Die ewige lewe op aarde—’n Christelike hoop?
“[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie.”—OP. 21:4.
1, 2. Hoe weet ons dat baie eerste-eeuse Jode die hoop gekoester het om vir ewig op die aarde te lewe?
’N RYK, vooraanstaande jong man hardloop Jesus tegemoet, val op sy knieë voor hom neer en vra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” (Mark. 10:17). Die jong man het gevra hoe hy die ewige lewe kan beërf—maar waar? Soos ons in die vorige artikel bespreek het, het God eeue tevore aan die Jode die hoop op ’n opstanding en die ewige lewe op aarde gebied. Hierdie hoop was nog steeds algemeen onder baie van die eerste-eeuse Jode.
2 Jesus se vriendin Marta het blykbaar aan ’n opstanding tot lewe op die aarde gedink toe sy van haar broer wat gesterf het, gesê het: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Joh. 11:24). Die Sadduseërs van daardie tyd het weliswaar nie aan die opstanding geglo nie (Mark. 12:18). Maar in sy boek Judaism in the First Centuries of the Christian Era sê George Foot Moore: “Geskrifte . . . van die tweede of eerste eeu voor ons jaartelling bevestig dat mense geglo het dat afgestorwenes van vorige geslagte op die verwagte keerpunt in die wêreld se geskiedenis opgewek sou word om weer op die aarde te lewe.” Die ryk man wat Jesus genader het, wou die ewige lewe op aarde beërf.
3. Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?
3 Vandag ontken baie godsdienste en Bybelgeleerdes dat die hoop om vir ewig op die aarde te lewe, ’n Christelike lering is. Die meeste mense hoop op ’n hiernamaals in die geesteryk. Wanneer lesers van die Christelike Griekse Geskrifte dus op die uitdrukking “die ewige lewe” afkom, dink baie dat dit altyd na lewe in die hemel verwys. Is dit waar? Wat het Jesus bedoel toe hy van die ewige lewe gepraat het? Wat het sy dissipels geglo? Praat die Christelike Griekse Geskrifte van die hoop op die ewige lewe op aarde?
Die ewige lewe “in die herskepping”
4. Wat sal “in die herskepping” plaasvind?
4 Die Bybel leer dat gesalfde Christene opgewek sal word om uit die hemel oor die aarde te regeer (Luk. 12:32; Op. 5:9, 10; 14:1-3). Maar Jesus het nie altyd net hierdie groep in gedagte gehad wanneer hy oor die ewige lewe gepraat het nie. Dink aan wat hy vir sy dissipels gesê het nadat die ryk jong man bedroef weggedraai het toe hy genooi is om al sy besittings agter te laat en ’n volgeling van Christus te word. (Lees Matteus 19:28, 29.) Jesus het vir sy apostels gesê dat hulle onder diegene sou wees wat as konings sou regeer en “die twaalf stamme van Israel”, dit wil sê die mensewêreld wat nie deel van hierdie hemelse heersersklas is nie, sou oordeel (1 Kor. 6:2). Hy het ook gepraat van ’n beloning vir “elkeen” wat hom volg. Ook hierdie persone sal “die ewige lewe beërf”. Dit alles sal “in die herskepping” plaasvind.
5. Hoe sal jy “die herskepping” omskryf?
5 Wat het Jesus met “die herskepping” bedoel? Die term word in The Bible—An American Translation vertaal met “die nuwe wêreld”. In die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling word dit vertaal met “wanneer alles nuut gemaak word”, en in The Holy Bible—New International Version met “die hernuwing van alle dinge”. Aangesien Jesus die term sonder ’n verduideliking gebruik het, het hy klaarblyklik verwys na wat eeue lank die Joodse hoop was. Daar sou ’n herskepping van toestande op die aarde wees, sodat dinge sou wees soos dit in die tuin van Eden was voordat Adam en Eva gesondig het. Die herskepping sal God se belofte vervul om “nuwe hemele en ’n nuwe aarde [te skep]”.—Jes. 65:17.
6. Wat leer ons uit die illustrasie van die skape en die bokke omtrent die hoop op die ewige lewe?
6 In sy toespraak oor die voleinding van die stelsel van dinge het Jesus weer eens van die ewige lewe gepraat (Matt. 24:1-3). “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom”, het hy gesê, “dan sal hy op sy glorieryke troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei.” Diegene wat ’n ongunstige oordeel ontvang, “sal weggaan, die ewige vernietiging in, maar die regverdiges die ewige lewe in”. “Die regverdiges” wat die ewige lewe ontvang, is diegene wat Christus se geesgesalfde “broers” lojaal ondersteun (Matt. 25:31-34, 40, 41, 45, 46). Aangesien die gesalfdes gekies word om heersers in die hemelse Koninkryk te wees, moet “die regverdiges” die aardse onderdane van hierdie Koninkryk wees. Die Bybel het voorspel: “[Jehovah se Koning] sal onderdane hê van see tot see en van die Rivier tot aan die eindes van die aarde” (Ps. 72:8). Hierdie onderdane sal die ewige lewe op aarde geniet.
