanvaar en toepas. Sodoende sal hulle vooruitgang “vir almal duidelik . . . wees”.—1 Timoteus 4:15.