Wat toon die Evangelie van Johannes?
7, 8. Oor watter twee verskillende verwagtinge het Jesus met Nikodemus gepraat?
7 Soos opgeteken in die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas, het Jesus die term “die ewige lewe” by die voorgenoemde geleenthede gebruik. Die Evangelie volgens Johannes haal Jesus se woorde oor die ewige lewe omtrent 17 keer aan. Kom ons ondersoek ’n paar van hierdie gevalle om te sien wat Jesus oor die hoop op die ewige lewe op die aarde gesê het.
8 Volgens Johannes het Jesus vir die eerste keer oor die ewige lewe gepraat met ’n Fariseër genaamd Nikodemus. Hy het vir Nikodemus gesê: “Tensy iemand uit water en gees gebore word, kan hy nie in die koninkryk van God ingaan nie.” Dié wat in die Koninkryk van die hemele ingaan, moet “weer gebore” word (Joh. 3:3-5). Jesus het nie daar opgehou nie. Hy het toe van die hoop gepraat wat aan die hele wêreld voorgehou word. (Lees Johannes 3:16.) Jesus het verwys na die hoop op die ewige lewe vir sy gesalfde volgelinge in die hemel en vir ander op die aarde.
9. Oor watter hoop het Jesus met ’n Samaritaanse vrou gepraat?
9 Nadat Jesus met Nikodemus in Jerusalem gepraat het, het hy noordwaarts na Galilea gereis. Op pad soontoe het hy ’n vrou by Jakob se fontein naby die stad Sigar in Samaria teëgekom. Hy het vir haar gesê: “Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nóóit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee” (Joh. 4:5, 6, 14). Hierdie water stel God se voorsienings voor om die hele mensdom, insluitende dié wat op die aarde sal lewe, tot die ewige lewe te herstel. In die boek Openbaring word God uitgebeeld waar hy sê: “Aan elkeen wat dors is, sal ek uit die fontein van die water van die lewe gee, verniet” (Op. 21:5, 6; 22:17). Jesus het dus met die Samaritaanse vrou gepraat oor die ewige lewe, nie net vir die gesalfde Koninkrykserfgename nie, maar ook vir gelowige mense met ’n aardse hoop.
10. Wat het Jesus vir godsdiensteenstanders oor die ewige lewe gesê nadat hy ’n man by die bad van Betsata genees het?
10 Die volgende jaar was Jesus weer in Jerusalem. Daar het hy ’n siek man by die bad Betsata gesond gemaak. Jesus het aan die Jode wat sy genesingsdaad gekritiseer het, verduidelik: “Die Seun kan hoegenaamd niks op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen.” Nadat hy vir hulle gesê het dat die Vader “die oordeel geheel en al aan die Seun toevertrou” het, het Jesus gesê: “Hy wat my woord hoor en hom glo wat my gestuur het, het die ewige lewe.” Jesus het ook gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [die Seun van die mens se] stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het, tot ’n opstanding van oordeel” (Joh. 5:1-9, 19, 22, 24-29). Jesus het vir sy Joodse vervolgers gesê dat hý die een is wat deur God aangestel is om die Joodse hoop op die ewige lewe op aarde te verwesenlik en dat hy dit sou doen deur die dooies op te wek.
11. Hoe weet ons dat die hoop op die ewige lewe op aarde ingesluit is in Jesus se woorde in Johannes 6:48-51?
11 In Galilea het duisende mense Jesus begin volg omdat hulle brood wou hê wat hy wonderdadig voorsien het. Jesus het met hulle oor ’n ander soort brood gepraat—“die brood van die lewe”. (Lees Johannes 6:40, 48-51.) “Die brood wat ek sal gee, [is] my vlees”, het hy gesê. Jesus het sy lewe gegee, nie net vir dié wat saam met hom in sy hemelse Koninkryk sal regeer nie, maar ook “vir die lewe van die wêreld” van loskoopbare mense. “As iemand van hierdie brood eet”, dit wil sê geloof in die loskoopkrag van Jesus se offerande beoefen, sal hy vir die ewige lewe in aanmerking kom. Ja, die verwysing na ‘die ewige lewe’ het die eeue oue Joodse hoop ingesluit om gedurende die Messias se heerskappy vir ewig op die aarde te lewe.
12. Na watter hoop het Jesus verwys toe hy vir teenstanders gesê het dat ‘hy die ewige lewe aan sy skape sal gee’?
12 Later, by die Toewydingsfees in Jerusalem, het Jesus vir sy teenstanders gesê: “Julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem, en ek ken hulle, en hulle volg my. En ek gee hulle die ewige lewe” (Joh. 10:26-28). Het Jesus net van lewe in die hemel gepraat, of het hy ook die ewige lewe in ’n aardse paradys in gedagte gehad? Jesus het kort tevore sy volgelinge vertroos met die woorde: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee” (Luk. 12:32). Maar by dieselfde Toewydingsfees het Jesus gesê: “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie; ook hulle moet ek bring” (Joh. 10:16). Toe Jesus dus met hierdie teenstanders gepraat het, het sy woorde die hoop op hemelse lewe vir die “klein kuddetjie” sowel as die hoop op die ewige lewe op aarde vir miljoene “ander skape” ingesluit.
’n Hoop wat geen verduideliking nodig gehad het nie
13. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees”?
13 Gedurende sy lyding aan die folterpaal het Jesus onweerlegbare bevestiging van die mensdom se hoop voorsien. ’n Kwaaddoener wat langs hom aan ’n paal gehang het, het gesê: “Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Jesus het hom belowe: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Luk. 23:42, 43). Aangesien hierdie man klaarblyklik ’n Jood was, het hy geen verduideliking oor die Paradys nodig gehad nie. Hy het geweet van die hoop op die ewige lewe op aarde in ’n komende wêreld.
14. (a) Wat toon dat die verwysing na ’n hemelse hoop vir die apostels moeilik was om te verstaan? (b) Wanneer het Jesus se volgelinge ’n duidelike begrip van die hemelse hoop verkry?
14 Wat egter wel ’n verduideliking nodig gehad het, was Jesus se verwysing na die hemelse hoop. Toe hy vir sy dissipels gesê het dat hy hemel toe gaan om ’n plek vir hulle te berei, het hulle nie verstaan wat hy bedoel nie. (Lees Johannes 14:2-5.) “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê”, het hy later vir hulle gesê, “maar julle kan dit nie nou dra nie. Wanneer hy, die gees van die waarheid, egter kom, sal hy julle in die hele waarheid inlei” (Joh. 16:12, 13). Eers ná Pinkster 33 HJ, toe hulle deur God se gees as toekomstige konings gesalf is, het Jesus se volgelinge begryp dat hulle trone in die hemel sou wees (1 Kor. 15:49; Kol. 1:5; 1 Pet. 1:3, 4). Die hoop op ’n hemelse erfenis was ’n openbaring, en dit het die middelpunt van die geïnspireerde briewe in die Christelike Griekse Geskrifte geword. Maar herbevestig hierdie briewe die mensdom se hoop op die ewige lewe op aarde?
Wat sê die geïnspireerde briewe?
15, 16. Hoe verwys die geïnspireerde brief aan die Hebreërs en die woorde van Petrus na die hoop op die ewige lewe op aarde?
15 In sy brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus sy medegelowiges “heilige broers, deelgenote van die hemelse roeping”, genoem. Maar hy het ook gesê dat God “die toekomstige bewoonde aarde” aan Jesus onderwerp het (Heb. 2:3, 5; 3:1). In die Christelike Griekse Geskrifte verwys die oorspronklike woord vir “bewoonde aarde” altyd na die aarde wat deur mense bewoon word. “Die toekomstige bewoonde aarde” is dus die toekomstige stelsel van dinge op die aarde onder die heerskappy van Jesus Christus. Jesus sal dan God se belofte vervul: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Ps. 37:29.
16 Die apostel Petrus is ook geïnspireer om oor die toekoms van die mensdom te skryf. Hy het geskryf: “Die hemele en die aarde wat nou is, [is] vir die vuur weggelê en word . . . bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Pet. 3:7). Waardeur sal die teenswoordige hemele, oftewel regerings, en die goddelose mensegemeenskap van vandag vervang word? (Lees 2 Petrus 3:13.) Dit sal vervang word deur “nuwe hemele”—God se Messiaanse Koninkryk—en “’n nuwe aarde”—’n regverdige mensegemeenskap van ware aanbidders.
17. Hoe word die mensdom se hoop in Openbaring 21:1-4 beskryf?
17 Die laaste boek van die Bybel raak ons hart met ’n visioen van die mensdom wat tot volmaaktheid verhef word. (Lees Openbaring 21:1-4.) Dit is die hoop van gelowige mense sedert menslike volmaaktheid in die tuin van Eden verloor is. Regskapenes sal vir ewig in die Paradys op aarde lewe sonder om te verouder. Hierdie hoop is stewig gegrond op die Hebreeuse Geskrifte sowel as die Christelike Griekse Geskrifte en dit versterk getroue knegte van Jehovah tot vandag toe.—Op. 22:1, 2.
Kan jy verduidelik?
• Wat het Jesus met “die herskepping” bedoel?
• Waaroor het Jesus met Nikodemus gepraat?
• Wat het Jesus belowe aan die kwaaddoener wat naby hom aan ’n paal gehang het?
• Hoe bevestig die brief aan die Hebreërs en die woorde van Petrus die hoop op die ewige lewe op aarde?
[Prente op bladsy 8]
Skaapgeaardes sal die ewige lewe op aarde ontvang
[Prente op bladsy 10]
Jesus het met ander oor die ewige lewe gepraat